Die Valsbaai-bisdom van die Anglikaanse kerk het hierdie afgelope jeugdag hul heel eerste Jeug-indaba in Kuilsrivier gehou.
Jeugdiges van dwarsoor die bisdom, wat strek van Ceres en Bredasdorp tot by Khayelitsha, Mitchells Plain en Vishoek, met Stellenbosch en Groot Drakenstein in die middel, het bymekaar gekom om kwessies wat hulle na aan die hart lê, te bespreek. Hulle het opgedaag in busse, taxis, luukse Duitse motors en ou skedonke.
Knap duskant 700 jongmense tussen die ouderdomme van ongeveer hul middel tienerjare tot in hul vroeë twintigs het geregistreer. Nader aan 800 het opgedaag en met groot entoesiasme deelgeneem. Die parallelle sessies het verskillende onderwerpe gedek, soos seksualiteit, mensehandel, liturgie en musiek, opvoeding, sosiale media en meer. Die groen Anglikane het oor die omgewing gepraat en wenke om water te spaar en hoe om die kerk meer omgewingsvriendelik te laat funksioneer, gegee.
Soos wat seker te verwagte is, was die seksualiteitsessie baie gewild, met 350 jongmense wat hierdie sessie gekies het. Dis beslis ’n area waar kerke meer met hul jongmense in gesprek moet tree. Tot my verbasing het die opvoedingsessie nie dieselfde tipe getalle getrek nie.
Twee goed het my opgeval. Die absolute ordentlikheid van die jongmense, die gedissiplineerde manier hoe hul interaksies met ons as fasiliteerders, maar ook met mekaar geskied het. Die vlak van die besprekings, die weldeurdagte manier waarop tieners hulle kommer kon artikuleer, het my verstom. Dis duidelik dat hulle krities nagedink het oor heelparty kwessies wat ons dalk nie verwag jongmense aandag aan sal skenk nie. Hulle het ook heelparty oplossings voorgestel wat, reken ek, met vrug ontgin kan word.
’n Ontnugtering met die regering en hulle gebrek aan leierskap het keer op keer in gesprekke deurgekom, en in die vrae wat na die tyd gestel was.
Soos wat verwag kan word, het dekolonisasie sterk in die opvoedingsgesprek deurgekom. Dekolonisasie in die kerk was glad nie geopper nie. Ek het gewonder of hulle dit nie as relevant ag nie, en of dit bloot iets is wat nog nie regtig op hul gemeenskaplike radar is nie.
In die lig van die hernude vlaag van geweld teen vroue en kinders behoort dit seker nie as ’n verrassing te kom dat vrae oor die herinstelling van die doodstraf weer geopper word nie. Dit van jongmense wat gebore is nadat die doodstraf tot ’n einde gekom het. Minder verrassend, maar dalk meer teleurstellend, was die xenofobiese kommentaar wat gelewer is, terwyl dieselfde persone gekant was teen rassisme. Sommige teenstrydighede word skynbaar sonder konflik binne dieselfde weltanschauung gehuisves.
Die jongmense wat aan hierdie byeenkoms deelgeneem het, is ’n goeie deursnee van ’n tipiese Suid-Afrikaanse groep: wit, bruin, swart, Engels, Afrikaans, Xhosa, arm, ryk. Hulle is jonk en hulle identifiseer as christene. Dis die enigste ooreenkomste tussen wat andersins ’n diverse groep met ’n ryke verskeidenheid standpunte is.
Opvallend was die gebrek aan reaksie op Hector Pietersen en die gebeure van 16 Junie 1976. Vir die jongmense was dit iets wat lank voor hulle geboorte gebeur het en wat nie regtig op hulle lewens van toepassing is nie. Die verbinding tussen ’n moreel bankrot regering en drakoniese wette wat op ’n bevolking afgedwing kan word, is vir hulle wêreldsvreemd. Sommige van hulle het dalk al tydens protesaksies met die polisie slaags geraak (die Universiteit Stellenbosch val binne die grense van die bisdom en die Universiteit van die Wes-Kaap is op die grens met die buur-bisdom), maar dit word nie gesien as die uitvloeisel van staatsbesluite nie. Of dit word nie so artikuleer nie.
Dit beteken dat ons land tog iets reg doen. Ons jongmense glo aan ’n demokrasie. Hulle glo dat veranderinge met die maak van ’n kruisie teweeggebring kan word. Selfs terwyl hulle ontnugter is deur hierdie spesifieke regering, is daar nog steeds geloof in die konsep van ’n regering. Selfs al beskuldig hulle die Zuma-administrasie van nalatigheid, glo hulle dat die staat die beste belange van hul burgers op die hart dra. Dis ’n geloof en ’n onskuld wat net kom deurdat hulle vir die grootste deel van hul lewens beskut was van die gruwels wat kan plaasvind wanneer mag nie aan bande gelê word nie.
Dis ’n onskuld wat ons behoort te koester. In my agterkop is egter ook die vermaning: "He who forgets the mistakes of the past, are bound to repeat them".
Dis ’n gesprek wat nie net kerke nie, maar enige organisasie wat met jongmense werk, in alle erns behoort te voer. Hoe kry ons ons jongmense sover om met dieselfde deurdagtheid in interaksie te gaan met kwessies wat vir hulle van belang is, om met entoesiasme ons samelewing te benader, maar om tog die lesse van die verlede te onthou?
Net dan sal die dood van ’n tiener aan die hand van die staat meer betekenisvol wees as ’n blote braai-dag.
The post Die onskuld van Suid-Afrika se jeug appeared first on LitNet.