Beste Jan,
Laat ek maar ook begin met ʼn aanhaling uit ʼn vorige brief van jou. Jy skryf: “Soos ek al voorheen vir jou gesê het, linguistiek is die studie van taal, alle aspekte van taal wat natuurlik grammatika kan insluit MAAR dan die grammatika van ’n spesifieke taal of tale (vir vergelyking ens).”
Wat jy hier beweer, is eenvoudig nie waar nie. Afgesien daarvan dat dit nie nodig is om vir my te sê dat Linguistiek die studie van taal behels nie, is jy verkeerd om te sê dit kan grammatika insluit. Dit is ook verkeerd om te sê dat dit moet die grammatika van spesifieke tale wees.
Grammatika is deel van Linguistiek omdat dit ook die studie van taal behels. Dit kan as aparte vakdissipline bestudeer word, met geen spesifieke taal as teiken nie. Omdat dit die studie van Taal is, moet voorbeelde uit ʼn spesifieke taal kom, en daardie taal is natuurlik Engels. Dit wil nou nie sê dat as Chomsky voorbeelde uit Engels haal, hy ʼn Engelse grammatika skryf nie. (Hy is dikwels al beskuldig dat hy dit doen.) Hy noem dit dan ook Universal Grammar (UG).
Ek skryf Grammatika so met ʼn hoofletter as ek die vakdissipline bespreek.
Dan kan die grammatikus ook die grammatika van ʼn spesifieke vak, soos Engels of Duits of Afrikaans beskryf, en dan skryf ek dit met ʼn kleinletter, soos bv die grammatika van Afrikaans. In die verlede is die Latynse grammatika gebruik om alle ander tale se grammatikas te beskryf. Met studie het hulle dan besef dat ʼn betrokke taalgrammatika verskil van Latyn s'n, dan is dit beskou as uitsondering. Latyn het bv sewe naamvalle, maar toe Duits se grammatika geskryf is, het hulle besef dat daar net vier is. So is daar talle uitsonderings in die grammatika van alle tale.
Alhoewel ek feitlik net altyd Chomsky se naam noem, is daar talle ander linguiste, sommige stem saam met hom en ander weerspreek hom, maar dit is tog met sy werke dat daar met nuwe oë gekyk word na taal. Waar taal meestal sommer net aanvaar is as vanselfsprekend, het talle nuwe vrae oor taal begin opduik. Hy het die mensdom meer bewus van taal gemaak. Waar grammatikastudies eens maar oppervlakkig was, het hy diepte gebring.
Jy hou so aan met die Berlitzmetode. Dit berus op die direkte metode van taalonderrig, maar hoe goed ken jy dit? Het jy dit al toegepas in ʼn klas? Onderwysers wat dit toegepas het, het wel sukses behaal, maar daar was heelwat klagtes daaroor, oa dat die materiaal verouderd is. Baie onderwysers het weer teruggekeer na die grammatika-vertaalmetode. Jy self hou van laasgenoemde metode. Het jy enige ondervinding as onderwyser met die aanbieding daarvan, of dink jy maar aan jou skooldae toe jy Duits geleer het? Aangesien jy belang stel in die onderrig van taal, en ook die filosofie daaragter, kan jy gerus Chomsky se Cartesian Linguistics aanskaf.
Om sommer met die deur in die huis te val, en met Chomsky te begin, kan wees egter wees soos om ʼn huis se dak op te sit terwyl die mure nog nie gebou is nie. Gaan kyk by https://en.wikipedia.org/wiki/Noam_Chomsky_bibliography_and_filmography om te sien wat hy gepubliseer het.
Kry vir jou The Science of Language: Noam Chomsky. Interviews with James McGilvray. ISBN 978-1-107-60240-3
Probeer ook:
Language and Mind, On Language, en Knowledge of Language, almal van hom.
Dis juis die ou wat nagraads taal bestudeer het wat kan insien dat dit wat die leek as agteruitgang van taal beskou, eintlik maar die natuurlike gang van enige taal is. Alle tale verander, die een meer as die ander. Jong tale sal groter verandering toon as ou tale. Verandering val dikwels nie in die smaak van sprekers nie, want niemand wil eintlik verandering hê nie. Toe Afrikaans sy ontstaan gehad het, het baie mense ook maar gekla oor die agteruitgang van Hollands.
Dan tik jy: ”‘Teorie’, ‘teorema’ en ‘stelling’ het ons ook al goed deurtrap; sien my vorige brief.”
Ek het toe so gemaak. Dis wat jy geskryf het: “Aangaande ‘teorie’: In een van jou briewe het jy gesê ‘teorie’ is die hoogste vorm van wetenskaplike kennis en in ’n ander brief het jy, nadat jy ‘teorie’ genoem het, in hakies gesit ‘die wetenskaplike betekenis, nie die populêre een nie’ of so iets. Ek het jou daarop gewys dat jy dalk ‘theory’ (wat as ‘teorie’ vertaal word) verwar het met ‘theorem’ (wat verkeerdelik as ‘teorie’ vertaal word). Laasgenoemde is ‘teorema’ of ‘stelling’. Dis maar al.”
Dit bewys dat jy όf nie gelees het wat ek geskryf het nie, όf jy het nog nie tot die besef gekom dat vir die wetenskap die woord ‘teorie’ ʼn spesiale betekenis het nie. Jy het dus nog nooit van die atoomteorie, die swaartekragteorie, die evolusieteorie, die relatiwiteitsteorie, die heliosentriese teorie, die kwantumteorie, die stringteorie, die suurstofteorie, die informasieteorie, die plaattektoniekteorie, gehoor nie. Ek het al voorheen vir jou die verskil verduidelik tussen teorema en teorie. Daar bestaan geen rede waarom ek juis die twee met mekaar sal verwar nie. Miskien verwar jy die twee met mekaar en dink dat dit ook met my die geval is.
Groete,
Angus
The post Antwoord op Jan Rap se laaste brief appeared first on LitNet.