Kamikaze
Rudie van Rensburg
Uitgewer: NB
ISBN: 9780795801303
’n Telefoonoproep het Kassie Kasselman nuut laat dink oor sy loopbaan. Maar jou lesers is bly hy’s terug – as speurder in Kamikaze, jou jongste roman. Is hy terug om te bly, Rudie?
Kassie is hier om te bly –- al gaan hy moontlik vorentoe ’n loopbaanskuif maak. Met elke nuwe roman probeer ek hard om nog ’n dimensie by my Kassie-karakter te voeg – gewoonlik deur ’n nuwe persoonlike probleem voor sy deur te lê. Omdat my boeke nooit net uit Kassie se perspektief vertel word nie, gee dit hom ’n langer “rakleeftyd”. Dalk sou ek al uitgeskryf gewees het aan Kassie as hy heeltyd die sentrale karakter was.
Ek vra jou oor Kassie, want ek weet hy is een van die redes waarom lesers terugkom. Hy raak nog net so opgewonde oor sy seëlversameling soos altyd en hy snuffel altyd ’n misdadiger uit wat hom fassineer – dalk weens dié se ooreenstemmende passie vir seëls. Maar hy is net een van die redes. Jou skryfstyl en stories is natuurlik ander baie belangrike redes. Jou stories het ook baie meer sentrale karakters as net Kassie, soos jy pas gesê het, en ook hulle is interessant om te leer ken. Vertel my van sommige van die ander karakters in Kamikaze en hoe hulle jou pad gekruis het.
Die Pion, die moordenaar in die verhaal, is heel moontlik die interessantste ander karakter. Om aan sy karakter te slyp, moes ek diep delf in pakke opleidingsmateriaal wat vir die polisie se destydse speurakademie voorgeskryf is en handel oor die psige van moordenaars. Ek wou nie net bloot ’n moordenaar uit ’n mens se nagmerries skep nie, maar een met ’n geloofwaardige geskiedenis eie aan hierdie spesifieke soort moordenaars in die opleidingsmateriaal – ’n erg versteurde en donker mens wat reeds as kind die pad byster geraak het oor ’n teleurstelling in sy persoonlike lewe. Van sy ander eienskappe het ek by Rusland se Vladimir Poetin “geleen”, wat self ’n eienaardige skepsel is. ’n Ander interessante karakter is Moos Uys, die ywerige groentjie-agent by die Suid-Afrikaanse Staatsveiligheidsagentskap, wat sy eie handelinge vergelyk met dié van baasspioene uit die verre verlede wanneer hy ’n komplot van ’n radikale Islamitiese groep ondersoek. Sy onderduimse en korrupte baas, Abdul Koopman, steek egter ’n stokkie voor sy ondersoek, wat arme Moos duur te staan kom, maar aan Kassie deurslaggewende leidrade verskaf. Dan is daar ook Claus Prins, baas van ’n sindikaat wat vals medisyne smokkel, sy ontroue meisie, Macy, ’n gewese paaldanser, en Ivan, die sindikaat se gewetenlose spiertier en voorheen ’n uitsmyter by ’n nagklub.
Wil jy dalk in ’n sin of twee opsom waaroor Kamikaze handel? Waaroor gaan die storie?
Soos in my ander boeke is daar ook in Kamikaze verskeie verhaallyne wat aanvanklik onafhanklik staan, maar waarvan die grense algaande vervaag en teen die einde by mekaar uitkom. Die boek handel oor spioenasie en wapenhandelkorrupsie, vervalste medikasie en ’n moordenaar met ’n moordloopbaan wat na die apartheidsera terugstrek en Kassie se speurvermoëns tot die uiterste beproef en hom dwing om onkonvensioneel op te tree.
Het hierdie storie ’n spesifieke sneller gehad, of het jy dit geskryf omdat jy baie koerantberigte lees en ook ander navorsing gedoen het, soos jou bronnelys verklap?
Die verhaal het veral twee snellers gehad. Eerstens glo ek dat misdaadfiksie betrokke literatuur is wat die werklikheid moet weerspieël van wat in ’n land aangaan. In te veel Suid-Afrikaanse speurromans word die polisie voorgehou as ’n goedgeoliede organisasie, wat allermins die geval is – net die feit dat gemiddeld 50 mense per dag in ons land vermoor word, dui op die SAPD se onvermoë om hul burgers na behore te beskerm. Daarom het ek die kernvraagstukke in die polisiediens bevraagteken deur die oë van Kassie, wat ’n ernstige loopbaankrisis beleef. Die tweede sneller vir een van die verhaallyne was ’n groot toevalligheid. Ek het in ’n boekwinkel se niefiksie-afdeling Roger Bate se Phake – The deadly world of falsified and substandard medicines opgemerk. Terwyl ek deur die lywige boek geblaai het, het my oog ’n paragrafie gevang waarin Bate sy verbasing uitspreek dat geen misdaadfiksieskrywer nog die wêreld van vervalste medisyne as ’n tema vir ’n boek gebruik het nie. Ek het die boek dadelik aangeskaf.
