LitNet publiseer uittreksels uit pasverskene boeke, uitgegee deur uitgewers wat LitNet ondersteun. Dié lusmakers verskyn op LitNet as eerste slukkies.
Rika Cloete
Rika Cloete se obsessie is misdaadfiksie, en as dit boonop teen ’n geskiedkundige agtergrond afspeel, soveel te beter. Reeksmoordenaars, passiemoorde, gifmoorde, geestesversteurings – dit is alles al van toentertyd af deel van die mens se bestaan, so ook die vraag om geregtigheid, die drang na die uitlewering van die skuldige en die onwrikbare geloof dat die goeie uiteindelik die bose sal oorwin; dit is alles gewortel in ons menswees. Juis dít gee ons hoop vir die toekoms; daarom is dit noodsaaklik om daaroor te skryf.
In 2002 is Cloete se debuutbundel eensaamigheid gepubliseer en in 2004 die avontuurromanse Die Oog van Isis. ’n Hele klompie tydskrifverhale het ook al uit haar pen verskyn.
Doodsroeper is Rika se eerste spanningsroman.
Rika is ’n gebore en getoë Johannesburger. In 1992 matrikuleer sy aan die Hoërskool Vorentoe en ontvang haar tersiêre opleiding aan die eertydse RAU, nou UJ. Vir meer as tien jaar lank was sy dosent in Duitse letterkunde, maar is deesdae ’n voltydse skrywer.
Opsomming
Doodsroeper
Rika Cloete
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799383126
Want daar was moordenaars onder die trekboere ook ...
Dit is Februarie, 1861.
’n Groepie trekboere maak hulle gereed vir die jaarlike migrasie van die springbokke – een van die merkwaardigste en bekendste tonele in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Hulle staning is naby die Gamagara-rivier in die Kalahari.
Die spanning bou op, want hulle verkenners vertel dat die bokke op pad is.
Dan is daar ’n lyk. Die man is wreed vermoor en die lyk is daarna verder vermink. Die dooie lê in die Stilbos – ’n misterieuse plek sonder voëls en die skuilplek van die Doodsroeper, ’n onaardse wese wat uitroep voordat iemand sterf.
Soois Bruwer, ’n verloopte wetsman, word versoek om ondersoek in te stel.
Soois het rede gehad om homself eenkant te hou, nou moet hy meer spraaksaam wees en só besef hy: Dié groepie mense met wie hy saamtrek, het byna almal iets om weg te steek.
Net toe Soois dink hy is op die regte spoor, roep die Doodsroeper weer en sit hy met ’n tweede lyk op hande. Nou moet hy alles inspan om die moordenaar vas te trek, want dit wil voorkom asof daar binnekort nog dooies sal wees.
Uittreksel
Hoofstuk een
Die gil is ’n skril trilling in die lug.
Toe Soois Bruwer sy kop by die tentflap uitsteek, is hy dadelik op sy hoede. Hier kom moeilikheid, hy weet dit sommer net – en dit nog voordat hy sy pyp behoorlik kon opsteek vir sy gebruiklike oggenddampie. Definitief nie ’n belowende begin vir die dag nie, dit is gewis.
“Neef Soois! Neef Soois!” skree tant Gesie Petoors en kom aangewaggel met klein Krisjan Harmse op sleeptou. Haar wit kappie wip vervaard en haar rok, ’n bollende seil rondom haar tamaaie liggaam, verdwerg byna die seun agter haar.
Van die trekboere wat besig is om vuur vir die vroegstuk aanmekaar te slaan, kyk gesteurd op. Die vroue staak vir eers hul bedrywighede rondom die wakiste, koffiemeulens hou op knars en een van die groter seuns laat val glad die swaar emmer water wat hy pas in die rivier gaan volmaak het. ’n Groepie kinders wat met kleiosse, kakebeenwaentjies en lappoppe sit en speel, loer grootoog rond, stil soos muise.
Wat sou die probleem wees? Dit kan tog sekerlik nie die bokke wees waarna hulle al so lank soek nie, daarvoor is die mense veels te rustig. Die soekekspedisie dalk?
Soois se blik gly oor die rooi vlakte wat om hulle uitstrek. Geen stofwolk nie. Nie ’n perd in sig nie. Net bossies, sand, eindeloosheid. Die rivier wat ’n blink kronkellint vorm. En die Stilbos. ’n Doodgewone oggend in die Kalahari. Maar Krisjan dan?
“Jy moet net sien waarmee speel die jongetjie hierso, neef Soois. Toe, Krisjan, wys,” beveel tant Gesie toe hulle oplaas langs die wa tot stilstand kom.
Krisjan kyk uitdagend op na Soois en hou sy hand agter sy rug toegeklem. Wat dit ook al is wat hy versteek hou, sy hele houding sê hy gaan dit nie goedsmoeds afstaan nie.
“Môre,” groet Soois hoflik en klim by die watrap af. “Wat makeer, tant Gesie? Dit lyk asof Tante ’n spook gesien het.”
