Ek was opgewonde om in November verlede jaar die posisie as bestuurder van PEN Afrikaans te aanvaar omdat ek agtergekom het, ek (a) gelukkiger is wanneer ek werk aan idealistiese projekte en (b) omdat ek oortuig geraak het dit nie meer genoeg is om net Afrikaans te skryf en te praat nie.
Enigeen wat belang het in die voortbestaan en lewenskragtigheid van Afrikaans moet bereid wees om ook deel te neem aan die politiek en politiekery rondom taal, meertaligheid en moedertaalonderrig in Suid-Afrika. Soos die Griekse staatsman Perikles al donkiejare voor Christus gesê het: “Net omdat jy nie in politiek belangstel nie, beteken dit nie politiek gaan nooit in jou belangstel nie.”
Jy kan tog nie die letterkunde van ’n taal wil bevorder as die kanse vir die toekomstige lesers en skrywers van daardie taal om ook in hierdie taal onderrig te word onder beleg is nie.
Ek is daarbenewens oortuig dat Afrikaans nie net vanweë ons spesifieke koloniale en apartheidsverlede onder druk verkeer nie, maar ook as gevolg van breër internasionale, neo-liberale tendense wat met globale kapitalisme gepaard gaan. Ons taalgemeenskap kry en gaan dit verder vorentoe van twee kante af kry: Aan die een kant van ’n regering wat die afskaling en geleidelike verdwyning van Afrikaans uit die openbare sfeer as ’n simboliese regstelling van geskiedkundige verontregting sien, en aan die ander kant as gevolg van die blinde pragmatisme van die globale mark wat taal- en kulturele imperialisme nou aan ons as ’n onstuitbare organiese proses en daarmee saam as ’n soort oplossing vir eiesoortigheid en diversiteit probeer verkoop.
Stel dit so: In ’n neo-liberale wêreldorde is ’n taal wat nie ook die taal van ’n groot, verkieslik globale mark is nie, outomaties haaks met die heersende ideologie en die heersende ideologie is brutaal in sy eenvoud. Soos Blacroc dit netjies opsom in ’n rap song: “If it don’t make dollaz, it don’t make sense.”
Om jou te verset teen die verskraling van Afrikaans se kulturele beweegruimte is dus ’n daad van protes enersyds teen die hegemonie wat neo-liberale kapitalisme voorhou as die enigste werkbare opsie, en aan die ander kant teen die kortsigtigheid van ’n regering wat toenemend die geskiedenis en identiteitspolitiek wil vereenvoudig tot ’n aangeleentheid wat deur ’n politiek korrekte vorm van verbruikerslogika uitgesorteer sal word.
As jy dus met my instelling en oortuigings vir Afrikaans wil baklei, bevind jy jou in die posisie van ’n ekonomies linkse denker wat ’n inklusiewe ruimte probeer skep op ’n stuk grond wat gewoonlik aggressief deur regse reaksionêres en taalkulturele chauviniste opgeëis en verdedig word. Jy’s soos iemand wat die ysbeer probeer red – enersyds van uitsterwing as gevolg van ’n omgewingskrisis wat grotendeels deur sogenaamde “vooruitgang” veroorsaak is en andersyds van mense wat wil beweer die ysbeer moet beskerm word omdat hy so groot en wit en dus beter as ander bere is.
Juis daarom vind ek PEN Afrikaans prekêr maar uitstekend geposisioneer om hierdie waardevolle en omstrede middelgrond te verdedig; om stem dik te maak namens diegene wat die waarde van verskeidenheid en taal as unieke manier van wees en verstaan insien. Het die Afrikaanse letterkunde op sy genuanseerdste beste nie altyd probeer sin maak van ons baster-Afrikane en baster-Europeërs se onseker plekkie hier onder die Afrika-son nie? Daar was natuurlik apartheid en Afrikaans se tragiese en skandelike rol daarin, maar daar was ook die Afrikaanse Skrywersgilde en die werk van André Brink, Elsa Joubert, Breyten Breytenbach en Adam Small. En dit is in hierdie laasgenoemde tradisie waar ek meen PEN Afrikaans ’n sleutelrol kan speel om ook ander stemme hoorbaar te maak in en vir Afrikaans, sowel binne Suid-Afrika as in die internasionale skrywersgemeenskap. Afrikaans het immers soos Bettina Wyngaard al by verskeie geleenthede herinner het, ’n PR-probleem en om die persepsies oor Afrikaans te verander, sal ons strategies en hard te werk moet gaan.
