Die naamlose (herdruk)
Mariël le Roux
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624082491
Die naamlose spog in 2017 met ’n splinternuwe baadjie. In 2010 het dié roman as naaswenner in Sanlam se Groot Romanwedstryd uit die stryd getree. Nóú, na sewe jaar, pronk sy tweede uitgawe op die rak – ’n bewys dat dié boek beslis nie in die afgelope paar jaar vergeet is nie. ’n Mens mag dit maar erken. Dit wil nogal gedoen wees vir ’n skrywer van wie Die naamlose in 2010 slegs roman nommer twee op haar kerfstok was. Slegs drie jaar vantevore het sy met Wilhelmina – Kampkind op Java gedebuteer. Hierna pak die skrywerskoors Le Roux behoorlik beet. ’n Vrugbare dekade volg waartydens Die naamlose in 2010, Klara in 2013 en Isabella in 2017 gepubliseer word. In Isabella sentreer die verhaal vir die eerste maal nie rondom ’n onskuldige kind nie, maar om ’n volwasse vrou wat self die verantwoordelikheid vir haar eie besluite moet dra.
Dit is egter met Klara dat Die naamlose ’n belangrike ooreenkoms deel: in beide staan die plaasmilieu voorop.
Gedurende die vyftiger- en sestigerjare was die idilliese plaaslewe miskien vir baie Suid-Afrikaanse plaaskinders ’n vervroegde hemel op aarde. Maar nié vir Carli Botha nie. Dalk omdat daar maar min op Grootvlei, hul familieplaas, was om haar aan enige soort hemel te herinner.
Tydens ’n stormagtige nag op Grootvlei skenk Carli se ma te vroeg geboorte aan haar boetie en sterf kort hierna. Dit is egter nie slegs die dood van Ma Bella wat aan dié nag ’n eiesoortige swartgalligheid verleen nie. Eerder is dit die moord op Carli se nuutgebore boetie met anensefalie wat dié nag vir haar eerste swartgallige spoke op Grootvlei sou sorg. Met sy plat kop en uitpeuloë verwys Lena na hom as ’n katkoppie. Carli se pa beskou die kind as ’n gedrog en beveel Lena (een van hul huisbediendes) om vinnig ’n einde aan die lewe van sy katkoppie te maak. Hierna kyk die amper sewejarige Carli toe hoe Lena haar breinlose boetie in die wasbak verdrink. Dié gebeurtenis was veronderstel om ’n stil dood te sterf – soos die katkoppie se laaste benoude borrels binne die wasbak. Sake loop egter skeef wanneer dié geheim die volgende kwartaal tydens Carli se “My vakansie"-mondeling onskuldig oor haar eie lippe uitborrel.
Hierna is dit nie net Wilhelm Botha se hand wat om die brandewynbottel vou nie. Mettertyd vou die duisternis ook dig om die kinderlewe van Carli. Wilhelm Botha, haar pa, sorg eerste hiervoor. Na die swartgallige nag gee hy homself vrywillig aan die drankmonster oor. Dit is ook hy wat die skuld vierkantig op Carli se skouers pak nadat sy in haar kinderlike onskuld Grootvlei se geheim uitblaker. Soos ’n volwasse Carli dit later self verwoord, het haar pa al die ellendes van Grootvlei voor haar deur neergesit (179). Met die sersant as sy drinkebroer is dit ook nie moeilik vir Wilhelm om skotvry van al sy sondes af te kom nie.
Met verloop van tyd vervaag die gesig van Ma Bella, asook haar belofte aan Carli: om haar eendag-op-’n-reëndag na haar familie in Annerland, wat soos ’n stewel lyk, te vat.
Tog is die lewe na die moord op die katkoppie nie net een uitgerekte dodemars vir Carli nie. Sy het vir Dora, hul huisbediende, as beskermengel en vir Wimpie, die seun van Dora, as maatjie op die plaas. Na die uitblaker van die groot geheim vermoed die welsyn onraad op Grootvlei. Kort voor lank moet Carli dan ook vir Grootvlei groet, want die welsyn vereis dat sy in die pastorie op die dorp moet gaan bly. Dit is hier waar Carli leer dat die duiwel nooit onderskat moet word nie. Hy het baie gedaantes en is oral tuis. Selfs op die preekstoel en in die gange van die pastorie. Met sy kriewelrige duime en sweterige hande leer die Gesalfde binne die pastorie vir Carli dié les. Met Dora weg, neem Evelyn, die huisbediende van die pastorie, die rol van Carli se nuwe beskermengel oor.
