Die hardebaard-rockers Taxi Violence het vroeër vanjaar ’n nuwe EP uitgereik. Rian Zietsman, kitaarslaner, beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Rian. Hoe's dinge?
Man, glad nie sleg nie. Goed, dus.
Foto: Vetman Design and Photography
Taxi Violence het vroeër vanjaar die EP Shape and Form I uitgereik – volgens planne die eerste van drie EP's in 2017. Hoe het julle op dié strategie vir die vrystelling van die musiek besluit? Voel ’n mens minder of meer druk met die opneem en verspreiding van ’n drie-snit-EP, vergeleke met ’n vollengte-album, of tot hoe ’n mate is daai proses eintlik maar dieselfde? En natuurlik, wanneer land Shape and Form II op ons rakke?
Die plan was aanvanklik so: doen meer, kleiner uitreikings sodat ’n mens meer gereeld nuwe inhoud vir jou aanhangers kan gee. Ons het reeds besluit dat ons die opneemproses self sou behartig; George [van der Spuy, hoofsanger] het ’n ateljee met die regte toerusting. So vanuit daardie oogpunt was daar nie druk om klaar te kry met enigiets nie. Ons het ook oorgenoeg nuwe musiek gehad vir die eerste EP, so dit was ook nie ’n probleem nie.
Soos planne maar gaan, kan hulle verander ook. Ons het gevind dat hoewel sekere kostes laer is as ’n mens minder liedjies op ’n slag opneem, is daar ander wat elke keer bygetel moet word vir elke uitreiking. Dink aan bemarkingskostes. Jy moet dit nou drie keer doen. En in vandag se wêreld, waar dit maar moeilik is om mense se aandag te kry, kan jy nie afskeep op dit nie.
Die uiteinde van die saak is dat ons hierdie gaan hou as ’n EP en eerder begin werk aan ’n vollengte-album. Ek reken die EP was steeds ’n goeie idee, so ons het darem nie veel verloor uit die situasie nie.
Die drie snitte op die EP is klipharde Taxi Violence, soos ons dit ken en liefhet. Tog voel dit of die band ’n paar nuwe dinge probeer het, vernaam met die rifs, melodieë en hoe dit als saamsmelt. Wou julle opsetlik in ’n paar systrate afstap, of tot hoe ’n mate het dinge "normaal" of "soos gewoon" verloop in julle skryf- en opneemproses? Beskou jy die EP as ’n soort nuwe rigting vir Taxi Violence, of eerder ’n viering van Taxi Violence se kernwaardes? Dis natuurlik nie noodwendig wedersyds uitsluitlik nie, of hoe?
Kyk, ’n mens kan ’n kenmerkende klank hê, maar steeds nuwe dinge probeer. Om eerlik te wees, dit is nie iets waaroor ons nog ooit vreeslik baie gedink het of vooraf besluit het nie. Dit gebeur net. En dan die feit dat Loedi weer in die band is maak natuurlik ook ’n groot verskil.
Die opneemproses was iets nuuts vir ons. Ek en Louis het in ’n ander band gespeel (Beast) en ons het daardie twee albums almal saam in een kamer opgeneem. Soos in die ou dae van Chuck Berry. Ons het groot, belangrike lesse geleer. ’n Band is goed omdat hulle goed saamspeel. Hoekom moet mens dan in die ateljee almal apart laat speel? So ons het hierdie een “live” gedoen en ek dink dis hoe dinge van nou af gaan werk.
Die musiekvideo vir "Fake it" is geweldig pret! Waar het die idee hiervoor vandaan gekom, en hoe moeilik was dit om te skiet op die ou end? Dit is ook altyd goed om te sien ’n band soos Taxi Violence, wat baie street cred het as harde, vuil rockers, neem hulself nie te ernstig op nie en kan die gat vat met hulself. Is dit iets wat julle spesifiek met die video wat doen, of vloei dit maar uit die band se algemene dinamiek? Verander daardie soort selfbeeld, of eerder die bewustheid van die beeld, oor die jare vir ’n band soos Taxi Violence?
Dit was Loedi se idee. Die inspirasie daarvoor was ’n fliek genaamd Weekend at Bernies. Gaan kyk hom gerus. Ons het hom in een dag geskiet met ’n paar toepaslik-goedkoop props. Daar was baie gelag gedurende dit ... George is eintlik ’n uitstekende akteur, selfs al moet hy dood wees.
