Christiaan J de Swardt loer hóé aanvaarbaar naaktheid, seks, geweld en vooroordeel op die verhoog geword het.
In ’n teater is jy ’n vrywillige gevangene; jy mág uitbreek en ontsnap as en wanneer jy wil …
Min teatergangers het dit vanjaar gedoen; verblydend.
’n Teken van gehoorvolwassenheid?
Baie jare het verloop sedert die regisseur Martinus Basson die DeKat/Herrie-prys in 1998 gewen het vir sy omstrede en veelbesproke produksie van Breyten Breytenbach se toneelstuk Boklied. Die (manlike) naaktheid daarin het talle feesgangers ontstel en mense het die teater met afgryse uitgestrompel om selfs gelaaf te word! Dit is as pornografie bestempel!
Genadiglik het naaktheid aanvaarbaar(der) geword – selfs net vir effek; om te prikkel of te skok. Skrywers, regisseurs en spelers meen egter naaktheid moet gemotiveer en realisties wees; dit moet ’n oomblik van eerlikheid en kwesbaarheid uitbeeld.
Ondank die gehoor se afkeer en weersin destyds, het Boklied ook Vitapryse gewen vir beste produksie, beste regisseur, stel-, kostuum- en beligtingontwerp. Dawid Minnaar was die beste akteur en Antoinette Kellerman die beste vroulike byspeler.
Basson, Minnaar en Kellerman is almal vanjaar weer vir Kanna-toekennings benoem.
Basson bied twee puik produksies: die Hertzogbekroonde dramaturg Reza de Wet se Asem (Breathing in) en Koninkryk van die diere.
Die makabere periodedrama Asem is ’n huldigingsproduksie aan De Wet, wat op 27 Januarie 2012 oorlede is en as een van Suid-Afrika se belangrikste en mees invloedryke toneelskrywers bestempel word.
Asem is benoem vir beste teateraanbieding, debuutwerk en regie (Marthinus Basson), met Antoinette Kellermann as beste aktrise en Edwin van der Walt en Tinarie van Wyk Loots onderskeidelik as beste manlike en vroulike byspeler.
Die gehoor – en spelers – word uitdagend gekonfronteer met dié gegewe: Een donker, stormagtige aand gedurende die laaste bitter dae van die Suid-Afrikaanse Oorlog, in ’n uitgebrande skuur, lê ’n gewonde Boeregeneraal (Stian Bam; ’n gogelkamee) wat versorg word deur Anna (Kellerman; betowerende spel), ’n kruiedokter van uitsonderlike magte. Haar aantreklike, maar sieklike dogter, Annie (Van Wyk Loots; ragfyn interpretasie), is ook besig om vir haar lewe te veg, maar het meer veel meer nodig as haar ma se konkoksies. Die generaal se dapper en getroue adjudant (Van der Walt), gebrei deur die slagveld en die afgryse van oorlog, staan nou voor ’n verskriklike keuse en ’n nuwe onnoembare gevaar. In ’n wêreld waar mans, in die naam van patriotisme, lewens en landskappe vernietig, moet vroue meer subtiele en misterieuse metodes ontwikkel om te leef … Met ’n nuwe stelsel reëls het dié voortvlugtende vroue meteens manlikheid en dié se dominansie in die hand.
Die leegheid van die minimalistiese stel, die vuur en vlamme wat op die verhoog knetter terwyl ’n heksebrousel – én ontplooiing – prut en die reuk van rook wat die teater vul, boei die kyker enduit uitmergelend.
Basson ontmasker manlikheid en beeld die weerloosheid van die eens heldhaftige generaal deur naaktheid uit, terwyl hy benewel deur die koors onverpoosd bevele uitskree asof hy nog ’n peloton aanvuur en prewel: “Ek sal tot my laaste asem veg.” Maar hy is aan ’n ander vorm van geweld uitgelewer.
Die gegewe neem ’n sinistere wending wanneer ma en dogter, aanvanklik die onderdane en versorgers, meteens slinks en verleidelik wraak neem.
In sy ander produksie, die volbloedkomedie Die koninkryk van die diere (sy vertaling van die Duitse dramaturg Roland Schimmelpfennig se Das Reich der Tiere) wys hy sy slag as komedieregisseur – en ook hier skram hy nie van naaktheid weg nie.
Die funksionele stelontwerp en beligting (Chris Pienaar) is indrukwekkend treffend. Dit beeld, soos die komedie, die teateromgewing en ’n produksie binne ’n produksie uit. Ons sien die verhoog, die spelers se kleedkamers, ’n akteur se woonstel (vir ’n tikkie privaatheid) – én storte … waar niks vir mekaar weggesteek kan word nie.
