Jou vraag in die kommentaargedeelte onder aan Hans se brief van 19 deser verwys.
Daar is vir my ’n teenstrydigheid wat evolusie van die organisme aan die een kant en taal aan die kant betref. Ons is geneig om te dink dat, soos die organisme meer kompleks deur die millennia der millennia geword het, het taal op dieselfde wyse evoleer. Die organisme was aanvanklik ’n enkelselentiteit en taal, reken (meeste van) ons, het ontstaan uit ’n grom en ’n knor en ’n blaf.
Wat dan eienaardig is, is dat taal moes ontwikkel tot op ’n baie gesofistikeerde vlak (naamvalle en wie weet wat nog) maar dan ’n piek bereik het en dan geleidelik weer begin vereenvoudig. Mens sou nou dink dat die grammatika van tale nóg ingewikkelder word; ’n taal wat byvoorbeeld net vier naamvalle in die 1600’s gehad het sal nou sewe of agt naamvalle hê.
Dit werk net mooi andersom – Afrikaans se grammatika is eenvoudiger as die van Nederlands en Engels se grammatika is eenvoudiger as dié van sy brontale (hoofsaaklik Duits, Nederlands en Frans). Die kans dat Afrikaans (of Engels), soos hy ontwikkel, weer geslagte en naamvalle gaan kry is nul.
Dit lyk dus vir my of ons taal klaargemaak gekry het en soos tyd aangaan erodeer die taal. Verstaan mooi, ek sê nie die uitdrukkingsvermoë van die taal gaan agteruit nie (dit is in elk geval ’n funksie van die spreker en nie die taal nie) maar dat die taal self minder kompleks word. Ook, in die lig van die feit dat diere, hulle genetiese ooreenkomste met ons ten spyt, GEEN taal het om van te praat nie. Hulle het wel geluide wat emosies (vrees, woede ens) weergee maar van in ’n kring sit en filosofeer is daar geen sprake nie.
Om tussen die moontlikheid van taal as ontwikkelende kommunikasiemiddel saam met die organisme, of as ’n geskenk (hetsy deur genetiese manipulasie of op watter manier ook al) te gekry het, is laasgenoemde vir my die mees aanvaarbare (Occam se lem). ’n Variasie van laasgenoemde is natuurlik dat ons met taal en al van ’n ander planeet (vanuit ’n ander sonnestelsel of selfs galaktiese stelsel) af hier aangekom het.
Ek kan tot ander insigte kom as iemand my meer inligting gee (veral as ek Chomsky opswot met al daardie skakels wat Angus my gegee het) maar op die oomblik voel die immigrantstorie vir my die aanneemlikste.
Groetnis
Jan Rap