Beste Angus
Jy haal my aan waar ek sê “. . . linguistiek is die studie van taal, alle aspekte van taal wat natuurlik grammatika kan insluit . . .” en jy sê dit “is eenvoudig nie waar nie.” Jy vervolg dan met “Grammatika is deel van Linguistiek omdat dit ook die studie van taal behels.” Hoe verskil dit nou van wat ek gesê het?
Jy sê “grammatika . . . kan as aparte vakdissipline bestudeer word met geen spesifieke taal as verwysing nie.” Hoe doen mens dit? Grammatika is dan juis die verbuigings, uitgange ens in ’n taal; dit is die sement en tegelykertyd resep, kan jy maar sê, hoe ’n taal se woorde aanmekaar gestrengel word om sin te maak. Om te sê mens kan grammatika bestudeer sonder verwysing na tale of ’n taal maak net so min sin as om te sê mens kan woordeskat bestudeer sonder verwysing na tale of ’n taal. Wat kan ‘taal’ tog anders wees as maar die versamelnaam vir woordeskat plus grammatika (en wat dit behels soos sintaksis, morfologie, fonologie, semantiek ens).
Chomsky kan in elk geval NOOIT ’n Engelse grammatika skryf soos jy beweer die mense hom somtyds van beskuldig nie. Die Engelse taal (en dus grammatika) bestaan reeds eeue voor Chomsky se tyd. Dit het wel verander deur die jare maar die feit bly staan niemand skryf vir ’n taal ’n grammatika nie, al wat hy kan doen is om dit op te teken (of te BEskryf) want dit is reeds daar.
Ek vind dit eienaardig dat jy sê “... in die verlede is die Latynse grammatika gebruik om alle ander tale se grammatikas te beskryf”. Hoe werk dit; hoe gebruik jy Latynse grammatika om ander tale se grammatikas te beskryf? Buitendien, die “alle” ander tale maak nie sin nie; Fins het byvoorbeeld 15 naamvalle waar Latyn maar net sewe het. So, hoe sou Finse grammatika aan die hand van die Latynse ‘beskryf’ word?
Ek hou nie aan met die Berlitzmetode soos jy beweer nie, ek sê maar net dit is ’n metode waarvan ek weet dat mense ’n taal leer – of, streng gesproke, grammatika en woordeskat leer – sonder om van ’n grammatikaboek gebruik te maak. Nog ’n metode is die leer aan moedersknie soos die meeste van ons maar ons moedertaal (maw ons woordeskat en grammatika) geleer het.
Die Afrikaans op die sepies is nie die begin van ’n nuwe taal nie; dis bloot swak Afrikaans want Engelse woorde word gebruik wat Afrikaanse woorde VERVANG, nie aanvul nie. Daardie spreekwyse verteenwoordig dus die verskraling van Afrikaans en verskraling is allermins groei (veral wat taal betref). Afrikaans (die kwansuise agteruitgang van Hollands) het nie ontstaan deur anderstalige woorde in die plek van Afrikaanse (Hollandse) woorde te gebruik nie.
Die ‘baie mense’ waarvan jy praat wat dan nou so oor die agteruitgang van Hollands gekla het mag waar wees maar hulle het gekla oor agteruitgang, NIE vermenging nie. Jy kry byvoorbeeld suiwer heroïen en dan kry jy heroïen wat met wit poeier gemeng is en dus van swakker gehalte is. So ook met taal – jy kry suiwer Afrikaans en Engels en dan kry jy die swakker gehalte Afrikaans en Engels wat respektiewelik met Engels en Afrikaans gemeng is. Een belangrike verskil hier egter, tussen Afrikaans en Engels, is dat baie Afrikaanssprekers hulle taal meng maar met Engelssprekers is dit meestal net die tweedetaalsprekers wat oortree bloot vanweë die feit dat hulle nie vaardig genoeg is nie. Die Engelse huistaalsprekers skyn meer taaltrots te hê as die meeste Afrikaanssprekers.
Wat weer die hele teoriestorie betref – jy’t nie aan my die verskil tussen teorema en teorie verduidelik nie; ék het vir jou gesê dat jy moontlik die twee verwar na aanleiding van jou uitlating oor ‘wetenskaplike betekenis’ van teorie. Jy het toe gesê jy het nie en ek aanvaar dit so. Maar, interessant, met die klomp voorbeelde wat jy in jou laaste brief noem blyk dit dat daar nog ’n betekenis aan ‘teorie’ geheg kan word naamlik die versameling van kennis, bouteorie byvoorbeeld sal wees die gedrag van materiale, boumetodes en –praktyke ens. Mens hoor dikwels die stelling “dit werk miskien in teorie maar nie in die praktyk nie.” Terloops, ek stem nie saam met hierdie stelling nie; as die praktyk van die teorie verskil beteken dit bloot die teorie is onvolledig of foutief.
Dankie vir al die verwysings en skakels na Chomsky, ek sal beslis bietjie opvolg.
Groetnis
Jan Rap
The post Antwoord op Angus se brief van 16 deser appeared first on LitNet.