Klim op die bant wagon
Nick Charlie Key
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798172691
Die verskyning van die Afrikaanse vertaling van Nick Charlie Key se Jump on the Bant Wagon is ‘n welkome toevoeging tot die warm debat oor die “lae koolhidraat, hoë vet”- (LKHV-) dieet wat tans heers. Die algemene publiek is verward, en weet nie meer wat om te glo oor die oënskynlik teenstrydige mediese uitsprake wat gemaak word aangaande die voor- of nadele van hierdie dieet nie.
Die laekoolhidraat-eetplan is reeds in 1972 deur die kardioloog Robert C Atkins voorgestel en staan bekend as die Atkins-dieet. Die doel van die dieet is om dieetpatrone te verander ten einde gewig te verloor en normale gewig te behou. Die Banting-dieet stem ooreen met die Atkins-dieet. Albei beperk die inname van koolhidrate en suiker asook sekere plantolies, met die Banting-dieet wat meer klem lê op die inname van meer laekoolhidraatgroente.
Dit is betekenisvol dat die eerste voorstanders van hierdie laekoolhidraat-dieetpatroon almal vooraanstaande mediese wetenskaplikes was. Na die twee vernietigende Wêreldoorloë het die Amerikaanse departement van landbou in 1977 mense aanbeveel om ‘n dieet hoog in koolhidrate te volg. Dit is gedoen sonder enige grondige wetenskaplike bevindings oor die langtermyngevolge van hierdie dieet, maar waarskynlik om goedkoop voedsel aan die honger menigtes te voorsien. Dokters is besorg oor die gevolglike toename in ernstige mediese toestande, soos die metaboliese sindroom, diabetes, hoë bloeddruk en kardiovaskulêre siektes. Dit het bekend geword dat hierdie siektes voorkom en selfs omgekeer kan word deur net gewig te verloor. Mediese wetenskaplikes het bevind dat die aanbevole lae-vet-hoë-koolhidraat-dieet siektes soos tipe II-diabetes en kardiovaskulêre siektes kan veroorsaak. Met die toenemende bekendmaking van navorsing wat klem lê op die ernstige newe-effekte van sommige van die medikasies, soos die cholesterolverlagende middels, begin dokters toenemend lewenstylmodifikasies voorstel om hierdie epidemie van siektes wat met oorgewig verband hou te beheer.
Dit is interessant dat Key nie ‘n dieetkundige of mediese wetenskaplike is nie, maar die moeilike paadjie geloop het om gewig te verloor; en vandag is hy 22 kg ligter. Die verskil is dus dat hy weet hoe dit voel om vet te wees en hy weet hoe ‘n groot stryd dit is om gewig te verloor. Die boekie is volgepak met 90 smullekker resepte, almal laag in koolhidrate en glutenvry, en hy gebruik ook alternatiewe vir suiker. Dit is dus nie ‘n mediese handleiding met raad wat moeilik in die praktyk gevolg kan word nie. Hy lê klem op resepte wat maklik en bekostigbaar is, sodat goeie gesondheid en hope energie nou binne elkeen se bereik is. Die visuele uitleg van die boek, vol pragtige kleurfoto’s van smullekker geregte, dra by tot die oorredingsvermoë daarvan. Die feit dat Key nie ‘n professionele sjef is nie, en geen kulinêre opleiding het nie, maar net ‘n passie vir kosmaak en gesondheid het en hierdie ervaring met ander wil deel, dra by tot die boek se sukses. Die boek slaag daarin om die boodskap van gesonde eetpatrone op ‘n aanvaarbare wyse oor te dra.
Daar is ‘n groeiende bewuswording onder dokters van die belang van lewenstylmodifikasie in die bekamping van die epidemie van chroniese en degeneratiewe siektes soos diabetes, hartsiektes, osteoporose en osteoartritis. Dokters is ook bekommerd dat die medisynes wat vir hierdie siektes ontwikkel is, ernstige newe-effekte het en nie daarin slaag om hierdie siektes te genees nie. Alternatiewe hanteringsmetodes soos gewigsverlies, oefening en dieet-ingrypings word ondersoek om die liggaam se eie inherente genesingspotensiaal te stimuleer, en nie net die simptome te behandel nie. Dit het ook bekend geword dat cholesterol nie hartaanvalle veroorsaak nie, maar slegs geassosieer is met kardiovaskulêre siektes. Wat meer is, die lae-vet-hoë-koolhidraat-dieet wat die Amerikaners oor die afgelope 50 jaar aan ons voorgehou het en slaafs nagevolg is deur dieetkundiges wêreldwyd, was die oorsaak van die toename in diabetes en hartsiektes. Hierdie siektes was in die verlede betreklik onbekend .
Daar is ook bevind dat verfynde suiker byna net so verslawend is as kokaïen. Mense kan net nie afsien van versoete produkte nie, en die voedselbedryf is maar alte bewus van hierdie “swakheid” en laai hulle produkte gevolglik met suiker om verkope te bevorder. Hierdie suikerryk produkte word dikwels naby die betaalpunte uitgestal, en mense kan net nie die versoeking weerstaan nie, en die lekkergoed beland in die inkopiemandjie.
