Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Karel Schoeman – die Goethe van Afrikaans

$
0
0

Waar begin ’n mens met ’n (voorlopige) huldebetuiging aan iemand wat soveel vir jou en ander beteken het? Hierdie geniale, lang, elegante en uiters private man wat soveel mense se lewens geraak het – sonder dat hy werklik bewus daarvan was. Iemand wat die grootste hoogtes in ’n klein en brose taal bereik het.

Ek het die eerste keer met Karel Schoeman se werk as eerstejaarstudent op Stellenbosch (1982) kennisgemaak. My Afrikaans-dosent, Etienne Britz, het ’n dun roman van Schoeman, Die hemeltuin (1979), met ons behandel. Hierdie werk het my diep geraak. Dit het saamgehang met die wyse waarop Schoeman se hoofkarakter, die afgetrede akademikus Nicolaas, uit die bladsye na vore tree. Hier was ’n skrywer wat die mees intieme ruimtes van ’n karakter kon binnetree sonder om stroperig of sentimenteel te raak – ragfyn psigiese verkenning binne die ruimte van Londen as kragveld, net voor die Tweede Wêreldoorlog.

In dieselfde tyd het wyle Madeleine van Biljon ’n bydrae oor Schoeman in die Sunday Times se tydskrif geskryf. In nou reeds bekende terme het sy Schoeman as uiters privaat en selfs bruusk beskryf – dog ook iemand wat van die goeie dinge in die lewe hou. Saam met die artikel was ’n baie besonderse foto van Schoeman, in ’n duursame trui met ’n glas rooiwyn in die hand, geplaas. (Later toe ek lees dat Schoeman na sjampanje gedrink in fluite verwys het, het die foto weer by my opgekom.) Op grond van dié foto het ek vir Schoeman twee jaar later te voet in Kaapstad, naby die argief, herken – selfversekerd, onberispelik geklee, met ’n vaste tred. Ek kon egter nie die moed bymekaarskraap om hom te groet nie. Toe ek hom later die storie gedurende 2015 in Bloemfontein vertel, het hy hom heerlik daarin verkneukel.

Karel Schoeman se studeerkamer

Na my kennismaking met Die hemeltuin het ek Schoeman se romans geleidelik begin lees. Die volgende een was ’n Ander land (Oktober 1984) wat ek tussendeur my eindeksamen vir my BA-graad met absolute verwondering gelees het. Hierna het ek in die 1980’s en 1990’s Schoeman se romans terugwaarts en ook soos nuwes verskyn het, gelees. Terugwaarts was daar sy knap debuut, Veldslag (1965); ’n onthutsende boodskap vir Suid-Afrika vanuit ’n Ierse konteks in By fakkellig (1966); die besonderse titel van ’n Lug vol helder wolke (1967); Spiraal (1968) wat in stedelike Johannesburg afspeel; die briljante Op ’n eiland (1971) in ’n Griekse ruimte; en die ontstellend distopiese skets van ’n toekomstige Suid-Afrika in Na die geliefde land (1972).

Soos gestel, het ek Die hemeltuin (1979) in 1982 gelees en ook die twee daaropvolgende romans, Die reisiger (1980) en Waar ons gelukkig was (1981). Vanaf 1984 kon ek egter elke roman van Schoeman telkens met hulle verskyning lees: ’n Ander land (1984); Afskeid en vertrek (1990); die Stemme-trilogie Hierdie lewe (1993), Die uur van die engel (1995) en Verliesfontein (1998); en my gunsteling – Verkenning (1996). Ek moet bely Titaan: ’n roman oor die lewe van Michelangelo Buonarroti (2009) is nog op my leeslys.