Dié vindingryke produksie – met peinsende satiriese subteks – takel die meedoënlose stryd van menslike oorlewing in die mees genadelose omgewing: die teater.
Die gehoor ontmoet ses spelers wat hul lewensbrood nou al vyf jaar lank as deel van ’n toneelgeselskap aand na aand in dieselfde produksie – Die koninkryk van die diere – verdien. Hulle maak in hul kleedkamers gereed vir nog ’n opvoering – waarin die koning van die diere gekies moet word: tussen leeu (Stian Bam; vokaal gemoduleer en vaartbelyn) en sebra (Ludwig Binge; lyfsoepel en energiek). Die ander diere – ’n neurotiese maraboe (Dawid Minnaar; stylvol afgerond), ’n hupse gemsbok (Tinarie van Wyk Loots; pragtig gefokus) en ’n muskeljaatkat (Joanie Combrinck; gevoelige spel en fyn tydsberekening).
Die akteurs moet immers veelsydig wees en vertolk ook die rolle van ander diere: ’n gemsbokkoei en ’n krokodil: karakters wat ook metafore word.
Dié suksesvolle vertoning staan egter einde se kant toe en word vervang met Die tuin van goeters. Die karakters daarin is ’n sny roosterbrood, ’n gebakte eier, ’n tamatiesousbottel en ’n pepermeul. Hóé op aarde speel jy dit? Maar die rêrige dilemma is dié: daar is net vier rolle beskikbaar. Iemand moet gly …
Stelselmatig word almal op ’n manier slagoffers – gekwes, verontreg, arrogant, selfs té gerus: dier én akteur. Soos diere hul gebied met urine merk en verbete verdedig, probeer die karakters agterdogtig en liggeraak klou aan hul veilige en beskermde omgewing deur mekaar te beskinder en agteraf te konkel.
Uit dié konflik neem die komedie ’n verrassende wending. Sónder sy masker is die sebra in sy werklike lewe Frankie; nié ’n baie goeie akteur nie, maar ook nie té sleg nie, aldus die skrywer (Wessel Pretorius; ’n flambojante, ongestoorde kamp vertolking) van die nuwe ontbytkosstuk. Hy en Frankie het mekaar by ’n laatnagkuierplek opgetel en nou gebruik Frankie álles wat hy kan om te oorleef …
Die storie wat op die verhoog vertel word, word ’n ánder lekkerte wanneer die teenkant daarvan in die gange en kleedkamers gebeur – terwyl die werklike tegniese personeel sommer ook die verhooghandlangers is en die stel voor jou oë verander en inklee. Dit plaas jou in die teateromgewing en agter die skerms.
En dan word die nuwe stuk, Die tuin van goeters, opgevoer. Dit is skreeusnaakse chaos, terwyl die gebakte eier, ’n tamatiesousbottel, ’n pepermeul en roosterbrood deur ’n agterbakse mes rondgejaag word.
Ná die applous doof die ligte. Net die akteurs bly agter. Maskers val. Hulle gaan stort, een na die ander, terwyl hul kollegas hul beurt op ’n bankie in die gemeenskaplike badkamer afwag. Kaal voor mekaar. Geen privaatheid. Geen inhibisies. Die naakte waarheid. Almal s’n.
Dié visuele stuk (met ongelooflike kostuums en maskers) het vier Kanna-benoemings ingepalm: beste regie, beste debuutwerk (albei Basson) en beste vroulike byspeler (Joanie Combrinck), beste manlike byspeler (Dawid Minnaar, wat ook as beste akteur benoem is vir sy ragfyn spel in Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran). Ek meen wel Die koninkryk van die diere het ’n benoeming vir ensemblespel verdien! Almal het mekaar puik ondersteun en aangevul.
Daar was ook eksplisiete naaktheid in die opspraakwekkende solostuk Die reuk van appels, met die veelsydige akteur Gideon Lombard (hy het al in verskeie dissiplines, van opera, musiek, film en televisie tot teater, gewerk; vir sy spel hierin is hy as beste akteur benoem). Dit is ’n verhoogverwerking deur die dramaturg en skrywer Johann Smith van Mark Behr se veelbekroonde 1993-roman, wat as ’n baken vir die Afrikaanse letterkunde beskryf is. Lara Bye het die sensitiewe regie, Kosie Smit die effektiewe beligtingontwerp en Lombard self die tematies komplementerende klankbaan behartig.
