Die doodstraf was onder die eerste goed wat met die aankoms van demokrasie tot ’n einde gebring is. Selfs voordat die Grondwet die reg op lewe bevestig het, en voordat die grondwetlike hof dit as ongrondwetlik bevind het om die doodstraf toe te dien, was daar alreeds ’n onwilligheid om mense met die dood te bestraf.
Tog word daar elke keer wanneer daar ’n grusame moord gepleeg word, of die slagoffer van ’n misdryf ’n kind is, met heimwee terugverlang na ’n tyd toe oortreders se lewens van hulle weggeneem kon word. Wraak, al is dit dan nou deur middel van die staat as proxy, was nog altyd een van die magtigste motiveerders vir mense. En so kort voor ’n verkiesingsjaar kan die beroep op populistiese opswepery nie skade doen nie. Dis dus nie verrassend dat beide die IFP en die NFP tydens die debat oor geweld teen vroue en kinders gevra het dat die doodstraf weer ingestel moet word nie. Dis glad nie realisties nie, maar dis seker half te verwagte.
Dis nie heeltemal so maklik soos wat hulle skynbaar dink nie. Om enige bepaling van die Grondwet te verander, is ’n tweederde-meerderheid stemme in die parlement nodig. Die Grondwetskrywers het dit juis moeilik gemaak sodat nie enige politikus die menigtes kan opsweep en oortuig om die grondbeginsels van ons demokrasie te verander nie.
Boonop is die beginsel om staatsgefundeerde moord, want dit is wat die doodstraf is, toe te laat, diep problematies. Wil ons regtig die staat die mag gee om ’n einde aan ons lewens te bring? Vertrou ons die staat so ver, veral in lig van die wyse waarop staatsorgane hul mag misbruik? Kan ons regtig bekostig om ’n diskoers van ’n oog vir ’n oog van stapel te stuur in omstandighede waar die regering alreeds hul blindheid bewys het?
Meer as dit, is ons vertroue in die regstelsel so diep gesetel dat daar nie ’n greintjie twyfel oor regterlike besluite bestaan nie? Regters is ook mense, net soos enigiemand anders, en hulle maak ook foute. Die verskil is net dat hul foute nie reggemaak kan word indien ’n persoon alreeds tereggestel is nie.
Regsgeleerdes weet dat ’n kliënt se straf baie afhang van die voorsittende beampte voor wie hy/sy verskyn, se voorkeure. So byvoorbeeld sal een regter verkies om lewenslange gevangenisstraf op te lê, terwyl ’n ander een weer die doodstraf sal oplê. Teen die tyd dat ek begin praktiseer het, was die doodstraf alreeds net ’n akademiese oefening. Dit is in 1990 opgeskort en toe formeel in 1994 tot niet verklaar. Tog het ons almal geweet van een spesifieke regter voor wie niemand hul kliënte wat van verkragting beskuldig is, wou laat verskyn nie. Hy was ’n regter wat altyd uitstekende, regverdige uitsprake gelewer het. Totdat sy eie dogter verkrag en vermoor is. Daarna het elke verkragter wat voor hom verskyn het, sonder uitsondering, die doodstraf gekry.
Een van die voorleggings wat destyds voor die Waarheid-en-Versoeningskommissie gebring is, was deur Paula McBride. Die statistieke wat sy voorgehou het, was as volg: tussen 1975 en 1985 is knap oor 1 000 mense gehang. Van daardie persone was net 22 wit. Die regters, daarenteen, was almal wit. Haar argument was dat daar ’n besliste rasse-element aan die doodstraf was, en dat dit juis daarom as verdag beskou moet word. Vandag sal die samestelling van die regters anders lyk, maar ek vermoed die persone wat met die dood bestraf word, sal nog steeds meestal swart wees.
Die onderliggende argument wat die doodstrafondersteuners aanvoer, is dat dit misdaad sal verminder. Dis egter nie korrek nie. Heelparty studies het bewys dat swaarder strawwe nie misdadigers afskrik nie. Van veel groter afskrikkingswaarde is doeltreffende polisiëring. Of anders gestel, die wete dat hulle gevang sal word, is groter afskrikking as die moontlikheid van ’n swaar straf indien hulle dink hulle kan wegkom met die misdryf.
Ons land gaan gebuk onder ’n gety van misdade wat toenemend wreder en gewelddadiger word. Dit kan nie ontken word nie. Die doodstraf is egter nie die oplossing nie.
Daar is geen korttermynoplossing nie.
Om die gety te swaai, om die keerpunt te stuit, kos harde werk. Dit benodig leierskap wat die koue feite van ons ongelyke samelewing in die gesig kan staar en met oplossings vorendag kan kom. Ons het nie op die oomblik hierdie leierskap nie, en selfs met die opposisiepartye is daar te veel foutlyne om te verwag dat hulle die nodige leierskap aan die dag kan lê.
Op die minste het ons nodig om indringend na ons polisiediens te kyk. Polisiebeamptes is swak besoldig, ontoereikend toegerus, en word met die minimum-opleiding in die veld in gestuur. Voeg hierby wisselvallige leierskap, voorskrifte wat gedurig verander en openbare betrekkinge wat veel te wense oorlaat, en die resep vir ’n ramp is daar. Ons verwag van ons polisiebeamptes om werk van hoogstaande gehalte te lewer, maar hulle is van die swaksbetaalde lede van die staatsdiens. Hulle toerusting is verouderd. Daar is nie naastenby genoeg polisiebeamptes nie. Boonop is die gebiede met die hoogste misdaadsyfers dikwels die swakste beman, terwyl die sg rykmansareas ’n oorvloed aan polisiebeamptes het.
