Soveel mense het sedert die afsterwe van Karel Schoeman getuig van hoe sy werk en hy self as persoon hulle geraak het. Ek het ook reeds elders getuig van hoe sy romans en hy as persoon my ten diepste geraak het, maar hier wil ek ’n oomblik stilstaan by waarom sy romans my so diep raak. Dit doen ek deels omdat soveel mense wat Schoeman se romans met ’n oop gemoed probeer lees het, vir my gesê het dit gebeur helaas nie ook met hulle nie, ongeag hoe hard hulle sy romans probeer lees.
Schoeman was self deeglik van dié reaksie bewus. Volgens my geheue het hy per geleentheid droog, selfspottend opmerk hy het begrip vir sulke lesers, “want Afrikaanse lesers wil mos ’n storie hê; in my romans gebeur daar niks nie en die hoofkarakters gaan almal dood aan die einde.”
Self het ek eers bewustelik probeer verstaan waarom sy romans my so diep raak toe ek ses van sy groot latere romans vanaf April tot Julie 2016 herlees het met die oog op ’n lesingreeks en uiteindelik ’n boek oor die romans – en dit nadat ek vir praktiese doeleindes laas in 1999 sy romans gelees het. Dit is altyd ’n vreugde om iets wat jou geraak het, met iemand anders te deel en mee te maak dat dit die ander ook ontroer. Dit is dan met die hoop dat meer lesers Schoeman se romans mag ontdek dat hierdie kort betuiging van ontroering geskryf word.
Schoeman was natuurlik reg in sy uitspraak hier bo aangehaal, en wel in die volgende sin: Bes moontlik beteken ’n goeie storie vir die meeste romanlesers dat dit met aksie gelaai is. In Schoeman se romans gebeur daar in dié sin wel omtrent net mooi niks nie. Maar in ’n ander sin gebeur daar ontsaglik baie, en wel in ’n sin wat elke mens self intiem beleef. Hoe so?
Die antwoord is dat elkeen van ons ons lewens as ’n reisverhaal beleef – een van die groot prestasies van die romankuns is dat dit die siening help vestig het dat elkeen van ons ons lewens kan verstaan as ’n reistog (quest) na ’n eindbestemming. Maar nou is dit ook so dat die meeste van ons se ervaring van ons lewens in hierdie gebroke wêreld miskien nié klop met die ideaal van my lewe as reis na ’n heerlike eindbestemming nie.
Dit, en presies dit, is wat Schoeman in roman ná roman meesterlik vasvang – die groeiende gewaarwording telkens by sy hoofkarakter dat dié se reis en eindbestemming oplaas nie was wat hy of sy verwag het nie. Daarby stop dit egter nie: wat in minstens ses van die sewe van sy laaste groot romans gebeur, is dat die hoofkarakter ’n dieper insig verwerf, naamlik dat die vorm wat sy of haar lewensreis en eindbestemming aangeneem het, tog wel goed en reg is net soos dit is. Dít is waarna Schoeman ten minste sedert ’n Ander land verwys het as die éintlike reis, naamlik “die reis inwaarts”.
Om dit anders te stel: in hierdie groot latere romans stel Schoeman die leser bekend aan die reis wat elkeen van ons oplaas moet aanpak as ons gelukkig wil wees, naamlik die reis na ’n geïntegreerde mens wat sy of haar plek in die groter geheel vind en oplaas met dankbaarheid leef. Hierdie reis, verstout ek my om te sê, is die reis van die siel na God, en wel presies soos St Augustinus dit onoortreflik gestel het: God is tegelyk verder as enigiets anders van my af, en nader aan my as wat ek aan myself is.
Let daarop dat Schoeman, ofskoon hy in later jare na my beste wete nie formeel aan ’n kerk deelgeneem het nie, nooit sy geloof laat vaar het nie. Het die verlange om die laaste skof van sy reis na volkome gemeenskap met God aan te pak nie dalk te sterk vir hom geword om langer te wag dat God hom kom haal nie? Ek weet nie, maar ek wil dit glo, want ek het min ander mense teëgekom in wie die verlange na die mistiese eenheid met God, ’n eenheid wat alle verstand te bowe gaan, sterker was. So sterk was die verlange in hom dat hy dit nie eens meer probeer (of wou probeer?) benoem het nie. Is dit wat hy op daardie laaste foto van hom gestut teen ’n boom turend oor die landskap, of in daardie laaste aardse oomblikke gesien het, dalk wat hy met die slotparagraaf van Die uur van die engel beskryf het?
Die dooie land lewe, lig en skadu trek oor die veld, lewe ruis in die klowe en skeure waar geen teken van lewe vermoed is nie en die klippe brand met ’n onsigbare vlam. Wie kan die wonder glo of dit verstaan? Die vuur laai op, die donker gloei dieper en steeds meer ondeursigtig, die hitte skroeiend teen die gesig; die klippe en bosse brand soos laaiende vuur en die grond het versengend geword onder die voete. Bo die vlammende takke, in die swaar, trillende waas van die hitte, stralend in daardie groot donker, het die engel van die Heer verskyn met wydgespreide vleuels, die hand opgehef.
Wie sal weet? Een ding skyn wel seker te wees: dat die leser tot wie Schoeman se romans spreek, dalk ’n leser is wat vrede gemaak het met die vorm van sy lewensreis en sy eindbestemming, ongeag wat die aanvanklike verwagtinge daaroor was. Na my leeservaring van daardie latere groot romans is dít wat gebeur – dat jy intiem tot getuie gemaak word van iemand anders se reis, en in die proses sélf jou eie reis begin verstaan.
Daarom, daarom het Karel Schoeman in sy uitspraak hier bo die volle waarheid oor sy romans verswyg. Daar ís ’n storie, die storie van jou, die leser, se eie reis soos dit vorm aanneem terwyl jy al lesende saam met sy hoofkarakter reis. Kortom: dit wat met die leser van sy romans gebeur, dít is die storie.
Ten slotte, terwyl hierdie per slot van rekening ’n huldeblyk is, laat ek dan maar hier ook boekstaaf wat ek in ’n radio-onderhoud geantwoord het toe ek gevra is hoe ek die verlies van Schoeman se afsterwe vir die Afrikaanse taal inskat: Ons sal nie weer so ’n romansier in Afrikaans hê nie. Wat Dostojewski vir Russies en Shakespeare vir Engels is, is wat Karel Schoeman vir Afrikaans is. Soos Russies net een Dostojewski en Engels net een Shakespeare opgelewer het, so glo ek sal Afrikaans ook net een Karel Schoeman oplewer.
Vir soverre die Nobelprys van Letterkunde gewig dra, is Karel Schoeman dalk die grootste romansier wat dit nooit gewen het nie. Wat hy dikwels oor sy Afrikaanse literêre held, Van Wyk Louw gesê het, is eweseer op homself van toepassing: Dit was sy lot om in so ’n klein taaltjie gebore te word. Maar dit was eweseer ons, die sprekers van hierdie klein taaltjie, se voorreg om hom as geskenk te mag hê.
Foto geneem deur Mamohau Lekula, Karel Schoeman se versorger oor naweke.
The post Hoekom Karel Schoeman se romans my geraak het appeared first on LitNet.