Luther word van Wartburg ontvoer
Luther se verdwyning op sy terugrit na Wittenberg was beplan. Frederick III het gereël dat hy in ’n woud digby Wittenberg kamma onderskep is deur ’n groep gewapende manne op hul perde. Dié het hom toe geneem na die Wartburg Kasteel op Eisenach. En daar sou hy toe vir 10 maande weggesteek bly. Luther het na hierdie periode van sy lewe verwys as sy Patmos (na aanleiding van die skrywer Johannes van die NT- apokalips). Sien hier sy 82ste brief in sy Versamelde Werke.
Gedurende hierdie periode het Luther die NT uit die oorspronklike Grieks in Duits vertaal. Dit was die eerste vertaling van die NT in ’n Europese landstaal ná die Delfse Bybel van 1477 in Oudnederlands. Die doel was dat die eenvoudigste, mees ongeleerde man op straat van die dag die Bybel in sy eie taal kan lees – vir wie Hieronymus (St Jerome) se Latynse Vulgaat terra incognita was, en net die opgeleide priesters kon uitlê volgens hulle vooroordele. Vir sy vertaling van die Griekse NT in Duits was Luther, as Graecus, volkome toegerus, en hy het sy vertaling binne die ongelooflik kort tydperk van ongeveer 10 maande voltooi, toe hy weggesteek was uit die openbare oog van sy vervolgers. Luther het die Griekse NT met strakke forsheid en tog innerlike warmte vertaal. Geleerdes bewonder dit vandag nog – dié briljante werk van één man onder die grootste spanning. Maar miskien was dít ook sy (psigogeestelike redding). Desiderius Erasmus se Griekse uitgawe van die NT, wat op 1 Maart 1516 by Johann Froben in Basel gepubliseer is, was ook net betyds vir Luther se gebruik. Luther sou later (met hulp van ander) ook die OT in Moderne Duits (Noord- én Suid-Duits te verstane) vertaal, wat in 1634 verskyn het. Luther se Bybelvertalings het inderdaad veel bygedra tot die opkoms en ontwikkeling van die Duitse taal (net soos die 1933 Afrikaanse Bybelvertaling dit ook vir Afrikaans gedoen het). In 1641 het Luther sy Bybelvertalings hersien. Dit was monumentale baanbrekerswerk. Die Authorized (King’s James) Version het eers in 1611 in Engeland verskyn, en die Nederlandse Statevertaling in 1637.
Naas sy Bybelvertaling het Luther hom in die Wartburg-kasteel ook besiggehou met die skryf van doktriniese en polemiese geskrifte waarin hy die tradisionele RK Kerk en sy dogmas aangevat het. Hy het aartsbiskop Albrecht van Mainz weer opnuut aangespreek wat hy hom toe laat beskaam het en van die verdere verkoop van aflaatbriewe te laat afsien het. Hy het ook die ortodokse Jacobus Latomus van Louvain aangevat wat steeds geglo het dat net goeie werke jou in die hemel kan bring. Luther het selfs geredeneer dat die pleeg van goeie werke met die oog daarop om God se guns te wen, eintlik sonde is (Martin Brecht, op cit 2, ble 7–9 en Martin Marty, op cit, ble 77–9). Goeie werke het by Luther wel hul plek gehad, maar dan as vrug van ’n gelowige lewe. Redding het vir hom deur geloof, en geloof alleen (sola fides), gekom wat op sy beurt ’n genadegawe van God is. Op 1 Augustus 1521 het hy aan Melanchthon (die Switser Philipp Swartzerdt – “Swartaarde”) geskryf: “Wees maar ’n sondaar, met jou sondes ook hoe groot, maar laat jou vertroue in Christus sterker wees. Verheug jou in Christus wat die oorwinnaar is oor sonde, die dood, en hierdie wêreld. Ons sal sondes pleeg solank ons op hierdie aarde is, want hierdie lewe is nie ’n plek waar geregtigheid seëvier nie.”
