Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21146

kykNET-Rapport Boekpryse 2015: Commendatio vir Buys deur Willem Anker

$
0
0

Buys is bekroon met die 2015 kykNET-Rapport Boekprys vir Fiksie. Thys Human het die commendatio gelewer:

Willem Anker

Die besondere belofte wat Willem Anker met sy debuutroman Siegfried getoon het, en die verwagtings wat die bekroning van dié roman en die daaropvolgende toekenning van die Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs geskep het, word in Anker se tweede, groots opgesette roman, Buys, volledig vervul.

Soos sy weerbarstige titelkarakter, is Buys ’n roman wat bestaande grense (literêr en andersins) uitdaag én oorskry. Dit is enersyds ’n historiese roman wat ’n omvattende oorsig oor die lewe van die legendariese Coenraad de Buys – Afrikaans se voorste anargis – bied; maar andersyds ook gevestigde aannames oor die (Suid-)Afrikaanse geskiedenis ondermyn aan die hand van die mites en oorvertellinge wat met die loop van tyd rondom De Buys tot stand gekom het. En soos wat Buys uit die stof van argiewe en vergeelde dokumente voor die leser se oog verrys, besin die skrywer terselfdertyd oor die uitdagings en eise wat biografiese skryfwerk in fiksievorm stel.

Deur gebruik te maak van ’n alwetende verteller – “Alom Buys” – wat nie net die begrensinge van tyd en plek oorstyg nie, maar die leser ook direk en dikwels sameswerend aanspreek, slaag Anker meesterlik daarin om die retrospektiewe en prospektiewe registers in sy roman soomloos te integreer, maar ook om die leser op ’n baie spesifieke wyse by die vertelling te betrek; hom/haar te “verblind en te verbyster met [s]y gestaltes, met [s]y alvermoënde blik” (2014:10).

Sonder ’n megalomaniese drang om die hoofkarakter te deurgrond of vas te pen, skets Anker Coenraad de Buys as iemand in wie onoplosbare paradokse saambestaan en enduit om oorheersing veg. Hy is ’n man wat teenkanting as kernbeginsel verteenwoordig. ’n Kalant van vele inkarnasies: “vagebond en boekengek, smokkelaar, (...) jagter, veelwywer, redenaar, plunderaar, patriot, klipneuker.” (2014:10-11) En ten spyte daarvan dat Buys soms so onredelik wind-op, dwarstrekkerig en onapologeties kan wees, wek hy uiteindelik as “dying animal” – broos uitgelewer aan die beperkinge van sy ouerwordende lyf – ook simpatie by die leser.

John Updike het by geleentheid gesê dat ’n grootse roman gekenmerk word deur die totstandkoming van ’n eie taal. En dit is by uitstek die geval in Buys. Sonder oordaad of eksesse bewerkstellig Anker met die oordeelkundigste van woordkeuses subtiele verskuiwings in verteltoon (vanaf dit wat skok en ontstel tot dit wat die hart wring) en roep hy sodoende ’n verbygegane wêreld in volgehoue “Kaaps-Hollands” glashelder voor die oog.

Buys is ’n grensroman wat die hele idee van grense grondig uitdaag. Deeglik gewortel in die historiese aarde van dié klipperige kontinent, groei dit uit tot ’n magistrale eietydse besinning oor identiteit (en spesifiek Afrikaneridentiteit), verset, korrupsie, geweld, magsmisbruik en moraliteit (of dan eerder – en dit is selfs meer ontstellend – ’n gebrek daaraan). Dit is ’n roman wat in elke opsig die kykNET-Rapport Boekprys waardig is.

The post kykNET-Rapport Boekpryse 2015: Commendatio vir Buys deur Willem Anker appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21146

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>