“Jy kan seker maar so sê, neef Soois,” steun die ouer vrou en hyg na asem. “Kyk net wat het die kind beet. Dit is te vreeslik vir woorde.”
’n Klompie mans het intussen by hulle aangesluit, nuuskierig om uit te vind waaroor die kabaal gaan. Oom Fransjan Petoors, die trekleier, staan fronsend aan sy pruimpie en kou terwyl Hans Stoker, Krisjan se pa, se gesig rooier gloei as ’n kalkoen se bel. Hy moet weer die een of ander skande van sy bloedjie te wagte wees, dié dat hy so opgetrek is. Eerwaarde Gideon Petoors, wat maar altyd ’n oog oor sy vader en Hans Stoker moet hou, het tussen die twee mans kom inskuif om te keer dat hulle stry kry. En dan is daar die Winterse. Oom Albert Siener, die blinde profeet, en sy seun Lukas.
“Dagsê, neef Soois,” groet oom Fransjan en spoeg sy kouseltjie dat dit in ’n geel streep deur die lug trek. Toe krap hy in sy baard wat al goed van die twaksop gevlek is en prop dadelik weer ’n stukkie twak in sy mond. “Wat skeel met die kind, Gesina?”
“Ja dag, neef Soois. Dag, ta’ Gesie,” sê Hans Stoker ongeduldig, maar hy kyk nie vir een van die twee grootmense nie. Sy fletsblou oë deurboor Krisjan wat op elf jaar skaars meer as twee kleinerige vaatjies hoog staan.
“Dis, dis . . .” probeer tant Gesie iets uitkry.
“Haal nou eers diep asem, Moeder. Ek is seker dit is nie so erg nie,” sê eerwaarde Gideon en kyk benieud vir Krisjan wat staan en rondtrap met sy hand nog steeds agter sy rug.
“Watwou! Nie so erg nie? Oordeel jy maar self.” Tant Gesie se asem is nou terug, maar sy sukkel steeds om tot verhaal te kom. “Toe, Krisjan, wys hulle.”
Krisjan bly egter kopsku en byt sy onderlip styf vas.
“Seun?” sê-vra Hans Stoker gevaarlik kalm en sy wange begin pof. “Tant Gesie praat met jou. Wat het jy daar?”
Krisjan huiwer nog ’n oomblik voordat hy sy hand stadig agter sy rug uit bring. Toe vou hy sy vuis oop. Op sy vuil, natgeswete handpalm lê die voorste helfte van ’n mens se vinger.
Almal se monde val oop van verbasing en die een kyk na die ander in ongeloof. Dit is net oom Albert Siener wat geen uitdrukking op sy gesig het nie en Lukas moet eers in sy pa se oor fluister om te verduidelik wat gaande is.
“Toe ek dit sien, het ek gedink neef Soois moet dit onmiddellik onder oë kry,” sê tant Gesie en knik haar kop bevestigend vir Soois. “Met dié dat Neef mos ’n wetsman is.”
“Nou waar kry jy dit vandaan, Krisjan?” vra Soois versigtig, maar Krisjan antwoord nie.
“Oom Soois vra jou ’n vraag, magtig,” dring Hans Stoker aan. “Antwoord!”
Krisjan laat sy kop sak en mompel toe byna onhoorbaar. “Uit die Stilbos uit, Oom.”
“En wat in die naam van Sem, Gam en Jafet het jy nogal daar gaan soek?” raas sy pa. “Weet jy wat met jou sal gebeur as die Doodsroeper jou alleen daar kry? Wéét jy?”
“Ek was nie alleen nie, Pa. Ouboet Servaas was saam. En hy het ’n roer gehad.”
“Maar wat het julle verdomp daar loop maak? Julle weet julle mag nie in die Stilbos in nie. Ek het julle dit uitdruklik verbied!”
“Ons het vir ma Tilla sprokkelhout gaan haal, Pa,” verduidelik Krisjan en vou sy hand beskermend om die vinger. “Toe tel ek dit op. Maar Pa gaan dit nie vat nie, nè? Dis myne, Pa. Ék het dit gekry.” Hy lig sy kop en kyk smekend na sy pa maar Hans Stoker se gesig vertrek net al hoe meer.
“Sodra ons hier klaar is, gaan ek julle al twee se gatvelle aftrek, dit belowe ek jou,” skel hy. “En nes julle uitgehuil is, gaan ek dit weer doen.”
Eerwaarde Gideon vryf oor sy bakkebaard. “Wag nou eers, broer Hans,” sê hy. “Die kinders is mos veilig. Dit help nie om meer te raas nie. Laat ons liewer die storie van die vinger probeer uitklaar. Wanneer het jy dit in die bos opgetel, Krisjan?”
“Gistermiddag, Eerwaarde.”
“Gee daai ding hier,” blaf Hans Stoker en hou sy hand gebiedend na Krisjan toe uit.
“Asseblief, Pa.”
“Gee hier, seg ek.”