Ons was nog altyd maar ’n klomp pelle gewees wat lekker saam lag. Nog nooit bang om vir onsself te lag ook nie.
Die kernlede van Taxi Violence is oor die jare nog dieselfde ... Hoewel Loedi van Renen vroeg in die game sy bas-pos verlaat het, vervang is deur Jason Ling, en toe later weer in Jason se plek teruggekeer het. Is dit moeilik om dié soort skommelinge te verwerk wat betref die dinamiek en ritme wat bandlede met mekaar vind? Word dit dan in effek ’n "nuwe" band, of is dit bloot ’n nuwe hoofstuk? Met meer as tien jaar agter die blad in Taxi Violence het ’n mens seker baie insig in so ’n verhouding ... Hoe waardevol (persoonlik en professioneel) is dit vir jou om dié tog al vir so lank met (meestal) dieselfde mense aan te pak? Hoe hou ’n mens dit vars en lekker?
Ek reken dat ons eintlik nog altyd goeie kontinuïteit kon behou tussen lede. As jy in ag neem dat ons nog net uit vyf lede bestaan het oor 13 jaar, dan is ons baie solied. Daar is natuurlik verskillende energieë wat mense bring na iets soos ’n band. Ons sien dit as positief. As ek nou vinnig moet dink, kan ek eerlikwaar sê dat die vertonings waar al vyf van ons in aksie was, die heel beste was. Ons geniet mekaar se geselskap en ons respekteer mekaar se musikale vermoëns.
Taxi Violence se lede het oor die jare ’n hele paar side projects nagestreef – onder meer Goodnight Wembley en Beast, soos jy genoem het. Jy en Louis het ook in ’n stadium klankbaanskepping gedoen onder die naam Sticky Music. Was daar ooit ’n tyd toe julle gedink het dis tyd om die Taxi Violence-boek toe te maak? Op ’n ander manier gestel – ná soveel jaar as ’n band, waar lê die dryfkrag om aan te hou toer, musiek skep en gig? Wat is vir jou persoonlik die motivering om die vlag aan te hou swaai? Kom klop die versoeking ooit om eerder iewers ’n nine-to-five in ’n kantoor te organiseer, en hoe beveg mens daardie demoon?
Man, ek dink dit sou abnormaal wees as mens nooit aan sulke dinge dink nie. Party dinge is dalk nie veronderstel om vir ewig te hou nie. Ek dink beide Beast en Goodnight Wembley het redelik vinnig aanklank gevind en dis seker natuurlik om op tye meer verlief op een ding te wees as ’n ander. Maar dan verander dinge weer en jy kom agter hoekom jy in die eerste plek begin het.
Soos nou al reeds gemeld, is Taxi Violence al meer as ’n dekade aan die gang. Jy het self ook met ander projekte al heelwat myle ingesit. Wat staan vir jou uit as hoogtepunte tot dusver, as jy terugkyk na al die toere, gigs, ens? Enige agter-die-skerms-stories wat mense skaars glo wanneer jy dit oorvertel? Enige gebeure wat jy eerder sal wil vergeet?
Ons het altyd baie pret op toer. Hoogtepunte is beslis ons oorsese toer in 2009 en die keer wat ons Mosambiek toe was. As ’n mens so lank saam op die pad is met ander ouens, kan dinge maar rof raak. Ons hou dit lekker deur dinge te doen wat ons ook by die huis doen. Soos om saam te kuier.
Foto: Vetman Design and Photography
Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Taxi Violence, en vir Rian Zietsman?
Ons vat eintlik dinge rustig vir die volgende ruk. Daar is geen druk op ons om haastig te wees met nuwe vrystellings nie en ons wil seker maak dat ons die beste doen wat ons kan.
Vanuit ’n persoonlike oogpunt wil ek bietjie fokus op produksie, dalk vir ander kunstenaars. Dalk ook ’n paar sporadiese uitreikings. Ek en ’n pel werk aan ’n ding wat ons nog nie seker is wat dit is nie. En dis vir my moerse lekker om so iets aan te pak.
Wat is die sin van die lewe?
My pa het een keer ’n droom gehad waarin ’n kollega vir hom vertel het dat die sin van die lewe as volg opgesom kan word: "Hy wat in die nag kak, is siek."
The post Taxi Violence: "Mens kan ’n kenmerkende klank hê, maar steeds nuwe dinge probeer" appeared first on LitNet.