Toe ek gevra is om iets oor die pas gestorwe Karel Schoeman te skryf, was ek reeds in Gent, toevallig besig om ’n oorsig te lees van die oeuvre van Hugo Claus. Die Vlaamse Claus, gebore in Brugge – iets meer as ’n hanetree van Gent – was ’n groot skrywer, soos Schoeman trouens ook; dit staan vas. Geen wonder nie dat albei gesien is as potensiële Nobelpryskandidate. Maar presies waarin hul grootheid lê, is iets waaroor al eindeloos verskil is.
Anders as Claus, wat verskeie genres beoefen het, was Schoeman (naas enkele dramatekste) by uitstek prosaskrywer. En, anders as Claus, ook skynbaar nie ’n eksperimentele skrywer nie. Baie kritici het Schoeman se werk in verband gebring met die 19de-eeuse roman en kritiek op sy styl het ook nie uitgebly nie. Die trae gang en minutieuse beskrywings is al as “literêre hekelwerk” bestempel en selfs as vervelend. Kritici het hulle soms bekla oor Schoeman se geneigdheid om stereotiepe voorstellings te gee van onder meer vroue, predikante, huweliksverhoudings en dergelike. En op ’n bepaalde tydstip is hy ook geroskam oor sy gebrek aan (opvallende) politieke betrokkenheid.1
Die skyn bedrieg. Schoeman was nog altyd ’n skrywer wie se werk aansluit by die Afrikaanse prosatradisie, maar wat dan bakens versit deur sy radikale uitholling van die tradisie. Dit geld byvoorbeeld die plaasroman – ’n sentrale subgenre, veral in die eerste dekades van die 20ste eeu, maar ook onder andere die peregrinasie-verhaal (soos koloniale reisbeskrywings). En sy werk was van meet af aan (polities) betrokke. Ook by die eietydse aktualiteit, al is dit byvoorbeeld in ander lande of historiese tye gesitueer. Voorts is sy werk nie net ’n indrukwekkende vernuwende tapisserie van bekende tipes uit die Afrikaanse prosatradisie (die Meester, die leraar, die pioniervrou, die “held”) nie; dit is ’n diepgaande besinning op buitestanderskap (of tussenskap, soos dit al genoem is) en van die prekêre uitreik na die Ander. In ’n onlangs voltooide studie word aandag bestee aan die wyse waarop (die gereedmaking vir) sterwe en sterwensbegeleiding op ’n besondere wyse in Schoeman se werk figureer. En die diepgang van sy filosofiese denke is ook al belig.
Na die Geliefde Land verskyn in 1972 as sy sewende roman en word steeds, saam met ’n Ander land (1984) en Hierdie lewe (1993), as die hoogtepunte in Schoeman se werk beskou. Dit is ook in verskeie tale vertaal en word in 2002 verfilm as Promised Land. Hoewel verskeie literatore baie verdienstelike werk oor hierdie Schoeman-teks gelewer het, wil ek graag die Poolse literator Jerzy Koch uitsonder wat in sy habilitasieproefskrif (gepubliseer as Outsider onder de zijnen. Vormen van xenofanie in de Afrikaanse roman) ’n hele uitstekende hoofstuk aan hierdie roman wy. Daardeur word uiteraard die seminale posisie van die roman binne die Afrikaanse literatuur bevestig.
In die voorwoord van Na die Geliefde Land skryf Louise Viljoen dat hierdie roman geklassifiseer kan word onder “apokaliptiese” (of dalk eerder distopiese) literatuur waarin gespekuleer word oor die toekoms van Suid-Afrika, Afrikaans en Afrikaners. In die jongste tyd het daar al indrukwekkende werke die lig gesien waarin hierdie tematiek sentraal staan, soos PJ Haasbroek se Oemkontoe van die nasie (2001), JM Coetzee se Disgrace (1999) en Eben Venter se Horrelpoot (2006). Vanselfsprekend bestaan daar ’n boeiende gesprek tussen al hierdie tekste en dit is opvallend dat al hierdie tekste besondere negatiewe vooruitskattings is.
In hierdie Schoeman-roman gaan dit oor ’n man, George Neethling, ’n Afrikaner wat in die buiteland, in Genève, Switserland, grootgeword het en terugkeer na die familieplaas Rietvlei, wat hy van sy moeder geërf het. Weens sy buitestanderskap het die ander personasies die vrymoedigheid om hul persoonlike en traumatiese geskiedenis, as onderdruktes in eie land, mee te deel. Die opsies wat hulle almal noem, was destyds inderdaad die opsies wat baie Afrikaners oorweeg het: gewapende of lydsame verset, stilswyende aanvaarding of emigrasie. In sy afstandelike betragting van mense, ruimte en geskiedenis waarvan hy nie deel kan word nie, is hy duidelik die model vir Eben Venter se Marlouw in Horrelpoot.
