Hierdie kommentaar spruit voort uit die volgende artikels en is ’n direkte uitvloeisel van Herman Meulemans se bydrae:
- Hugo Clauslezing: Van en met en door Tom Lanoye – lesingteks
- Hugo Claus, Tom Lanoye, Protea, Vlaandere en Suid-Afrika deur Quintus van der Merwe
- Tom Lanoye houdt passionele Hugo Clauslezing in Antwerpen deur Herman Meulemans
Ek het Herman Meulemans se resensie van Tom Lanoye se Hugo Claus-lesing (Antwerpen, Sondagaand 19 Maart 2017) met groot belangstelling gelees. Ek is veral deur twee sake getref: enersyds, die inhoud van Lanoye se “diep doorleefde, passionele” Hugo Claus-lesing oor Nelson Mandela, Suid-Afrika en die komplekse verhouding met Vlaandere, soos deur Meulemans opgesom; andersyds, Meulemans se resensie van die betrokke lesing. Ek lewer graag kriptiese kommentaar op beide sake.
Sover dit die resensie van Meulemans betref, die volgende: Soos ek die afgelope tyd reeds gewoond geraak het, besit Meulemans ’n uitsonderlike vermoë tot resensering van skrywes oor onderwerpe wat mens nie normaalweg van ’n sosioloog sou verwag nie. Maar telkens spreek sy resensies tot my. Die wyse waarop hy resenseer, is altyd treffend in die sin van sy kleurryke, idiomatiese taal- asook beeldspraakgebruik, hoe hy hom inleef in die skrywer se produk, en dan juis as gevolg van hierdie inlewing ook gevoelvol of passioneel daaroor skryf, maar hier boonop in sy skep van die konteks en atmosfeer te midde waarvan die lesing plaasvind. Meulemans is in sy resensies dus ’n bedrewe atmosfeerskepper: dit gaan vir hom nie alleen om die inhoudelike en argumentatiewe van die lesing nie, maar ook om die ambience te midde waarvan die lesing plaasvind – die geskiedenis, die argitektuur, die kultuur, die kuns van en rondom die Bourla-skouburg, en ’n afwagtende gehoor in die deftige rooi gemakstoele – ’n atmosfeer wat beide vir lesing én vir voordraer ’n besonderse en waardige geleentheid skep, en die lesinggewer eintlik uitlok om ’n passionele voordrag te lewer.
Meulemans se weergawe van Lanoye is eweneens passioneel, en ek glo – net soos die lesinggewer dit was, en hy die wese van sy lesing ook bedoel het en dit graag ook wou hê: passioneel. Daarmee laat die resensent sekerlik reg aan die bedoeling van Lanoye en die meriete van sy lesing geskied.
Ek het nie die Lanoye-lesing self meegemaak nie, en dit ook nie in die oorspronklike teks gelees nie – nog nie. Maar Meulemans se resensie inspireer my inderdaad om dit wel te doen – en gou ook. Primêr gaan dit in Meulemans se resensie om ’n sinoptiese samevatting die Layone-lesing, soos deur die bril van die resensent gesien. Dit is by uitstek ’n insigvolle weergawe van die onderwerp en argumentasie van Lanoye – en let daarop: met behoud van die bedoelde passionele. Hoe dit moontlik is om ’n lesing van anderhalfuur tot enkele bladsye te reduseer, spreek van vernuf en volledige insig aan die kant van die resensent. Kortom, welgedaan, my vriend!
En dan bring Meulemans die kern van Lanoye se voordrag in kort grepe na vore. Natuurlik is Lanoye se ontleding en vergelyking uiters interessant en insiggewend. Maar natuurlik is die inhoud ook skerpsnydend en verwytend, en plek-plek selfs pynlik – vir my wel, en sekerlik ook vir vele van my Vlaamse vriende. Die tweepolige vergelyking van die teenstellende Nederlandse vis-à-vis Vlaamse opstellings en betrekkinge sedert die Anglo-Boereoorlog reeds is vir my openbarend – veral die trae eietydse verandering (of dan gebrek aan verandering) aan Vlaamse kant, soos vergestalt in die herhaaldelike afwysing van pogings om die nuwe demokratiese bestel in Suid-Afrika te verheerlik, en die helde daarin op simboliese wyse te vier en te vereer by wyse van die herbenoeming van strate, pleine, geboue, lane, brûe, promenades, ens.