Nietemin ís dit steeds op Grootvlei waar Carli haar skoolvakansies deurbring. Vakansies waartydens Carli en Wimpie met verloop van tyd die soet smaak van die verbode vrug ontdek. Gou raak die Tuin van Eden – die kerktuin – en die adamsvyeboom hul lekker verbode paradys. Verbode, want oënskynlik hang die vlymskerp lem van die berugte Ontugwet oor hulle kop. Maar dis op hul laaste dag by die rivier dat Carli self finaal wéét: van Grootvlei moet sy weg.
Opvallend is die wyse waarop die roman daarin slaag om die leser op ’n emosionele vlak reeds vanaf die eerste bladsy binne die palm van sy hand te hou. Deur middel van Ma Bella se Annerland- en Grootvleistories word daar al vroeg vir kleurvolle karakters en ’n boeiende intrige gesorg. Die stories ontlok ook ’n spontane nuuskierigheid, want binne hulle lê ’n paar raaiselagtige vrae wat aanvanklik onbeantwoord in die lug bly hang. Die raaiselagtigheid verskaf die nodige prikkelende element om die leser uit die staanspoor vasgenael te hou.
Binne die roman is dit ook die intrige se sterk ironiese invalshoek wat beïndruk. Dit is immers ironies dat Carli se breinlose katkoppie, sonder dat hy self ’n vinger kon verroer, almal op die werf só kon aanraak. Op roerende wyse verwoord Carli self dié ironie (76). Juis hierom is Die naamlose as titel, wat na die breinlose boetie van Carli verwys, so gepas. Dit is immers die naamlose wat so ’n kragtige impak op Grootvlei en sy inwoners se lewens sou uitoefen.
Verder is dit ook opmerklik dat menige aktuele en eietydse kwessie in Die naamlose onder oog gebring word. Daar word onder andere fokus verleen aan versteurde gesinsverhoudings. Die klem val op die verhouding tussen dogter en pa. Of moontlik eerder die gebrek aan ’n verhouding. Nie net is Carli se pa dikwels in haar lewe afwesig nie, maar hy laat haar ook “ontsenu” en “angsbevange” in sy gereelde besope toestand (101). Verder word drank se vermoë om as vernietigende sosiale euwel te dien ook met oortuigende hale vir die leser geskets. Carli se pa is nie die enigste karakter wat in diens van die drankmeester staan nie. Onder andere is Klaas, ’n arbeider op die plaas, en die sersant almal slawe van dieselfde Meester.
Met die lees van die roman het dit opgeval hoe gepas en raak die keuse van fokalisasie telkens is. Aan die begin ervaar die leser Grootvlei en sy lief en leed deur die kinderoë van Carli. Die kort sinne en eenvoudige woordkeuses vang ’n opregte kinderlike onskuld vas. Dié pretensielose wyse van vertelling is ook besonder effektief in dramatiese tonele aangewend. So ondergrawe die kinderperspektief op die moord van die katkoppie byvoorbeeld enige vorm van oordadige melodrama en sentimentaliteit. Ek het hier gevoel die gestroopte stilistiese aanslag is juis effektief, omdat dit die skok en afgryse by my as leser kon intensiveer.