In die somer van 1521 het Luther sy arbeid verbreed met skrywes oor kerklike dogma en doktrines wat aan die hart van die kerk lê. Hy het vir die abrogasie (herroeping, afstelling) van die private mis gepleit, omdat hy dit as afgodediens beskou het. Die mis is immers ’n heilige sakrament, en Luther het aangevoer dat dit eerder ’n genadegawe is wat met dank deur die hele gemeente ontvang moet word (Brecht, op cit 2, ble 27–9, asook Mullet, op cit, bl 133).
Oor die vraag na belydenis, of die pous die mag het om dit van die individuele aanbidder te vereis, het Luther gesê dat elke gelowige die reg het om dit op sy eie aan God te bely: “[E]lke Christen is in wese niks anders ’n belyer nie” (Brecht, op cit 2, ble 18–21). In November van daardie jaar (1521) het Luther ook sy oordeel oor die gelofte van kloosterlinge gegee. Hy het hulle verseker dat hulle daardie geloftes sondeloos mag en kan breek omdat dit in die eerste instansie onwettig was en ’n vergeefse poging deur die owerstes is om saligheid vir hulle te waarborg (Marius, op cit, ble 163–4).
In 1521 het Luther hom ook uitgespreek oor profesieë, waarin hy die fondasies van die Reformasie se oordeel oor die profesie as verskynsel verbreed het. Die “horing” van die uitermatig groot bok wat in vier gebreek het waarvan ons in Daniël 8:7 vervolgens lees, verwys baie duidelik die opkoms van die Macedoniër Alexander die Grote en sy Oosterse veldtogte. Alexander se reuse-opgang het net so vinnig geskied as sy dood. Op 32-jarige leeftyd, in 323 vC, is Alexander in Babilon aan koors dood (waarskynlik aan crapula, oftewel babelas, want hy was ’n hewige drinker). Sy diádochoi (opvolgende generaals) het toe die heerskappy verkry oor die vier hoofstreke van sy Ryk: die Antigoniede in Macedonië, die Attaliede van Pergamum (in Klein-Asië), die Seleukiede in die res van Klein-Asië rondom Sirië, en die Ptolemeërs in Egipte. Die “Antichris” van II Thessalonisense 2:2 van die “wederkoms” – asof die dag van Christus se tweede parousía al daar is – het Luther met die mag van die RK pous van die dag geïdentifiseer.
Die wederkoms (tweede parousía) van Jesus. Die leer van “die laaste dinge”
Iets meer hier oor die wederkoms van Christus met die voleinding van die wêreld binne Luther se beskouing.
Montanus van Phrigië in Klein-Asië het teen die tweede helfte van die 2de eeu voorspel dat die wederkoms van Christus op die berg Pepuza aanstons in Phrigië sal plaasvind. Die wederkomsverwagting van Christus was baie sterk in die vroeë christendom – sommer nog tydens hulle eie lewens was hulle onder die indruk gebring dat dit nog sal plaasvind: ho kairòs sunestalménos estín (I Korinthiërs 7:29). Vgl hier F Tillmann, Die Wiederkunft Christi nach den paulinischen Briefen (Biblische Studien, xiv, capp 1–2, 1909); E Walter, Das Kommen des Herrn (Leben aus dem Wort, iv, in 2 vols, 1941–47); en TF Glasson, The Second Advent. The Origin of the New Testament Doctrine, 1945.
