’n Paa oggende trug toe is ek op pad na my anne job toe. Dit was een van daai oggende en ek moesie trein klim. My en ‘ie trein se verhouding het mos al lankal suur getrek, maa ek moes maa klim.
Soes die trein by Tygerbergstasie in trek, toe is dit net ’n gegil en skrie wat van buite die trein af kom. Die ge-iYhooo, en ge-Thixos soes mense roep na God. Ek dink toe dis sieker wee iemand wat gerob wôd, wan dis mos maa wat ’n mens deesdae an gewoond is. Ek het my nie vêder gesteerie en dit uit my kop uit gedruk. Die trein het gan stop, en soes gewoontlik staan dit toe wee langer as ’n minuut. Daa is ’n riede hoekô hulle Metro-fail genoem wôd, wan as dittie een ding issie dan is dit iets anners.
Die trein het stil gan raak wan die driver hettie trein afgesit. Mense het stadig een vir een begin opstaan en uittie trein uit beweeg. Dis nou weer lank staan, het ek gedink. Tien my wil het ek opgestaan en die anner se voetspore gevolg.
Dit was chaos buite op die platform. Die trein-driver het vannie trein se kop trug gestap. Hy’t kalm oo sy foon gepraat, maa sy oë het ’n anner storie vetel. ’n Anner man het soes ’n pries op en af tussen mense geloep met sy hanne uitgestrek na die hiemel toe.
“Hoekô? Why? Hoekô?” het hy gevra vi wie ever wil luiste.
Ek het die naaste mense an my gestop en gevra wat gebeerit. “Iemand het voo die trein in gespring. Die trein gannie nou ry nie,” het die pesoon gesê. Dis te vroeg innie oggend, het ek gedink. Maa dood wag mossie vi na middagete nie.
Mense het saam gedrom daa waa die pesoon geval het, met hulle smart phones in hulle hanne soes hulle staan en foto’s vat. Ek het my kop geskud in skaamte, wan weer eens issie gevat van foto’s mee belangriker as om respek te wys vir ’n anne mens se liewe.
Soes ek tussenie mense gedwaal het gan staan ek langs ’n man. Ôs begin deel toe ôs skok oo wat nou gebeerit. “Die liewe is kot,” sê ek toe. Hy stem saam en sê dis hoe dit nou is en niemand warrie oo niemantie. Nie die kêk offie gawement gie ommie. Mettie gepraat vetel hy my dat die vrou ’n nurse was by Tygerbeg-hospitaal. Hy sê toe dat hy wonner wat vekeerd kon gegan het in haa liewe, dat sy dit moet doen.
Selfmoord. Dis mossie iets waaoo ôs rêrig praatie. Wan ôs wietie hoe om daaoo te praatie. Ek maak toe die besluit toe om hieoor te skryf, eeder dan al die warm-skinner wat nou daa buite angan. Wan ek het self iemand na an my veloo deu selfmoord en hoeveel van ôs hettie al of ken van iemand wat hulleself dood gemaak hettie, soes daai nurse op Tygerbergstasie.
Ôs liewe in ’n tyd waa ’n mens se liewe baie cheap is. ’n Mens kan doodgemaak wôd vir ’n twie-rand, of ’n entjie. Die kêke se deure is toe om mense te help, maa hulle hanne is oep om tiendes elke maand te kry. Weekend-kêke spring op all over the place, maa die liewe raak net donkeder. Dis Doom wat gebruik wôd ommie duiwels weg te spray. Dis gras wat voogeskryf wôd soedat die ieter vannie gras die duiwels kan uit mamok. Dis ’n geprys van God, en Djesus, maa daa issie ’n veannering ‘ie. Niemand gie mee ommie. Ôs gloe mos in God vi amal, maa amal vi hulleself. Die liewe gan oo selfies vat van stukkenne mense onne treinwiele. Dit gan oo mekaa vemoor vi ’n entjie of twie. Dit gan oo wanvetroue in alles. In die grote stad waa mee as ’n miljoen mense bly, is baie van ôs allien, ôs kan ‘ie wêrelde se vrinne het, maa ôs voel nog steeds allien. Dit voelie of ôs die pad kan loepie. Daa is te veel wat vewag wôd van ôs. Ôs kannie en maggie misluk in ienige ietsie. Ôs moet ’n siekere way wies om gesien te wôd, om vrinne te hê, om deur ôs families waardeer te wôd. Ôs moet ’n siekere way lyk om ’n man of ’n vrou in die liewe te kry. Ôs moet ôs aliewig bewys, daa is nooit ruskans om net ôsself te wiesie. Wan om jouself te wies is te veel gevra. Djy kannie jou broe of suste vetrou nie, nie met jou eie liewe nie, nie mettie liewe van jou kinnersie. Dit geld natuurlikie vi amal, maa dis hoe dit is. Die “helping hand” waamee ôs moet loep innie ronte in, is nou ’n hand wat wegstoot, ’n hand wat sê moenie vi my pla of vra nie, ek hettie. Dissie ’n wonner dat ôs soe agte-uit gannie.
