So pas is die suksesvolle Die Sideboard van die bekende Simon Bruinders onder die titel Dit is mijn land in Nederland uitgegee. Die Afrikaanse uitgawe het drie jaar gelede verskyn en is hier uiters goed deur lesers ontvang. Die Engelse uitgawe is ook nou in Suid-Afrika uitgegee.
Na sy baanbrekersrol in Jans Rautenbach se veelbesproke film Broer Matie speel Simon Bruinders reeds 30 jaar later as ’n professionele akteur verskeie ander film- en televisierolle.
“Ek het nooit gedroom om regtig ’n groot skrywer te word nie,” sê Bruinders. Tog het die skryfmuse hom begin beetkry nadat die eg-Suid-Kaapse storie van grondbesit by hom begin vorm aanneem het.
In Die Sideboard verander die wêreldgeskiedenis in 1939 onherroeplik. Ook in Suid-Afrika. By George onder die Outeniekwaberg kom ’n ongeletterde Abraham tot die besef van die belangrikheid van boekgelerentheid. Abraham droom van ’n familie met Stella, die jong onderwyseres. Om eendag kinders op sy eie grond groot te maak.
Só begin sy lewensreis, deur Sentraal-Afrika, tot by Egipte. En weer terug na George se vrugbare grond. Die swarthout en geelhout, waaruit hy ’n sideboard vir Stella wil maak.
Deur sy lewenstryd word die sideboard ’n huisaltaar – ’n simbool van geloof. Voortdurend bedreig en byna deur die vuur vernietig.
Die Sideboard is ook die verhaal van Abraham se vriendskap met Kobus, die jong Afrikaner ...
Die goeie uitbeelding van die karakters se menslikheid, gee jou as leser insig in die lewe van die mens in die 20ste eeu. Hierdie bruinmensstorie is nie net ʼn liefdesverhaal nie, maar ʼn refleksie van Suid-Afrika se geskiedenis. ʼn Geskiedenis wat nie vergeet mag word nie: die effekte van apartheid, die seer wat dit meegebring het. Die ontwrigting wat die gedwonge verskuiwings veroorsaak het vir die bruin mens – verskillende rasse wat ʼn bepaalde gebied moes bewoon. Wat, nes Abraham, van sy grond vergooi was. Grond waarvoor hy in die oorlog gaan baklei het, ongeag die gevare daarvan. Hy het geglo “jy hoort nie sonder grond nie, want daarsonder is jy niks.” Ons sien hoe hierdie ambagsman en houtwerker ʼn geveg opsit om te behou wat syne is. Dít waarvoor hy so hard gewerk het. Dit wat aan hom beloof was. Wat vir hom ’n beter lewe sou beteken. Vir hom, maar ook vir sy gesin.
Die Afrikaanse uitgewer Naledi het die regte van Bruinders se roman aan die Nederlandse uitgewer Mozaïek verkoop. Mozaïek het reeds verskeie Suid-Afrikaanse treffers, soos Die lanternswaaier en Die dooies leef, beide van die skrywer SD Fourie, uitgegee, asook Brett- Michael Innes se Die storie van Racheltjie de Beer, waarvan meer as 5 000 verkoop is.
The post Nederlandse boeklesers kry hulle eie sideboard appeared first on LitNet.