Hiermee hang die voleinding en die laaste oordeel by Luther saam, maw die sogenaamde leer van die eskatologie (tà éschsata, “die laaste dinge”). Dit is ’n wêreldbeeld wat verskillend geïnterpreteer word. Daar is volke buite Israel wat reeds ’n sikliese wêreldbeskouing gehandhaaf het: die periodieke ondergang en vernuwing van die wêreld. Oswald Spengler, Der Untergang des Abendlandes. Umreise einer Morphologie der Weltgeschichte van 1918–22 het agt beskawings met hulle eie kulture in die geskiedenis van die mensheid gesien wat gekom en gegaan het, naamlik (1) Egipte in Afrika (die heel oudste), (2) Babilonië, (3) China, (4) Indië, (5) Klassieke Griekeland en Rome (as ’n eenheid), (6) Arabië, (7) Meksiko en (8) die Europese/Westerse beskawing, wat die Middeleeue en Renaissance insluit). Hier was geen religieuse eskatologie ter sprake nie. By die Jode, Christendom, Islam en Boeddhisme is dit egter anders. Hulle wil sien dat die bedeling van leed en onreg in hierdie wêreld uiteindelik met ’n finale oordeel tot ’n einde sal kom, en deur ’n nuwe era van welsyn en geregtigheid vervang sal word: parsisme by die Jode, Christene en Islam, met karma by die Hindoeïsme en Boeddhisme (die teosofie dat die mens se gedagtes en dade op aarde uiteindelik sy lot deur talle empsigoses of reïnkarnasies heen sal bepaal).
Die Jode het verskillende siklusse geken. Die profete het reeds voorspel dat die regverdige God Jahweh “aan die einde van die dae” oor alle vyandige volke sal heers. ’n Nuwe hemel en ’n nuwe aarde sal geskep word en God sal sy Verbond met Israel vernuwe en sy troon op Sion vestig. In ’n apokaliptiese stryd sal daar ’n stryd wees tussen Gog en Mamog, simbool van die Bose, wat God finaal sal oorwin. Die profesie van Gog kom in die OT voor by Esegiël 38:4 (“So speek die Here Here: Kyk, Ek het dit teen jou, O Gog, vors van Ros, Meseg enTubal”). Die skrywer van die NT-apokalips verwys weer in Openbaring 20:7–9 daarna (“En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle in te samel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel, en die vuur het van God uit die hemel neergedaal en hulle verslind”). Gog is die naam van ’n mitiese koning volgens Esegiël 38, in bondgenootskap met die volke uit die noorde wat in Kanaän die herstelde Israel sal aanval, maar deur hulle Bondsgod Jahweh op die berge van Israel verslaan sal word. Gog en Magog word later twee konings wat in die eindstryd teen Israel, die volk van God, sal stry. Aanvanklik was Magog die land wat die vyand van die Bondsvolk van God was, maar dit word hier gepersonifieer. Hierdie apokaliptiese srtyd sal by Armageddon (Openbaring 16:16) besleg word. En Israel sal seëvier (sien hier JG Aalders, Gog en Magog in Ezechiël, 1951). Die twee reuse-houtstandbeelde van Gog en Magog wat eenmaal by die Guild Hall in Londen ’n uitstaande baken was, is op 29 Desember 1940 deur Duitse oorlogsaksie vernietig.
Die Messias, Jesus van die NT én die Messias wat die Jode verwag het, speel ʼn ewe groot rol in die geskiedenis van die Jodedom en die Christendom, hoe ironies ook al.
Ons kry ’n gesekulariseerde eskatologie by die Russiese Marxisme: die finale stryd tussen die proletariaat en die bourgeoisie, net soos op ’n religieuse vlak tussen die NT- Christus en die Antichris (I Johannes 2:18,22, 4:3 en II Johannes vers 7). Hier is heelwat mitiese inlegkunde gepleeg. As Gog buite tyd “bestaan”, plaas die voleinding van die wêreld, met sy dogmaties-noodsaaklike oordeel, hom in daardie tyd ter wille van die etiek van die individuele. Die wêrelde wat was, waarna Oswald Spengler verwys, het moreel gedegradeer, maar daar was ook aardbewinge, oorstrominge (groot vloede, soos die Sondvloed), vallende sterre, asook sons- en maansverduisteringe wat eras afgemerk het.
