Op LitNet Akademies se skoleafdeling is daar gratis vraestelle en memoranda om af te laai, en daar heers ook lewendige gesprek onder ons lesers.
Ene Izelda het onderaan hierdie artikel van Marise Oberholzer raad gevra oor die maak van wiskundeplakkate, en Philip Scott, ’n ander leser, deel toe ’n paar wenke uit sy persoonlike perspektief.
Raad vir ’n puik plakkaat
Daar is deesdae gereelde projekte wat leerders moet voltooi wat tot hulle rapportpunt bydra. Een van die projekte wat die meeste kopsere gee is die maak van ’n plakkaat. Ek gaan hier verduidelik waarom mens plakkate maak en ook ’n paar wenke gee oor hoe om jou beste punt moontlik te kry.
As jou enigste doel is om ’n plakkaat te maak wat vir jou ’n goeie punt gaan gee, gaan jy sukkel om ’n goeie punt te kry. Dus wonder jy dan seker watter ander doelwitte jy moet hê wat vir jou ’n goeie punt gaan gee. Die drie ander wenke wat sal help, is dat jy dit as ’n geleentheid sien om iets te leer en om vir ander inligting te gee, en dat jy dit op ’n aantreklike en interessante manier doen.
Die proses van ’n plakkaat maak bestaan hoofsaaklik uit die volgende stappe:
- Kies ’n onderwerp wat jou interesseer. Soms word die onderwerp vir jou gekies.
- Doen navorsing oor die onderwerp. Maak seker jy skryf al die bronne neer.
- Sif deur al die inligting en kies dit wat jou boodskap die beste gaan oordra.
- Vertoon die inligting op jou plakkaat.
Dus: om die kennis in te win wat jy wil onthou en aan ander wil oordra sal jy eers navorsing moet doen. Eenvoudig gestel beteken dit om soveel as moontlik te lees oor die onderwerp wat jy gekies het en te kyk wat jy nuttig en interessant vind en wat ander ook sal wil weet. Gaan deur tydskrifte, koerante, ensiklopedieë (uit die dae voor die internet) en besoek die biblioteek. Dan kan jy die internet ook opsoek. Een nadeel van die internet is dat min inligting in Afrikaans beskikbaar is, dus sal jy baie moet vertaal.
Lees nou deur die inligting en begin kies wat jou storie die beste gaan vertel. Vir plakkate geld die volgende sêding gewoonlik: minder is beter. Hierdie deel gaan dalk die moeilikste wees, want na al jou navorsing gaan by baie hê om te vertel. Dis baie belangrik om nie in daardie wip te val nie. Nou kan jy die inligting op jou plakkaat vertoon.
Die plakkaat moet so wees dat jy daarna wil kyk en wil weet wat daarop staan. Dis hoe jy dan ander kan help om te leer. Jy het daarom iets nodig op die plakkaat wat helder is en uitstaan om hulle oog te vang. Daar moet egter nie soveel inligting op die plakkaat wees dat dit mense afskrik nie. Dit moet net genoeg wees om hulle nuuskierigheid te prikkel. En as hulle meer wil weet, kan hulle na die bronnelys kyk en verder gaan lees of selfs met jou as die kenner kom praat.
Ons begin gewoonlik links bo lees en eindig regs onder op ’n bladsy, dus moet die uitleg vir jou plakkaat soortgelyk wees. ’n Netjiese opskrif bo-aan met ’n inleiding links bo, ’n samevatting regs onder en die inligting wat jy wil weergee tussenin gee ’n goeie vloei.
Jou plakkaat moet netjies wees, want anders kan jy die leser afskrik. Tegnologie maak ons werk makliker, maar dit kan voorkom of jy net van die internet af gekopieer het as die hele plakkaat gedruk is. As jy dus ’n netjiese handskrif het, kan jy jou inligting neerskryf. Of teken en kleur prentjies in om te wys jy het moeite gedoen. Gebruik helder kleure, want dit trek mens se aandag.
Noudat jy jou plakkaat het om uit te stal, sal jy sien dat in die proses van navorsing doen, dink oor wat jou maats wil sien en die resultate mooi vertoon, jy ’n briljante plakkaat gemaak het wat vir jou ’n uitstekende punt sal gee.
- Philip Scott gee voltyds klas en ekstra klasse in Hermanus en omgewing. Hy help tuisskolers met die Cambridge IGCSE-vakke, gee ekstra klasse, lei leerders in wiskunde-olimpiades op, ondersteun ’n organisasie genaamd Sparkle Kids wat in Zwelihle, Hermanus se plakkerskamp, werk, en hou van enige akademiese uitdaging.
The post Wiskundenavraag deur ’n ma – en raad oor die maak van 'n plakkaat appeared first on LitNet.