Sentraal in baie van die genoemde apokaliptiese tekste staan ook die tipiese plaas as argetipiese Afrikaanse ruimte en word intertekstueel gesprek gevoer met die tradisie van die Afrikaanse plaasroman. In die tradisionele Afrikaanse plaasroman word groot klem geplaas op die fisiese teenwoordigheid van die Afrikaanse geskiedenis, versigbaar in aangeplante bosse, keurig-versorgde begraafplase, geraamde portrette en mooi opstalle. In die loop van die tyd, só lui die doemprofesie van hierdie klomp romans, sal die Afrikaner sy plaas prysgee teen wil en dank, dit sal in vreemde hande beland en later tot niet gaan, met die gevolg dat daar van die oorspronklike eienaars, die Afrikaners, geen teken meer sal bestaan nie. In Horrelpoot word die grafstene deur die swart arbeiders verwoes, die bosse is uitgekap vir vuurmaakhout, en selfs van Afrikaans, die eens trotse taal, het slegs ’n hibried oorgebly, ’n variëteit deurspek met Engels. Schoeman se novelle ’n Lug vol helder wolke (1967) is steeds een van die beste kritiese herskrywings van die tradisionele Afrikaanse plaasroman en baanbrekend in sy oeuvre.
Die mens is in Schoeman se werk dikwels ’n speelbal van die Noodlot, historiese kragte én die verganklikheid waaraan niemand kan ontkom nie. In sy werk word veral Suid-Afrika uitgebeeld as ’n ongenaakbare ruimte, net so onboetvaardig soos die verskrikking van die dood. Die "Ander Land" in sy werk is én Suid-Afrika én die dood én die verlede. Verkenning van veral die laasgenoemde is vir my waarskynlik dié sentrale motief in sy werk. Iets wat maklik geyk sou kon word, word op ’n gevarieerde en weergalose wyse telkens opnuut belig – die waarmerk van ’n werklik groot skrywer.
Herskepping van die verlede kan goedskiks vergelyk word met die proses van literêre vertaling. Die literêre vertaler staan voor die dilemma om van ’n bronteks wat in ’n ander taal geskrywe is en veelal afspeel in ’n ander historiese tyd en in ’n ander kultuur, ’n begrypbare doelteks te maak deur dit om te sit, te “vertaal”, sodat sy bedoelde lesers (van ’n ander land, kultuur en – waarskynlik – historiese tyd) dit kan begryp. Die vertaler het die keuse om nader te beweeg aan die bronteks en deur “vervreemding” outentisiteit te beklemtoon. Daar kan egter ook verkies word om nader te beweeg aan die doelteks deur sg “domestikasie” en byvoorbeeld ekwivalente te soek vir (in die geval van byvoorbeeld die Bybel) diere, plante, geldeenhede, gebruike en dergelike wat vir die doelleser begryplik sou wees. Die skrywer is voortdurend besig met strategiese keuses, en hy medieer voortdurend tussen bronteks en doelteks in pas met sy vertaalopvatting. Ook die historikus moet medieer tussen verlede en hede en diskursiewe keuses maak. Geen wonder nie dat die narrativiste (White, Ankersmit, Carr) hierdie proses gelyk stel met die keuses wat ’n romanskrywer moet maak nie en die objektiwiteit van historiese representasie bevraagteken het.
In ’n artikel het Van den Berg (2011) selfs verder gegaan en die weergawe van die verlede as sodanig prinsipieel bevraagteken. Soos “die Ander” (binne postkoloniale denke), is die verlede volgens hom in beginsel onrepresenteerbaar en daarom is die historikus gelyk te stel met ’n getraumatiseerde persoon wat sy trauma wil representeer, maar nie kan nie. Geskiedskrywing bemoei sigself dus met ’n onrepresenteerbare “objek”, of dan “’n trauma ontologies gesetel in die beperkinge van die historiese diskoers”.
In hierdie verband is die opvattinge van die bekende Groningse historikus Frank Ankersmit relevant. In ’n artikel rig hy ’n verwyt aan politieke filosowe wat hulle só bemoei met die teoretiese grondslae van hul vak en die probleme rakende representasie dat hulle hul plig versaak om maar enigsins te skryf oor die belangrikste politieke probleme in die moderne wêreld. Dit is volgens hom nie net ’n selfsugtige “opsluit in haar eigen kleine wereld” nie, maar ’n onverskilligheid ten aansien van die groot probleem van die eie tyd, én spreek dit van onverskilligheid teenoor die groot publiek (Ankersmit in Van Coller 2011).