Het jy hierdie storie voor die tyd beplan of reeds geweet wat teen die einde (moes) gebeur toe jy dit begin skryf het? Praat bietjie met my oor beplanning voor ’n misdaadroman, asseblief.
Ek soek eerstens na geskikte temas om as agtergrond vir ’n spanningsverhaal te dien, wat gewoonlik baie navorsing verg. Dan skep ek karakters vir hierdie omgewings. Wanneer ek begin skryf, het ek net ’n vae idee van hoe die verskillende verhaallyne inmekaar gaan skakel, sonder enige formele struktuur waarbinne ek probeer werk. Gewoonlik het ek teen die helfte van ’n manuskrip nog geen idee hoe die verhaal gaan eindig nie, maar ek verkies dit so. Dit is soos om ’n groot avontuur aan te pak. Ek wil die reis nie vir myself bederf deur al te vroeg aan die einde te dink nie. Die storie moet natuurlik soontoe lei.
Kamikaze handel, soos jy gesê het, oor misdade uit die apartheidsera én misdade van vandag. Mens kan maklik sê apartheidsmisdade het te doen gehad met kleur en vandag s’n met korrupsie. Is dit ‘n oorvereenvoudiging? Wat het jy opgemerk terwyl jy navorsing gedoen het – dinge wat ooreenstem, dinge wat verskil? Of maak dit nie juis saak as mens fiksie skryf nie?
Die polisiediens van die apartheidsdae was goed-georganiseerd met verskeie spesialiseenhede. Maar terselfdertyd is hulle nooit gekonfronteer met die hoë misdaadvlakke van vandag nie. Hulle oë was ook nie heeltyd op die misdaadbal gerig nie, maar veel eerder daarop om die apartheidstelsel in stand te hou en politieke opstande te onderdruk. In die proses is onskuldige mense onder andere oor hulle politieke oortuigings vermoor. Deesdae se polisie is nie naastenby so goed opgelei soos hulle voorgangers nie en hul topstruktuur (eers Jackie Selebi en toe Cele en Phiyega) het ’n era van korrupsie en onbevoegdheid gehandhaaf. Hierdie verrotting het deurgesyfer na die polisie op grondvlak. Basiese vaardighede, soos om ’n dossier in te vul sodat oortreders in ’n hof kan verskyn, ontbreek in baie gevalle. Jaarliks is daar miljarde rande se siviele eise teen die polisie weens onwettige inhegtenisnemings en aanhoudings, aanrandings en skietvoorvalle. Dit terwyl die polisiediens onderbeman is en ’n Suid-Afrikaanse speurder gemiddeld drie keer meer dossiere op sy lessenaar het as sy oorsese eweknie. Daarmee beweer ek nie dat ons nie meer funksionele polisiekantore of bekwame polisieamptenare het nie. Trouens, daar is wel nog, maar hulle is ongelukkig dun gesaai. Wat wel ’n feit is, is dat ons huidige polisiediens onder beleg is, en dat veel dringender ingryping van regeringskant nodig is as die “skietplanne” van ons nuwe, breedsprakige minister van polisie.
Vertel my van die Japanse vlieënier wat in ’n selfmoordaanval sy vliegtuig op ’n vyandelike skip laat neerstort het. Waarom het jou boek sy titel aan hom te danke en wie was hy?
Die titel Kamikaze sinspeel eerder op die woord se uitgebreide betekenis van roekelose gedrag met potensieel rampspoedige gevolge.
Het jy ’n skryfroetine of enige spesifieke rituele ten opsigte van skryf?
Ek probeer om ’n baie gedissiplineerde skryfroetine te handhaaf en is soggens van sewe-uur af agter my rekenaar en werk gewoonlik tot drie-uur die middag. Soms doen ek in die aande navorsing vir ’n volgende boek. Ek het geen spesifieke rituele nie, behalwe dat ek my oggendkoerant (in papierformaat) móét lees voordat ek begin werk.
Ek wil vra of jy aan ’n volgende manuskrip werk, maar dalk moet ek eerder vra hoe ver is jou volgende manuskrip ...?
Volgende jaar se Kassie-manuskrip is reeds klaar en by die uitgewer. In Oktober vanjaar verskyn daar egter ’n boek van my in ’n ander genre. Dis ’n “asemskepboek” tussen die misdaadfiksie deur, wat lig en humoristies van aard is en nie een reël se navorsing vereis het nie. Hans steek die Rubicon oor handel oor ’n 90-jarige oom wat weier om ouetehuis toe te gaan, maar wanneer hy uiteindelik daar land, maak hy behoorlik amok.
Kassie is, soos ons weet, 'n kranige seëlversamelaar en sekerlik het jy al baie navorsing hieromtrent gedoen – deel asseblief inligting wat vir jou interessant is oor seëlversameling?
Ek doen heelwat navorsing oor posseëls en span die internet mildelik daarvoor in. Wanneer ek op enige seëlinteressantheid in koerante of tydskrifte afkom, knip ek dit uit en liasseer dit in my “Kassie-seëllêer”. Ek het ook al ’n paar keer met seëlversamelaars kontak gemaak om van feite seker te maak.
The post Kamikaze: ’n onderhoud met Rudie van Rensburg appeared first on LitNet.