LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.
Mariël le Roux
Mariël le Roux is op 1 Oktober 1947 op die plaas Houmoed naby Worcester gebore. Sy matrikuleer in 1964 aan die Hoër Meisieskool Worcester. Dié ma van vier het haar loopbaan as dosent in Verpleegkunde aan die Universiteite van Wes-Kaapland en Stellenbosch beoefen. Na haar aftrede skryf, lees en reis sy graag. Sy en haar man, Jean, woon op Hermanus.
Opsomming
Isabella
Mariël le Roux
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624081371
“Trou met my, Isabella, asseblief. Ons sal saam al die stuikelblokke doodvee.” So oorweldigend haalbaar het sy oorreding vir my op daardie oomblik geklink.
Ontvlugting, het ek daar op die strand gedink. My hart het gewen.
Isabella Dickson staak haar studies en trou met Gideon, die joviale boerseun met die ligbruin oë. Saam durf hulle die ongenaakbare myn-wêreld van die Noord-Kaap aan waar sy met die aardsheid van die mynmense kennis maak.
Dit is net ná haar dogter se geboorte dat die lewe Isabella se voete onder haar uitruk. Opdragte van stemme klink op die wind uit die kameeldoringbos, en sy bevind haar in die mees ondenkbare situasie: dit is sý wat die bedreiging is.
Versoening klop op onverwagte wyses aan, en dit is ’n opdraande pad om haarself weer te vertrou. Totdat sy, anderkant die half-eeumerk, langs die branders by Bloubergstrand perspektief kry. Daar waar die suidoos haar
kopdokter geword het.
Isabella is ’n deurdagte verkenning van ’n ongewone moederskap.
Uittreksel
Dis vroegoggend. Die berg lê oop en blou voor my. Die uitgerafelde tafeldoek van gister is afgetrek, weggewaai. Dis nog stil, maar die suidoos sal later opkom. Dan sal die wind die fyn sandkorrels oplig, gister se voetspore in vlae teen vreemde bene vaswaai en die strand skoonvee. Dit ongerep laat.
’n Paar seemeeue hang stil oor die branders, wag op die natuur om gevoed te word. Lusteloos amper in hul geduld.
Die lae duin waarop ek my sit ná ’n ruk kry, het al myne geword hier op Bloubergstrand. Elke keer wat ek gaan stap, kom sit ek hier, wag vir die wind. Dis my verlangplek. My dinkplek. Oor gister, eergister en lank gelede. Veral oor lank gelede. Oor die tyd toe ek my eie pad begin loop het. Oor die dag toe ek uitgestoot is uit die intieme binnekring van ons gesin omdat ek die asynlap op Daddy se voorkop nie kon omruil nie. Dit het my toe gepas, maar dit was nie my keuse nie.
Ek het daardie dag stelling ingeneem in die kil ingang na die Dickson-doolhof, en ek het nooit weer dieper inbeweeg nie.
Haroldt Dickson was my pa, Emily my ma, en my suster Queenie is drie jaar voor my gebore. My naam is Isabella. Ek het net-net minder as ’n dekade gelede die halfeeumerk verbygesteek.
My pa was ’n gespanne man. ’n Siek man, ’n senulyer, het my ma gesê. “Julle moet geduldig wees met Daddy,” het sy oor en oor vermaan.
“Sy moeder had dieselfde krankheid. Julle Daddy loop op ’n hoogspanningsdraad, hy is baie kwesbaar.” Ek dink sy het dit so dikwels gesê om haarself ook te oortuig.
“Ma hoef my nie te herinner nie.” Queenie se bitsige antwoord, gereeld soos klokslag. Van kleintyd af het my suster die leisels in ons huis gehou. Sy het geglo sy is gebore om beheer te neem. En sy het dit met oorgawe gedoen.