Volgens hom is die verhouding tussen denke en werklikheid die belangrikste tema van die Westerse filosofie sedert 1600. Maar, is sy verwyt, hoe meer hulle die denke en werklikheid by mekaar probeer bring, so jaag hulle die twee juis verder uit mekaar uit (Ankersmit in Van Coller 2011). Dit lyk my dit is ook van toepassing op die begripspaar representasie en werklikheid.
Ankersmit is veel meer pragmaties. Hy haal LP Hartley aan wat in sy roman The go-between gesê het: “The past is a foreign country”, wat nogal herinner aan Schoeman se romantitel ’n Ander land. Volgens Ankersmit (in Van Coller 2011) is dit die skrywer én die historikus se taak om vir lesers as gids op te tree op pad na die verlede. Vir hom toon die gidsmetafoor twee dinge: die plekbeskrywings moet waar wees: “dat zij de waarheid en niets dan de waarheid moeten verwoorden over het verleden [… maar] … de waarheid is slechts diensbaar aan de reis naar het verleden. Vertrek men vanuit een ander heden, of naar een ander verleden, dan zijn ook andere ‘plaats-beschrijvingen’, andere waarheden nodig. Er bestaat dus niet zoiets als ‘de’ waarheid over het verleden.”
In die tweede plek leer die diensbaarheid van die waarheid aan die bereiking van ons bestemming in die verlede ons ook iets oor die aard van die historiese teks. Daar is baie verskillende paaie na die verlede, net soos daar verskillende paaie na enige bestemming is. Die interessante meningsverskille ontstaan dus eers as daar gepraat word oor die verskillende paaie na die verlede, wat van belang is en wat belangrik is as jy op ’n bepaalde plek in die verlede wil kom. Dit gaan dus nooit in die geskiedskrywing oor waarheid nie, maar oor wat belangrik is.
Daddow (2008:53) sê van Hayden White: “White’s normative agenda in exploding history was to de-privilege the status of professional history as the guardian of what can legitimately be studied in the past and how that past can legitimately be represented. His aim was to explode history for the sake of it or to do away with the discipline of history altogether. By contrast, White’s aim has been clear throughout: to make history more relevant to us in our daily lives by reconnecting it to the poetic and artistic ways of representing reality”. Weer eens staan die verpligting wat die historikus teenoor ’n groter publiek het, sentraal.
Hierdie “verpligting” het Schoeman op weergalose wyse nagekom. Al is geen historiese weergawe ooit “waar” nie, is dit duidelik dat die verlede soms doelbewus verfraai of besmeer word. In talryke historiese weergawes én geskiedkundige romans van die afgelope jare is byvoorbeeld die storie van die Afrikaner herskryf. En wat veral na vore gekom het, is die foute van die verlede, die vergrype, en magsmisbruik. Ook Schoeman het die verlede genadeloos gedissekteer en in feite ’n paar eeue onder die loep geneem, van die onderdrukking van die slawe en indigene in die koloniale era tot die grondroof van die 18de en 19de eeue en die soms wrede optrede van volkshelde in die Tweede Anglo-Boereoorlog.
Veldslag is een van die novelles deur Schoeman wat reeds in 1965 gepubliseer word en voltooi is tydens sy studentetyd aan die destydse Universiteit van die Oranje-Vrystaat, Bloemfontein. Hierdie novelle het die Tweede Anglo-Boereoorlog as agtergrond, ’n tema wat Schoeman ook aansny in een van sy latere romans, Verliesfontein (1998). Hoewel Kannemeyer (1983:529) beweer dat die oorlog slegs op die periferie aanwesig is, is dit nie korrek nie. Dit is die oorlog wat nie net katalisator is in die novelle nie, maar ook in hoë mate ’n parallel vorm met die historiese tyd waarin Schoeman sy werk skrywe: die jare ná Sharpeville toe verset teen apartheid verhewig was, toe geweld sigbaarder begin raak het en dit duidelik was dat ’n hele era tot ’n einde begin kom het.
Die gebeure word gesitueer aan die einde van die eerste ses maande van die oorlog toe die Boeremagte gevoelige verliese gely het, generaal Cronjé met duisende manne by Paardeberg oorgegee het en die inname van Bloemfontein onafwendbaar begin lyk het. Die Boeremagte was uitmekaar gejaag, swak dissipline was aan die orde van die dag, baie het hul wapens neergelê (of oorweeg om dit te doen) en daar was ook diegene wat aktief meegewerk het met die Engelse besettingsmag. Daar was egter ook die bittereinders wat nooit die wapens wou neerlê nie. In hierdie botsende standpunte speel opvattings oor “plig”, “vryheid”, “oorlewing” en “futiliteit” vanselfsprekend ’n belangrike rol.
