Die Noord-Kaap beskik vandag oor nagenoeg 10 spookdorpe. ’n Spookdorp is ‘n dorp wat vroeër ‘n lewendige gemeenskap gehuisves het, maar wat sedertdien ‘n stildood gesterf het, en al wat oorgebly het van hierdie eens pragtige dorpie is ‘n paar ou murasies en ‘n begraafplaas.
Burgerville, Deelfontein, Draghoender, Grootmist, Platbakkies, Sydney on Vaal, Putsonderwater, Koegas, Volop en Wallekraal is almal Noord-Kaapse spookdorpe.
Deelfontein lê soos ‘n bonkige litteken op die Karoo se voorkop. Vroeër jare was daar ‘n spoorweghalte en ‘n klein stasie. Hierdie stasie was geleë tussen Hutchinson en De Aar, maar in 1889 het ‘n Russiese Jood, Elias Adamstein, daar ‘n hotel opgerig.
Adamstein het in 1880 vanaf Litaue na Suid-Afrika geïmmigreer, brandarm, maar het danksy die uitvoer van volstruisvere, ‘n fortuin gemaak. In sy dae as volstruisveresmous het hy gereeld oorgebly by JD Logan se plaashotel op Matjiesfontein.
Adamstein het baie van die idee van ‘n plaashotel gehou en het in 1889 vir hom ‘n stuk grond op Deelfontein gekoop. Daardie jare het die grondpad wat De Aar, Victoria-Wes en Richmond verbind het, by Deelfontein verbygeloop. Dit was ‘n besige roete gewees vir beide kar en trein.
Adamstein se Deelfontein Hotel was uit die staanspoor ‘n reusesukses gewees. Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog het die Engelse later daar langs die hotel ‘n groot hospitaal opgerig. Adamstein het uit simpatie met die Engelse soldate sy hotel se naam verander na The Hotel Yeomanry.
Sy hotel het lank na die Anglo-Boereoorlog bly voortbestaan. Later jare is daar ook ‘n poskantoor en winkel op Deelfontein gevestig. Met die bou van die N1-roete tussen Johannesburg en Kaapstad het die verkeer helaas nie meer by Deelfontein verby geloop nie en het eers die hotel, toe die winkel, en later ook die poskantoor hulle deure êrens in die laat 1980’s gesluit. Vandag is wat eens die pragtige Hotel Yeomanry was, bloot ‘n vervalle murasie en Deelfontein ‘n godverlate spookdorp.
Nog ‘n spookdorp in die Noord-Kaap is Burgerville. Dié vroeëre dorpie is op die N10-roete, sowat 30 km vanaf De Aar op die pad na Hanover. Die dorpie is op 25 Januarie 1879 uitgelê op die plaas Zevenfontein. Zevenfontein was onderverdeel. Nr 1-gedeelte het behoort aan Barend Burger en nr 2-gedeelte, waar Burgerville ontstaan het, aan J Viljoen. Die dorpie is na Barend Burger vernoem.
Daar is ‘n sindikaat deur Diederik Jooste van Bloemhof en sy seun Frikkie, daardie tyd prokureur te Philipstown, gevorm. Aandele van £100 elk is uitgereik en omliggende boere en dorpsbewoners het dit gekoop. Erwe is toe opgemeet en verkoop. Op watererwe was daar ‘n rekonie van £2 en op droë erwe £1.
Die mense was toe in rep en roer en huise is gebou en tuine aangelê. Ploegvore is langs die strate getrek en bome is geplant en binne ‘n paar jaar was dit groot bome, want die grond daar was baie vrugbaar. Vandag is daar niks meer van te sien nie.
Tesame met die opmeting van die dorp het gerugte versprei dat daar diamante op Burgerville gevind is en ook dat die moontlikheid bestaan dat daar fabrieke sou opgaan. Maar dit was alles wolhaarstories. Sowat 30 huisgesinne het hulle daar gevestig en daar is selfs met ‘n skool begin.
In 1933 was die waterposisie in De Aar sodanig dat die inwoners hoofsaaklik van windpompe afhanklik was. Die enigste opsie was om Burgerville se ryk watervoorrade vir De Aar op te koop. Wat hulle dan ook gedoen het. Die tragiese gevolg was dat Burgerville in die versengende Karoo hitte ‘n dors dood gesterf het.