Oor die eskatologie is daar al veel geskryf. Die volgende werke (onder andere) kan hier geraadpleeg word: E Tillmann en T Andrae, Die Letzten Dingen (1940); P Althaus, Die letzten Dingen (8ste druk, 1961); P Valliaud, La fin du monde (1952); E Brunner, Das Ewige als Zukunft und Gegenwart (1953); K Löwith, Weltgeschichte und Heilsgeschehen; die theologischen Voraussetzungen der Geschichtsphilosophie (3de druk, 1953); L Altzberger, Geschichte der Christliche Eschatologie (1896); J Taubes, Abendländiche Eschatologie (1947); W Kreck, Die Zukunft des Gekommenen. Grundprobleme der Eschatologie (1961); J Moltmann, Theologie van de hoop (1967); HAA Kennedy, St Paul’s Conception of the Last Things (1904); WOE Osterley, The Doctrine of the Last Things, Jewish and Christian (1908); Oscar Cullmann, Christus und die Zeit (Zürich, 1946).
Die vraag bly staan: As daar ’n veroordelende einde kom (straf vir sondes en die beërwing van ’n ewige saligheid vir die regverdiges), en ’n einde aan hierdie wêreld gemaak word wat ons ken, met die Wederkoms van Christus, wat daarna? Want die wetenskap leer ons dat ruimte en tyd geen einde het nie en nog steeds al hoe groter word. Origenes se apokatástasis (vgl Handelinge 3:21, “Hy wat die hemel moet ontvang op die tye van die Wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete ...”) bied alleen die enigste oplossing vir die gelowiges (en ongelowiges wat dan gered sal word). Daarna sal die volgende siklus noodwendig moet intree. Die apokaliptiese wederkoms van Christus is nét vir die gelowiges, in watter vorm ook al. Maar dit is nou al vir 2 000 jaar uitgestel, en was iets wat lankal moes gebeur het. Christen-teoloë sal hierdie verskynsel, by verstek, haas opnuut moet definieer. Dit mag net een groot stuk metafoor wees. En die duisendjarige Vrederyk, of Millennium van Vrede, wat Christus se wederkoms voorafgaan, moet ook nog in ag gehou word vir dié wat daarin glo. En onthou: ewig is lank, baie lank, onmeetbaar lank, on-eindig. Dáárvoor bestaan daar geen metafoor nie.
Die millennialisme
Millennialiste glo dat met sy wederkoms Jesus Christus oor die hele aarde sal regeer in ’n koninkryk van sy Heiliges, en dat hulle almal daarna saam met Hom in die hemel opgeneem sal word. Die millennialisme is van oorsprong ’n laat voor-Christelike Joodse spekulasie. In die OT word dit voorspel in die boek van Daniël en in II Esdras, en in die niekanonieke boek van Enoch. Die Christelike opneming daarvan is geheel gegrond op die 20st hoofstuk van Openbaring. (Satan was 1 000 jaar gebonde, en die gelowiges het saam met Jesus Christus regeer. As Satan dan losgemaak word, vind daar ’n groot apokaliptiese stryd tussen die magte van die Goeie en die magte van die Slegte plaas. Die Goeie oorwin uiteindelik. En die Laaste Oordeel word gevel. In Openbaring 21 lees ons verder van die Nuwe Hemel en die Nuwe Aarde.) Die Reformasie, die Anabaptiste, die Boheemse Kerk van Jan Hus en die Morawiese Broeders het die leer van die millennialiste streng aanvaar (wat aansluit by hulle leer van die praedestinatio). In Engeland het die Puriste en Onafhanklike Kerk dit in die 17de en 18de eeue ook aanvaar. So ook die Lutherse Kerk in Duitsland en die Mormone, asook die Adventiste van die VSA. Die ortodokse Christendom het dit nooit formeel verwerp nie: “basking voortydig in their own glory” (van wat dalk nooit sal gebeur nie).
Luther word gedwing om Wittenberg te besoek
Luther het reeds in Oktober 1524 sy monnikspy (wye togaägtige bokleed) finaal afgelê. Dit moes ’n uiters emosionele ervaring vir hom gewees het, maar sy oortuiging dat hy die regte ding doen, het geseëvier.
