Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het met verstomming kennis geneem van die toekomsplanne ten opsigte van Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch.
Die argument dat Afrikaans en Xhosa die geleentheid gegee sal word om as akademiese tale uitgebou te word indien Engels as verstektaal by US gebruik word, getuig van totale miskenning van die plek wat Afrikaans as akademiese en wetenskapstaal op alle terreine reeds vol staan, soos gesien kan word in die uitgebreide en ontwikkelde vaktaal in alle dissiplines. Afrikaans is sedert 1917 deur die Taalkommissie van die SA Akademie gestandaardiseer. Die Eeufeesuitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls verskyn in 2017. Dit is onnodig om die prestasies op geestes- en natuurwetenskaplike gebied vir LitNet-lesers te lys. Woordeboeke, vakterme, bydraes in Afrikaans in geakkrediteerde tydskrifte, sowel as die skeppende werk in Afrikaans op letterkundige gebied, is meer as voldoende om te illustreer dat Afrikaans in die wêreld volledig erkenning geniet. Die Afrikaans-Japannese woordeboek wat in 2016 verskyn, is ‘n verdere voorbeeld hoe wyd Afrikaans as taal geag word.
Het US onder druk geswig? Indien wel, onder druk van wie? Die Studenteraad se “verwelkoming” van Engels as die taal van keuse te Stellenbosch druis in teen alles wat deur oud-Maties in Afrikaans tot stand gebring is. Daar is meer as voldoende universiteite in Suid-Afrika waar studente wat verkies om deur medium van Engels te studeer, hulle kan inskryf.
Die SA Akademie besef dat die Raad op 30 November eers amptelik die voorstel moet bekragtig. Jannie Marais se nalatenskap aan US: “Ondersteuning sonder einde” (Pieter Kapp, Nalatenskappe sonder einde, ble 151, 166–71) sal sekerlik nie deur ‘n ondankbare nageslag versmaai word nie.
Dioné Prinsloo
HUB, SA Akademie vir Wetenskap en Kuns
The post SA Akademie oor die US-taalbeleid appeared first on LitNet.