Telkemale kom dit ook na vore dat Carli nie die gebeure of al die “groot woorde” rondom haar verstaan nie. Haar beperkte kinderbegrip word deernisvol verwoord wanneer sy wonder wat op aarde “reputasie” beteken:
Ek weet nog nie wat dit beteken nie. Ma Bella het gesê sy sal my sê as ek groot is, maar sy is na Liewe Jesus toe en Dora ken nie groot woorde nie. Nou weet ek nie of ek ooit gaan weet nie. [Oorspronklike skuinsdruk] (109)
Lag-met-’n-traan. Dis seker hoe bostaande beskrywing kort en kragtig op sy beste beskryf kan word. Dit is wel met dié aanslag dat Le Roux sorg dat sy ’n ongenaakbare werklikheid, waarbinne kinders te jonk verstrengel raak, op ’n geloofwaardige wyse vasvang. Voorts is ek ook beïndruk deur die gebruik van “As Hy weer kom”, as Christelike kinderliedjie tydens, asook kort na die moord. Op ’n ongewone, maar treffende wyse laat die skrywer twee wêrelde skerp teenoor mekaar afsteek: die skuldbevlekte grootmenswêreld teenoor die onskuldige wêreld van kindwees. Dit dra by tot die versterking van die emosionele betrokkenheid van die leser.
Tog sorg die ongekunstelde kinderperspektief ook vir ’n paar nodige komiese oomblikke. Genoeg humoristiese en genotvolle momente bied sodoende goeie afwisseling van die neerslagtige atmosfeer wat by tye heers. Ter illustrasie kan daar verwys word na die toneel toe Nero, Carli se hond, dood is. Wanneer hy halfpad onder die grond lê, wil Carli graag na Nero gaan kyk, maar terselfdertyd is sy ook bang. Sy is daarvan oortuig dat sy vir Jesus sal sien terwyl hy vir Nero uithaal, want sy is geleer dat Jesus die dooies kom haal. Hier kan ’n mens die instinktiewe glimlag kwalik keer.
By tye word die kinder- en tienerperspektief (later in die roman) funksioneel afgewissel met die beskouing van ’n volwasse Carli wat op vroeë gebeure in haar lewe terugkyk. Die terugskouende perspektief word in aparte hoofstukke gebruik en is in skuinsdruk gedruk. Tydens een van die tonele kom Carli gedurende haar jare as verpleegstudent op ’n foto van ’n katkoppie in haar handboek af. Hier is die manier waarop die “koue, kliniese mediese inligting” oor anensefalie met Carli se eie ervaring en emosionele verwonding vermeng word, besonder roerend.
Verder bied die terugskouende perspektiewe ook die nodige intieme blik op die psige van Carli. Dit help ook die leser om keuses en die gedrag van Carli, veral in haar tienerjare, beter te begryp. ’n Interessante perspektief op Carli en Wimpie se storm-en-drang-periode word ook in die hoofstukke verskaf. Oor wat op Carli wag, word daar plek-plek vae, maar genoeg inligting verklap om die leser nader aan die punt van sy stoel te verskuif. Dit dra doeltreffend daartoe by om die spanning, maar ook die fassinasie met die intrige te verhoog.
Een of twee hoofstukke uit die perspektief van Wimpie sou wel vir die leser moontlik ook insiggewend kon gewees het. Die leser word nie genoegsame geleenthede gebied om Wimpie werklik van binne te leer ken nie. Dit frustreer effens en pla onderliggend ’n bietjie. Hier en daar vergoed dieperliggende beskouings van ’n volwasse Carli, wanneer sy meer oor die verskille tussen haar en Wimpie deel, wel in ’n mate hiervoor.
Wat die karakterisering van die milieu aanbetref, word die gees van ’n korrupte kleindorpse samelewing knap vasgevang. Wat egter veral opval, is die wyse waarop Le Roux te werk gaan om die ongerepte en idilliese plaasruimte te ontluister. Deur middel van personifiërende beskrywings ontwikkel Grootvlei deur die loop van die roman as ‘t ware tot ’n afsonderlike karakter. Maar iets van die plaas se vroeë onskuldige en bekoorlike karakter ontbreek. Dit is immers op sý stoepe wat die kleintydspoke vir Carli jaag, onder sý grond wat daar ’n onrustigheid skuil en op sý grond wat te veel offers gevra word (1, 36, 86). So verkry die bekoorlik-eenvoudige plaasruimte ’n treurige dimensie waar daar te veel trane val (99). Dit was ook vir my treffend wanneer Carli amper digterlik beskryf hoe die mooi op Grootvlei vir haar uitgeloop het. In die geheel beïndruk die wyse waarop daar ’n unieke soort personifiërende outentisiteit aan die treurige plaasruimte verskaf word.
