Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20678

No longer whispering to power – The story of Thuli Madonsela: ’n onderhoud met Thandeka Gqubule

$
0
0

No longer whispering to power – The story of Thuli Madonsela
Thandeka Gqubule

Uitgewer: Jonathan Ball Publishers
ISBN: 9781868427314

Die joernalis Thandeka Gqubule se boek No longer whispering to power – The story of Thuli Madonsela het pas by Jonathan Ball Uitgewers verskyn. Die boek is veel meer as ’n boek oor die voormalige openbare vervolger se lewe; dit gee belangrike konteks aan Suid-Afrikaanse politiek, skryf Maryke Roberts.

Die oggend voor ons onderhoud in die V&A Waterfront kry ek ’n vriendelike versoek van haar uitgewer dat Thandeka nie graag oor die SABC en haar insluiting in die “SABC 8” wil gesels nie, maar eerder op die boek en Thuli Madonsela wil fokus. Thandeka was een van die joernaliste wat verlede jaar teen die uitsaaier standpunt ingeneem het en saam met sewe kollegas afgedank is.

Gelukkig is sy, soos die meeste ander mense, nie net haar werk nie; sy is ’n indrukwekkende somtotaal van die afgelope 30 jaar waar sy onder meer redakteur en sakeredakteur by die SABC, joernalistiekdosent by Rhodes, Monash en ander meningsvormende departemente was, en by Columbia Universiteit in New York joernalistiek studeer het. Haar CV is ’n armlengte van oorsese studies van omgewingsekonomie tot leierskap.

Sy is getroud met Moeletsi Mbeki en is die skoonsuster van Thabo Mbeki, voormalige president van Suid-Afrika. Sy is in die tagtigerjare saam met Thuli by Sun City (Diepkloof Gevangenis) opgesluit.

Haar boek is die nieamptelike biografie van Thuli Madonsela.

Wat is die eienskappe van Thuli Madonsela wat jou só beïndruk het dat jy besluit het om ’n boek oor haar te skryf?

Haar waardesisteem. Sy het in sewe jaar as openbare vervolger meer vermag as wat die meeste mense in ’n leeftyd kan.

Jy is self ’n merkwaardige vrou: was ook in die tronk in die tagtigs en beywer jou vandag vir etiese joernalistiek en vryheid van spraak vir almal. Hoe besluit jy om eerder oor iemand anders te skryf?

Ek dink nie aan my eie lewe as merkwaardig nie. Ek het ’n paar onregverdige voordele gehad. My ouers het swart kinders in die hartjie van apartheid grootgemaak, maar ons maats was van alle etniese groepe. Ons is geleer om na die méns, nie sy kleur of kultuur nie, te kyk. Ons is grootgemaak asof apartheid nie bestaan het nie. My ouers het dit as geweldig primitief beskou om sleg van ander mense te praat, laat te slaap en nie vroegoggend al skoon gebad en aangetrek te wees nie. Ons is almal gelyk in God se oë.

Ek het maar eers onlangs aan my lewe begin beplan. Ek het die grootste deel van my lewe net agter my hart en brein aan geleef. Dit wat ook al reg gevoel het op die stadium. My 51-jarige self is nou iemand wat beplan, doelstellings het en volgens jaar- of vyfjaarplanne werk.

Ek het geleer dat die klein goedjies waaroor ons so maklik kop verloor, onbelangrik is. Ek fokus nou op ma-wees, vrou-wees en om ’n goeie joernalis te wees. Ek wil ook meer aandag aan vryheid-van-spraak-kwessies gee.

Die hoeveelheid navorsing, kruisverwysing en aanhalings uit verskillende bronne in jou boek staan uit. Het jy alles alleen gedoen?

Ek lees ongelooflik baie. Dis wat ek doen. As ek ’n paar minute tussen opdragte deur het, gaan sit ek op ’n groot, blou beanbag wat my vriendin Angie vir my gekoop het. Kollegas kom ook graag na my kantoor toe en soek interessante leesstof op my boekrak en hulle sit ook graag in my beanbag. My Duitse kollega, Jurgen Stock, het weer vir my ’n pienk kombersie gegee en ek val snags daar neer, voor ek huis toe gaan, stort en my dogter skool toe neem. Maar ons het iemand gehuur, die bekende joernalis Archie Henderson, om onderhoude en addisionele navorsing te doen, waaruit ek frases en stukke kon gebruik.