Maa dissie my puntie.
Soes ek daai oggend op daai stasie gestaan het, het ek gedink an daai vrou wat onner daai trein se wiele gelê het. Ek het gewonner oo haa storie en hoekô sy besluit het om te spring. Ek het gewonne hoekô sy nie wee proebee hettie. Ek het gedink an haa mense, of sy mense het, en of hulle naby is. Ek het gedink annie kinners wat sy miskien het; ek het gedink an haa ma, an haa partner as sy een gehad het. Ek het gedink an haa laaste minute voo sy gespring het.
Ek het gedink an my tjommie voo sy haa liewe geniem het op Moedersdag 2013. Ek het gewonner oo haa laaste gedagtes voo sy haa liewe geniem het. Daa is nog steeds ’n deel van my wat ly annie skok toe ek haa veloo het. Die een dag was sy hier en ‘ie neks dag toe lê sy op ’n geteëlde vloer, gesig blou en tiekens van haa laaste ure ’n bewyse van hoe sy proebeerit ommie liewe se proebleme weg te druk. Sy’t dit reg gekry. Sy’t haaself gered, maa dissie soes om ’n mens te veloo an anner goetie.
Ek het gedink an hoe sy my twie wieke voo sy haa liewe geniem het gesê het dat sy wiet sy gannie mee lank liewe nie. ’n Mens sien die tekens wanne dit te laat is om iets daaoo te doen. Sy was ’n digter en ’n kunstenaar. Een vannie pragtigste mense wat ek nog in my liewe geontmoet het. Sy het hard geproebee om haa liewe te lei. Sy’t stêk trug baklei tien haa monsters, maa dit was te veel. Ek het myself gesê dat ek het alles proebee wat ek kon om haa te help, maa tot op ’n sekere vlak voel ’n mens nog steeds dat dit jou skuld was.
Selfmoord is iets anners en soe baie mense doen dit. Selfs jonger kinners, wattie mee die druk vannie mense om hulle kan vattie. Ôs wil altyd voogie dat die riedes hoekô dinge gebee is omdat dit die wil is van iets buitekan ôs, maa is dit rêrig die case? Ek mien, kyk gou die storie van Courtney Pieters – hoe maak daai sense vi jou?
Met al die gelies en navorsing oo selfmoord in Suid-Afrika kom ek af op ’n webwerf genoem Dignitysa.org. Die organisasie is die eeste van sy soort in Suid-Afrika. Hulle is aktiviste vi “Assisted Death”. Hulle gloe dat dit elke pesoon se keuse is hoe en wanne hulle hulle liewens wil opgie. Ek weetie hoe ek daaoo voel nie, maa toe ek die stories gan lies op daai blad toe beginne ek vestaan. In een vannie stories het ’n man besluit om sy eie liewe te niem nadat hy kanker gekry het. Die dokters kon niks vi hom doen nie, hy moes maa net wag virrie dood. Dit moet siekerlik ’n keuse wies wat ’n mens kan het om jou eie liewe te niem, veral as djy met jou waardigheid wil doodgan. Maa is dittie selle ding as selfmoord?
