Dié opvoering van die klassieke komedie uit 1664 skop baie energiek af. En dit word wonderlik volgehou. Die karakters skop soms letterlik na mekaar. Hulle strek ook die bene na agter. Outydse woorde kom by jou op: Allamapstieks! Mensig! Wat gaan hier aaaaan?
‘n Opregte ou matriarg, madame Pernelle, neem in Parys, Frankryk wild en woes afskeid van haar familie. Kap letterlik en figuurlik na hulle. Praat hulle dood. Sê nare goed oor hulle. Sy kan dit nie meer uithou in dié malhuis nie; die opsigter het die pad gevat, by wyse van spreke. (Ek dui met opset nie aan wie haar so uiters knap vertolk nie. Die geselskap wil nie hê ek moet die pret bederf nie.)
Elmire (Khutjo Green) is met Orgon (Neil McCarthy) getroud. Orgon is die waardige lang man vir wie die ontwerper, Sasha Ehlers, so stralend deftig geklee het; kyk daardie broek! By hom begin die intrige. Hy is eintlik die liggelowige pa van Mariane (Vuyelwa Maluleke). Hy het eers haar huwelik met die agtermekaar mannetjie Valère (Anele Situlweni goedgekeur.
Maar toe kom Tartuffe (Craig Morris) in Orgon se lewe. Orgon wil ook so heilig-gelowig lewe. Hy vertel byvoorbeeld bewonderend van Tartuffe en die vlooi:
While praying, he had caught a flea
And killed it, so he felt, too wrathfully.
Orgon wil die edele geestelike nou met Mariane laat trou. Maar gelukkig is daar ander wat baie vir Mariane omgee en hom tot elke prys wil ompraat – mense soos die wyse Cléante (Camilla Waldman), kragdadige Damis (Adrian Alper) en dan die diensmeisie Dorine, wat alte innemend vertolk word deur Vanessa Cooke.
Kyk net na Dorine se lieftallige gesigsuitdrukkings en haar verrassende bewegings. Sy gebruik ’n strategie van spot en ironisering saam met erns en fisieke aksie om ook tot Mariane self deur te dring sodat Mariane haar eie gevoelens kan oordink. Sy betrek ook vir Valère. (Tweede bedryf, vierde toneel.)
In die derde bedryf verskyn: Tartuffe (Craig Morris)! Nou gebéúr daar nog so baie! Saam met verdere, onthoubare dialoog. Morris vertolk talle emosies, neem ‘n verskeidenheid liggaamshoudings in. Soms glo jy hy bedoel wat hy sê. Hy bied Elmire byvoorbeeld die volgende aan: “Love without scandal, pleasure without fear”. Is dit nie waarna so baie van ons smag nie?
Maar dan, daarna, is hy weer duidelik vals, skynheilig, gee hy voor. Sy gesig onder ‘n sekere beligting lyk die ene afskuwelike boosheid. Waaroor skater hy so? Wat gaan die volgende oomblik gebeur?
En dis nie net hy nie. Al die ander spelers laat die teks ook opruiend lewe deur stormende gebruik van hul liggame, spraak, denke en gesigsuitdrukkings, ondersteun deur subtiele beligting. Hulle reaksies op mekaar, liggaamlike kontak en tydsberekeninge is iets om te beleef.
’n Mens is soms bedug as ’n opvoering as “fisieke teater” gekategoriseer word. Asof die teks minder belangrik is, selfs minderwaardig. In hierdie produksie is fisiekheid sterk aanwesig, maar dit word goed beheer en verwerk. Regisseur Strike verduidelik in die program: “I focused on refining the heightened physical, vocal, emotional and comical techniques of their delivery.” Dit werk uitstekend.
Ek het my betrap dat ek al hoe regopper sit (op die “kaboutersitplekkie”*), my kop al hoe hoër lig, asof ek voel hulle energie kom oor na my en ek hulle wil laat verstaan dat ek so intens mét hulle is.
William Harding verskyn teen die einde as Monsieur Loyal. Vir sy uitrusting vir die “voller mansfiguur” en sy buikbewegings kan ‘n mens maar lekker lag.
Ek lees gewoonlik ’n uitgawe van ’n klassieke werk vooraf. Dit help om die spel te volg. Met Shakespeare is jy redelik verseker dat jy tydens ‘n opvoering die gelese teks tot ’n groot hoogte gaan hoor. Hierdie keer het ek gewonder watter Engelse vertaling van die Frans gebruik word en of ek darem iets sal herken uit my leeswerk. Ek het destyds Five plays van Molière in Methuen se Master Playwrights gekoop. Richard Wilbur vertaal onder meer Tartuffe.
Gedurende die eerste bedryf is Cléante besig om Orgon te bearbei:
Is not a face quite different from a mask?
Cannot sincerity and cunning art,
Reality and semblance, be told apart?
Ek onthou die woorde. Strike haal dit selfs as ’n motto in die program aan. Daar staan dit ook: “in a translation by Richard Wilbur”. Hulle gebruik “my teks”! In hierdie vertaling het ek Molière makliker verstaan as vir Shakespeare. (Maar ek sal steeds elke jaar die wonderlike uitdaging van uitpluising aanpak voor ons Maynardville toe gaan.) Ek was ingenome met Molière se enkelsinne, en selfs met spraakbeurte wat onderbreek word.
Sylvaine Strike, die spelers en die tegnici verdien hoë lof. ’n Mens beleef nie dikwels sulke toneelkuns nie.
- Ek gee toe: ek was lanklaas in die Flipside. Kan nie onthou dat die stoele vantevore so kindjieklein was nie.
Molière se Tartuffe
Vertaal deur Richard Wilbur in versvorm
Met Craig Morris, Neil McCarthy, Vanessa Cooke, Khutjo Green, Camilla Waldman, Adrian Alper, Vuyelwa Maluleke, Anele Situlweni en William Harding
Regie: Sylvaine Strike
Choreografie: Owen Lonzar
Musiekkomposisies: Dean Barrett
Stelontwerp: Sasha Ehlers en Chen Nakar
Kostuumontwerp: Sasha Ehlers
Beligting: Oliver Hauser
Verhoogbestuur: Orapeleng Sedi Moswane
Ouderdomsbeperking: 16
Aangebied deur The Fortune Cookie Theatre Company in die Baxter Flipside tot 29 April.
Van 24 tot 26 Mei in die Courtyard Theatre by die Durbanse Universiteit van Tegnologie; van 31 Mei tot 25 Junie in die Joburg Theatre Complex: The Fringe, Braamfontein
The post Tartuffe, 'n teaterresensie appeared first on LitNet.