So onlangs as drie jaar gelede sou dit byna heiligskennis gewees het om te wonder of die ANC nog na 2019 sal regeer.
Nou is die vraag nie meer of die ANC sal regeer nie, maar wie gaan oorneem. 2016–2017 sien ons die doodsroggeling van wat eenmaal ’n trotse bevrydingsorganisasie was. Al meer lede binne die organisasie begin nou uitpraat en kritiek teen Zuma lewer. Dit bly egter net by praat. Niks daadwerkliks word gedoen nie, en dis waarop die Zuma-faksie staatmaak. Getroue, gedissiplineerde lede van die ANC wil nie die party se reëls verbreek nie. Zuma en sy groepie is egter nie gebonde aan dieselfde morele oorwegings nie, wat hulle veel groter beweeglikheid gee.
Uit die ANC se oogpunt begin die politieke vlerkslepery en stemmewerwery nou reeds. Wie ook al in Desember verkies word as ANC-president, sal outomaties die party se kandidaat wees om landspresident te word – tensy Zuma homself beskikbaar stel, en wen. Die Grondwet verhoed hom om vir ’n derde termyn as landspresident te staan, en sover het hy nog nie pogings aangewend om die Grondwet te probeer wysig nie. Dit sou in elk geval nie slaag nie.
Tensy daar ’n coup d’etat plaasvind, en hiermee verwys ek nie na die lagwekkende eenman-“sameswering” wat die Valke ondersoek nie. Zuma het homself so geposisioneer dat die hoofde van polisie, die weermag en intelligensie lojaliteit teenoor hom persoonlik eerder as die party of die land bewys.
Die wyse waarop teenstand in die parlement onderdruk word, die wyse waarop gewapende “veterane” tydens die onlangse optogte mag vertoon het, is duidelike tekens dat hy nie gekant is teen gewelddadige optrede nie.
Dis egter ’n fout om te dink dat al die probleme opgelos sal word indien Zuma waai. Hy kry sy mag en sy steun van ’n beduidende deel van die ANC-kieserskorps. Hulle mag dalk ook nie geneë voel om ’n vreedsame bewindsoorname te sien nie.
Ongeag hoe die ANC se topstruktuur in 2018 lyk, is die skade egter alreeds gedoen. Soos ’n slang wat sy eie stert insluk, het die ANC alreeds begin om homself van binne te verteer. Skynbaar is hulle die enigstes wat dit nog nie besef nie.
Verkiesing 2019 is die DA en die EFF s’n om te verloor.
Die DA kan beslis nie op hul louere rus nie. Alhoewel hulle goed gevaar het in die munisipale verkiesings in 2016, is daar interne uitdagings waaraan hulle dringend aandag moet gee as hulle ’n ernstige mededinger wil wees in die 2019-verkiesing. Soos die ANC, het ook die DA ’n groep lojale kiesers wat vir hulle sal stem maak nie saak wie die gesig van die organisasie is of watter foute hulle langs die pad maak nie. Daai groep is egter nie groot genoeg om oorwinning te verseker nie. Die DA moet dus by nuwe kiesers vlerksleep, asook by dié wat voorheen DA gestem het, maar wat nou meer opsies het.
Hier lê die probleem. Helen Zille is besig om in ’n politieke nagmerrie vir die DA te ontaard. Baie kiesers wat potensieel DA kon stem, sal afgeskrik word deur haar sienings oor kolonialisme en wit bevoorregting. Dit lyk nie asof die topbestuur van die DA in staat is om haar te beheer nie, net soos wat die ANC nie in staat is om Zuma te beheer nie. Zille is sekerlik die grootste geskenk waarvoor partye soos die EFF kon vra. Hulle hoef nie stemme te werf nie, Zille doen dit twiet vir twiet vir hulle.
Dan is daar die EFF, wat sedert 2016 nie ’n voet verkeerd sit nie. Hulle kies die gevegte waarmee hulle hof toe gaan, versigtig. Selfs wanneer hulle die parlement ontwrig, is dit ’n weldeurdagte politieke skuif wat groter simpatie by potensiële kiesers wek. Die alliansies wat hulle gevorm het tydens en na die munisipale verkiesings was versigtig nagevors sodat hulle nie hul kernboodskap kompromitteer of hul kiesers vervreem nie.
Malema kom rustiger, meer beredeneerd en minder impulsief voor. EFF-lede word aangemoedig om verder te studeer. Daar is ’n duidelike fokus op opvoeding. Malema het verlede jaar ’n graad verwerf. In April 2017 het ’n aantal EFF-lede aan die Wits School of Governance gegradueer. In kommunikasie aan hulle lede het die bestuur dit duidelik gestel dat daar van lede verwag word om te studeer, maak nie saak op watter vlak nie. As jy net tot by graad 2 op skool gevorder het, dan moet jy sorg dat jy graad 3 maak.
Dis nie net verstandige leierskap nie, dis ook slim politiek in die tyd van #FeesMustFall.
Verder het die EFF nou begin om by politieke byeenkomste, wanneer ander partye tradisioneel T-hemde uitdeel, sanitêre doekies uit te deel. Dis bekend dat heelparty meisies elke maand ’n aantal dae skool mis omdat hulle nie sanitêre doekies het nie. Weer die kopknik na die belangrikheid van opvoeding. Meer as dit bewys dit egter dat die EFF die vinger op die pols het waar dit die gewone mens op straat aangaan.
Met die optogte in April het hulle ook bewys dat hulle in staat is om groter getalle te mobiliseer as enige van die ander partye wat meegewerk het.
Maak hulle gereed om te regeer? Op hul amptelike Twitter was daar onlangs ’n foto van hul top ses amptenare, met die byskrif “Incoming government of ZA”. Tensy die DA en die ANC drastiese koersverandering maak, gaan dit teen 2019 nie net die tong-in-die-kies-opmerking van ’n jong party wees nie.
The post Verkiesing 2019: ver van ’n uitgemaakte saak appeared first on LitNet.