Maar voor ’n mens die regte geraas op al die regte plekke kan maak, moet jy eers georganiseerd raak. En organisasie behels administrasie. Laat ek dus, voor ek vertel wat ons gedoen het en beplan om te doen vir Afrikaanse woordwerk, verduidelik wat ook moes gebeur.
In die eerste paar maande by PEN is ek dikwels herinner aan die waar woorde van Slavoj Zizek aan die Occupy Wall Street-betogers in 2011. Zizek het die skare in sy toespraak herinner dat een van die groot gevare vir hul beweging is dat hulle verlief kan raak op hul eie aktivisme en die lekker samesyn wat hulle in hierdie besette ruimtes geniet. “Karnivalle is goedkoop,” het hy gesê. “Die ware toets van hul waarde is dit wat oorbly daarna; die manier waarin dit slaag om die daaglikse lewe te verander. Julle betogers moet verlief raak op harde en geduldige werk – julle is die begin, nie die einde nie.”
’n Groot deel van my uitdagings hierdie jaar het bestaan uit die senutergende lê van administratiewe fondasies. Ek gaan julle nie met die besonderhede van al die deels surrealistiese burokratiese hindernisse verveel nie, want dit het my en al die ander bestuurslede wat daarmee gemoeid was, reeds genoeg gefrustreer.
Waarin ons geslaag het, is kortliks die volgende:
Die NPO-registrasiedokument wat ons na ’n onverstaanbaar ingewikkelde registrasieproses by die Department van Sosiale Ontwikkeling verwerf het en bewys dat ons nou amptelik ’n nie-winsgewende organisasie is, het in die pos verlore geraak en om dit weer in die hande te kry was ’n odyssee. Nadat ons uiteindelik ’n duplikaat kon kry, kon ons egter vir PEN Afrikaans ’n bankrekening oopmaak waarin die fondse wat Kerneels en Naas met professionele oortuigingswerk gewerf het, ’n veilige tuiste gevind het.
Nadat ons die bankrekening oopgemaak het, kon ons PEN Afrikaans as NPO vir belasting registreer en dit was ook uitdagend, maar die registrasie vir e-filing het splinternuwe rompslomp en ’n verdere besoek aan die Kafkaeske SARS-kantoor in die Paarl behels.
Ons is nou egter nou ook op die e-filing-stelsel en in die proses om vir vrystelling van belasting geregistreer te word. Nadat ons ’n belastingnommer agter ons naam kon skryf, kon ons ons eerste oudit laat afhandel by LDP-ouditeurs. My innige dank aan Naas Steenkamp, Naomi Bruwer en Bettina Wyngaard vir hul hulp met die opstel van die state wat ons dié oudit laat slaag het.
’n Ander belangrike gebeurtenis op die administratiewe werf is dat ons deur ENSafrica ’n konsepooreenkoms laat opstel het, wat ons samewerking met LitNet as webportaal formaliseer. So ’n kontrak is uiters belangrik omdat ons verskeie digitale projekte ter bevordering van die Afrikaanse woordkuns in die vooruitsig stel en juis daarom moet ons ook die toekomstige beskikbaarheid van hierdie digitale inhoud verseker en kontraktueel reël. Die konsepooreenkoms is aan LitNet voorgelê en ons hoop om binnekort finaal met Etienne van Heerden en die LitNet-span die kontrak te teken.
Hoewel ek geen passie of besonderse aanleg vir administrasie het nie, beskou ek dit as absoluut noodsaaklike deel van die geduldige, harde werk waarvan Zizek praat en ’n voorvereiste vir enige noemenswaardige en volhoubare sukses. Alain de Botton se School of Life het onlangs ’n stuk gepubliseer waarin benadruk is dat jy nog nie vir die huwelik gereed is as jy nie gereed is om ook die waardigheid van die strykplank en die medeverantwoordelikheid vir administrasie te aanvaar nie. Sonder ’n gesonde administratiewe onderbou gaan die huwelik tussen PEN Afrikaans se ideale en die praktyk van ’n suksesvolle nie-winsgewende organisasie en drukgroep ook nooit vlot nie.