Hoe moeilik was die projek?

Maklik. Daar was geen drama nie. Ek het van die begin af geweet ek en my redakteur, Angela Voges, gaan lekker saamwerk. My pa is tydens die skryfproses oorlede en ek het twee weke lank nie geskryf nie. Ook toe ek verder gaan studeer het vir my werk, het Angela geduldig die spertye aangepas. En natuurlik toe ek afgedank word by die SABC, moes die projek vir bykans 10 weke opsygeskuif word dat ek hofsake kon bywoon, protesoptogte kon reël en ongeregtighede kon probeer uitsorteer. Ek is ’n roetine-dier: ek staan elke oggend tien voor ses op, laai my dogter by die skool af, ry werk toe, woon my eerste vergadering op dieselfde tyd elke dag by en so meer. Ek het gehoor voormalige gevangenes vind roetine gerusstellend. In die tyd sonder werk het ek my roetine – en my blou beanbag en pienk kombersie – baie gemis en kon ek nie skryf nie. Ek mis nie graag spertye nie, dus het die uitgewers besef hier is ’n krisis.

Het die vertraging van twee en ’n half maande ’n wesenlike impak op die projek gehad?

Nee, Angela het besluit om te werk aan wat ek reeds gelewer het. Die projek was ook deurentyd vloeibaar, want soos ek geskryf het, het die storie aanhou ontvou.

Hoe lank het jou eie navorsing geduur?

Ses maande. Ek het behalwe die opleeswerk ook alles wat ek en my kollegas al oor Thuli geskryf het, versamel, maar toe gevoel dis steeds nie genoeg nie en wou nog meer en dieper lees. My redakteurs, Jeremy Boraine en Angela, het gelukkig ingegryp en gemaan dat jy sekerlik nooit sou ophou lees oor hierdie merkwaardige vrou nie, maar dat ek reeds meer as voldoende inligting het.

Hoe lank het jy aan die boek geskryf?

Sowat ’n jaar. Ek het bykans die helfte uitgegooi.

Rebecca Davis se resensie oor die boek op Daily Maverick lui: “But at the heart of the story are two women who should leave us with a greater sense of optimism about what South Africa is capable of producing.” Hoe voel jy oor hierdie stelling?

Ek dink nie aan myself as ’n merkwaardige vrou nie, maar ek weet ek moet komplimente ernstiger opneem. Hoop is ’n kollektiewe bate wat mense kan hê. Hoop teen hoop is al manier waarop ons kan leef. Ek hou van Rebecca se opmerking.

Jy gebruik die aanhaling dat ons soms die hoogsee oorleef, maar dan in die vlakwater verdrink. Is dit waar van jou eie lewe ook?

Een van die jong kollegas wat een van my studente by Monash was, Mbali Mthethwa, woon graag praatjies by en terwyl ons eendag gesels het oor hoe Thuli moes voel in die maalkolk van die ondersoeke teen president Zuma, het sy genoem dat sy die aanhaling by ’n praatjie gehoor het. Wanneer die adrenalien pomp, sien jy soms nie die resultate nie, en jy spoel futloos op die strand uit. Dan het jy geen energie om die klein aanslae af te weer nie. Dit was hoe ek gedink het Thuli moes voel en hoe ek ook gedink het die leser sal aanklank vind. Ek moes die staatskapingverslag doen, net soveel soos Thuli dit moes doen. Ná my afdanking en die hofsake was ek baie af en dit was maklik om vinniger weer te verdrink. Maar gelukkig het ek gou weer in my roetine gekom.

Jy skryf in die boek Thuli is deur ’n tydskrif gevra om ’n brief aan haar 16-jarige self te skryf. As dit jy was, wat sou jy vir jou jonger self skryf?

Verdra en hou uit. Jy kan baie meer bereik deur nederige vriendelikheid as met woede. As tiener was ek baie vlug-of-veg ingestel. Hou vas, al maak dit nie vir ander mense sin nie. En as jy dink jy is te klein om ’n verskil te maak, gebruik ek graag die Afrika-gesegde wat sê bring ’n nag met ’n muskiet deur en besef hoe ’n groot verskil jy kan maak.

Wat aan die Suid-Afrika van 2017 stel jou die meeste teleur?