Met beeldrykheid en ontstellende metafore vertolk Lombard ’n elfjarige seun, Marnus, wat tydens die apartheidsjare grootword. Onder die juk van politieke, militêre en godsdiensindoktrinasie en patriargale oorheersing moet hy sy menswees, sy kindwees, sy manwees en sy seksualiteit ontdek. Die lewe is veronderstel om mooi, snaaks en kosbaar te wees, maar dit is ook onverstaanbaar en vreeslik. ’n Skokkende ontdekking breek deur die oppervlak van die alledaagse om alles onherroeplik te verander. Van daardie oomblik kleef die reuk van appels – suur en vrot – aan alles waaraan Marnus raak.
Lombard, geklee in ’n kakiekleurige skoolkortbroek, ligblou skoolhemp, grys skoolkouse en blinkgepoetste swart skoolskoene, vertolk die aantal karakters met subtiele onderskeid en aangrypende deernis. En soos die walglike, traumatiese gegewe ontvou (hy moet onder meer met afgryse deur ’n afloerskrefie in sy kamervloer aanskou hoe sy pa sy beste maatjie, Frikkie, in hul huis molesteer), beleef ons saam met hom sy verlies aan onskuld; as ’t ware die verkragting daarvan. Marnus kan bloot nie die tragiese gevolge hanteer nie en hy ontken homself die reg op lewe.
Die naaktoneel wat die afgryslike ontknoping voorafgaan, werk implisiet daarop in. Lombard ontbloot sy genitalieë onder kollig voor die gehoor en hy ontdek in grafiese besonderhede elke aartjie van sy penis en elke haartjie op sy testikels. Maar dit is geensins pornografies nie. Die res van sy lyf is bedek en sy benadering is ondersoekend; ontdekkend, nie prikkelend nie.
Dit verg professionele eerlikheid en dapperheid van ’n akteur om ’n stuk van dié aard deurlopend geloofwaardig en boeiend te dra tot die onafwendbare slot.
Dit is ontroerende teater wat verpletter, en wat die staande applous – ná ’n oomblik van verbysterende ongeloof en gehoorstomheid – verdien!
Tot onlangs nog sou dergelike naaktonele giggels by die gehoor ontlok het of hulle uit die teater gedryf het. Genadiglik nié in die vertonings wat ek bygewoon het nie.
Op ’n soortgelyke vlak het Buite Land eweneens ontgogel. Dit is ’n omwerking en ontwikkeling van die multibekroonde beste manlike byspeler (Dawid Minnaar), Neil Coppen se drama NewFoundLand, eietyds vertaal deur Amy Jephta. Neil het die strak, surrealistiese regie en komplekse teaterontwerp behartig. Dit fokus op die konflik tussen kultuurgroepe in Suid-Afrika, seksuele oriëntering, geloof, politiek, sosio-ekonomiese onsekerheid – soos dit figureer in die wrywing tussen die moderne wetenskap en tradisionele oortuigings – en, as opsie, om te ontvlug van die werklikheid, selfs emigrasie of, erger, selfdood.
Die bot, afsydige Jacques (Jacques Bessinger) is ’n jong Afrikaanse narkotiseur wat by ’n gemeenskapshospitaal in Pietermaritzburg werk. Hy ontmoet die sjarmante Sizwe (Kopano Maroga), ’n Zoeloesprekende choreograaf wat ook voel hy is geroepe (ukuthwasa) om ’n sangoma te word. Albei mans het in konserwatiewe gemeenskappe grootgeword en probeer om ’n bestaan te maak – weg van die kulturele, historiese en geloofsbande wat hulle tot hulle verlede bind. Wat begin as ’n vlugtige ontmoeting vir gryp-en-los-seks, verander in ’n diepsinnige reis na ’n gedeelde bewustheid en ’n verkenning van onsigbare bande van onthou en vergeet – én konfrontasie. Einde, begin en middel vervleg vernuftig. Die ganse verhoogruimte (met talle stelveranderinge, moontlik gemaak deur dekor wat flink op wiele heen en weer geskuif kan word), word ten volle gewérk; tematies verbreed deur stemmingbeligting (Tina le Roux) en doeltreffende klankontwerp (Tristan Horton). Hierdeur heers deurentyd ’n tergende illusie tussen ’n koorsdroom (genesing in die hospitaaltonele), ’n dwelmwaas (vergrype in die hotelkamer) en die nare, nugter werklikheid – wat in Afrikaans, Engels en Zoeloe bevraagteken word.