Wat egter nie algemeen bekend is nie, is dat daar by ‘n klein persentasie mense ‘n verskuilde genetiese afwyking is wat hulle aan die risiko blootstel om die metaboliese sindroom en insulienweerstandigheid te ontwikkel. Die metaboliese sindroom is die voorloper van suikersiekte en hartsiektes, insluitend hoë bloeddruk. Hierdie genetiese risikofaktor vir bloedvatsiektes van die hart kan geaktiveer word deur uitwendige faktore soos oorgewig en onaktiwiteit. Mense met insulienweerstandigheid kan ook nie te veel fruktose eet nie, en moet dus selfs vrugte in hulle dieet beperk.
Dit beteken dat die laekoolhidraatdieet dus nie op almal van toepassing is nie. Mense wat nie insulienweerstandig is nie, fisiek aktief is en ‘n normale bloedglukosevlak en cholesterolkonsentrasies het, hoef nie op so ‘n laekoolhidraatdieet te gaan nie. Dokters kan bepaal of jy ‘n hoërisikogeval is om kardiovaskulêre siektes te ontwikkel. Daar is verskeie bloedtoetse wat die genetiese en biochemiese risiko vir die metaboliese sindroom kan bepaal lank voordat suikersiekte of ‘n hartaanval te voorskyn kom.
Die beginsels om die koolhidrate te beperk, en meer op vette en proteïene te konsentreer, hou nog steeds stand; die versadigingswaarde van vette en proteïene is beter as dié van suiker. Suiker veroorsaak ‘n insulienreaksie wat die bloedsuikervlak laat daal en ’n hongersensasie laat ontstaan. Gesonde vette en proteïene stimuleer nie insulienafskeiding nie. Mens word dus nie so gou weer honger nie, en die neiging om te peusel word beperk.
Wat soms uit die oog verloor word, is die feit dat mense geneig is om persentasie te verwar met hoeveelheid. Die klem op die laekoolhidraatdieet is dat ‘n groter persentasie energie in die vorm van vette en proteïene verkry moet word as van koolhidrate. Vette is ook meer energieryk, wat die persoon gouer versadig laat voel. Natuurlik sal te veel vet ook tot gewigstoename lei. Die klem val dus op die dieetsamestelling. Die feit is: verfynde koolhidrate in die vorm van suiker en wit gesifte meel is leë kalorieë sonder addisionele voedingstowwe. Wanneer jy een teelepel botter en ‘n avokado eet sonder suiker of brood, kom die kalorieë 100% van vet; dit dui nie die hoeveelheid aan nie, maar slegs die persentasie van die energie afkomstig uit vette. Vet onderdruk die eetlus, en dit is die beste manier om suiker verslawing te oorkom. Kalorie-inname verminder sonder om hongerpyne te veroorsaak, met die gewenste gewigsverlies.
Die kernboodskap van hierdie dieetpatroon is dat ons onsself moet losmaak van die gevestigde dieetpatroon soos deur die Amerikaners voorgestel, en moet ag slaan op navorsing wat toon dat gesonde vette ryk aan omega 3-vetsure nie so skadelik is as wat voorheen aan ons voorgehou is nie. Goeie bronne van vet is botter, room, klapperolie, neute en avokado’s en dierevet. Die idee dat cholesterol in die dieet die oorsaak is van die abnormale cholesterolprofiel in die bloed word nou bevraagteken.
Geneeshere begin om toenemend hulle pasiënte aan te moedig om meer verantwoordelikheid te aanvaar vir hulle eie gesondheid en nie net staat te maak op medisyne om reg te maak wat verkeerd geloop het nie. Die chroniese en degeneratiewe siektes wat aan ‘n ongesonde lewenstyl gekoppel is, kan nie met geneesmiddels alleen reggemaak word nie. Voorkoming is hier beter as genesing.
Die boek beklemtoon ook nie die feit dat kos geweeg moet word nie. Die beste maatstaf van hoeveel elke persoon kan eet, bly maar sy of haar gewig. Wanneer die gewig stabiel bly, eet jy dieselfde hoeveelheid kalorieë wat jy verbruik. Wanneer jy gewig optel, eet jy te veel! Die geheim van hierdie dieetpatroon is dat dit volhoubaar is en nie noodwendig onbekostigbaar is nie. Key se resepte bied ‘n wye verskeidenheid opsies wat maklik in ‘n knap begroting kan inpas. Wat mense soms uit die oog verloor, is die geld wat bespaar word deur nie meer afhanklik te wees van duur medisyne nie. Daardie besparing kan gebruik word om gesonde kos te koop.
Mediese wetenskaplikes verwelkom enige poging om mense meer gesondheidsbewus te maak en self by hulle hanteringsprogram betrokke te raak. Suid-Afrika het ‘n onaanvaarbaar hoë persentasie mense wat oorgewig is. Dit plaas groot druk op die gesondheidsorgstelsel. Hierdie dieetpatroon sal meewerk om die voorkoms van hartaanvalle te beperk en mense meer gesondheidsbewus te maak. Ongelukkig is daar nog verskeie dokters wat op sleeptou geneem word deur die farmakologiese bedryf wat middels te promoveer om hierdie siektes wat met oorgewig verband hou te behandel. Mense soos Nick Charlie Key wat hulle persoonlike ervaring met die laekoolhidraat dieet met ons deel, lewer ‘n groot bydrae tot die beter verstaan van die vetsug epidemie. Dokters leer dikwels by hulle pasiënte van die waarde van dieet-ingrypings wat dalk nie met die aanvaarde opleidingsdogma strook nie.
Ons ken nie alle antwoorde nie, maar begin om antwoorde te bevraagteken!
The post Klim op die Bant Wagon deur Nick Charlie Key, ’n mediese beskouing appeared first on LitNet.