Schoeman se dorp is bevolk met tipes wat al bogenoemde standpunte verteenwoordig. Daar is die twyfelaars, die meelopers en die bittereinders. Daar is die predikant, die dokter en die Nederlandse “Meester” wat gou die wyk neem én die jong meisies wat gedrywe word deur hul eie soeke na plesier. Sentraal staan die weduwee, Esther, wat verbete lewe volgens haar eie opvatting van plig: ’n mens aanvaar wat die lewe jou bied, hoop nie vir geluk nie, leef eerder in gelatenheid. Sy het saam met haar oorlede eggenoot in stilte gelewe, hom getrou verpleeg en is bereid om dit ook te doen vir die gewonde kryger, Frans, van wie sy ook verwag dat hy sy plig teenoor sy land sal nakom. Frans, daarenteen, het nie gaan veg vanweë verhewe ideale oor plig en patriotisme nie; veel eerder omdat sy jong verloofde se flirtasies hom geïrriteer het en hy wou wegkom. Vanweë die groeiende gehegtheid tussen hom en Esther sou hy eerder wou bly en die wapen neerlê. Hul verhouding en verskillende standpunte vorm die kern van dié werk.
Treffend is die wyse waarop die oorlog aanvanklik feitlik deur afwesigheid gekenmerk word. Van die dorpsinwoners het gaan veg; daar is selfs dié wat gesterwe het. Maar dis asof die oorlog onwerklik is. Voor die groot geveg word daar nog ’n swierige partytjie gehou, maar die sterwe van ’n ou orde is onmiskenbaar voelbaar (soos die tekens ook sigbaar was in die jare sestig toe Schoeman dié werk geskrywe het). Die oorlog word konkreter met die verskyning van die gewonde Frans, later die kanongeluide op die agtergrond, nóg later ’n lyk van ’n dorpsbewoner. Vir die leser (en kyker) wat bewus is van die latere vernietiging van boerewonings, die konsentrasiekampe, die afloop van die oorlog, gaan daar ’n geweldige dreiging uit van dié gebeure.
Karel Schoeman se trilogie Stemme bestaan uit Verliesfontein (1998) (deel I), Hierdie lewe (1993) (deel II) en Die uur van die engel (1995) (deel III). Die trilogie verskyn nie in die reeksvolgorde nie, en die losse chronologie wat wel aantoonbaar is in die drie opeenvolgende dele, verloop ook nie volgens die dele nie: Hierdie lewe herskep die lewe van ’n Roggeveldse vrou in die 19de eeu, Die uur van die engel fokus op die Transgariep van ongeveer 1830 tot die hede en Verliesfontein speel af tydens die Anglo-Boereoorlog en die tyd daarvóór, hoewel die narratief in die hede begin.2
In Die laaste Afrikaanse boek (2002) sê Schoeman self: “Hierdie drie romans wat min of meer gelyktydig gestalte gekry het, is dus onderling verbind deur die feit dat al drie bestaan uit ’n verslag van die onlangse Suid-Afrikaanse verlede soos uitgebeeld in die woorde van die karakters wat self hul verhaal aan die leser meedeel, wat reguit in die kamera kyk en regstreeks daarin praat, soos Liv Ulman in Die uur van die wolf, en dit is die drieluik waaraan ek vanweë sy wesenlike eenheid die oorkoepelende titel Stemme gegee het” (550); “Hierdie drieluik was ’n poging om in terme van my eie temperament en gawes literêre gestalte te gee aan die verlede van Suid-Afrika” (551); “Dit was op Cradock, besef ek nou, eerder as tydens enkele besoeke aan die kleurlingbuurt van Calvinia of selfs in die Roggeveld, dat ek die wêreld van Adam Balie leer ken het, enige jare voordat ek nog besef het dat ek daaroor gaan skryf. Niks gebeur verniet nie; niks bly onbenut” (578); en “Altyd ook was dit my doel om met inagneming van elemente soos hierdie (hoe die verlede fisiek ervaar is) die tekstuur van die verlede te probeer weergee, wie es wirklich gewesen, in die frase van die Duitse historikus Ranke; al kon die resultaat in laaste instansie weliswaar niks meer as ’n afskynsel van die vergange werklikheid wees nie, was dit my strewe om die skynsel ten minste oortúigend te maak” (529).
Uit die Schoeman-onderhoude het reeds geblyk dat die Stemme-reeks as ’n geheel gelees behoort te word, ’n drieluik wat soos in die skilderkuns ’n onlosmaaklike eenheid daarstel. Dat die sentrale motief is om stem te gee aan buitestanders, misdeeldes en gemarginaliseerders is so mettertyd ook al byna ’n cliché. Dit gaan hier dus om ’n politieke diskoers wat haas uit die aard van die saak sterk perlokusionêr gerig is; kortom van pragmatiese aard is.