Google sê Suid-Afrika het ’n baie hoë syfer van selfmoord. Ek kan dit gloe, wan in ’n tyd van twie maande het ek van te veel mense gehoo wat dié uitweg gekies het. Ek lies toe oo ’n paa local artis wat oek hulle liewens gevat het. Die name wat by my uitgestaan het was Ingrid Jonker en K Sello Duiker. Wan hulle was albei skrywers. Ek het vêder gesoek, wan ek het gehoep om antwoorde van hulle af te kry. Ek het gehoep dat hulle sal uitie dood uit hulle storie vi my kon vetel, oo hoekô hulle opgegie het. Die ding is dié: ’n mens wil vestaan wanne djy iemand veloo op dié manier. Djy wil sense maak oo wat djy kon bieter gedoen het. Djy wil vir ’n laaste kee proebee om te help. Maa soes Dignitysa.org sê, ’n mens moet sieker ’n reg het om te doen met jou liewe soes djy wil. Ek bedoel ôs het soe baie reëls en regulasies wat ôs moet volg as mens, dat djy nie rêrig ’n sê het oo hoe djy liewe, of hoe djy doodgan nie.
Met al die lies oo anners wat hulle liewens geniem het, en oo die kultuur van selfmoord, het ek kom vestaan dat mense nie hulle liewens niem omdat hulle swak issie, maa omdat hulle rêrigie mee ’n uitweg sien nie. Ek besluit dat daa is meer om my tjommie by te onthou dan net die feit dat sy haa liewe geniem het. Deurie wêk wat sy soe passievol gedoen het. Deurie mens wie sy was vi anners. Ek wil haa onthou vi dit wat sy gedoen het vi anners om vi hulle ’n kans te gie om bieter te liewe. Sy’t gewarrie oo hoe vroumense getreat wôd in die land, en in die wêreld. Sy’t omgegie vi menseregte.
Ek het gedink dat daa meer is om vi haa te onthou dan hoe en waa sy haa laaste asem uitgeblaas het. Daa was mee om te onthou dan ‘ie laaste ure van haa liewe. Dieselle soes innie geval van Ingrid Jonker. Ek het ’n onnerhoud gelies wat gevoer was met ’n man wat vi Ingrid laaste gesien het voo sy die see in geloep het. Sy’t gesê sy’s moeg vannie liewe, dat sy nie mee kan nie. Ek het een van haa gedigte gekry, “Die kind”. Sy’t dit in 1960 geskryf oo kinners wattie gehoo wôtie. Die kinners wattie gesien wôtie. Die gedig het by my gesit, wan sy’t gepraat oo menseregte, en op haa eie manier het sy haa pen laat praat oo hoe mense se reg op ’n bieter liewe weggeniem wôd. Vi my het sy oek geskryf oo hoe mense, maak nou nie saak wie nie, nie gehoo of gesien wôtie. Dis sieke al wat ôs amal velang, om gehoo en gesien te wôd, of vestaan te wôd.
Die konneksie kon ek sien tussen my tjommie en Ingrid. Niemand het rêrig geluiste nie. Niemand kon daai pyn en lyding waamee hulle gestap het, rêrig vestaan nie.
Meimaand was vol dae waaop ôs veskeie dinge gevier het. Ek het my tjommie geherdenk oppie dag wat sy haa liewe geniem het, en oek Afrika-dag. Miskien in volgene jaar in Mei moet daa ’n dag wies waa ôs dit ’n doel maak om na die neks pesoon te luiste. Diés naby an ôs en vreemdelinge. Miskien moet ôs dit Mensedag noem, of Luiste-’n-slag- dag. ’n Dag wat ôs die mens-wies in elke een kan vier. Waa ôs ’n kultuur kan begin om mekaa te vestaan, om na mekaa te luiste, waa ôs kan praat met mekaar wietend dattie neks pesoon luiste rêrig. Miskien dan sal daa meer mense wies wat ‘ie wil sal het om te liewe, ennie net te bestaanie.
Op die oudedom van 16 was uh Goodhope fm dj by o’s skool. Hy het met uh mic innie ronte geloep om kinnes te vra wie hulle is en waa’vandaan hulle kom. O’s almal het oppie netbalbane se sementblad gesit. Hy’t voo my kô staan, en hy’t my gevra. “So who are you and where you from? Heelwat op sy nerves. Ek ’it hom boe oo my brille gekyk en stadig gesê: “Ek is Livy. Vannie Rive.”
Bly te kenne!
The post Luiste-’n-slag-dag appeared first on LitNet.