Die ensemble – Elize Cawood, Marvin-Lee Beukes, Ntombi Gasa, Mpume Mthombeni – ondersteun die hoofspelers knap. Cawood, as Bessenger se ma, bekoor met ’n onderspeelde intensiteit waarin die stilte in tale práát. Beukes, ’n mediese kollega wat heimlik op Jacques verlief is, verras enduit.
Mthombeni (Sizwe se ma) en Gasa (Sizwe se oorlede ouma) se nuansering verleen outentiekheid aan die gegewe. Coppen ontgin die akteurs se lyfspel aangrypend. Tussen dié byblybeelde is Mthombeni se hospitaaltoneel waar sy ’n Zoeloegebed in ’n kragtoer omskep, met gepaardgaande koorsagtige rituele vir die uitdrywing van duiwels, wat ontladend versag in die oplegging van hande op die pasiënt – én deur die was van sy voete, ook reiniging.
En dan is daar die stylvol-gesimuleerde, dog amper onbeholpe stomende sekstoneel tussen die karakters Jacques en Sizwe: ’n lyf- en sielskragtoer wat die lyflike tot ’n klimaks bedryf, maar ook daarop inspeel dat seks nie álles nie.
Dié ingewikkelde en uitdagende stuk ontsluit talle kwelkwessies wat steeds relevant is en kom tot die hulpelose slotsom: jy kan nie aan jou verlede ontsnap nie, al probeer jy wat ook al en hoe drasties. Soos een van die karakters opmerk: “Al verdoof jy jou geheue, vergeet jou liggaam nooit nie.”
Dié produksie is vir vyf Kannas benoem: beste nuutgeskrewe teks, debuutwerk en teateraanbieding (Neil Coppen), beste manlike byspeler (Kopano Maroga) en vroulike byspeler (Elize Cawood).
Die naakte vroulike bors in die Hertzog-pryswenner, dramaturg en skrywer Tertius Kapp se splinternuwe drama Liewer (’n gesprek tussen die nuutgeskrewe werk en Patrick Marber se Closer) is ’n terloopse; dit is eerder die emosioneel-gestroopte naaktheid van die karakters wat van dié reuse-stuk onthou sal word. Die kyker – jy voel ’n bietjie soos ’n voyeur – word met tegnologie (multimedia, skerms, skansprojeksies, regstreekse en vertraagde video-uitsendings van gebeure op die verhoog) met ’n visueel-filmiese stuk gekonfronteer.
Die bekroonde regisseur Jaco Bouwer se teaterontwerp, Wolf Britz se kunssinnige beligting en Pierre-Henri Wicomb se stemmingsvolle tydsprongklankbaan heg teks, spel en dekor atmosferies.
Die liefde (in al sy/haar skakerings, die mooi en die lelik, die emosie en die wellus) word onder kruisverhoor geplaas – en raak selfs ’n wapen – wanneer vier karakters (wat dit verdien) lewend gedissekteer word.
Anna-Mart van der Merwe, Brendon Daniels, Wilhelm van der Walt en die nuweling Tarryn Wyngaard lewer spel soos nog selde beleef. Tussen hedonisme, sinisme, dierlikheid én dierbaarheid word nuwe moontlikhede vir teerheid ontgin – soekend onder en beurend deur die clichés van hartstog.
Liewer is ’n aanspraakmaker op ses Kanna-benoemings: in die afdelings beste teateraanbieding, debuutwerk, nuutgeskrewe teks (Kapp) en regie (Jaco Bouwer). Anna-Mart van der Merwe en Tarryn Wyngaard is ook albei as beste aktrise vir hul spel in Liewer benoem.
En só word amper perfekte teater geskep en die moderne leefwêreld nóg ’n keer oopgevlek.
Kabaret
Heelparty produksies by vanjaar se fees wat as kabaret aangebied is, was kwasi. Kabaret is nie musiek, sang en dans wat met ’n bindingsteks geskakel word nie. Dit is nie hoofstroom nie en dit stagneer nie. Dit praat nie na nie; ook nie af, op, onder, bo of rondom nie. Dit vat die establishment kaalvuis en reguit aan – met die doel om sosio-ekonomiese en politieke gesprekke te stimuleer. Dit bevraagteken en lewer sosiale kommentaar sónder om voorskriftelik antwoorde en oplossings daar te stel. Dit oorkruis grense en sny, grou en boor tot in die murg van ’n samelewing se gewete. Dit doen krities en onpretensieus voor.
