Beste Jan,
Dit is net ʼn kwessie van fyn lees. Jy sê die Linguistiek KAN grammatika insluit, wat beteken dat grammatika nie noodwendig ʼn studieveld is binne die Linguistiek nie. En dis onwaar; die studie van Grammatika is inherent deel van Linguistiek.
Die studie van Grammatika het niks te make met die studie van ʼn spesifieke taal nie. Chomsky se Universal Grammar het nie ʼn spesifieke taal as teiken nie. Hy skryf UG in Engels (hy kan tog nie iets sonder taal verduidelik nie) en daarom maak hy gebruik van Engelse sinne as voorbeelde. Die studie van die Grammatika is sό deel van Linguistiek dat enige boek oor Linguistiek eintlik maar net ʼn studie van die Grammatika is. Kry maar John Lyons se Introduction to Theoretical Linguistics onder oë, of Ronald Langacker se Language and its Structure, en jy sal sien dat die vak Grammatika onuitputlik is.
ʼn Mens kan ook ʼn spesifieke taal neem, en dan die grammatika daarvan skryf. Ponelis het dit bv met Afrikaans gedoen met sy Afrikaanse Sintaksis, en ook Grondtrekke van die Afrikaanse Sintaksis.
Soos gesê, Chomsky gebruik voorbeelde uit Engels (soos ook Lyons en Langacker) en wat hy skryf, is nie ʼn grammatika vir Engels nie. ʼn Taal, enige taal, het in elk geval soveel aspekte dat dit onmoontlik sal wees om die struktuur daarvan volledig te beskryf in ʼn grammatika. Daarom lê die veld braak vir studente om hulle verhandelings te skryf. So is selfs die Engelse grammatika ook nog nie klaar geskryf nie.
Vir ʼn lang tyd in die verlede was Latynse grammatika die model vir die Grammatikastudent. Gaan kyk maar na die Finse grammatika: die terminologie is dieselfde as Latyn. As Latyn sewe naamvalle het, is dit mos maklik vir die grammatikus om 15 vir Fins te ontdek, of vier vir Duits. Gaan lees maar Lyons en jy sal sien hoe hy Latynse voorbeelde nog gebruik om iets te verduidelik en hoe hy dit dan toepas op Engels.
'n Taalverskynsel wat universeel is, is dat onnodigheid uitgeskakel word. Net soos onnodige sinonimiteit uitgeskakel word, so ook onnodige fleksie, m.a.w. alle tale is besig om te vereenvoudig. Geen enkele persoon bewerkstellig dit nie; dit gebeur maar net.
Die Afrikaans op die sepies is nie ʼn nuwe taal nie, want sepies op TV bepaal nie wat van 'n taal word nie. Die Afrikaans wat mense in Suid-Afrika praat lyk soos ʼn nuwe taal. Dit kan beskryf word as swak Afrikaans, (net soos Kaaps/Kaaps-Hollands/ Afrikaans swak Hollands was) maar met ʼn kragtiger sêkrag. Taalpuriste het gekla nie net oor die agteruitgang van Hollands nie, maar ook oor die taalvermenging, veral oor die invloed van Maleis-Portugees, want lg was die taal van die slawe.
Na alles verstaan jy nog nie hoe woordbetekenis werk nie, en jy verstaan nie die woord ‘teorie’ nie. ʼn Woord in enige taal kan verskeie betekenismomente hê. Die woord ‘teorie’ het in jou 1975 HAT twee betekenismomente aangedui, maar ongelukkig nie genommer nie. 1. Grondreëls van die wetenskap om waargenome feite of verskynsels te verklaar, en 2. Voorstelling in ʼn mens se gedagte sonder om rekening te hou met die werklikheid: Teorie en praktyk staan dikwels teenoor mekaar.
As ek van ʼn teorie praat, word slegs nr 1 geaktiveer, maar as jy van teorie praat, word nr 2 geaktiveer.
Sterkte met Chomsky. Onthou my waarskuwing dat ʼn bouer eers die mure moet bou voordat hy die dak opsit.
Angus
The post Antwoord op Jan Rap se brief van 30 Mei appeared first on LitNet.