Maar bevat die staanmaak van hierdie polariese voorstelling van die komplekse werklikhede in twee heel verskillende samelewings nie iets van ’n kunsmatigheid wat daartoe neig om simplisties te wees nie? Het hierdie naamsveranderinge in Nederland se mees sigbare stede, pleine, parke en plekke ook kollektief na die kleiner dorpe en gemeentes deurgespoel? Ek weet dit nie; ek weet ook nie of dit van belang is nie. Maar ek sou dit my nogtans kon voorstel dat die stadsvaders en die gemeentes van kleiner Nederlandse dorpe heelwaarskynlik dieselfde soort benadering as hul Vlaamse eweknieë sou volg, naamlik: minder aandagtrekkend, minder opspraakwekkend, en sulke volksvreemde veranderinge in naam meer selektief, in ooreenstemming met eie tradisie, en daarom met dieselfde ingesteldheid en motivering as die Vlaminge sou afwys, naamlik “geen aantoonbare en spesifieke link met die stad”. Is so ’n opstelling hoegenaamd verkeerd, en waarom sou dit verkeerd wees? En wat sou die onlangse versigtige kentering in benadering in etlike kleiner Vlaamse dorpe sogenaamd goedmaak? Behalwe om in pas met die tydgees te kom en bewustheid te skep. Hoewel die skep van bewustheid in sigself seker ’n edele doel dien, maar dan mits daar klaarheid oor die gedeelde einddoel van hierdie bewustheid bestaan. Is dit om skuldgevoel en selfverwyt te paai of in stand te hou? Dan liefs nie. Maar as dit die bedoeling is om gewoon die regte en edele ding te doen, dan wel.
As sosiale wetenskaplike het ek vroeg reeds geleer dat ’n mens nie jou persoonlike of idiosinkratiese ervarings en omstandighede in algemeen-geldende feite moet omskep nie. Dat jy distansie tussen jou en ’n gebeure moet kry en daardie afstand objektief moet handhaaf. Dit is vir my ’n vraag of Lanoye in sy navorsing hierdie beginsel konsekwent toegepas het. Die kruks van sy argumentasie is vir my ’n verrassende openbaring: ’n waargenome gespletenheid tussen die Nederlandse en die Vlaamse stellingnames jeens Suid-Afrika tydens die apartheid-era en veral in die postapartheid periode; ’n soort bipolêre voorstelling teenoor die apartheidsregime van destyds en ook in die periode daarna: aan Nederlandse kant ’n nieveroordelende sagtheid (is daar ’n sweem van simpatie of selfs omhelsing hierin te bespeur?); aan Vlaamse kant ’n harder, meer verwytende en veroordelende afwysing van die apartheidregeerders (suggereer dit terselfdertyd ’n omhelsing van die makers van die na-apartheid periode?). Ten spyte van Lanoye se skerp waarnemings, deeglike navorsing en blykbaar talle bewyslewerende bronne ter stawing van sy gevolgtrekkings en kritiek, bly my vrae: Is dit die volle prentjie? Is dit in die ware werklikheid? Watter rol speel Lanoye se persoonlike waarnemings, belewenisse, interpretasies, voorkeure en vooroordele in die skep van hierdie tweepolige voorstelling van gesplete Nederlands-Vlaamse opstellings? En sou die Vlaminge daarmee akkoord gaan, of sito-sito verlief daarmee neem?
Meulemans se uitmuntende resensie het my inderdaad goed geprikkel en spoor my aan om Lanoye se uitgebreide en deurtastende lesing so gou as moontlik te lees en verder te bestudeer.
The post ’n Kyk na Tom Lanoye se Hugo Claus-lesing – deur die bril van Herman Meulemans appeared first on LitNet.