Anna-Marie Jansen van Vuuren skryf oor die regisseur Simon Barnard, na aanleiding van sy eerste vollengte-rolprent, Die rebellie van Lafras Verwey, en die toepaslikheid daarvan dat dit op die einste dag as die “Red ons Suid-Afrika”-protesoptogte van April 2017 uitgereik is.
Die rebellie van Lafras Verwey. Hoekom spesifiek hiérdie teks vir Simon Barnard se debuut as speelfilmregisseur?
“My ma het eenkeer vir my gesê dat dít dalk my eerste film kan wees. Toe ek ’n klein seuntjie was, het die plakkaat van die verhoogstuk in my pa se skryfkamer gehang. Tobie Cronjé het nog in dié weergawe gespeel. Ek het gereeld vir my pa gevra waaroor dit gaan. En dan het hy die storie aan my verduidelik – so stukkie vir stukkie. Ek het nie altyd alles verstaan nie, maar sy verduideliking het my gefassineer: Hierdie man wat in sy verbeelding leef en homself verbeel hy is deel van ’n beweging wat die regering deur middel van ’n revolusie gaan omverwerp.” Volgens Simon was sy pa – die skrywer en dramaturg Chris Barnard – in sy woorde “ook maar ’n outsider en ’n loner wat in sy kop geleef het en sy skryfwerk gebruik het om uiting te gee aan sy verbeeldingsvlugte. My pa kon dus baie met die karakter identifiseer. Hy het net nooit ’n behoefte gehad om die land omver te werp nie. Hy was egter wel deel van die Sestiger-beweging wat die Suid-Afrikaanse regering gereeld uitgedaag het.”
Dit is dus dalk heel gepas dat die rolprentweergawe van Die rebellie van Lafras Verwey op die naweek van 7 April 2017 uitgereik is: dieselfde Vrydag wat Suid-Afrikaners besluit het: “Genoeg is genoeg!” en hulself tot die strate van Suid-Afrika gewend het om hulle ongelukkigheid met die land se president, Jacob Zuma, uit te spreek.
Simon se stelling dat beide hy en sy pa hulself met die karakter van Lafras kon vereenselwig, herinner my aan dít wat Katinka Heyns my onlangs in ’n onderhoud vertel het – dat Simon en sy pa mekaar die beste van almal geken en verstaan het. Hulle het dieselfde musiek in hulle ore gehoor. Miskien is dit hoekom dit juis Simon moes wees wat sy pa se gunstelingteks na die groot skerm moes bring, al was sy pa eers huiwerig om die pen aan sy seun te oorhandig. Maar volgens Heyns het Simon se draaiboek sy pa baie beïndruk, en was hy opgewonde nadat hy die eerste rowwe snit van die rolprent die eerste keer aanskou het.
“Ek het nooit die radiodrama gehoor nie, maar die eerste keer wat ek ’n getranskribeerde weergawe daarvan gelees het, was ek net heeltemal uit die veld geslaan. Miskien as ek die stuk op die verhoog gesien het, sou ek vroeër die ideaal of ambisie gehad het om dié fliek te maak.”
Simon sê hy het nooit gedryf gevoel om ’n rolprent te maak net om een te maak nie. “Ek móés eers die regte storie kry. Dis hoe Katinka ook werk. Dis eers as ’n storie haar regtig aangryp dat sy besluit om die film te maak. En ek dink die meeste mense kan met my saamstem as hulle na haar rolprente kyk – sy’t regtig goeie smaak.”
En van smaak gepraat, daar is iets van Die rebellie van Lafras Verwey wat in heelwat kritici se smaak geval het, want hulle ken nie aldag vyf sterre vir ’n Suid-Afrikaanse rolprent toe nie. Persoonlik was daar iets aan die fliek wat my aan Franse rolprente herinner het, die soort wat eens so in oorvloed by ons Cinema Nouveau-teaters was: die stadige manier waarop die storielyn ontvou, die manier waarop ons die karakters deur hulle dialoog leer ken, en die subteks wat geleidelik begin deurskemer wat vra dat ons moet dieper kyk as dít wat op die oppervlak aan ons vertoon word.
In antwoord op my vraag daaroor sê Simon dat daar nie ’n spesifieke rolprent was waarop hy Rebellie geskoei het nie, máár ... “Dit gaan baie pretensieus klink, maar ek het baie nagedink oor die regisseur Michael Haneke se werk terwyl ek my regiestyl benader het. ’n Film van hom, Amour, het my baie baie beïndruk. Dit gaan oor twee bejaarde mense in ’n woonstel. Voordat ek dit gekyk het het ek gedink: wat ’n morbiede tema! Maar op die ou end het ek vasgenael na die storie gesit en kyk.” Dalk nie doelbewus nie, maar daar is verskeie intertekstuele verwysings na Haneke se werk in Die rebellie van Lafras Verwey, veral die temas van individue se gevoelens van vervreemding in die moderne samelewing, en verskeie ander maatskaplike kwessies.
Volgens Simon het die Franse rolprentwese ’n diep indruk op hom gemaak, omdat hul oeuvre meestal uit spelgedrewe rolprente bestaan, wat baie relevant sou wees vir sy eerste fliek: “Ek het geweet daar sou baie dialoog wees, omdat Rebellie eers ’n radiodrama was. Daarom sou dit ’n uitdaging wees om dit in ’n boeiende rolprent te omskep. Maar op die ou end was die hoofakteurs se spel hoofprioriteit, nie effekte of “gimmicks” nie. Ek het geweet dat ek nie ’n Hollywood-begroting sou hê nie, dus sou ’n Amerikaanse aanslag nie gepas wees nie. Dus het ek op die spel meer as op enigiets anders staat gemaak.” Eerlikheid was volgens hom die wagwoord.
En ten spyte van die spel wat Lafras gespeel het, was daar tog eerlikheid tussen hom en Petra. Daar is een spesifieke skoot wat my byval. Van ’n kyk wat Petra en Lafras een keer vir mekaar gegee het. Daar is iets aan daardie manier van kýk wat my herinner het aan ’n kyk tussen Katinka Heyns en Marius Weyers in die televisiedrama Nagspel (ook uit die pen van Chris Barnard, met die regie onder leiding van Stephan Bouwer). Maar is dit die waarheid of bloot net versinsel? Of dalk net deel van my eie mymerings? Wat het die klein prinsie gesê? Dis net met die hart dat jy werklik kan sien. Wat werklik belangrik is, is onsigbaar vir die oog.” Dis die einste boek, Die klein prinsie van Antoin de Saint-Exupéry, wat Simon subtiel in Lafras Verwey se boekrak geplant het. Daarom wil ek toekomstige kykers van Die rebellie uitdaag om dieper te kyk. Na jouself. ĺn jouself. En na ander. Want die storie van eensaamheid, al is jy tussen mense, is nie net Simon of Lafras se storie nie. Dis ons elkeen se storie.
Lees ook
The post Die rebellie van Lafras Verwey – ’n onderhoud met Simon Barnard appeared first on LitNet.