Wat Karel Schoeman so merkwaardig maak, is dat hy nie net ’n uitsonderlike  romansier was nie. Reeds vanaf die 1960’s skryf hy reisbeskrywings en outobiografiese werke waarvan die volgende vir my uitstaan: Berig uit die vreemde: ’n Ierse dagboek (1966); sy outobiografie, Die laaste Afrikaanse boek (2002); en Deelstad: ’n boek oor Berlyn (2013). Vanaf die laat sestigerjare onderneem hy ook talle vertalings van bekende literêre en besinnende werke, waarvan Rob Nairn se ’n Stil gemoed: 'n inleiding tot die Boeddhisme en meditasie (1997) die laaste was.

Sy historiese werk begin met Bloemfontein, 1846–1946 (1980) en sprei oor tientalle werke uit tot in ons eie tyd. Wat vir my in hierdie genre uitstaan, is werk oor die jong NP Van Wyk Louw se Sutherland, Die wêreld van die digter (1986); sy werk oor die Vrystaatse geskiedenis, en dan natuurlik sy talle en talle publikasies vanaf die laat 1990’s oor die geskiedenis van die Kaap onder die VOC-bestuur. In een van sy laaste boeke in die reeks, Swanesang (2016), behandel hy die laaste jare van die VOC-bewind (1771–1795) en kyk hy onder meer na die denkbeelde wat die Afrikaners van die laat 18de eeu aan die Kaap beïnvloed het. Verder is daar sy biografieë wat begin met mevrou president Steyn (1983), ’n hoogtepunt bereik met Olive Schreiner (1989), en die biografie oor sy grootouers in die vroeë 20ste-eeuse Suid-Afrika, Merksteen (1998). Laastens is daar verskeie geredigeerde werke.

Volgens Nicol Stassen, in sy huldeblyk hierdie week op Facebook, het Schoeman oor ’n 130 boeke geskryf – en blykbaar wag daar nog ’n paar wat na sy dood sal verskyn. Carel (iv) Boshoff van Orania het eenmaal opgemerk dat Karel Schoeman vinniger skryf as wat hy kan lees. Dit was inderdaad so, toe ons gedink het hy gaan vir ewig leef. Noudat hy weg is, sal ons kan begin inhaal, maar hy sal nie weer skryf nie.

Karel Schoeman was ’n titaan van die gees. Hy is op sy eiesinnige en unieke manier die Goethe van Afrikaans. Wie kan soveel verskillende werke oor so ’n lang tydperk van so ’n volgehoue kwaliteit skryf? Ek vermoed dat die werklike lees van Schoeman se oeuvre nog net begin het en dat toekomstige geslagte met vrug na hom in gesprek met die toekoms sal kan terugkeer. Wat my betref, was Karel Schoeman (soos Van Wyk Louw) die Nobelprys vir Letterkunde enige dag waardig, maar ongelukkig het hulle nie in een van die groot tale geskryf nie. Sal Breyten Breytenbach hierdie triestige toedrag van sake kan deurbreek?

Vir my is Schoeman ’n Dichter in die Duitse sin van die woord: beide digter en denker. Digterskap slaan hier egter op iets breër as bloot die digkuns. Iets soos die poësie van denke; ’n denker-historikus wat die tektoniese lae onder hierdie land kon aanvoel. Hieroor het ek die afgelope week ’n gesprek met die digter Louis Esterhuizen op Facebook gevoer. Hierop antwoord Esterhuizen: “Vir my was Karel Schoeman nog altyd ’n digter want hy het resonansie gesnap.” Hierdie opmerking het my onwillekeurig laat dink aan ’n uitspraak van Virginia Woolf wat Schoeman graag aangehaal het: eers kom die ervaring, dan die ritme, dan die woorde. In filosofiese vaktaal dui dit vir my op ’n ontologiese ingestemdheid by hom.

Op ’n meer persoonlike noot het ek die sonderlinge voorreg gehad om in 2015 drie gesprekke van elk om en meer 90 minute met hom te kon hê. Ek het in elke geval stiptelik om 15h30 by sy beskeie huisie, met vier klein vertrekke in ’n aftreeoord in die noordelike voorstede van Bloemfontein, opgedaag. Met elke besoek, gewapen met ’n geskenk, was my blywende indruk dat ek hier met ’n grootse gees te doen het wat die keurig-gemeubileerde huisie in ’n teater van besinning getransendeer het. Hier was ’n bejaarde en melankoliese man, keurig geklee, maar met ’n jeugdige blik wat soms oor sy gelaat gespeel het.

