Die afgelope paar dae het die troebel water waarop die ANC se politieke bootjie dobber, duidelik sigbaar geword.
Meer as dit, die eens trotse organisasie is ontbloot as heeltemal uit voeling met die gevoelens van die kiesers. Of hulle het die punt bereik waar kiesers irrelevant geword het. ’n Week gelede het ’n amateurvideo die ronde begin doen op sosiale media. In hierdie video, skynbaar met ’n selfoon geneem, probeer ANC-lede met ’n ou vrou praat waar sy besig is om die grond voor haar huis skoon te vee met ’n tuisgemaakte besem. Die vrou vra hulle om haar uit te los en weg te gaan. Hulle ignoreer haar en hou aan praat. Dan vererg die vrou haar vir hulle, en begin hulle uittrap vir die ANC se vele wandade. Die video eindig met die vrou wat hulle aanspreek oor hulle met blink karre daar aankom, maar die kinders in die gemeenskap moet honger ly. Die vrou is op die oog af onbewus dat sy afgeneem word.
Haar woede oor die wyse waarop sommiges in die ANC vet word op die soustrein terwyl die meeste mense nog in armoede en wanhoop leef, is waarskynlik meer algemeen as wat vermoed was. Mense is nie dom nie.
Koppel dit aan die nuus wat pas bekend geraak het dat Net1, die organisasie wat verantwoordelik is vir uitbetaling van Sassa-gelde, R1 miljard wins gemaak het uit die onwettige kontrak met die Departement. Koppel dit aan die nuus dat Serge Belamont, die uitvoerende hoof van Net1, se kontrak beëindig is met ’n troos van ’n R263 miljoen eenmalige uitbetaling, asook ’n maandelikse konsultasiefooi van R657 000.
Mense is nie dom nie. Dit neem nie ’n groot sprong om af te lei dat radikale ekonomiese transformasie in hierdie geval ten koste van die armes gebeur nie.
Die munisipale tussenverkiesings in Nquthu en Beaufort-Wes ’n week gelede behoort die waarskuwingsliggies te laat flikker vir die regerende party. In albei gevalle het hulle lelik op hulle baadjies gekry. Kiesers is ontevrede, en hulle wys dit met die kruisies wat hulle trek. Onverklaarbaar het die uitvoerende komitee die naweek steeds voortgegaan om Zuma te beskerm, ten koste van die land se belange.
Maya Angelou het ’n paar jaar voor haar sterfte dié stelling gemaak: “If someone tells you who they are, believe them.” Zuma en Gwede Mantashe het albei herhaaldelik gesê dat die ANC se belange voor die land se belange kom, en dat hulle verwag van ANC-lede in die parlement om in ooreenstemming met ANC-beleid te stem. Ons kan nie kla dat ons nie gewaarsku was nie.
Maar die afgelope ruk, en veral na die naweek se vergadering, het die retoriek verander en word ANC-belange en Zuma se belange nou as dieselfde voorgehou. Dis ’n politieke en strategiese fout. Zuma mag dalk nog aansienlik baie steun binne die party geniet, en beslis baie steun by die setel van besluitneming in Saxonwold, maar kiesers is keelvol. Hulle voel dit aan eie bas wanneer brood en mieliemeel duurder is, taxigeld opgaan want die petrolprys styg, kragtoevoer ongereeld is en water besig is om op te droog. Dit terwyl Zuma en sy kamerade so besig is om met hul snoet in die trog te staan dat hulle nie agterkom (of omgee) dat die land begin krepeer nie.
Daar is ’n groter prentjie om in ag te neem. Die e-posse wat die afgelope naweek in koerante en op sosiale media versprei is as bewys dat die Guptas strategiese regeringsaanstellings beheer, is maar net die begin. Waar kom die skielike gretigheid van regeringskant dat die openbare beskermer ondersoeke moet doen, nou vandaan? Onder Thuli Madonsela het hulle sover moontlik probeer keer dat die OB enigiets ondersoek. Nou skielik nader hulle die nuwe OB? En die persone wat die gretigste is om haar te nader, is almal persone wie se name in verband met die staatskaping genoem is. Hulle is duidelik nie bekommerd dat die nuwe OB enigiets verdoemend teen hulle sal beslis nie.
Al hoe meer word daar van die howe verwag om politieke geskille te besleg. Sewentien poste vir regters moet gevul word. Kiesers en burgerregte-organisasies was dalk nie waaksaam genoeg toe die OB-pos gevul moes word nie. Indien ons as ’n land wil voortgaan om vertroue in die regsprekende gesag te geniet, sal ons baie meer versigtig moet kyk na die kandidate wat voorgestel word vir die beskikbare posisies.
Daar is meer as een manier waarop demokrasie onder ons neuse weggesteel kan word. Partydigheid op die regbank is een van die gevaarlikstes. Ons hoef maar net te kyk wat in Zimbabwe en ander lande verder noord gebeur om te weet hoedat ons op ’n mespunt wentel.
Ons kan ons ook nie op die regerende party beroep om die regte ding te doen nie. Die afgelope paar dae het bewys dat hulle skuimrubbertande het. Nie net die regering is gekaap nie. Die regerende party is ook gekaap.
Ons is op ons eie.
The post ANC se skuimrubbertande ontbloot? appeared first on LitNet.