Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het Woensdag 22 Junie op Stellenbosch hul suidelike bekroningsgeleentheid aangebied. Vyftien pryse is by dié geleentheid oorhandig. Die noordelike bekroningsgeleentheid vind op Vrydag 29 September in Pretoria plaas.
Brigitte Geyer is bekroon met die Poortprys vir poësie. Sy is ’n graad 12-leerling van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria. Die prys is toegeken vir haar gedig "hier en daar".
Die Eugène Maraisprys vir poësie is aan Bibi Slippers toegeken vir haar digbundel Fotostaatmasjien. Slippers het die Akademie bedank wat hierdie pryse moontlik maak: "Ek waardeer dit baie dat daar so iets bestaan. Dit is motivering vir ons wat nie eintlik andersins kan verduidelik waarom ons doen wat ons doen nie."
Lees Andries Visage se commendatio.
Die Eugène Maraisprys vir prosa is aan Lien Botha toegeken vir haar debuutroman, Wonderboom.
Lien Botha se dankwoord:
In die tyd van as, slegs sewe jaar na die Vrede van Vereeniging, word die Akademie gestig. Merkwaardig en bemoedigend. Indien óns vandag voor ’n brand sou moes vlug, sal ek poog om iets uit Marais se oes saam te gryp, want miere dophou langs waterkanale in Vaalharts is een van my blywendste herinneringe. Die mitologiese reus van Waterberg het in gesprekke van grootmense met dieselfde gravitas as die Die Mooiste Afrikaanse Sprokies die tonnels van ’n kind se verbeelding oopgestu in "Geheimenisse van die droomstraat", "Weggeraakte mense" en "’n Paradys van weleer"; deur "In die land van die mensvreters" tot in "Die betowerde bos".
Nietemin. In insektetaal skrib ek my nederige dankbaarheid aan meer mense as wat deur die oog van een minuut genoem kan word. Baie dankie. Ek is innig dankbaar om in Afrikaans te kan bestaan tussen ’n Kristalvlakte en ’n Fotostaatmasjien.
Lees Willie Burger se commendatio.
Die Eugène Maraisprys vir drama is aan Amy Jephta toegeken vir haar drama Kristalvlakte.
Amy Jefta het in haar bedanking gesê dis ’n voorreg om ’n stem te wees vir haar gemeenskap, en vir enkel-moeders wat hulle families bymekaar hou. Sandra Temmingh is bedank as die onderwyser wat haar bemoedig het om in Afrikaans te skryf en die selfvertroue gegee het om die taal te gebruik soos sy dit wil gebruik. Laastens het Jefta ook haar ouma bedank en die toekenning aan haar opgedra: "Sonder dat sy ooit kon lees of skryf, het sy ’n skrywer grootgemaak."
Lees Andries Visagie se commendatio.
Die Proteaprys vir beste Geskiedenisverhandeling in Afrikaans en die Generaal Christiaan de Wet-beurs is aan Anneke van Heerden toegeken. Die prys word toegeken vir haar MA-verhandeling met die titel "Die Suiderkruisfonds en die mobilisering van die Suid-Afrikaanse blanke burgerlike samelewing tydens die Grensoorlog 1968–1989".
Lees Wessel Visser se commendatio.
Die Erepenning vir ’n dokumentêre televisieprogram in Afrikaans is toegeken aan Richard Finn Gregory vir Boere op die aardsdrempel. Richard Finn Gregory: "Ek hoop dat as ons al die inheemse tale van ons land koester, insluitend Afrikaans, sal dit die kultuur van ons land versterk."
Lees Marisa Keuris se commendatio.
Die SA Akademieprys vir vertaalde werk is toegeken aan Daniel Hugo vir Oorlog en terpentyn. Hugo het drie "instansies" bedank: Die Akademie, Protea Boekhuis, wat voortgaan om Nederlandse en Vlaamse boeke se vertalings in Afrikaans uit te gee, en sy vrou, Marlene Malan.
Lees Thys Human se commendatio.
Die Hugenote-vereniging-en-DF du Toit-Malherbeprys vir Genealogiese navorsing is aan Gerhard Geldenhuys oorhandig.
Die LW Hiemstraprys vir niefiksie is toegeken aan Carel van der Merwe vir Donkerstroom. Die commendatio en dankwoord is voorgelees deur Hester Carstens van NB-Uitgewers.
Lees Hennie van Coller se commendatio.
Hierdie medalje is ingestel om ’n onderwyser of onderwyseres te bekroon wat sy of haar opvoedingswerk deur medium van Afrikaans doen en wat hom of haar onderskei het op die gebied van praktiese onderwys en opvoeding binne, sowel as buite die klaskamer. Dit is vernoem na Elizabeth C Steijn, wat vir baie jare die hoof van die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria was.
Die medalje word toegeken aan Jannie van der Westhuizen, voormalige rektor van die Paul Roos Gimnasium, Stellenbosch. In sy dankwoord het Van der Westhuizen gesê: "Onderwysers ontvang nie hulle vergoeding aan die einde van die maand nie, hulle ontvang hulle vergoeding elke dag.
Lees die commendatio deur I Eloff.
Die Stalprys vir maatskaplike werk word toegeken aan Lambert K Engelbrecht, hoof van die Departement Maatskaplike Werk, Universiteit Stellenbosch.
Lees die commendatio deur A Leysens.
Die Havengaprys vir fisiese wetenskappe is toegeken aan Hendrik G Geyer. Geyer het die Akademie bedank vir die erkenning wat dit aan ruimtes vir kreatiewe denke gee.
Lees die commendatio deur Jannie Hofmeyr.
Die Deleen Bekkerprys vir die beste draaiboek van ’n dokumentêre TV-program in Afrikaans word toegeken aan Richard Finn Gregory vir Boere op die aardsdrempel. Gregory het gesê sy grootste dank gaan aan die Afrikaanse gemeenskap in Patagonië, wat hom in hul huise toegelaat het om hul woorde te hoor en hul stories te vertel.
Lees die commendatio deur Nico Luwes.
Die Huberte Rupertprys vir klassieke musiek is aan Hanna van Niekerk toegeken.
Lees Izak Grové se commendatio.
Die Hertzogprys vir poësie is toegeken aan Antjie Krog vir haar bundel Mede-wete.
Lees Hein Viljoen se commendatio.
The post Akademiepryse 2017: Stellenbosch-bekroningsgeleentheid appeared first on LitNet.