Ek moet een van min vreemdelinge wees met wie Karel Schoeman ’n geesdriftige en by tye byna intieme gesprek aangeknoop het. Boonop was ek ’n joernalis, terwyl hy jare lank geen onderhoude toegestaan het nie. Bygesê, dit was geen formele onderhoud nie.
Dit het só gebeur: Laat in die jare negentig was ek besig met navorsing vir ’n boek oor die vroeëre sendingstasie Elandskloof (1860–1962), wie se voormalige inwoners in 1996 die eerste suksesvolle grondeis in die nuwe Suid-Afrika deurgevoer het. Ek het by die Suid-Afrikaanse Biblioteek in die Tuine in Kaapstad gaan aanklop op soek na moontlike foto’s of selfs dokumente. By die ontvangstoonbank moes ek ’n vormpie invul, gevolg deur die belofte dat iemand spoedig op ’n speurtog deur die gange en rakke sou vertrek.
Verbasend gou het die rysige gestalte van “Karel die Grote”, soos soms goedig dog respekvol na hom verwys is, oorkant die toonbank verskyn. Hoewel ek hom nie tevore ontmoet het nie en gepubliseerde foto’s van hom klaarblyklik verouderd was, het ’n mens dadelik geweet dit is hý.
Teen daardie tyd het ek ook al goed geweet: ons is almal maar net mense, ook die grotes onder ons. Tog was dit ’n groot oomblik, en ek moes daarteen stry om nie té oorbluf voor te kom nie.
Hy het ’n lêer voor my geplaas en dit oopgevou. Die sensitiewe hande en slank vingers het my opgeval, ook die skraal gesig met sy strak lyne, die hoë voorkop en die kamma ongeërgde hare. Sal hy eendag vir ’n beeldhouer poseer? het ek later gewonder.
Die lêer het nie veel opgelewer nie (gelukkig anders as die argiewe elders). Moontlik om status aan my boekpoging te verleen of dalk te wyte aan onvanpaste eerlikheid, het ek terloops my beroep genoem, wetende dat dit onwaarskynlik toenadering sou uitlok. Dit het, tot my verligting, géén reaksie ontlok nie.
Ek het probeer om ’n neutrale opmerking oor die lêer se skraal oes te maak. “Dit op sigself sê al veel” (of iets in dier voege) was sy kommentaar, en hy het dadelik voortgegaan: “’n Hoofstuk met net ’n enkele sin of twee daaroor kan dit treffend oordra.”
(Later, in ’n minder eerbiedwekkende oomblik, het die vraag by my opgekom: Het Karel Schoeman al ooit net ’n enkele sin of twee gebruik om ’n belangrike gedagte oor te dra?)
Hy het my na ’n aangrensende vertrek beduie. Dit was karig gemeubileer, met groot skuins leesrakke, en daar is die “gesprek” staan-staan voortgesit. Dit was eerder ’n geval van ek wat ’n vraag of twee vra en hy wat reageer, geesdriftig en asof ons ou bekendes is.
“Hoekom stel jy nie vas wat die sendelinge se ware motiewe was nie? Daar was byvoorbeeld die sending by Zakrivier (in Boesmanland) …” en hy vertel van politieke en kerklike strominge in Europa in die 1700’s en stel voor dat ek die verhaal daar gaan haal.
Ek vertel van die helder droom wat ek kort tevore gehad het. Die nag op die dag wat die Elandsklowers van die plaas moes trek, het hulle langs die pad na Citrusdal geslaap. Dit het swaar gereën en een van die vroue het daar in die bosse die lewe aan ’n kind geskenk. Die droom begin waar een van die jong meisies onder dié verstotelinge sien hoe die Elandsklowers terugkeer na die stasie, hoe die boorde ryp van die lemoene staan en iemand daarvan pluk en begin uitdeel, hoe dit in ’n dankende dans oorgaan waarin ook die boer wat hulle eens verdryf het, saamdans … Dink hy dit sal ’n goeie idee wees om dit in die boek in te sluit – dis reeds geskryf?
Hy antwoord dadelik, maar nie regstreeks nie. “Sodra jy die kleinste brokkie fiksie inbring, word die hele boek fiksie. Dis soos met ‘bloedvermenging’”, en hy spreek dit uit soos ’n gedwonge woordkeuse. “’n Hele familie is blank maar sodra iemand ’n druppel nieblanke bloed onder hulle opspoor, word hulle almal voortaan as ’nieblank’ gereken.”
Die atmosfeer raak so gerusstellend dat ek geneë voel om te bieg: ek is baie onseker oor die hele projek; het nog nooit ’n boek geskryf nie en weet nie wat om met al die moontlikhede te maak wat elke dag opduik nie…
Net hier verander sy toon: “Dis jou Calvinisme wat jou kniehalter…”, en voordat ek nog klaar kon wonder oor dié onverwagte aanmatiging: “Jy is te bang om jou voet in die water te sit.”
Maar toe, genadiglik en ten slotte: “As jy nie weet wat om te doen nie, volg jou intuïsie.” Dit was min of meer sy laaste woorde; genoeg om my te laat deurdruk.
Ongeveer in dié tyd verskyn Die laaste Afrikaanse boek en die volgende sin in Chris van der Merwe se LitNet-resensie daarvan val my op: “Die teks van die skrywer bedek meer as wat dit openbaar; die woorde van die skrywer is soos ’n wegwyser wat nie self die bestemming is nie, maar die pad daarheen aandui.”
Byna-byna het ek Die verhaal van Elandskloof aan Karel Schoeman opgedra.
The post ’n Onwaarskynlike gesprek met Karel Schoeman appeared first on LitNet.