Tussendeur publiseer die verstommend produktiewe Schoeman nog heelwat ander werke wat direk of indirek verband hou met hierdie reeks; kwalik verbasend, omdat die Schoeman-oeuvre ’n digte netwerk vorm van (herhalende) karakters, patrone, motiewe, simbole en ideologiese en filosofiese opvattinge. Die wêreld van die digter: ’n boek oor Sutherland en die Roggeveld ter ere van NP van Wyk Louw (1986) is volgens Kannemeyer (1998:247) voorstudie vir Hierdie lewe. Dogter van Sion (1997), wat veral op slawe en vroue as gemarginaliseerdes fokus, is weer belangrik vir Hierdie lewe en Verkenning. Ook Armosyn van die Kaap (1999) en JJ Kicherer en die vroeë sending (1996) kan gesien word as voorstudie van veral Verkenning wat, soos later sal blyk, ’n belangrike begeleidende en haas eksegetiese teks van hierdie reeks is.
Die deurlopende tema van al drie die romans is die onmoontlikheid om die verlede te herwin en daaraan (objektiewe) gestalte te gee. Ironies is dit dat die niefiksie-tekste van Schoeman juis telkens pogings tot historiese rekonstruksie is, terwyl die romans in dié reeks (asook Verkenning) eweneens hierdie historiese herskepping tot onderwerp het. As narratiewe loënstraf het hulle telkens as‘t ware dié sentrale motief deurdat hulle geslaagde romans word oor ’n vermeende mislukking (Van Coller en Van Niekerk 2002:249).
Agter die vertroude (Schoeman-) motiewe, temas en geykte subgenres en die argaïese leksikon sou min lesers ’n outeur vermoed wat bykans ’n staalkaart uitstal van die tipiese kenmerke van wat dikwels postmodernisties genoem word. Veral in Verkenning is daar ’n komplekse spel tussen narratiewe instansies en vlakke en kan die teks inderdaad as historiografiese metafiksie gedefinieer word (Van Vuuren 1996:39). Selde werk die bekende deurstrepingstegniek (sous rature) só suksesvol in ’n roman.
Terwyl dit waar mag wees dat Schoeman se reeks dié menslike bestaan tot onderwerp het, is dit eweneens waar dat die romans onmiskenbaar Suid-Afrikaans is. Nie net word die ruimte ’n aktiewe medespeler nie; die reeks is ’n stuk kultuurgeskiedenis waarin bestek opgeneem word van veral gemarginaliseerdes en gemarginaliseerde posisies (die slaaf, die vrou, die Khoi, die Griekwa, ens).
Ampie Coetzee se werk ’n Hele os vir ’n ou broodmes: grond en die plaasnarratief sedert 1595 (2000) is ’n optekening van die historiese band tussen Afrikaner en grond, en die rol wat dit gespeel het in die totstandkoming van ’n Afrikaner-identiteit. Hy dokumenteer ’n hele era van onderdrukking en marginalisering van die indigeen. In die proses is die indigeen ook van ’n eie stem ontneem en is dit veral Schoeman wat in die “verlede gaan soek het na stemme wat ons nie kon hoor nie” (Coetzee 2000:49). Hoewel Coetzee dit het oor briewe, dokumente, verslae en wette waaruit die leser ’n stem kan rekonstrueer, gaan Schoeman inderdaad verder. In die hele reeks is dit veral (en bykans uitsluitlik) die gemarginaliseerde wat stem kry en sodoende die historiese stiltes (ook van baie historiografiese weergawes) vul. Die sterwende Tantetjie sterwe naamloos, waardeur gesuggereer word dat sy nie deel het aan die stamboom van manlike besitters nie. Tydens haar lewe was sy altyd ’n periferale figuur omdat sy nooit ’n duidelike sosiale posisie ingeneem het nie; hiërargiese gemeenskappe het min geduld met tussenposisies. Sy probeer onthou, iets onder woorde bring en so nie net stem gee aan haarself nie, maar ook vergoed vir die stilte waarin sy voortdurend geleef het.
Ook Die uur van die engel stel ’n veelheid van stemme aan die woord. Sentraal staan die hakkelaar Danie Steenkamp as ’n randfiguur wat in onguns verval het weens sy getuienisse teen die boere. Die soektog na Danie en sy familie stuit op die afwesigheid van sy stem, sy poësie. Hoewel dit uiteraard ook hier gaan om die ontoereikenheid van taal, suggereer dit ook die swye wat gemarginaliseerdes opgelê is deur die geskiedenis self (Van Coller en Van Niekerk 2002:250).
