Web
Naomi Meyer
Uitgewer: Queillerie
ISBN: 9780795801204
Web is Naomi Meyer se debuutwerk in volwassene-fiksie. ’n Jeugroman, Ruik jy die filmster?, het in 2006 by Tafelberg verskyn.
Web speel af in Stellenbosch, waar die hoofkarakter, Sophia, soos die skrywer, vir ’n boekewebblad, genaamd BoekWeb, werk. Sophia en haar “brokkelrige” gesin (soos Meyer dit stel) het onlangs met ’n hoop buitelandse skuld uit Ierland na Suid-Afrika teruggekeer en in Stellenbosch probeer hulle om ’n nuwe begin te maak. Sophia se man, Diederick, is ’n speurder betrokke by die polisiëring van gesinsgeweld en hulle twee kinders, Magriet en Mathys, is onderskeidelik sewe en vyf jaar oud. Magriet is ’n aangenome kind en die spanning in die verhaal draai enersyds om Magriet se verdwyning en andersyds om Sophia se ontvoering deur ’n ou liefde, Anders Bester, kort nadat haar kind verdwyn.
In ’n doelbewuste oorvleueling van vorm en inhoud word die verhaal episodies en op nieliniêre wyse vertel. Dié tegniek is oorwegend funksioneel. Ander inkorporasies van die webtematiek is egter minder geslaagd. Die vele episodes waarin spinnekoppe ’n rol speel, neig in die geheel tot ’n oorbeklemtoning. Afsonderlik beskou kom sommige van hierdie episodes ook geforseerd en selfs oppervlakkig voor – byvoorbeeld Sophia en Mathys se ontmoeting met die ouers van die vermisde Magriet se maatjie in Jonkershoek op presies die oomblik toe hulle besig is om ’n spinnekop van nader te bestudeer.
Die indruk van onwaarskynlikheid, of kunsmatigheid, spoel ook oor na ander tegniese aspekte van die roman, veral wat segging, vergelyking en uitdrukkings in die algemeen betref. So is Mathys op ’n stadium geheg aan ’n pak malvalekkers soos Sophia en Diederick “aan hulle herinneringe aan Suid-Afrika”. Of Sophia se leuens vir haar kinders is “so glad soos die seep wat sy van hulle lywe afspoel”. Of koue druppels reënwater “sny” in die boemelaar, Jackson, se lyf in soos die mes waarmee hy kort gelede gesteek is. Op ’n ander kol, laat in die verhaal, sien Magriet haar ma “spring net soos daardie springspinnekop die nat oggend in die tuin”. By die lees van hierdie vergelykings wil mens telkens vra of die skrywer ernstig is met hierdie hiperbole. Voorts is daar oomblikke waarop Meyer ’n ongeloofwaardige gladdebekkigheid in dialoog met volwassenes aan die kinderkarakters toeken. Ons almal weet dat kinders soms die mees verrassende dinge kwytraak, maar wanneer hierdie slimmighede, soos hier, die reël in stede van die uitsondering word, oortuig dit nie.
Tog kom oortuigende en selfs briljante uitdrukkings ook dikwels voor, byvoorbeeld wanneer Sophia vrees dat sy soos “’n hoërskoolmeisie wat dwangrym-gedigte skryf” sal klink wanneer sy met Anders praat, of wanneer Sophia die ontvoering beskryf as ’n “idilliese nagmerrie” (’n stelling wat herinner aan ’n sekere psigoanalitiese definisie van die nagmerrie as die droom wat bewaarheid word). Vir my was die mees oortuigende beskrywings egter dié waarin traumatiese en gewelddadige gebeure aan bod kom. Veral die toneel waarin klein Magriet sien hoe ’n ander kind van haar ouderdom – Zoë – verkrag word, bly by mens spook. Trouens, die uitbeelding van gebeure vanuit Magriet se oogpunt werk in die geheel baie goed. Meyer se ondervinding as jeugromanskrywer skemer in hierdie opsig duidelik deur – as skrywer is sy op haar gemaklikste wanneer sy deur die oë van ’n kind kyk.
Dit beteken egter nie dat daar nie ook volwasse en selfs eksistensiële inhoud is wat oortuig en die webmotief doeltreffend en op vindingryke wyse versterk nie. ’n Voorbeeld hier is wanneer Google in een van die hoofstukke in die eerste persoon praat en mens opnuut onder die indruk kom van Jacques Lacan se siening dat die mens se begeerte die begeerte is van die Ander (“my desire is the Other’s desire”) – wanneer mens dus besef hoe ons almal in mekaar se webbe vasgevang word en is en dat die internet-era hierdie aspek van ons bestaan intensiveer.
Daar sal natuurlik diegene wees wat sou wou argumenteer dat hierdie soort psigoanalitiese of filosofiese beskouing nie by die ontspanningsroman tuishoort nie. Mens hoef egter nie Slavoj Žižek te gelees het om te weet dat ons populêre kultuur, en veral die spanningsroman as genre, deurspek is met verwysings na sogenaamde high theory nie. Dink maar aan Hercule Poirot se onvergeetlike aforismes. Of Bennie Griessel se lewenswyshede. Wanneer Meyer dus skryf: “Niks is onder beheer nie, Mathys. Dalk is vandag die regte tyd om vir jou te sê: Hou op om te dink dinge kan ooit onder beheer wees. Daar bestaan nie iets soos beheer nie, Mathys. Daar is net verlies en chaos”, dan kan en mag hierdie woorde gelees word as veel meer as net die desperate gedagtes van ’n ma wie se kind vermis word in ’n spanningsroman.
Een van die hoofredes waarom Web ’n sterk en oorspronklike bydrae is, is dat dit geskryf is vanuit die oogpunt van karakters wat meestal in die Afrikaanse spanningsroman ’n sekondêre verteenwoordiging kry: die vrou, die moeder, kinders. Hierdie perspektiewe is ’n welkome toevoeging tot ’n genre wat, in Afrikaans én Engels, steeds deur die manlike stem en deur manlike karakters oorheers word. In ’n boek waarin die spanning draai om die spil van geweld wat mans teen vroue en kinders pleeg, is dit heeltemal gepas dat die verhaal vanuit die perspektief van die slagoffers vertel word. Web gaan verder ook op vindingryke wyse om met die ras- en klasverdeeldheid in Suid-Afrika en veral met die soms gruwelike vooroordele wat daarmee gepaardgaan.
Ondanks die betreklik klein irritasies wat ek hier bo genoem het, is Web in die geheel ’n boek wat besonder netjies uitgewerk en afgewerk is, wat boei en wat mens laat dink oor die maatskaplike ongeregtighede wat daagliks in ons land afspeel, veral daardie ongeregtighede wat gepleeg word teen weerlose kinders – weerlose kinders wat nie, soos Magriet, gelukkig genoeg is om ’n “superhero” (haar woord) vir ’n pa te hê nie; weerlose kinders wat nooit uit die wrede web van mishandeling, misdaad en algemene verwaarlosing ontsnap nie. Meyer se spannende verhaal vestig ons aandag opnuut op daardie kinders, die volwassenes van môre.
- Jaco Barnard-Naudé is professor in regsfilosofie aan die Universiteit van Kaapstad en die Britse Akademie se Newton Gevorderde Genoot aan die Universiteit van Westminster, Londen.
Hierdie resensie is oorspronklik op Fine Music Radio uitgesaai.
The post Web deur Naomi Meyer: ’n FMR-resensie appeared first on LitNet.