Ek dink hierdie gemors wat hulle gemaak het, breek my hart, maar as ons nie hierdie ompad geneem het nie, sou ons nooit die geleentheid gehad het om weer te begin nie. ’n Sêding in die film Queen of Katwe, oor ’n jong Ugandese skaakspeler, het my baie geraak. Dit lui rofweg dat dit nie saak maak hoe jy die vorige pot gespeel het nie, die volgende pot kom weer. Pak weer die skaakbord en speel weer. Daar is geleenthede in die krisis. Ons kan mekaar weer vind en ons kan weer goed doen.

Maar ons moet beslis ons ekonomiese beleide herbedink.

Hoeveel insae het Thuli gehad in jou skryfwerk?

Ek het vir haar van die hoofstukke gestuur, maar dit was midde-in al haar ondersoeke en doodsdreigemente en sy het letterlik dag en nag gewerk. Ons het wel gereeld in mekaar vasgeloop by vergaderings en perskonferensies en vinnig woorde gewissel. Sy het ook al die twiets oor die verskyning van die boek hertwiet en gelike, so ons weet die boek dra haar goedkeuring weg.

Jou man is self ’n skrywer en in die uitgewersbedryf. Was hy die eerste een wat jou boek gelees het?

Nee, hy is opposisie! Net ek en Jeremy en Angela het die manuskrip gelees en Angela het voorstelle gemaak oor plekke waar ek meer bondig kon skryf of waar sy dink meer konteks nodig was.

Hoekom is hierdie boek relevant en is dit nodig dat elke Suid-Afrikaner dit moet lees?

Die meeste geskiedenisboeke handel oor dinge wat lank terug gebeur het. Hierdie is geskiedenis waardeur ons almal geleef het. Elke leser kan daarmee identifiseer, of hulle die boek haat of mal daaroor is. Dit verweef wat al my kollegas al oor Thuli geskryf het en behandel hul werk in ’n waarderende trant. Dit dra by tot, en is ’n verlengstuk van joernalistiek in hierdie land. Dis ’n boek vir almal. As jy hier woon, is jy deel van die spel en hopelik is jy hart en siel daarin. Dis my ervaring van die jare wat Thuli die openbare vervolger was. Dis nie ’n chronologiese aframmeling van haar lewe nie; sy het aan die begin van die boek-idee gesê sy is nie te vinde vir daardie tipe boek nie. Die boek beantwoord die vraag “Wat daarvan?”. Thuli sal nog haar eie boek oor haar lewe skryf. Hierdie is nie daardie boek nie.

Wat is jou wens vir hierdie boek?

Die wins van verkope sal in drie dele verdeel word: een derde vir my, een derde vir die uitgewer en een derde vir Thuli. Ek en Thuli het besluit dat ons deel na haar projek sal gaan om swart vroulike studente met hul klasgelde in die regsrigting te help. Dit moet studente wees wat dit waarlik verdien en bewys dat hulle presteer. My wens is dus vir baie boeke om te verkoop, sodat ons baie jong studente kan bemagtig.

Wat hoop jy vir Suid-Afrika se toekoms?

Gratis skool- en tersiêre opleiding vir alle kinders, ryk of arm. Dit sal die sosiale ongelykhede uit die weg ruim. Die regering sê behoeftige kinders moet gratis opleiding ontvang, maar ek stem nie saam nie. As élke kind gratis kan leer en studeer, is dit die grootste geskenk wat die Suid-Afrikaanse belastingbetaler kan gee. Die massa-eksodus van talent sal ophou en kinders sal mekaar as gelykes beskou en terugploeg in die Afrika-vasteland.

En tweedens moet ons al daardie 99-jaar-huurkontrakte wat die armes op hul huise het, vervang met die titelaktes in hul hand. As mense hul eiendom besit, sal hulle eiendomsbelasting en vir munisipale dienste betaal, omdat hulle iets het om te verloor. Dit sal Eskom help met inkomste. Die nie-erkenning van die armes moet stop.

Wat is jou vyfjaarplan?

Om by die SABC as ekonomiese redakteur te bly en om by meer liggame wat vryheid-van-spraak-kwessies hanteer, betrokke te wees.

The post No longer whispering to power – The story of Thuli Madonsela: ’n onderhoud met Thandeka Gqubule appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20678

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>