Ook in Verliesfontein staan rekonstruksie van die verlede sentraal. In talle romanmatige rekonstruksies van die eie verlede so uiteenlopend soos Jan Wolkers se Terug naar Oegstgeest (1965), John Miles se Kroniek uit die doofpot (1991), Henk van Woerden se “Kaapse” trilogie Moenie kyk nie (1993), Tikoes (1996), Een mond vol Glas (1998) en die meerderheid outobiografiese weergawes van die eie geskiedenis, hou rekonstruksie noodwendig feitelike (objektiewe) herskepping en subjektiewe herbelewing en interpretasie in. In Schoeman se niefiksie en sy romans word opvallend veel gebruik gemaak van erkende historiografiese metodes: dokumente, reisverslae, briewe, foto’s en persoonlike getuienisse; maar selfs in sy romans lei die pad na die verlede deur poësie, museums en memorabilia, preke, notules van sinodes … na orale bronne: gesprekke met oues van dae, familieherinneringe van ou gevegte en verskille (Van Coller en Van Niekerk 2002:250).
In sy trilogie is die begrip outentisiteit sentraal en neem die geheue in Hierdie lewe die rol in van argivale bronne en word eietydse stemme in Verliesfontein as getuies aangehoor. Hierdie “subjektiewe” herskepping gaan gepaard met ’n objektiewer “kontrole” van die verlede deurdat die naamlose skrywer van die boek oor die Anglo-Boereoorlog (oa die gebeure by Fouriesfontein) homself by wyse van spreke deur die verlede omvou.
Schoeman se oeuvre is ’n netwerk van korrelasies en intra- en intertekstuele verwysings. Verkenning is onmiskenbaar die belangrikste interteks van die Stemme-reeks. Nie net vanweë die metafiksionele aard daarvan nie, maar ook oor die gelykenis wat betref storie-elemente.
Verkenning is een van die weinige Schoeman-tekste van die laaste jare wat gestuit het op hewige kritiek. Veral ELJ Venter het Schoeman gekapittel vir sy eindelose herhaling, sy vervelige skryfstyl, die gebrek aan ’n spanningslyn, die marathonsinne, die aanhoudende gejammer oor die diepere betekenis van die reis, ens. LS Venter praat van ’n “verlammende leeservaring”. “In geen boek wat ek ken,” sê Venter, “word die leser se vreugde aan die teks so verrinneweer en ondermyn as in Verkenning nie” (Van Coller en Van Niekerk 2002:251).
Of bostaande kritiek geregverdig is en of dit kan spruit uit ’n verkeerde lees van die roman, is haas irrelevant vir my redenering: in hierdie teks gaan dit nie om uiterlike gebeure nie, maar om die inlewing in die geskiedenis en teoretiese besinning oor die moontlikheid om die verlede te herskep. Soos in al die tekste in die Stemme-trilogie trag Schoeman ook in Verkenning om die verlede en die hede op mekaar te laat inspeel. Veral die kritiek op die slawetoestande en die onderdrukkende aspekte van die sosiale lewe aan die Kaap is duidelik van toepassing op die eietydse Suid-Afrika.
In die hele roman is daar felle kritiek op die Kaapse inwoners wat verbete trag om op kunsmatige wyse ’n Europese leefwyse in die Kaap (“koloniale stad”, 48) te bestendig en in die wyse waarop hul belangstelling slegs na Europese onderwerpe uitgaan (19, 20). Dit sluit nie net hul manier van eet en drink nie (wat nogal satiries bekyk word deur die hoofpersoon nie, oa ble 129, 131, 133, 347–57), dit slaan ook op die wyse waarop religieuse konsepte oorgedra word aan indigene en tekens van Europese geleerdheid uitgehol word (bv bl 182). Die drama wat opgevoer word, is ’n gedateerde stuk (91 ev) van twyfelagtige gehalte, die talle biblioteke lukrake versamelings “geleerde” werke, Europese klere, modelle kwalik opgewasse teen die harde land: “(I)n Afrika moet jy alles wat jy uit Europa saamgebring het, verloor” (323). Dit sou geen oordrywing wees om Verkenning een van die felste postkoloniale werke van die afgelope jare in Afrikaans te noem nie.