Hy was later gedwing om verklarings vir Wittenberg uit te reik vanuit sy kasteel in Wartburg, die een na die ander. Hy is deurentyd op hoogte van sake daar gehou. Andreas Karlstadt, ondersteun deur die Augustynse priester Gabriel Zwilling, het in Julie 1521 op sy eie met ’n hervormingsprogram begin waarin hy selfs verder gegaan het as Luther, sy leier. Dit het oproer in Wittenberg veroorsaak en selfs rebellie deur die Augustynse kloosterlinge. Beelde en afbeeldinge in die kerk is stukkend geslaan. Nadat Luther Wittenberg vroeg in Desember 1521 in die geheim besoek het, het hy ’n pamflet geskryf om aan die gemeente uitgedeel te word, en wel onder die titel “’n Ernstige aanmaning deur Martin Luther aan alle Christene om te waak teen opstand en rebellie” (Mullet, op cit, ble 135–6). Nog meer oproer het teen die einde van daardie jaar uitgebreek toe ’n klomp visioenêre en dwepende yweraars ná Kersfees daar aangekom het en leerstellinge verkondig het soos dat alle mense gelyk is (ryk en arm: koinônía van Handelinge 4:32–7); dat die Grootdoop die enigste regte doop is; en dat die wederkoms van Jesus Christus nou op hande is. Dit is toe dat die stadsraad van Wittenberg besluit het dat dit tyd is dat Martin moet terugkeer. En Luther het besluit dat dit sy plig is om nou persoonlik te gaan optree.
Hy het op 6 Maart 1522 na Wittenberg teruggekeer. Aan die elektor het hy geskryf dat Satan in sy afwesigheid sy skaaptrop binnegekom het en verwoesting aangerig het wat hy nie net met skrywes kan herstel en omkeer nie, maar dat hy nou self teenwoordig moet wees (vgl sy brief van 7 Maart 1522, asook Brecht, op cit 2, bl 57). Met sy terugkeer het hy toe vir agt dae na mekaar vir die gemeente gepreek, beginnende op Sondag 9 Maart. Hierdie agt preke van hom het later bekend gestaan as sy “invokatiewe preke” van oproep. In hierdie preke het hy altyd die klem gelê op die primêre Christelike waardes, soos liefde, weldoening, verdraagsaamheid en die vryheid van die Christen, en het hy ook sy volgelinge gemaan om die Woord van God te vertrou, en nie geweld te wil gebruik om veranderinge in die kerk te laat plaasvind nie. Hy het gesê: “Weet julle wat die duiwel dink wanneer hy sien dat mense met geweld die Evangelie wil verkondig? Hy sit met gevoude arms agter hel se vuur, en met ’n boosaardige kyk en afskuwelike grynslag, sê hy: ‘A, hoe slim is hierdie mal mense tog om my spel te speel. Laat hulle voortgaan! Ek sal die vrugte daarvan pluk, en ek het behae daarin’” (vgl Philip Shaff, History of the Christian Church, vol VII, cap IV).
Die effek van Luther se persoonlike ingryping was onmiddellik. Na sy sesde preek het die Wittenbergse juris Hieronymus Schurf aan die elektor geskryf: “O, wat ’n vreugde is dit nie dat dr Martin teruggekeer het en weer onder ons is nie! Sy woorde, deur goddelike genade, bring elke dag weer misleide mense terug na die Weg van die Waarheid” (Schaff, op cit, loc cit).
Luther het nou voortgegaan om die ou tradisionele Roomse kerklike gebruike te hersien en nuwes in te voer. Hy het met die plaaslike burgerlike regering saamgewerk om die openbare orde herstel te kry. Dit was inderdaad ’n konserwatiewe mag binne die opkomende Hervorming. Nadat hy die Zwickau-profete uit Wittenberg verban het, moes hy ook optree teen die gevestigde kerk van sy tyd en teen allerlei radikale hervormers wat die gemeenskap gedestabiliseer het.