Oor Piekniek by Mpande née Dingaan is daar tweespalt – met die bekwame, aweregse kreatiwiteit van Wolf Britz (regie), Louis Roux (teks en verwerking), José Dias (wat sewe tale magtig is) se musiekregie (bygestaan deur Pierre-Arnold Theron) en Izel van der Merwe (kostuums), Abri de Swardt (projeksie-senograaf). Die spelers – Nicole Holm, Karli Heine, Nomathamsanqa Baba, Ilana Cilliers, Ludwig Binge en Marlo Minnaar – se energie smokkel met jou sintuie.
Die stuk raak skrams aan die seminale protesstuk Piekniek by Dingaan, ’n omstrede kabaret wat die establishment tydens die alternatiewe Voëlvrybeweging geskok het en daardeur die kunstelandskap ingrypend omvorm het. Kuns móét die werklikheid weerspieël en protesteater moet paradoksaal bevraagteken.
Die politiek en samelewing het drasties verander. Daar is ander heilige koeie en onheilige bulle wie se magsbeheptheid deur humor gekastreer moet word. Jy het hier ’n poespas kwessies en kwellinge wat in ’n kakofonie van kleur, klank, taal, emosie en tegnologie aangesny word. Die subteks in die beelde agter op die projeksiedoek is boeiend en stu die stewige narratief. Dis gevaarlik en gewaagd, nonchalant en traak-my-nie-agtig, maar tog moerig en reguit. Soos Marlo Minnaar (in karakter) opmerk: “Jy’s dalk voëlvry, maar jy is nooit vry van jou voël nie.”
Dit belig ook onder meer ons slagoffermentaliteit, oordrewe politieke korrektheid, voortrekkery versus dwars- en agtertrekkery – én ander (on)veranderlikes.
Die stuk is postmodern dol en hoort op ’n ander planeet vir geestesversteurdes. Dit terg verleidelik wulps en hups, hiperbyderwets, onstuimig ruimtelik en futuristies; amper bóaards. Maar óé en hóé: dit is stuitig bevrydend – én bevredigend!
Mense wat onaangeraak hieruit stap, het dalk voor 1994 agtergeblewe vasgehaak. Die gehoor word met veeltalige dialoog-diarree gedônner! Daar is aan die einde ’n triogesprek (met nóg ensemble-geroesemoes) in ʼn aantal van ons landstale. As jy een van dié tale nie magtig is nie, veral nog nie ʼn swart taal aangeleer het en nie fyn luister nie, sal jy uitgesluit voel. Oningelig. Pateties. Stagnant. Apaties. Verward. Of dalk: Praat ons tog nie nog maar in ’n Babelse verwarring by mekaar verby nie; selfs 23 jaar later?
Bliksem: wat ’n aanval op jou sintuie – én gewete!
Repliek
Die reuk van adrenalien, testosteroon, sweet, vuur, vlamme en rook – wat in talle produksies gefigureer het – sit nog aan my vel. En die sand wat gestrooi is en stof gemaak het en die water wat gespat en waarmee gereinig is op talle verhoë kleef aan my tone. Ook die geur van deursigtige Jik en wit babapoeier, dikwels simbolies gebruik om illusie te skep en identiteitsoeke te bleik. Dit kielie steeds my neus: medisinaal, vars, genesend, verfrissend; skoon; weerloos soos bababoudjies.
Die produksies by vanjaar se KKNK het feesgangers aan dié waarheid herinner: velkleur, herkoms, kulturele wortels, tradisie, taal, geslag, geloof en leefstylkeuses bepaal nie ’n mens se waardigheid, behoeftes, soeke na identiteit en hunkering na aanvaarding en om te behoort nie.
Maar: ek voel gedreineer; nie die oorsaak van die gehalte van die aanbod nie. Daardie leegheid is te blameer aan ’n gevoel van “ek was al daar”. Net op ’n ander manier beleef. Ek voel steeds soos ’n skyf verlepte ham tussen snye verligte en verkrampte gesondheidsbrood. Ek hunker na varsgebakte roosterkoek, plaasbotter en ingelegde jêm. Hoe lank moet ons nog glo aan die cliché wat beweer jy moet jou herkoms herontdek om jou toekoms te karteer?
Déjà-vu …
Ag, f(n)ok: Beleef dit – tog maar, weer!
Lees ook:
KKNK 2017: ’n Hunkering na ontvlugting Christiaan J de Swardt "Die verlede. Kuns, kultuur en tradisie. Soeke. Behoeftes. Hunkering. Identiteit. Seksualiteit. Vergrype. Oorlewing. Om te behoort, te deel; om (iemand of) iets te wees. ’n Smagting na liefde. Ontvlugting. Die toekoms. Dit is die temas wat vanjaar se KKNK oorheers het." |
The post KKNK 2017: Die naakte waarheid appeared first on LitNet.