En tog is hier sprake van ’n sekere ambivalensie: Europese leefwyses en denkwyses is onvanpas in die Kaap, maar daarsonder is daar ook geen sprake van beskawing nie. Die dilemma van die inwoners wat ’n “wankele ewewig” tussen Europa en Afrika wil bereik, word op bl 37 helder verwoord deur dr Lichtenstein. Boonop is die status van die fokaliserende hoofpersoon eweneens enigmaties: hy is weliswaar as die afstandelike betragter (98–9) – verwant aan die tipiese Schoeman-hooffiguur en Schoeman self in sy reisverslae – skynbaar die outeurspreekbuis. Tog word hy ook gesatiriseer in sy koloniale hovaardigheid,3 omdat hy deurgaans uit die hoogte (bv 58, 61–4, 249 en 262) neerkyk op ander. Boonop blyk sy totale onbegrip van en totale onvanpastheid vir Afrika uit soveel besonderhede. Selfs sy dood, wat eintlik die tragiese hoogtepunt moes vorm, word kwalik meer as ’n intermezzo. Deur die betreklik groot stuk verteltyd wat bestee word aan ’n uitbeelding van die verguisde dr Van der Kemp (336–47) word dalk gesuggereer dat aanpassing noodsaaklik is om as Europeër in Afrika te lewe en van nut te wees (Van Coller en Van Niekerk 2002:251).
Die belangrikste kwessie in Verkenning is egter die hele problematiek van die herskepping van die verlede. Ook wat betref hierdie kwessie is die aspek van “stemme” belangrik: herskepping van die verlede is ’n sintuiglike proses, ’n proses van “inlewing” waar die historikus aangewese is op sy sintuie. Daarom word daar voortdurend gewag gemaak van “hoor”, “luister”, “kyk”, “voel”, “ruik” (vgl oa ble 10, 41, 42, 43, 49, 160–1, 110–11, 203–4). Voorts word “stemme” ook in verband gebring met die lot van die slawe wat altyd in stilte, op die agtergrond, moet beweeg en voortdurend tot stilte gemaan word (vgl bv net 19, 47, 58, 75) en voortdurend slegs moet luister (203–4). Daarom wyk hul uit die stad as hulle wil gesels (87); hulle eie tale is tot stilte gedwing (83); en die versugting van Mei dat niemand ooit na hul sal luister nie (141) is eintlik ’n verwoording van al die slawe se gevoelens (Van Coller en Van Niekerk 2002:252).
Deurgaans word die slawe slegs as materiële (bv 94) of lusobjekte gesien (bv 22) en selde as mense. Op bl 75 word byvoorbeeld lustig oor die slawe gesels in hul eie teenwoordigheid asof hulle nie bestaan nie. Op ble 288–90 besin die reisiger oor die feit dat soveel mense stemloos is en dat hul getuienisse verlore sal gaan: “[E]k weet terwyl ek luister dat ek hierdie hartstogtelike berigte nie sal opteken nie en dat die geskiedenis van hul onderskeie bekerings nie die Goewerneur se lessenaar sal bereik of in sy lêers bewaar word nie. Dit sal vergeet word” (288). In kontras hiermee teken Schoeman self juis die klein geskiedenisse op en bewaar dit vir die nageslag. Sodoende word ook aan die misdeeldes stem gegee.
Uit die hele diskoers is dit duidelik dat Schoeman as abstrakte outeur trag om ’n parallel tussen die Bataafse tydperk en die huidige tyd daar te stel, nie net wat die lot van gemarginaliseerdes betref nie, maar ook ten aansien van aktuele vraagstukke soos dispute rondom die uitbetaling van lone, afsettings van plase en grondonteiening (219, 224, 391) en plaasmoorde (76–7, 155). Hieruit blyk dit onomstootlik dat die hele Stemme-reeks en Verkenning veral as (manipulerende) politieke diskoerse gelees moet word.
Uit die voorgaande is dit duidelik dat die Stemme-reeks as ’n geheel gelees behoort te word; dat die sentrale motief is om stem te gee aan misdeeldes en gemarginaliseerdes en dat die reeks in sy geheel as politieke diskoers gelees kan word. En sodanige diskoers, weet ons nou reeds, is van pragmatiese aard. Die Brechtiaanse vervreemdingstegniek wat Schoeman aanwend om lesers die verlede aanvanklik saam met die verteller deur ’n waas te laat sien, en daarteenoor die bevoorregte direkte aanhoor van “ooggetuies”, het ten doel om die leser pragmaties te betrek. Die ek-vertellers word bykans teen hul eie wens verplig om te onthou en te vertel van ’n traumatiese tydperk in hul lewe, ’n tydperk wat elkeen om verskillende redes wil vergeet. Sodoende word hierdie ontliggaamde stemme bykans getuies in ’n hofsaak waarin die leser oor die verlede moet besleg.