Ten spyte van sy aanvanklike sukses kon hy die radikalisme, wat hy self begin het, beswaarlik buite Wittenberg keer. Predikers soos Zwickau, die profeet Nicholas Storch, en Thomas Münster het groot byval gevind by die laerklas, armer landbouers tussen 1521 en 1525. Luther se pamflette teen die gevestigde kerk en sy hiërargie het hulle as nog steeds te “liberaal” gesien. Verdere opstande het in 1524 uitgebreek in Franconia, Swabia en Thuringia waaraan selfs die edellui deelgeneem het, van wie baie in swaar skuld gedompel was.
Luther het simpatiek gestaan teenoor die plattelandse boerebevolking, soos hy ook bewys het in sy “Twaalf Artikels” van Mei 1525, maar het hulle terselfdertyd ook gemaan om nie teenoor die plaaslike burgerlike owerhede ongehoorsaam te wees nie. Gedurende sy toer deur Thuringia was hy erg ontsteld dat die “hervormers” die kloosters van monnike, die wonings (“paleise”) van biskoppe en biblioteke afgebrand het. Met sy terugkeer na Wittenberg het hy dan ook ’n pamflet vrygestel onder die titel “Teen die moorddadige en stelende hordes van landbewoners”. Hierin gee Luther sy interpretasie van koinônía (“gemeenskaplike deelhebberskap”) by Handelinge 4:32–7 en veroordeel hy die geweld as die werk van die duiwel. En, het hy bygevoeg, “ek dink daar het nie ’n enkele duiwel meer in die hel agtergebly nie – maar hulle het almal in die landbouers ingevaar!”
Luther het sy optrede teen die rebelle op drie argumente gegrond: (1) gee aan die keiser wat die keiser toekom soos ons dit ook lees by Romeine 13:1-7; (2) geweld, rebellie en plundering lê buite die wet van God en die instellings van aardse owerheid; (3) sulke rowers in die naam van Christus pleeg godslastering teen dit wat juis in die Evangelie van Jesus staan.
Sonder Luther se ondersteuning het die rebellie van die ekstremiste egter doodgeloop. Baie het hul wapens neergelê, en nog ander het verraai gevoel deur Luther wat aanvanklik onhaalbare verwagtinge vir hulle geskep het. Na die slag van Frankenhausen op 15 Mei 1525 is Thomas Münster ook tereggestel. In 1526 het Luther geskryf: “Ek, Martin Luther, was verantwoordelik vir die dood van al die rebelle omdat ek dit beveel het” (vgl die Erlangen-uitgawe van Luther se Versamelde Werke, vol 59, bl 284).
Luther tree in die huwelik
Martin Luther het hierna besluit om in die huwelik te tree met Katharina von Bora, een van die 12 nonne wat hy in April 1523 uit die Cisterciënsiese klooster by Nimbschen help ontsnap het deur hulle in haringvaatjies (van gedroogde “bokkoms”) te laat te ontvoer. Aan sy vriend Wenceslaus Link het hy geskryf dat die Here hom in ’n huwelik laat plaas het terwyl hy met vele ander sake in sy gedagte gesit het (vgl Schaff, op cit, vol VII, cap v).
Op 13 Junie 1525 het Martin aan Katharina verloof geraak, met Johannes Bugenhagen, Justus Jonas, Johannes Appel, Lucas Cranasch die Ouere, en Philpp Melanchthon as getuies (Heinz Scheible, Melanchthon. Eine Biographie, München, 1997, bl 147). En op die aand van dieselfde dag is die paartjie deur Johannes Bugenhagen in die huwelik bevestig (Scheible, op cit, loc cit). Die seremoniële stap na die kerk en die huweliksfees het eers twee weke later op 27 Junie 1525 geskied (sien weer eens Scheible, op cit, loc cit).