Karel Schoeman se huis in Bloemfontein

Hier wil ek nie ingaan op al die onderwerpe waaroor ons gepraat het nie, maar net enkele foto’s verskaf en ‘n gesprek uitlig. Ek het met hom gepraat oor die eerste Duvenage wat, as ’n jong man, in 1764 na Suid-Afrika gekom het en oor die tragiese verhouding tussen die Duitse filosoof Hegel (1770–1831) en sy buite-egtelike seun Ludwig Fischer. Na die breuk tussen vader en seun het die jongman Fischer in Amsterdam by die VOC aangesluit en na ’n reis, via die Kaap, in Java as soldaat gaan werk. Uiteindelik het hy en sy vader in dieselfde jaar onbewus van mekaar aan koors in Berlyn en Java gesterf. Ek hierdie punt doelbewus met Schoeman se hoofkarakter, in sy briljante roman Verkenning, in die oog gemaak – ’n roman wat in die vroeë 1800’s afspeel.

Na aanleiding van hierdie gesprekspunt stuur Schoeman vir my op 17 September 2015 per e-pos twee aanhalings (en bedank my vir die bottel Moët wat ek vir hom as geskenk gebring het). Die eerste aanhaling is van John Dos Passos (1896–1970) uit sy romantrilogie van die 1930’s:

The young man walks by himself, fast but not fast enough, far but not far enough (faces slide out of sight, talks trail into tattered scraps, footsteps tap fainter in alleys); he must catch the last subway, the streetcar, the bus, run up the gangplanks of all the steamboats, register at all the hotels, work in the cities, answer the wantads, learn the trades, take up the jobs, live in all the boarding houses, sleep in all the beds. One bed is not enough, one job is not enough, one life is not enough. At night, head swimming with wants, he walks by himself alone.

Die tweede aanhaling is uit Jack Kerouac (1922–1969) se roman The Dharma Bums van (1958):

Hopping a freight out of Los Angeles at high noon one day in late September 1955 I got on a gondola and lay down with my duffel bag under my head and my knees crossed and contemplated the clouds as we rolled north to Santa Barbara.

Jack Kerouac en John Dos Passos? Ek het hulle nie verwag op die lys van mentors en titaniese geeste waarmee Karel Schoeman ’n lewe lank geworstel het nie: Virgilius, Dante, die denker-skrywers van die Romantiek, Victor Hugo, Dostojewski, Virginia Woolf, Thomas Mann en Hermann Hesse. Terug by die aanhalings: hier is vir my iets van Schoeman se gemis aan ’n afwesige vader en die voortdurende soeke na intimiteit – al het hy eweseer en aldeur daarvan weggeskram. Die heroïese individu en sy/haar moeilike verhouding met die groter geheel (syn). Hierdie paradoks, soos Johann Rossouw ook in sy aangrypende huldiging hierdie week op wys, is een van die groot temas van Schoeman se romankuns en besinnende werk.

By die heengaan van Max Scheler in 1928 het Heidegger drie onsterflike sinne geskryf. Ek wil graag hierdie sinne (in vertaalde vorm) op Karel Schoeman van toepassing maak. “Max Scheler is dood. Ons buig voor sy lot. Weer eens val ’n weg in die filosofie in die donkerte weg.” Op hom wat ons nou verlaat het, sal ons ons moet verlaat.

Geskryf in die laatnag van 3 Mei 2017. Karel Schoeman, 26 Oktober 1939 – 1 Mei 2017.

Die foto's van Karel Schoeman se huis en laaste studeerkamer is op 29 Julie 2015 deur Pieter Duvenage geneem.

The post Karel Schoeman – die Goethe van Afrikaans appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>