Korrupsie in die polisie moet ook uitgeroei word – maar om dit te doen, moet korrupsie in die politiek en op alle vlakke in die samelewing uitgeroei word. Ons moet werk maak daarvan om ’n polisiediens te bou wat nie gebruik word om politieke geskille te besleg nie, maar wat waarlik daarop fokus om misdaad op onpartydige wyse die hoof te bied. Eers dan kan ons begin bou aan ’n polisiediens met integriteit en ’n waardige reputasie.
Daar moet ook werk gemaak word daarvan om strukturele ongelykhede in die samelewing die hoof te bied. Dringende aandag moet aan opvoeding gegee word, van graad R tot op tersiêre vlak. Hier gaan dit nie net daarom of onderrig gratis is nie. Is onderrig toeganklik? Is die beskikbare onderrig van hoogstaande gehalte? Word leerkragte toegerus om gehalte-onderrig te bied? Opvoeding is die enkele groot gelykmaker in die samelewing, en tog is die skole in die armste gebiede dikwels ook die swakste toegerus. Ons kan eenvoudig nie meer bekostig om skole te hê waar kinders buite, onder bome onderrig ontvang nie. Ons kan nie ’n situasie bekostig waar NPO’s hof toe moet gaan om die Departement van Onderwys te verplig om boeke aan skole te voorsien nie. Ons kan nie ’n situasie bekostig waar boeke in stoorkamers gehou word en nooit die skole bereik nie.
Selfs in 2017 is daar nog kinders wat in onveilige omstandighede lang afstande moet aflê om by hul naaste skool uit te kom. Burokratiese rompslomp laat ’n situasie waar die departement skole wil sluit, terwyl daar landswyd ’n tekort aan skole en onderwysers is.
Daar moet meer en beter werksgeleenthede op alle vlakke oopgestel word – iets wat weer eens saamhang met beter opvoeding. In my eie dorp sien ek elke dag jong mans en vroue doelloos ronddwaal. Daar is geen werk in hierdie resessie nie, en daar is ook geen hoop dat werksgeleenthede sal ontstaan nie. Boonop is daar hierdie onrealistiese verwagting dat die geringste werk met die vetste salaris beloon sal word.
Die kultuur van afhanklikheid van die staat vir handouts moet gestop word. Mense moet trots in hul eie vermoëns geleer word. Hulle moet leer dat hulle kan vorentoe gaan en nie hoef te wag vir ’n staatsprogram om die redding te bring nie. Mense moet geleer word dat Michael Jackson-geld nie ’n oplossing vir geldelike probleme is nie.
Dan is daar behuising. Die druk op die informelebehuisingsmark is ongelooflik groot. Nie net word groot getalle mense in klein gebiede ingeprop nie, maar die gehalte van behuising, en die infrastruktuur in daardie gebiede, is algeheel ontoereikend. Daar is tekorte aan water, elektrisiteit, mediese dienste en skole. Boonop is al daardie gebiede ver van werksgeleenthede, met onveilige en onbetroubare openbare vervoer as die enigste manier om daar te kom.
Al hierdie tekorte sou dalk nog aanvaar kon word indien daar duidelike pogings van regeringskant was om lewens te probeer verbeter. Dit gebeur nie. Die regering gebruik eerder skreiende onreg op siniese wyse om hulself en hul kamerade te help aan staatsfondse en om in beheer te bly. Droogtehulp kom nie by boere uit nie. Tenders vir bouwerk word toegeken aan persone met geen bou-ondervinding nie maar hope politieke kontakte in die regte plekke.
Politici blaas rassewantroue aan met opruiende toesprake wat skynbaar as enigste doel het om aandag van hul eie tekorte af te lei. Dis nie realisties nie. Ons plaas mense onder voortdurende druk om te oorleef, ons blaas haat aan, ons onderwerp mense aan onmenslike situasies met swak hanteringsmeganismes, en dan is ons verbaas dat hulle onmenslik optree.
Is dit ’n verskoning vir wat in ons land gebeur? Nee. Is dit verontskuldiging vir die wreedheid, die dierlikheid waarmee geweld gepleeg word? Glad nie.
My pleidooi is wel dat ons erken die "ons vs hulle"-retoriek is die maklike uitweg. Veel moeiliker is om te erken dat daar heelwat strukturele werk en nasiebou gedoen moet word voordat ons samelewing gaan verander.
Dit is moontlik. Ons hoef maar net te kyk na Rwanda vir inspirasie. Hulle het in ’n dekade hulself omskep van ’n land in die midde van burgeroorlog tot een van die nasies in Afrika wat die leiding op baie vlakke kan neem. Hulle is nie uitsonderlik nie. Ons het óók eenmaal die mantel van reënboognasie, hoop van Afrika gedra.
Die bereidwilligheid onder mense is daar. Die basiese, inherente goedheid van die oorgrote meerderheid van ons mense bestaan. Ons moet net vergeet van politieke leiers om die begin te maak, en dit self doen.
Nkosi sikelel’ iAfrika.