Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

KKNK 2017 – soos beleef deur Mercy Kannemeyer

$
0
0

Die 23ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees onder die tema “Beleef dit” spreek van ervaringe wat wyd strek en wyd beleef kan word. Dit is ’n verwelkomende tema wat mense uitnooi om saam fees te vier, en dis presies wat ek met my besoek aan vanjaar se KKNK kon doen. Daar was dramas, klugte, komedies, kindervermaak, teatergesprekke en paneelbesprekings wat verseker het dat daar iets op die program vir almal is.

Te midde van talle politieke aspekte van die afgelope paar maande is dit altyd opwindend om te kyk wat die kunste het om te bied tydens sulke onstuimige tye. Kuns moet egter ’n weerspiëeling wees van wat om ons aangaan. Wat gebeur in teaters en in gesprekke terwyl alles rondom ons om aandag smeek? Gaan ons dit ignoreer of gaan ons daadwerklik iets daaraan doen?

Vroeg in die KKNK was dit die Zuma Must Fall-betoging en ’n paar mense in Oudtshoorn het bymekaargekom. Daarna het die fees seepglad verloop.

Is dit egter regverdig om al die verantwoordelikheid om kwessies aan te roer op kunstenaars se skouers te pak? As ’n student in toegepaste teater (die gebruik van teater vir ’n spesifieke doel) gee ek baie om oor sosiaal-gedrewe kwessies en om kuns daarvan te skep, maar ek besef ook hoe waardevol dit is om “art for art’s sake”-tipe werke te doen, werk bloot net vir vermaak.

Gelukkig kies elke feesganger self na watter produksies hy/sy wil kyk en het ons vrye keuse oor hoe ons die fees wil beleef. Dis presies wat ek kon doen. Ek sou graag meer bruin en/of vroulike skrywers en regisseurs se stemme wou gehoor het, maar daar was mense wat as inspirasie kon dien in hierdie opsig.

By uitkampteater was die teenwoordigheid van nuwe stemme baie sterk en die genomineerdes vir die Kanna-toekennings getuig hiervan. Elkeen kon die tipe stuk opsit wat hulle wou en Des-Lee McKenzie met haar Ir(ras)sioneel roer velverbleiking, transformasie in sport en raskwessies aan. Sy doen dit op so ’n manier dat die kommentaar wat gelewer word, herkenbaar en relevant is vir die politieke kwessies van vandag. Dis ’n skreeusnaakse stuk met ’n einde wat vrae in jou kop laat maal.

Buhle Ngaba voer by uitkampteater Swang Song op, ’n stuk wat sy geskryf het onder regie van Ilana Cilliers. Ngaba kry dit met hierdie stuk reg om ’n storie te vertel van ’n vrou wat vasgevang is in haar liggaam, omstandighede en sosiale milieu, op ‘n manier wat spreek van deernis en sensitiwiteit. Die stuk is ook eie aan die struggle van ’n swart vrou in vandag se samelewing, waar die swart vrou hard moet werk om erkenning te geniet. Alhoewel dit as ’n tema aan bod kom, bly die stuk ook universeel, deurdat talle vroue hulle kan vereenselwig met vrouwees en die bagasie wat daarmee gepaardgaan.

Dan is daar ook Jason Jacobs, wat vanjaar deur Kunste Onbeperk vereer is as ’n nuwe stem. Jacobs het drie stukke op die fees gehad, wat ’n merkwaardige prestasie is vir ’n jong regisseur. Jacobs se stukke, In wag van, Kalahari swaan en Stof rooi, word met sensitiwiteit en sagmoedigheid aangepak en vertel stories van bruin mense wat nie dikwels gehoor word nie. Jacobs beeld nie stereotiepe karakters uit nie en so word sy mense in sy stukke vereer. Kwessies soos homoseksualiteit, die liefde of die bekommernis van ‘n ouerfiguur, of die strewe na ’n beter lewe is onder die temas wat in Jacobs se werk geïdentifiseer kan word.

Daar was dus ’n verskeidenheid stemme op vanjaar se fees en dit was nie net kleurgewys nie, ouderdom ook. ’n Kombinaasie soos die jong Philip Rademeyer wat saam met die bekroonde Dawid Minnaar gewerk het in Monsieur Ibrahim en die blomme van die Koran, was genotvol om na te kyk, want sodoende kry die teaterganger ’n blikkie van wat ’n jong regisseur doen met ’n ervare speler. Minnaar is by vanjaar se Kannas genomineer vir beste akteur in hierdie rol. Dan was daar ook Nico Scheepers wat saam met die ervare Sandra Prinsloo gewerk het in Moedertaal.

Hierdie verskeidenheid kwessies en temas laat my wonder of politiek net tot die parlement of Trump se Amerika beperk kan word. Is alles nie maar polities nie?

Daar was stukke soos Pay back the curry met Daniel Richards, en Schalk Bezuidenhout se Voksbesit wat sterk uitsprake gelewer het oor politiek en relevante gebeure op ons voorstoep. Dan was daar ook Piekniek by Mpande, née Dingaan wat die status quo uitdaag met opmerkings wat jou oor die lewe laat besin. Tog is talle mense ongemaklik met kommentaar oor ras, bevooroordeling en ongelykheid. Kan dit wees omdat mense nie bereid is om hul bevoorregting in die gesig te staar nie, of het hulle werklik net al te veel daarvan gehoor? Piekniek by Mpande, née Dingaan is presies die soort stuk wat Suid-Afrikaanse teater nodig het. Dit is protesteater waarin die akteurs kommentaar op hulself, ander mense en die teater lewer.

Daar is plek vir klassieke tekste soos die werk van Reza de Wet of Hendrik Ibsen, maar daar moet ook plek wees vir vernuwing. Dis presies wat die KKNK gedoen het. Nuutgeskrewe tekste soos Liewer deur Tertius Kapp en Buite Land deur Niel Coppen is op die verhoog gesit en dit bring ’n vars element na die fees.

Ek sê weer, gelukkig kan elke feesganger kies hoe hulle die fees wil beleef, en jy kan kies of jy “Die Stem” in die agtergrond hoor, al dan nie. Ek het nie.

 

The post KKNK 2017 – soos beleef deur Mercy Kannemeyer appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>