Dit is egter by die ontwikkeling van haar menslike karakters waar Le Roux soms teleurstel. Hoewel Carli ’n komplekse, maar ’n geskakeerde en dimensievolle karakter is, is daar ’n stereotiepe eendimensionaliteit wat aan die ander Afrikaanse blanke karakters kleef. Carli se pa word van die begin af as ’n afstootlike karakter voorgestel wat die leser skok en vervreem deur sy wrede, ongevoelige en barbaarse gedrag. Daar is wel goeie rede vir dié tipe uitbeelding.
Nietemin kan ’n mens nie anders as om ’n bietjie kop te krap oor die feit dat al die ander Afrikaanse blanke karakters deur die bank as onbegrypend, skynheilig, kleingeestig en ongevoelig voorgestel word nie. Is die Afrikaanse prosa nie al oorversadig aan hierdie tipe voorstellings nie? Dit is asof daar by almal – Oudominee, die sersant en sy gesin, die skoolhoof en selfs die dokter – sprake is van ’n morele bankrotskap.
’n Meer genuanseerde voorstelling sou vir ’n meer gebalanseerde, asook ’n vernuwende perspektief kon gesorg het. Die stereotiepe voorstelling is immers verouderd en herinner aan ’n era in die Afrikaanse prosa waar karakters van verskillende rasse dikwels in terme van binêre opposisies (goed versus sleg) uitgebeeld is. Die gebrek aan genuanseerdheid skend ook die betroubaarheid van ’n reeks gebeurtenisse binne die intrige. Dit was nie vir my baie geloofwaardig dat Dora, Evelyn en Siena as huisbediendes Carli se enigste vriende in haar skooljare was nie. Sy kon uit die aard van die saak goed met hulle oor die weg gekom het, maar dit was onnatuurlik dat daar nêrens van een ander vriendin of vertroueling sprake was nie. Nêrens word daar genoem dat sy hoegenaamd ’n ander meisie- of seunsvriend (behalwe Wimpie) êrens gehad het nie.
Daar is ook sprake van tonele in die roman waar die waarskynlikheid van gegewens minder seker blyk. Ma Bella deel byvoorbeeld aan die begin van die roman Ouma Maria se hartseer verhaal met Carli. Die verhaal bevat ontstellende gegewens, aangesien Ouma Maria selfmoord gepleeg het deur haar polse te sny. Aangesien Carli se ma dood is toe sy amper sewe was, moes sy dié tipe stories aan Carli meegedeel het toe Carli nog bitter jonk was. Sal ’n ma werklik so ’n jong kind aan sulke grusame besonderhede oor die familie (wat hulle maar eers later kan hoor) blootstel? Dit is debatteerbaar.
Dit het ook soms gevoel asof Dora en Evelyn spieëlbeelde van mekaar kon wees. Hulle het net verskillende name. Beide haal dikwels net té herhaaldelik op dieselfde moedelose en soms prekerige manier uit Die Bybel aan. So sê Dora êrens aan die begin van die roman aan Carli dat niemand se sonde ongestraf sal bly nie. Later in die roman is dit opvallend en bietjie hinderlik dat Evelyn omtrent woordeliks dié woorde van Dora teenoor Carli herhaal. Sodanige gevalle kom in die loop van die roman ’n paar keer voor.
In die geheel bly Die naamlose egter ’n roman wat jy nie onaangeraak op die boekrak sal terugsit nie. Hiervoor sorg die fassinerende intrige, die gepersonifieerde outentieke milieu en skerpsinnige fokalisasiekeuses. Aan die einde kom die roman ook met ’n paar onvoorsiene en verrassende ontknopings vorendag wat vir ’n heerlike onvoorspelbare element sorg. Ten laaste is dit ook die boeiende emosionele reis wat tot die aanwinsstatus van Die naamlose vir enige boekrak bydra. Die roman kan aanklank vind by ’n wye lesersmark wat van spanningsvolle dramas tot lekkerlees-literatuur hou.
The post Die naamlose deur Mariël le Roux: ’n resensie appeared first on LitNet.