Representasie van die Ander (én die verlede) is vroeër te berde gebring as synde onmoontlik om te representeer. Indien ’n skrywer ’n dier kan (probeer) representeer, sou hy seker ook die Ander kon probeer representeer – altyd met die besef van onvolledigheid, onvolkomenheid en dergelike meer. Maar dit behoort geen beletsel te wees om dit te probeer nie. En Schoeman se gevarieerde oeuvre is inderdaad ’n monument van hierdie poging om die ander land te betree en te verken. Daardeur word die eie ruimte – wat soms ’n “wasteland” is – veel minder onherbergsaam.
Bibliografie
Burger W en H van Vuuren (reds). 2002. Sluiswagter by die dam van stemme. Beskouings oor die werk van Karel Schoeman. Pretoria: Protea Boekhuis.
Coetzee, Ampie. 2000. ’n Hele os vir ’n ou broodmes: grond en die plaasnarratief sedert 1595. Pretoria, Kaapstad, Johannesburg: Van Schaik, Human en Rousseau.
Daddow, O. 2008. Exploding history: Hayden White on disciplinization. Rethinking History, 12(1):41–58.
Kannemeyer, JC. 1983. Die geskiedenis van die Afrikaanse literatuur. Kaapstad: Tafelberg.
—. 1998. Meesterhand hier teenwoordig. Rapport, 20 September 1998, bl 18.
Olivier, Gerrit. 2002. Onderhoud met Karel Schoeman. In Burger en Van Vuuren (2002).
Schoeman, Karel. 1965. Veldslag. Kaapstad, Pretoria, Johannesburg: Human & Rousseau.
—. 1972. Na die Geliefde Land. Kaapstad, Pretoria, Johannesburg: Human & Rousseau.
—. 1995. Die uur van die engel. Kaapstad, Pretoria, Johannesburg: Human & Rousseau.
—. 1996. Verkenning. Kaapstad, Pretoria, Johannesburg: Human & Rousseau.
—. 2002. Die laaste Afrikaanse boek. Outobiografiese aantekeninge. Kaapstad, Pretoria, Johannesburg: Human & Rousseau.
Smuts, JP. 1998. Verliesfontein. Ongepubliseerde radiobespreking verskaf deur NALN, Bloemfontein.
Van Coller, H. 2011. Postkoloniale literatuur en die representasie van trauma. Hennie van Coller reageer. LitNet Akademies. [Intyds]. Beskikbaar: www.litnet.co.za/postkoloniale-literatuur-en-die-representasie-van-trauma-hennie-van (2011, Maart 08).
Van Coller, HP en A van Niekerk. 2002. Vertelstrategieë in Verliesfontein deur Karel Schoeman. In Burger en Van Vuuren (reds) (2002).
Van den Berg, C. 2011. Postkoloniale literatuur en die representasie van trauma: ’n Verkenning van Verkenning. LitNet Akademies 8(1). [Intyds.] Beskikbaar: journals.co.za/docserver/fulltext/litnet/8/1/litnet_v8_n1_a2.pdf?expires=1494248586&id=id&accname=guest&checksum=.
Van Vuuren, H. 1996. Resensie van Verkenning. Karring, 12:39–42.
Eindnotas
1 Oor die politieke aard van bepaalde Schoeman-werke (waaronder die Stemme- drieluik) het hy self in twee onderhoude uitgewei; dié een met Gerrit Olivier (Olivier2002) en die (tot dusver ongepubliseerde) DJ Opperman-gedenklesing wat op 17 September 2003 in Stellenbosch plaasgevind het as ’n gesprek met Louise Viljoen en Jakes Gerwel.
2 JP Smuts (1998) merk op dat dit “nou ook duidelik (is) hoekom Schoeman sy Stemme-romans nie in die verwagte volgorde publiseer het nie. Van ’n mededeling op die skutblad kan ’n mens naamlik aflei dat hy hulle genommer het in die volgorde waarin hy aan hulle begin werk het. Aan Verliesfontein het hy reeds aan die begin van 1990 begin skryf, maar hy het dit eers aan die einde van 1997 voltooi.” ’n Meer waarskynlike verklaring is dat Schoeman sy roman publiseer met die aktualiteit van die Anglo-Boereoorlog in gedagte.
3 Dit is enigsins ironies dat Schoeman self in Stamland uit die verf kom as die tipiese koloniale reisiger. Op hovaadige wyse gaan die belangstellings uit na slegs dit wat uit ’n beperkte perspektief vir homself van belang is. Boonop gedra hy hom baie soos die koloniale reisiger in sy ewige selfkoestering: die duurste ete en drank word argeloos genuttig terwyl die bedrae wat per aand bestee word, kwalik die weekloon van ’n Suid-Afrikaanse arbeider sal bedra.
The post Karel Schoeman: ’n huldeblyk deur Hennie van Coller appeared first on LitNet.