Die Fugard-teater bied die wêreldpremière van die dubbele Fleur du Cap-wenner Louis Viljoen se toneelstuk The Eulogists aan. Viljoen is die teater se inhuis-skrywer (writer-in-residence) en dis sy eerste produksie in hierdie rol. Hiervoor verdien beide die skrywer en die teater lof.
Die verhoog is ’n hotelkamer waarin daar al hopeloos te lank gebly is: ’n skootrekenaar balanseer op ’n klein laaitjie, kragdrade en ’n verlengkoord getuig van verskeie elektroniese hulpmiddels wat herlaai word. Daar is wegneem-kartonne en glase oral; klere peul wanonderlik uit ’n tas op die vloer. Deur die glasskuifdeur wink ’n onaansienlike betonmuur en ’n sekuriteitslig word deur beweging geaktiveer elke keer as iemand in- of uitgaan. Voeteval op die gruis langs die muur kondig nuwe aankomelinge aan.
Die storie, in kort: Die wêreldmedia sak op ’n klein dorpie toe – wagtend op ’n groot staatsman se dood. Audrey (Emily Child) het jare gelede ’n boek geskryf oor haar besoeke aan en interaksie met die staatsman, pas nadat sy klaar studeer het, maar haar boek kort ’n herdruk en nuwe voorwoord. Sy kruip ’n katspoegie van die staatsman se huis in ’n hotelkamer weg. ’n Jong navorser, Zee (Kiroshan Naidoo), deel die kamer met haar, onder die voorwendsel dat hy navorsing vir haar doen, maar eintlik jaag hy sy eie roem en hoop om die staatsman se donker verlede te ontbloot.
Audrey verlaat nie die hotelkamer nie en wag angstig op Zee vir nuus oor die stand van sake. Sy slaap lang ure, terwyl hy rondsnuffel en periodiek terugkom kamer toe met nuus dat sake onveranderd is.
Senuwees is rou en die derde wiel aan die wa is ’n radiojoernalis, Harris (Pierre Malherbe), ’n korrespondent vir ’n Amerikaanse radiostasie. Hy bring wyn met die hoop om die verveling van die dae te breek en die vonk tussen hom en Audrey weer te laat opvlam.
Elkeen van die drie het hul eie agenda en redes vir hul teenwoordigheid. Soos die toneelstuk vorder, word hul verskuilde agendas egter een vir een ontbloot.
Soos daar tereg opgemerk word: “Dis ’n speletjie van wie eerste gáán en wie dit die beste sê.” Audrey se grootheidswaan dat sy alleenreg op die staatsman se storie het, dryf Zee tot raserny en hy praat haar aan deur te sê dat sy nie die wêreld maak nie en ook nie die ligte kan afskakel net omdat die ligte te helder in haar oë skyn nie. Haar onvermoë om ’n ware verskil aan die onafwendbare te maak, is verlammend.
Die heen-en-weer-bakleiery oor wie nou eintlik die meeste reg het om daar te wees en die storie te vertel, bring waarhede na vore, soos dat hulle eintlik almal getuies is van ’n opgestelde gebeurtenis. Een wat die staatsman se stigting finansieel baat solank sy lyding voortduur.
Harris filosofeer dat almal moet besef dat hulle nie self groot kan wees nie, maar hulle kan oor die staatsman se grootsheid praat. Audrey verdedig al hierdie teorieë en probeer by hulle tuisbring dat ons almal weeskinders gaan wees as die staatsman sterf, maar Zee weerspreek haar en sê hierdie land is ons weeshuis – haar kamer is net groter as die res s’n.
Stadig maar seker sink die besef by almal in dat hulle nie werklik saak maak nie; dat almal vasklou aan die ideologie van die staatsman, sy Redder-persona, maar dat niks eintlik verander het, of gaan verander na sy dood nie. Harris voeg by dat die staatsman se bevryding eers waarlik gaan kom as hy sterf.
Hulle kom tot die besef dat die verlies van iemand wat hoop vergestalt het, ’n te swaar las word om te dra.
Die toneelstuk bring baie emosies na vore, voer jou terug na die gewag voor Nelson Mandela se dood; die vrees in die land omdat ’n Messias wegval en ’n volk onbeskermd (weeskinders) gaan wees, blootgestel en uitgelewer aan gewetenlose leiers wat sy ideologieë vernietig.
Maar dit laat jou ook leeg voel as jy die teater verlaat; dieselfde leegheid wat die woorde van die akteurs by mekaar veroorsaak het. Mens voel waarlik die magteloosheid om teen die onvermydelike te baklei.
Die teks het goeie diepte en getuig van ’n vaardige woordsmid, met ’n oplettendheid oor die politieke en sosiale omgewing. Die debatte wat gevoer word, is kenmerkend van die tipe debatte wat ’n intelligente nasie behoort te voer.
Die dialoog is egter soms baie gewigtig en vinnig. Daar kon dalk meer gefokus gewees het op goedgeplaaste stiltes; tyd vir oordenking en insig.
Baie van die waarhede uit die akteurs se monde flits te vinnig verby en verloor hul impak op die gehoor. Teen die ontknoping in die laaste paar minute probeer jy nog sin maak van die voorafgaande besprekings. ’n Finale teksredigering kon ’n hele paar paragrawe gesny het, die pas effe stadiger gemaak het en die gehoor kans gegee het om in te haal.
Dalk die tipe toneelstuk wat jy ’n tweede maal moet gaan kyk, sodat meer pitkos saamgeneem kan word huis toe. Maar beslis ’n relatiewe stuk wat introspeksie oor die troontjies waarop leiers en helde geplaas word, noop.
The Eulogists
Met: Emily Child, Pierre Malherbe en Kiroshan Naidoo
Deur: Louis Viljoen
Regie: Greg Karvellas
Kostuums: Widaad Albertus
Die Fugard Theatre, Caledonstraat, Kaapstad
1–24 Junie 2017
Kaartjies deur Computicket en die teater se kaartjieskantoor, 021 461 4554
- Foto's deur Daniel Rutland Manners.
The post The Eulogists: ’n teaterresensie appeared first on LitNet.