Ek sê dus baie dankie vir Amanda Lourens, Naomi Bruwer en Bettina Wyngaard vir hulle groot bydraes in dié verband. Ek nooi ook enige iemand wat op dié gebied kundigheid en vaardighede wil deel, om asseblief nader te staan en betrokke te raak.
Beide ek en Kerneels het besef dat ons gewoond is om konsepte en idees te genereer binne ’n omgewing waar strukture reeds in plek is, maar PEN Afrikaans is tans ’n goeie saak en ’n goeie begin gekoppel aan ’n struktuur-in-wording.
Op ’n meer inhoudelike vlak was daar gelukkig wel belowende beweging in die laaste tien maande.
Ek het in Desember 2014 ’n PEN-kongres vir alle PEN-sentrums in Afrika bygewoon waar ek ’n referaat gelewer het oor Afrikaans en ons sentrum se visie en missie. Dis vir my ’n plesier en verligting om te kan rapporteer dat dit ’n geslaagde beeldpoets-ekspedisie was.
Dit is geen geheim dat PEN Afrikaans sekere weerstand uit Afrika ondervind het toe ons aansoek gedoen het om by PEN International aan te sluit nie. Ek glo egter dat verskeie PEN-sentrums, waaronder die Engelse PEN South Africa, sedertdien met ander oë na ons kyk. Die president van die Ghanese PEN-sentrum, Frankie Asare-Donkoh, het aan die kongresdeelnemers gesê dat hy nou vir die eerste keer begryp hoeveel reeds in Suid-Afrika verander het, en dat Afrikaanse skrywers ’n rol wil speel om ander minderheidstale te beskerm en bevorder.
Asare-Donkoh se stelling is bevestig deur ’n e-pos wat Romana Cacchioli, PEN International se Direkteur van Internasionale Programme, na afloop van dié kongres uit Londen gestuur het:
Your presentation on the need for an Afrikaans centre and the issues you are addressing around race and language were helpful in dispelling preconceptions, but importantly in explaining that many of the issues you face are in fact shared by other African countries where minority writers and communities are struggling to have their voices and words heard.
Tydens die kongres is veral gekyk na vryheid van spraak in Afrika, die rol van kleiner taalgroepe in meertalige lande, onderwys en die problematiek wat gay skrywers in Afrika ondervind. Laasgenoemde onderwerp het gedreig om radikale tweespalt te skep en daar was sterk weerstand van sommige kongresgangers weens anti-gay wetgewing in hul lande. PEN Afrikaans se ongekwalifiseerde ondersteuning van gay regte en die reg op vryheid van uitdrukking oor hierdie kwessie is deur die PEN International-hoofkantoor verwelkom.
Romana het my ná die kongres bedank daarvoor dat ek bereid was om standpunt hieroor in te neem en geskryf:
It is important for PEN to know that we can count on you to bring an African perspective as hope to provide spaces for dialogue and dedicated support to centres and members around Africa as they seek to challenge powerful homophobic forces.
En hierdie dinge vertel ek nie vir julle om my eie beuel te blaas nie, maar om te beklemtoon dat ons ’n belangrike deel van die skakel- en beeldopknapwerk wat Afrikaans dringend nodig het, kan doen deur ons affiliasie met PEN International, ’n organisasie wat lank ’n Jiddisje PEN-sentrum gehad het en tans ook ’n Catalaanse, Walliese en Baskiese PEN-sentrum onder hul lede tel.
’n Verdere uitvloeisel van die Johannesburgse kongres is dat PEN International ons entoesiasties aangespoor het om aansoek te doen vir befondsing by hul Civil Society Programme en dat hulle inderdaad nou 10 000 pond aan ons toegeken het vir die baie belowende Trippel 7-loodsprojek wat Bettina Wyngaard in samewerking met Anzil Kulsen saamgestel en voorgelê het.
Ek is dus verheug dat ons by Naspers befondsing kon kry om my en Bettina as afgevaardigdes te stuur na die 81ste PEN International-kongres wat in Oktober vanjaar in Québec plaasvind. Ons hoop om daar verdere vennootskappe te ondersoek en vriendskapsbande te knoop met die internasionale skrywersgemeenskap.