’n Ander spookdorp in die Noord-Kaap is Putsonderwater. ‘n Ou bruin man, Dawid Ockhuis, het kort na 1880 daar ‘n put gegrawe. Sy seuns, Hans en Gert, het hom gehelp en hulle het ‘n goeie voorraad vars water oopgegrawe. Die put was baie belangrik in ‘n streek waar trekboere ver ente van die een waterplek na die ander in die droogtetye moes aflê. Ockhuis het besef dat as hy met sy water spog, hy maklik van sy plaas afgedruk kan word, want grond was toe nog heeltemal vry en baie min het ‘n wettige grondbrief gehad.
Gevolglik het Ockhuis vir elke trekboer wat daarlangs kom, gesê: “Ja, meneer, ek het ‘n put, maar dit is ‘n put sonder water.” Op dié manier het Ockhuis die plaas nog ‘n hele paar jaar behou totdat dit in 1886 aan Peter Connan, ‘n Skotse winkelier van Draghoender, verpag is. Ockhuis moes trek en Connan en sy vennoot, Liebenberg, het die plaas van 20 000 morg ‘n paar jaar later vir £9 000 gekoop. Die put wat Ockhuis en sy seuns gegrawe het, was vir jare die perseel van ‘n pompstasie wat die dorp Putsonderwater en die spoorweglokomotiewe van water voorsien het.
Putsonderwater was vroeër jare die spoorwegstasie vir Kenhart, wat 80 km verder wes lê. Vandag is dit ‘n spookdorpie. Al die geboue staan verlate. Die Kaap-Windhoek-spoorlyn snel daar verby en die trein stop helaas nie meer op Putsonderwater vir water nie. Alles op Putsonderwater is vandag grafstil en die geboue staan verwese onder die Afrika-son en bak.
Die laaste spookdorpie wat ek wil noem, is Sydney on Vaal, ‘n ou, klein delwersdorpie wat op die oewers van die Vaalrivier naby Delportshoop en Barkly-Wes geleë is.
Die dorpie is in 1902 deur die Vaal River Diamond Exploration Co Ltd begin. Die besturende direkteur van hierdie maatskappy in 1902 was Sydney Mendelssohn en die dorp is na hom vernoem. Hy was die seun van Meyer Mendelssohn, die eerste Joodse rabbi wat in 1878 na Kimberley toe verhuis het.
In 1906 het hierdie delwersdorp oor ‘n mark, poskantoor, biblioteek, stadsaal, hospitaal en ‘n Vrymesselaarslosie beskik. Die bekende argiteksfirma Timlin en DW Greatbach het die kerk ontwerp. Beide Standard en Barclays Bank het destyds takke op Sydney on Vaal gehad.
Van die rykste diamantvondste is in 1902 hier ontgin. Meer as 66 730 karaat diamante is destyds binne ‘n tydperk van 18 maande hier uitgehaal.
Sydney Mendelssohn, die stigter van New Vaal River Diamond Company, het die geskiedkundige Mendelssohn-biblioteek vir die delwersgemeenskap hier op die been gebring. Dié biblioteek het in 1934 oor meer as 20 000 boeke beskik. Die Mendelssohn-biblioteek se susterbiblioteek wat ook deur Mendelssohn gestig is, is vandag nog in die Parlementsgebou in Kaapstad in gebruik.
Vandag is Sydney on Vaal die eiendom van die alombekende diamantdelwer Chris Potgieter en word hierdie spookdorpie met deernis in stand gehou. Dit is voorwaar die juweel van die Noord-Kaap se spookdorpe. Die pragtige ou delwersgeboue staan vandag nog pragmooi en pronk op die walle van die Vaalrivier.
Een van die dinge wat ‘n mens bybly elke keer as jy van ‘n spookdorp in die Noord-Kaap wegry, is die gevoel van nostalgie.
- Al hierdie verhale kan in Jan van der Merwe se Die Noord-Kaapse dorpe gelees word. Dit is ‘n pragtige koffietafelboek wat die ontstaan- en naamgeskiedenis van 220 Noord Kaapse dorpe en ander plekke bespreek. Die boek bevat ook pragfoto’s. Dit kos R850, posgeld uitgesluit. Bestel by janvdm@live.com.
The post Die Noord-Kaap se spookdorpe appeared first on LitNet.