Ek was bang vir die stil man. Veral ná die dag met die asynlap. Daddy, die mal Engelsman met wie die bure gespot het, was die grap van die straat. Hy het geglo hy was ’n buitestander in hierdie land, ewig klouend aan sy Britse burgerskap. Hy was nog ’n jong seun toe sy vader namens sy gesin hul gemaklike bestaan in Engeland gegroet het om na die suidpunt van Afrika te kom en hier te kom doen wat sendelinge doen. My ouma het nooit op die nuwe vasteland wortelgeskiet nie. Sy is huis toe, terug na die toon van Engeland waar haar mense geslagte lank al met affodille boer, terug na ’n lewe van luuksheid, net ’n maand ná my oupa in sy spore dood neergeslaan het. Die Dicksons moes hier eenvoudig lewe, sendelinge het nie baie geld verdien nie. Daddy het met blommegeld uit Engeland studeer, danksy sy moeder se klaagliedere by haar familie. Hy het pas begin werk toe sy pa so onverwags sy aardse bestaan agtergelaat het. My pa se paspoort was sy reddingsboei, dit het hom kop bo – Afrika se onstuimige – water laat hou. So ’n ietsie verhewe. Daarom het hy verwag om met respek behandel te word. Daar het ’n redelike tikkie voorvaderlike arrogansie in hom bly steek.
Die geringste konfrontasie met mens en dier het Daddy, die besonder lang, effens geboë, nors hoof van ons huis, laat kamer toe gaan. “In ’n migraine in,” het my ma gesê. Konfrontasie was daar meer as gereeld.
Geraas. Dit het hom waansinnig gemaak. As die bure se honde bedags blaf, het hy deur die vensters op hulle geskree. En as die honde tot ná donker gewag het om van hulle te laat hoor, was hy gou buite in die straat en het hy die hele buurt wakker geraas. Dan het van die bure hom luidkeels geantwoord met afstootlike aanmerkings.
’n Paar keer is die honde in die straat vergiftig. Die eienaars het klagtes gaan lê, die polisie is ontbied. Die manne in uniform het by ons huis ook kom navraag doen. Niemand kon ooit iets bewys nie, maar verwytende oë het elke keer ná so ’n vrekte-episode lank nog in die rigting van die mal Engelsman se huis gekyk. Dan het daar maar altyd weer nuwe honde in die buurt ingetrek en die geblaf en geskree het van voor af begin.
Daddy was die ontladingsteiken van menige frustrasie so in die donker. ’n Slaansak. “Niemand in die straat het ’n kopdokter nodig nie, weet jy, ou Harry,” het ’n buurman een oggend, ná ’n verwoede geskreeu in die middel van die vorige nag, vir Daddy oor die draad gesê. Die buurman was in sy voortuin, my pa by ons posbus en ek net buite ons hekkie op pad skool toe. “Ons het mos vir jou. Jy help ons ontlaai. Jy is ons terapeut.” Daddy sou reguit van die posbus af kamer toe gaan, het ek geweet. Ek is met ’n rooi gesig skool toe.
Augustusmaand, wanneer die katte snags rondkuier, het my pa die wollerige vryers nag na nag verskree. Dan het die bure ’n gek van hom gemaak. Vroegaand het hulle ’n gemiaau deur hul vensters begin.
Ek het gewoonlik in my kamer gaan wegkruip. Nie Queenie nie. Sy het langs hom in die straat gaan staan en die wêreld saam met hom verdoem. Motorfietse het hy te voet straataf agternagesit. Met windmeularms. En die jong ryers het hom getart met ’n gebrul van hul kragtige masjiene op en af in die straat totdat hy die voordeur oopgepluk en uitgestorm het. Hulle het die woeste agtervolging geniet, onder in die straat gaan draai en hom soms van agter af weer ingehaal, gevaarlik naby hom weggeswenk. Net een musieknoot uit ’n buurhuis wat sy ore bereik en klippe het uit sy hand op die musiekhuis se dak gereën. Ná sy uitbarstings is hy kamer toe. Vir dae aaneen.
Daddy was ’n boekhouer. Hy het sy praktyk uit die buitekamer van ons huis bedryf. Sy streng, klein donker ogies het oor ’n swartraambril voor op sy neus vir almal geloer. Sy steil swart hare was altyd geolie, styf en plat agteroorgekam. Hy het suinig geleef, vrekkerig selfs. ’n Paar klein ondernemings in ons omtrek het jare lank hul boekhouding aan Daddy toevertrou. Sy kliënte het lojaal gebly; sy werk was pynlik akkuraat.
The post Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Isabella deur Mariël le Roux appeared first on LitNet.