’n Gedagte wat ek graag in Kanada wil opvolg, het eweneens sy kiem in die Johannesburg-kongres gehad. Deur bemiddeling van PEN International se Paul Finegan het ek die kans gekry om met die baie innemende en ewe indrukwekkende Salil Tripathi te gesels, ’n Indiese skrywer en menseregte-aktivis. Tripathi het onder meer ’n boek geskryf oor die politieke konflik in Bangladesh waarin die taalstryd tussen Bengaals en Urdu ’n sentrale rol gespeel het. Hy het ’n interessante voorstel gemaak waarvan ek dadelik gehou het en waarvan hy intussen ook vir Margie Orford, die voorsitter van PEN South Africa, oortuig het. Tripathi meen dat STIAS by Stellenbosch een van verskeie ideale plekke in Suid-Afrika sou wees om op 21 Februarie, Internasionale Moedertaaldag, ’n kongres te hou waar skrywers van tale wat sentraal staan in politieke konflik bymekaar kom om te praat oor die maniere waarop meertaligheid en taalregte bevorder kan word sonder om verdere etniese wigte tussen gemeenskappe in te dryf. By so ’n kongres sou skrywers en meningsvormers uit lande soos Bangladesh, Sri Lanka, Spanje, Turkye en natuurlik Suid-Afrika die kans kry om hul kommer oor taalruimtes binne ander kontekste en ’n meer globale band te verstaan.
Dit is ook met ’n heel ander rede tot trots dat ek en Bettina vanjaar ons missie na Kanada aanpak: Een van die kandidate wie se kortverhale ons vanjaar vir die PEN New Voices Award ingeskryf het, Carien Smith, ’n derdejaar-student aan die Universiteit van Fort Hare, het die langlys van ses vir dié gesogte prys gehaal. Die toekenning word by die kongres in Québec oorhandig.
PEN Afrikaans kon, soos alle van die meer as 100 PEN-sentrums wêreldwyd, twee jong skrywers tussen die ouderdom van 18 en 30 vir hierdie kompetisie inskryf. Ons het Smith se “Likkewaan”, die naaswenner van verlede jaar se Nuwe stories 3-kompetisie, saam met die wenverhaal van dié kompetisie, “The Day Madiba Died”, deur Frederick J. Botha ingestuur. Beide verhale is opgeneem in Human & Rousseau se Nuwe stories 3-bloemlesing vir ongepubliseerde jong skrywers, saamgestel deur Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn. Vir deelname is beide Botha en Smith se kortverhale in Engels en Spaans vertaal.
Carien Smith het ongelukkig nie uiteindelik die kortlys gehaal nie, maar ons is raakgesien in PEN International se hoofkantoor. James Tennant, die literêre koördineerder van die prys, het uit Londen geskryf:
Hi Danie
Congratulations! To your centre and Carien.
I should add that both your entries were good and that Botha’s nearly made the longlist too. Thanks for nominating them, and good luck.
Ons beplan om volgende jaar ’n kortverhaalkompetisie aan te bied om ons twee kandidate vir die PEN New Voices Award 2016 te kies. Die Woordfees het ons ook reeds verseker ons twee wenkandidate se stories sal, indien dit aan hul standaarde voldoen, gepubliseer word in die spesiale Woordfees-kortverhaalbundel wat van 2016 af elke jaar by die fees te koop gaan wees.
’n Verdere projek wat die ontwikkeling van skryftalent ten doel gehad het en my hoopvol stem, is die Kuier-LAPA-PEN Afrikaans-kortverhaalkompetisie wat ons vanjaar met die moontlikheid van verdere mentorskap in gedagte, ondersteun het.
Die tema vir die kompetisie was “Uit die hart”, geïnspireer deur die Kuier-tydskrif se agterbladrubriek, “Wat die hart van vol is”. Die skrywers is gevra om ’n verhaal van 1 000 tot 1 500 woorde in te skryf. Altesaam 263 inskrywings is ontvang. Dié inskrywings is deur ’n interne paneel beoordeel en die top-30-verhale is gekies. Die verhale is toe voorgelê aan ’n eksterne paneel, bestaande uit Raylentia Simmons (assistentredakteur by Kuier), Bettina Wyngaard (die skrywer van Vuilspel en ’n bestuurslid van PEN Afrikaans), Diana Ferrus (die skrywer van Ons Komvandaan), Cliffordene Norton (uitgewersassistent by LAPA Uitgewers) en Shirmoney Rhode (digter en skrywer by LitNet).
