Was ek maar ’n siener, sou ek dalk kon voorspel,
wat sou wees en wat sou nie;
wie moes bieg en wie moes buig;
wie praat die waarheid en wie net kan lieg!
Was ek maar ’n siener, sou ek dalk kon voorspel,
wat vandag gaan hou en more sal vou.
Die “Siener in die suburbs” is lank terug oorlede,
maar sy skrywer sal vir ewig lewe.
Die van Rensburg-siener is lank terug oorlede
en sy geskrifte, soos sy beendere,
is êrens, daar êrens, vergete …
Die rymelaarsinstinkte klop weer vandag soos ’n knaende ensiklopedie verkoopsman van ouds aan elke gedagte wat hierdie kop van my bewerk. Ek sit met gedagtes oor die siels-lot van Oom Jan Spies se oorlede kollega en die klagtes teen Helen Zille en die myne wat nuwe aandeelhouers met minder kontant moet gaan soek en ’n fabriek se dak wat elders in die dorp lek.
My denke luier deur die valleie van verspeelde tyd en ’n gesprek verlede week met ’n middeljarige dame wat die geldelike eise van aftrede, meer as die werklikheid van lewensverlies, laat weerklink het.
My warboel-brein strompel tussen die regskorrektheid van ’n kontrak op my tafel en die skobbejakke wat nie “nee” as ’n antwoord op lewensversekering/korttermynversekering/selfoon-kontrakte en gratis dit en daai wil aanvaar nie en my sodoende strafbaar teen die aanklag van naasteliefde laat, net omdat hulle dit tot die uiterste van my ingehoue humeur kan beproef!
“Wat sal eendag van ons word?” vra ’n prediker van die Woord in 1972 ...
“Wat sal van ons word sonder boere? ... die sprinkaan en die droogte is swaar op onse land en wat van ons moet word, is bowe myn verstand,” vertel ’n papiervolle nuusblad in 2013 en die vraag spring nog meer orent wanneer mens na die treurmare-verhale van die slagoffers van die Knysna-brande luister; mense wat gister en elke oggend vra “wat sal vandag van ons word?”
Die oggendnuus en die aktuele sake is besig om my geloof in ons goeie medemens tot op die einde van sy beste bedoelinge te rek; die sinnelose geloofsmisdade en die daaropvolgende vergeldingsaanvalle is vinnig besig om ons sin vir orde en waarde na die Middeleeue terug te voer; na ’n tyd toe imperialistiese aksies teen vredeliewende, inheemse bevolkings aan die orde van die dag was.
In hierdie sogenaamde moderne tyd is die “rowers en strydtogte” as gebeure eweneens absurd, omdat die gulsige plunderaars wat slegs op persoonlike gewin uit is, steeds bestaan en floreer! Ons hoef nie die argiewe met geheime oor die Amerikaners se stryde in Viëtnam, Afghanistan of die Koue oorlog te gaan oopvlek nie, want die twee grootste moondhede op aarde is saam met hul onderskeie bondgenote steeds in ’n bitsige vete teen mekaar gewikkel, soveel-so dat dit die wêreld partymaal steeds op die rand van ’n verwoestende kernoorlog laat huiwer.
En dit, terwyl die fliekmakers ons verbeelding met getroue feite aan die hardloop gehou het en die ouer mense sugtend hul whiskey en melk voor kooityd met “wat sal van ons word …” laat sluk het.
Vereenvoudiging kan beslis ’n gedagtedief soos min wees, want terwyl ek oor al die goeters in my kop en op die draadloos en leesdinge en die stringe en stringe velle en vrye kommentaar oor al hierdie gebeure van twyfel en kommer betrag, is ek nie ’n aks nader aan die antwoord van die herhalende vraag “wat sal van ons word? nie.”
Eers het ek gedink dat onthouding die antwoord mag wees en derhalwe lees ek die afgelope 10 jaar of wat omtrent geen koerant nie; wat ek egter agtergekom het is dat ek myself om die bos lei, omrede al die nuus deesdae voor die sonsopkoms by my e-posadres afgelewer word!
Eintlik het ek besef dat geheelonthouding onmoontlik is, want dit is vergelykbaar met ’n drankverslaafde wat die podium van getuienis bestyg en verklaar dat hy ’n drankprobleem het en van hierdie dag af nie meer vodka gaan misbruik nie, maar eerder net bier!
Hoe meer ek daaroor besin, hoe meer kom ek tot die besef dat ons nie veronderstel is om al die antwoorde te hê nie; hoe meer en meer gereeld kom ek agter dat ek nie al die vrae hoef te kan beantwoord nie, dat ek nie die vertwyfeling in my gemoed hoef te beveg of selfs skuldig daaroor hoef te staan nie, want dit is hoe dit moet wees.
Ons, of dan ek, moet vrede maak met die feit dat daar êrens op hierdie aardbol op hierdie oomblik ekstremistiese leraars is wat besig is om hul ideologie aan gretige aanhoorders te verkwansel ...
Die seerowers doen dit, nie van vandag af nie, maar sedert skeepvaart se ontstaan; die Godsdiens doen dit, of eerder die misbruik van godsdiens, as dekmantel vir ongeoorloofde doelwitte wat daartoe lei dat die bedryf van godsdiens self ’n euwel raak. Die ongeoorloofde doelwitte het meermale met of die verkryging van persoonlike gewin of die verkryging van politieke mag te make, en word dan onder die dekmantel van godsdiens bedryf, weereens, nie net in die Middeleeue nie, maar juis vandag, in ons woonbuurte, fabrieke en in elke verhuurbare gat in die stad.
“Wat sal van ons word?” het myns insiens dus nie ’n beredeneerbare reg- of verkeerde antwoord nie, maar dit het eerder ’n doen-antwoord: “doen” deur die snertwaarde in die nuus met opset raak te lees, “doen” deur meer op te tree en minder daaroor te praat of die sosiale blaaie daaroor vol te flenter en te dóén, wat my menswees bevorder.
’n Dierbare kollega kyk my die anderdag so op en af en heel tot my verbasing, “gooi” hy my met wat ek aanvanklik as ’n onwelkome aanmerking beskou het, naamlik dat ek hom aan ’n ratel laat dink – ’n ratel!
Nodeloos om te sê het ek sy stelling sommer summier in ’n boksie van dinkgoeters ingegooi en selfs terwyl ek hierdie opstelletjie skryf, het die ratel-gedagte so al in my agterkop bly rondhang, totdat ek die moeite gaan doen het om vas te stel wie en wat ’n ratel is en net daar, kom die drade van dink en doen meteens bymekaar toe die slimme Vrye Ensiklopedie my oorweldig met …
”Volgens die Guinness Book of World Records is die Ratel die mees vreeslose dier in die wêreld.”
Miskien is dit ’n antwoord op die vraag “Wat sal eendag van ons word?”
The post Wat sal eendag van ons word? appeared first on LitNet.