Daar is nog niks geskryf oor wat gaan gebeur met die Departemente Afrikaans aan die universiteite wat mettertyd gaan verengels nie.
Ek kan begin met 'n voorbeeld van wat by die Universiteit van Wes-Kaapland gebeur het toe ek daar aangestel is in 1987 as hoof van die Departement Afrikaans en Nederlands (toe was Nederlands nog 'n deel daarvan).
Daar was in die omgewing van 700 studente wat ingeskryf was in die departement. Toe het die Universiteit geleidelik begin verengels en toe ek daar weg is, was daar ongeveer 300 studente. Sedert my aftrede het die getal vanselfsprekend verder verminder. Nou is dit 'n Engelse universiteit. Dit sou die Afrikaanse universiteit van die Wes-Kaapland kon geword het. Die aantal Afrikaanssprekendes in die Wes-Kaap, en Boland, en die Noord-Kaap is groter as al die ander tale hier – en die meeste van die potensiële studente hier praat moeilik Engels, omdat dit nie hulle moedertaal is nie
Op Wits was ek bevoorreg om te studeer en nagraadse navorsing te doen onder NP van Wyk Louw. Hy was hoof van die Departement, en Ernst van Heerden het hom opgevolg. Daar was ook nog ander professore, soos John Miles en Edith Raidt.
By Wits bestaan daar nie meer 'n Afrikaansdepartement nie.
Die Randse Afrikaanse Universiteit se naam is verander na die University of Johannesburg.
Die Afrikaanse letterkunde is die mees indrukwekkende in Afrika. Ek praat van die produksie van poësie, prosa en drama. Wat gebeur nou as al ons departemente Afrikaans se studentetalle verminder – en as daar bitter min nagraadse navorsing gedoen gaan word? Sal departemente soos Wits s'n begin sluit – of afgeskaf word?
Wat gebeur met ons skrywers, veral van prosa en drama? As hulle nie meer gestimuleer word deur universiteite nie, waar taal nie net 'n alledaagse kommunikasiemiddel is nie – maar deur die diepte daarvan 'n soeke na betekenis is. Die uitweg vir prosa- en dramaskrywers wat iets te sê het, sal seker maar wees om in Engels te skryf. As gevolg van die aard van poësie – waar die gedig dikwels die betekenis van die gedig is, en waar Afrikaans kán blom – maar nie vertaal kan word nie. Net 'n uitgelese groepie lesers, wat miskien maar self moet uitgee? Ek praat nie eers van uitgewers nie.
Die slotsom is dat die uiteindelike vernietiging van 'n taal 'n vernietiging van denke is.
The post Vernietig 'n taal, vernietig denke appeared first on LitNet.