Die 15 finaliste wat deur dié paneel gekies is, het toe aan ’n twee dag lange slypskool in Julie by die UWK deelgeneem waarby ek en Rachelle Greeff as mentors betrokke was. Die kortverhale wat deur die loop van die slypskool verfyn is, is in Kuier gepubliseer en die moontlikheid van ’n LAPA-bloemlesing word ondersoek.
Een van hierdie finaliste, Theltom Masimila, neem nou met ’n beurs van die Breytenbach-sentrum deel aan die skryfskool wat dié sentrum vanjaar vir die tweede keer met finansiële ondersteuning van die Hiemstra Trust en ATKV aanbied. Ek vertrou dat ons hierdie vennootskap met die Breytenbach-sentrum se slypskool verder sal uitbou.
’n Ander belangrike PEN-gebeurtenis vanjaar was nie ter bevordering van die Afrikaanse woordkuns nie, maar in nagedagtenis en ter viering van die lewe van ’n skrywer wie se bydrae tot die Afrikaanse letterkunde monumentaal was. André P Brink is vanjaar op 6 Februarie oorlede en by die Woordfees het ons ’n gedenkuur vir hom gehou om onder meer dankie te sê vir die sleutelrol wat hy gespeel het om PEN Afrikaans as sentrum by PEN International erken te kry. By dié geleentheid is foto’s uit Brink se persoonlike versameling vertoon terwyl literêre vriende en skrywers gunsteling-passasies uit sy werk voorgelees het. Karina Szczurek-Brink, sy dogter Sonja, Naas Steenkamp, Kerneels Breytenbach, Abraham Phillips, Willemien Brümmer, Pieter Fourie, Antjie Krog, Ingrid Winterbach, Bettina Wyngaard, Abraham de Vries en Hettie Scholtz het almal gedenkwaardig tot dié huldiging bygedra.
By die Woordfees het ons ook ’n gesprek ter ondersteuning van Afrikaanse poësie in Engelse vertaling in samewerking met Versindaba aangebied. Ek het ’n paneelbespreking gelei oor die mylpaal-bloemlesing met ’n inleiding deur André P Brink wat Marlise Joubert oor ’n tydperk van vier jaar saamgestel het – In a Burning Sea: Contemporary Afrikaans Poetry in Translation. Marlise Joubert, Zandra Bezuidenhout, Johann Lodewyk Marais en Carina Stander het aan die gesprek deelgeneem en van hul vertaalde gedigte uit die bloemlesing voorgelees.
Benewens hierdie projekte en byeenkomste het PEN Afrikaans in die afgelope jaar in die naam van Afrikaanse skrywers, joernaliste en uitgewers in die openbaar standpunt ingeneem oor verskeie sake – onder meer oor die regering se katastrofale een-teksboek-beleid, die aanslag op die satiriese Charlie Hebdo-tydskrif, xenofobiese geweld in Suid-Afrika, die blok van joernaliste en opposiepartye se selfoonseine by president Zuma se staatsrede, die SABC se voorneme om sy nuusdiens in inheemse tale te verskraal, die Universiteit Stellenbosch se hersiene taalbeleid en die voorgenome sluiting van Volksblad.
Ons het intussen ook betrokke geraak by die organisasie van ’n aand ter viering van taaldiversiteit in samewerking met die InZync-poësiegroep en verskeie taaldepartemente aan die Universiteit Stellenbosch. Dié geleentheid sal op 9 Oktober in die Breughel-teater in Cloetesville plaasvind en deur ’n vertalingswerkwinkel voorafgegaan word. Die idee is om poësie in die oorspronklik Afrikaans, Xhosa en Engels sowel as in vertaling voor te lees. Ons hoop hierdie sal die eerste van vele soortgelyke byeenkomste wees en dat sulke geleenthede tot interkulturele literêre gesprek daartoe sal bydra om die huidige tragiese persepsie van taal as hindernis en probleem te verander. As meer mense weer kan besef tale is sleutels tot kennis en die grondiger verstaan van die self en die ander; dat eentaligheid kommunikasie dien, maar nie die noodsaaklike intieme begrip van die waarde en aard van diversiteit nie, sal ons sekerlik ’n ander soort debat op ’n kampus soos Stellenbosch voer.
