2017 is sover die jaar van kontraste. Dis die jaar waarin derduisende vroue in Women’s Marches opgeruk en hul politieke spiere begin bult het. Dis die jaar waarin Frankryk, vir die eerste keer, ewe veel vroue as mans in hul kabinet aanstel. Dis die jaar van Angela Merkel, van Sally Yates. Dis die jaar waarin Thuli Madonsela die een eretoekenning na die ander inpalm. Dis die jaar waarin vroue se prestasies gevier word soos min voorheen.
In Suid-Afrika in die geheel is daar egter min om oor fees te vier. 2017 is die jaar van Bathabile Dlamini, Faith Muthambi, Lynne Brown en na hierdie week, Susan Shabangu. Dis die jaar van die #MenAreTrash-hutsmerk. Dis die jaar waarin vroue verkrag word terwyl hulle openbare vervoer gebruik. Dis die jaar waar kinders deur huislede vermoor word. Dis die jaar waarin vroue deur hul kêrels vermoor en hul liggame in vullisdromme gegooi word asof hulle wegdoenbaar is. Dis die jaar waarin ’n swanger vrou deur ’n bende van 11 mans verkrag word. Dis die jaar waarin daar feitlik daagliks berigte kom van vroulike studente wat op universiteitskampusse aangeval word. Dis die jaar waarin babatjies verkrag en vermoor word.
Daar is ’n oorlog teen vroue aan die gang. Ons weet dit lank reeds, maar dit begin lyk asof die veldslae met groter felheid en groter gereeldheid gevoer word in 2017. Net hierdie afgelope week was daar ’n terreuraanval in Londen waar die slagoffers meestal jong meisies en hul ouers was.
Sedert so lank terug as 2006–2007 is daar gesprekke gevoer binne nieregeringsorganisasies wat fokus op genderwerk, en veral geweld teen vroue, dat daar groter samewerking van mans moet kom om hierdie probleem die hoof te bied. Daar is sensitiwiteitsopleiding aan mans aangebied. Daar is manlike fasiliteerders opgelei om binne portuurgroepe, in skole en universiteite, onder die jeug in kerkorganisasies en in sportklubs bewusmakingsveldtogte onder mans te hou om geweld teen vroue teen te werk.
Dis nou ’n dekade later, en steeds word die onus op vroue geplaas om nie verkrag te word nie, eerder as dat mans geleer word om nie te verkrag nie. Steeds wanneer ’n jong vrou vermoor en in ’n vullisdrom gegooi word, soek mense die skuld by haar en nie by die man wat haar vermoor het nie. Die eerste aanname wat gemaak word wanneer ’n vrou verkrag word, is steeds dat sy iets verkeerd gedoen het. Wat het sy aangehad? Hoekom was sy daardie tyd van die aand op daardie plek? Hoekom het sy gedrink? Het sy hard genoeg terugbaklei?
In die VSA is daar hierdie jaar wetgewing voorgelê vir oorweging wat, indien dit deurgevoer sou word, vroue wat verkrag word sal verplig om duurder premies op hul mediese skemas te betaal. In Saoedi-Arabië is ’n jong vrou twee jaar gelede tot 90 houe gevonnis nadat sy deur ’n groep mans verkrag was. Verlede maand, op appèl, is haar vonnis verhoog na 200 houe en ses maande gevangenisstraf omdat sy die saak met die media bespreek het.
Hier ter plaatse maak die minister vir vroue in die presidensie, Susan Shabangu, die stelling dat ’n moordslagoffer swak was omdat sy in ’n gewelddadige verhouding aangebly het. Anders gestel, die minister wie se taak dit is om die belange van vroue en kinders te beskerm, plaas die blaam vierkantig voor die slagoffer se deur. As daar op daardie vlak oënskynlik geen begrip is van die omvang van die probleem en hoe problematies so ’n stelling is nie, dan is daar bitter min hoop op leierskap van bo.
Ons kan nie wag vir leierskap vanaf die regering se kant, of van enige politieke party nie. Elkeen van ons moet ons deel doen om geslaggebaseerde geweld te bekamp. Ons kan nie bekostig om te dink dis die probleem van ’n spesifieke rassegroep, of ekonomiese groep of ouderdomsgroep nie. Geslagsgebaseerde geweld is ons almal se probleem. Dis ’n probleem wat ons samelewing kan maak of breek.
Wanneer geslaggebaseerde geweld genormaliseer word deur middel van Sêr-kompetisies op universiteitskampusse, of deur uitsprake deur ministers, of deur uitsprake wat grappenderwys vroue verkleineer, dan word die probleem vererger.
Die oplossing lê nie net by vroue, of selfs hoofsaaklik by vroue nie. Dis nie vroue wat verkrag nie. Dis nie vroue wat ontvoer nie. Dis nie vroue wat ander vroue doodmaak en in vullisdromme gooi nie. Solank as wat mans stilbly en nie sulke gedrag van ander mans veroordeel in die sterkste moontlike woorde nie, sal dit voortgaan. Solank as wat sportsterre en politici en akteurs en sangers se loopbane nie in die geringste negatief geraak word deur hulle seksistiese en soms kriminele gedrag nie, sal dit nie ophou nie. Vir te lank is mans die boodskap gegee dat vroueliggame maar die setel en uitlaatklep vir hul woede kan wees, dat daar geen gevolge vir hulle sal wees nie.
Hierdie boodskap, hierdie geloof dat hulle niks sal oorkom nie, moet beëindig word. Vroue gaan nie altyd geduldig wag vir mans om tot ander insigte te kom nie. Die #MenAreTrash-veldtog is maar die eerste sarsie in ’n oorlog tussen die geslagte wat dreig. In Indië is daar alreeds bendes Pink Ladies wat met stokke hulle eie geregtigheid uitdeel teenoor mans wat vroue te na kom. Dis net ’n kwessie van tyd voordat vroue in Suid-Afrika ook gaan besef hulle kan nie wag vir die polisie of die regering om te help nie.
Ons is die nasie van “You strike a woman, you strike a rock.” Tot nou toe was daai slagspreuk nog net teen die staat gebruik. Dit sal nie veel meer verg voordat dit in ons huise en ons strate gebruik word nie.
The post Die oorlog teen vroue appeared first on LitNet.