Ander priesters het hulle al voor Luther in die huwelik begewe, insluitend Andreas Karlstadt en Justus Jonas, maar dit was Luther se huwelik wat die amptelike goedkeuring op die huwelik van kerklikes geplaas het. Op grond van die Heilige Skrif het Luther toe lankal reeds die selibaat as onnatuurlik beskou en strydig met die mens se geskapenheid. Tog het sy skielike huwelik baie verbaas, en daarby veral Philipp Melanchthon, wat dit as “roekeloos” beskryf het (Brecht, op cit, bl 199 en Derek Wilson, op cit, bl 234). Op 30 November 1524 het Luther nog aan George Spalatin geskryf: “Soos ek tans voel, sal ek nooit ’n vrou vat nie. Dit wil nie sê dat ek onsensitief vir my vlees en seks is nie (want ek is nie van hout of klip nie), maar ek is teen ’n huwelik omdat ek elke dag die dood van ’n ‘ketter’ verwag” (vgl Schaff oor Luther se troue in 1525 in sy aangehaalde werk, vol VII, Modern Christianity. The German Reformation, par 77).
Luther en sy vrou het daarna in die eertydse “Swart Klooster” gaan woon – ’n trougeskenk van die nuwe elektor, Johannes die Standvastige (1525–32). Dit was duidelik ’n gelukkige en suksesvolle huwelik. Hy het nou beter sy gereelde maaltye gekry en hulle bed is elke oggend opgemaak – terwyl hy dit voorheen vir maande lank elke aand net so onopgemaak ingeklim het. Hulle het egter dikwels ’n tekort aan geld gehad. Katharina het ses kinders in die wêreld gebring: Hans (geb Junie 1526), Elizabeth (10 Desember 1927, maar sterf binne ’n paar maande), Magdalena (1529, en sterf op 13-jarige ouderdom in Luther se arms), Paulus (Januarie 1533) en Margaretha (1534). Katharina het haar bydrae tot die huwelik verder gelewer deur op die lande te werk en loseerders in te neem (Marty, op cit, bl 110, en Wilson, op cit, bl 237). By geleentheid het Luther aan Michael Stiefel bely: “My Katie is in alle dinge so tegemoetkomend en gee my soveel plesier dat ek in my armoede haar nie vir al die rykdom van Kroisos (eertyds van Lidië) sal verruil nie” (vgl Schaff se “Die huwelik van Luther”, hier bo aangehaal).
Luther herorganiseer die kerk
Vanaf 1526 was Luther toenemend besig om sy hervormde kerk te herorganiseer. Hy het egter gou sy Bybelse ideaal laat vaar dat elke gemeente sy eie prediker moet kies. Luther het ’n belydende kerk verkies, gebaseer op persoonlike geloof en religieuse ervaring. Luther was self in eerste instansie ’n gevoelsteoloog. Van 1525 tot 1529 het hy ’n toesighoudende liggaam vir sy kerk tot stand gebring. Hy het ook ’n nuwe vorm van erediens ingevoer, en twee kategismusse opgestel as ’n duidelike uiteensetting van sy hervormde kerkleer gebaseer op geloof (waar goeie werke nou ’n sekondêre plek, as gevolg van die geloof, sou inneem). Luther het basies ’n “Teologie van die Kruis” verkondig.
Om gelowiges nie te verwar nie, het Luther ekstreme kerklike veranderinge vermy. Hy het vir die oomblik gekonsentreer op die elektoraat van Sakse, maar as raadgewer opgetree vir die ander hervormende gemeentes daarbuite. Hy het ook ten nouste saamgewerk met die plaaslike owerheid, na wie hy hom vir fondse kon wend ná die breuk met Rome. In menige opsig het sy praktiese hervorminge tekort geskiet, gemeet aan sy eertydse radikale uitsprake. Melanchthon het byvoorbeeld sy “Instruksies vir die besoekende gemeentelike pastore in die elektoraat van Sakse” van 1528 saam met Luther opgestel, waarin berou en vergifnis van sondes beklemtoon word, terwyl Luther self sy hoofklem laat val het op regverdiging deur die geloof alleen.