Wat toekomsmusiek betref, is ek benewens Bettina se Trippel 7-projek baie opgewonde oor ’n inisiatief waarmee die skrywer en antropoloog Conrad Steenkamp ons genader het. Ons is deur en saam met Conrad betrokke by ’n loodsprojek wat daarop mik om die verengelsing van skole en die daarvan afhanklike gemeenskappe teë te werk, beginnende in die Wes-Kaap. Voorligting oor die implikasies van taalkeuses sal aan ouers wat hul kinders vir die eerste keer by skole inskryf, gegee word. Voorligtingsessies in die betrokke gemeenskappe sal jong ouers teiken en daarop mik om Afrikaans as familietaal te behou. Rolmodelle uit hierdie gemeenskappe sal help met die gemeenskapskakeling. Die voorligting sal deur ’n navorsingsprojek, wat daarop mik om ouers se taalkeuses te verstaan, ondersteun word. Onder andere sou mens mettertyd wou weet wat die impak sou wees indien kinders wat as Engels binne ’n andersins Afrikaanse konteks grootgemaak is, na Afrikaans as voertaal sou oorskakel. Die Dagbreektrust het hul belangstelling in die projek uitgespreek en kontak met Paul Colditz van Fedsas bewerkstellig. Die projek sal waarskynlik onder Fedsas se vaandel geloods word, met PEN Afrikaans as ’n sleutelvennoot.
Theuns Eloff, die voorsitter van die Dagbreektrust, het die noodsaak van sulke projekte indirek dog duidelik onderstreep by die 2015 Rapport-onderwyskonferensie waaraan hy op 15 September vanjaar saam met Fedsas se Paul Colditz deelgeneem het. Van die 339 enkelmedium- Afrikaanse skole wat in 2013 bestaan het, is daar vandag net 267 oor, het Eloff gesê.
Hy het verskeie redes vir dié daling genoem, waaronder demografiese en politieke druk tel, maar ook die rol wat ouers se keuse speel, beklemtoon. Heelparty Afrikaanse ouers glo volgens hom die “drogredenasie” dat hul kinders in Engels moet skoolgaan om beter onderrig te ontvang en beter vir die internasionale mark voorbereid te wees. “Dis absolute nonsens,” het Eloff gesê. “Was Koos Bekker in ’n Engelse skool? Het Koos Bekker aan ’n Engelse universiteit gestudeer? Ek dink nie so nie.”
Dit is veral wat hierdie kritiese laasgenoemde aspek betref, dat ons hoop Conrad se loodsprojek ’n verskil sal maak.
En dan ’n belangrike laastens. Ons stel ’n paar digitale projekte in die vooruitsig sodra ons samewerkingsooreenkoms met LitNet geformaliseer is. Ons wil baie graag ’n digitale boekeblad skep wat verdere ruimte aan Afrikaanse boekbesprekings verskaf en skakel met ’n maandelikse nuusbrief aan ons lede. Vir ons webwerf beplan ons ook ’n klein digitale skrywersprofiel vir elke PEN-lid. Hierdie profiele met foto’s, kort biografieë, publikasies, kontakbesonderhede ens. wil ons graag koppel aan ’n databasis van skakels na onderhoude en resensie wat ook op ons webwerf ’n tuiste kan vind.
Ten slotte herinner ek julle aan ons Facebook-blad en die Twitter-rekening wat ons vanjaar geskep het. Volg ons asseblief as julle nog nie het nie, en praat saam. Die #Luister-video van Open Stellenbosch het weer eens onderstreep hoe magtig sosiale media kan wees. Hulle het selfs met hul YouTube-video vir minister Blade Nzimande tot ’n kamee-verskyning in die parlement beweeg. En sosiale media en die internet is soos intelligensie of die menslike hand – jy kan dit vir enigiets gebruik.
Afrikaanse skrywers, joernaliste en ander taalpraktisyns kan dit inspan om te bou aan ’n gemeenskap in diens van die Afrikaanse woordkuns, vryheid van uitdrukking en die bevordering van meertaligheid in hierdie land.
The post PEN Afrikaans: Bestuurder se verslag en vooruitskouing appeared first on LitNet.