Op aanvraag vir ’n Duitse liturgie het Luther ’n Duitse misdiens opgestel wat hy in 1529 gepubliseer het. Dit was egter nie bedoel om sy 1523-verwerking van die Latynse misdiens, waarmee hy grootgeword het, te vervang nie, maar om dit meer meelewend-verstaanbaar te maak vir die laer volksklas. Alles wat na “offerande” geruik het, het hy egter daar uitgehaal. Die offerbrood (hostie) en die nagmaalsbeker het hy egter behou. So dan ook die bediening van die wyn en brood ter herinnering aan die Laaste Avondmaal. Vir die seremonie van die misdiens het Luther groot vryheid toegelaat. Spesiale kleredrag, en die gebruik van die altaar met kerse, was vir hom in orde. Die Switserse hervormer Ulrich Zwingli het Luther hier as te “papisties” gesien. Moderne navorsers oor Luther se ingrepe op die RK Kerk stem saam dat hy nogtans “konserwatief” gebly het. Van groot belang was egter dat Luther die sing van Duitse godsdienstige liedere deur die gemeente by eredienste ingevoer het. Die geloofsbelydenis moes die gemeente ook saam resiteer as deel van die liturgie. Weeksdae het Luther ook kategismuslesse aangebied vir die jeug en ander oningewydes. Hy ook vereenvoudigde formuliere opgestel vir die bediening van die Doop en die Huweliksbevestiging. Absolute vereenvoudiging was sy wagwoord – waarby hy sekerlik ook onskuldige gebruike van aanskoue ook uit die kerk weggegooi het.
Luther het sy kategismus in Volksduits (en nie die Latyn van die RK Kerk nie) opgestel in vraag-en-antwoord-vorm (soos by Plato se Dialoë), sodat mense dit werklik kon en moes verstaan en nie net soos ape agterna sê nie. Dit was bedoel om die basiese waarhede van die Christelike leer oor te dra. In 1529 het sy Groot Kategismus verskyn, bedoel vir pastore en onderwysers. Daarna het hy sy Klein Kategismus opgestel vir meer eenvoudige gebruik in sy kerkonderrig. Tot vandag toe bly Luther se Klein Kategismus ’n model vir die bondige lering van groot Bybelse waarhede. Luther se kategismus bly steeds een van sy mees persoonlike bydraes tot die Reformasie. Luther het ook die Apostoliese Geloofsbelydenis in Volksduits vertaal waarin hy die karakter van God die Vader, die Seun en die Heilige Gees duidelik uitgespel het, en die Drie-eenheid (Trinitas) nie net as ’n stuk geleerde dogma afgekondig het nie. Die Vader het geskep, die Seun het verlossing gebring, en die Heilige Gees “heilig” alles. Ons het ’n goddelike eenheid in verskillende persone (verskillende “aspekte” van dieselfde Godheid). Die redding van siele begin by God die Vader, en trek die gelowige na die Vader. Luther se behandeling van die Apostoliese Geloofsbelydenis moet verstaan word in terme van wat die Tien Gebooie (Dekaloog) sê. Die “Onse Vader” (Pater Noster) was deel van Luther se kategismus.
Die volgende gedeelte van hierdie essay oor Martin Luther verskyn binnekort.
Lees ook:
Martin Luther herdenk na 500 jaar: deel 1 Gerrit van Wyk Kruger "Martin Luther was die absolute stigter en grondlegger van die Duitse Christelike kerkhervorming en ook die seminale figuur wat die dwalende Rooms-Katolieke Kerk uit die Donker Middeleeue na die ware oorspronklike evangeliese lig gelei het." |
The post Martin Luther herdenk na 500 jaar: deel 2 appeared first on LitNet.