Toe Krisjan nie gehoorsaam nie, forseer Hans Stoker sy seun se vuis oop, pluk die halwe vinger by hom weg en hou dit omhoog vir almal om te sien.
Soois voel ’n koue rilling teen sy rug afloop. Dit is ’n aardige ding, ’n stuk vinger so verwyderd van ’n hand. En veral hierdie een is nie ’n mooi gesig nie. Dit is dik, waswit en besproet, en grof deur die middelste gewriggie afgesny.
Die nael is vuil en oneweredig gekou en ’n lang, regaf litteken streep in die sagte vlees van die boonste lit in.
“Nou hoekom voel dit dan nou vir my asof ek dié vinger ken?” vra Lukas uit die bloute op sy gewone langsame trant. Sy baard is ’n woeste, ongekamde nes en sy gesig ’n landkaart van plooie. Die grys oë is moeg en dit lyk vandag weer of hy die wêreld se laste op sy hangskouers dra.
“Hoe dan so, neef Lukas?” wil Soois weet. “Kom dit vir jou bekend voor?”
“Dit lyk na Rooi Willem Mostert s’n, ja,” antwoord hy. “Daardie litteken het my juis nou die dag opgeval toe hy my by my wa kom handgee het.”
’n Doodse stilte daal oor die versamelinkie neer en Soois kan sien dat dit die laaste ding is wat hulle verwag het om te hoor.
“Waar daar ’n vinger is, moet daar ’n hand wees. En waar daar ’n hand is, ’n lyf,” sê oom Fransjan gewigtig. “’n Man verloor mos nie net sommerso ’n deel van jouself nie. En as dit Rooi Willem Mostert se vinger is, wil ek weet hoekom dit in die Stilbos rondlê. Hy is veronderstel om saam met Brand Viljee-hulle op ekspedisie te wees.”
Hy dink ’n oomblik na voordat hy verder praat. “Iets is nie pluis nie. Daar is nog geen taal of tyding oor die trekbokke se bewegings nie. En die manne het nog nooit so lank weggebly nie.”
“Daar is jy reg, neef Fransjan,” antwoord Hans Stoker. “Dié keer is hulle lank weg. Wie weet, dalk is die aasvoëls al aan die vreet. Een van hulle het miskien neef Rooi Willem se vinger hier aangedra.”
“Sekerlik tog nie, broer Hans. ’n Mens moenie altyd die slegste dinge voorsien nie.”
“Ek wonder nou skielik of vader Albert se stertster ons nie dalk in die dal van doodskaduwee ingelei het nie,” mymer Lukas afwesig, asof hy nie eerwaarde Gideon se laaste woorde gehoor het nie. “Hy’t immers gesê die rigtingwyser kom met ’n prys, die dag toe hy die gesig gehad het van die yslike troppe bokke en die ster wat ons moet volg. En ’n menselewe is nie goedkoop nie. Miskien moes ons meer ag daarop geslaan het.”
“Dis nou wat gebeur as ’n mens jou oë heeltyd op ’n blink streep in die firmament gerig hou pleks van voor jou te kyk,” mor oom Fransjan. “Jy sien jou gat.”
“Wag nou eers, kêrels. Laat ons nie die bobbejaan agter die bult gaan haal nie,” sê Soois. “Neef Brand Viljee is ’n bekwame man. Hy sal nie toelaat dat die manne iets oorkom nie. Ons sal net eenvoudig moet wag en kyk. My apologie, neef Lukas, maar ons kan ook nie net aanvaar dat dit neef Rooi Willem se vinger is wat Krisjan in die Stilbos gekry het nie. Ons sal moet seker maak van die feite. En wat oom Albert Siener se stertster betref, kan ek net sê dat ’n hemelliggaam – hoe aanskoulik dit ook al mog wees – nog lank nie God se werk kan oorneem nie.”
“Net so, broer Soois,” beaam eerwaarde Gideon. “Die Vader bepaal ons lot. Niks en niemand anders nie. Ons moet ons hoop en vertroue op Hom plaas en nie sommer aannames maak nie.”
Die mans knik hul koppe, maar niemand lyk werklik seker van die saak nie. Daar is ’n tasbare ongemak onder hulle wat hierdie keer nie eens deur eerwaarde Gideon se onwrikbare oortuiging en geloof verlig kan word nie. Net Hans Stoker is die ene geesdrif.
“Ja, as ’n mens eers weet wat die ware stand van sake is, kan daar gehandel word,” laat hy hoor en slaan sy vuis in sy oop hand dat dit ’n klapgeluid maak.
Oom Fransjan trek sy voorkop op ’n plooi. “Man, as jy eers begin handel, is ons almal in ons moer in. Loop stook jy eerder jou gelukswater, neef Hans, en hou jou uit die ding uit.” Toe kyk hy aspris by Hans Stoker verby en laat sy oë ondersoekend op Krisjan rus. “Is daar nog iets wat jy vir ons behoort te vertel, Krisjan?”
“Nee, niks nie, oom Fransjan. Ek belowe,” antwoord Krisjan verskrik en verskuif sy gewig van die een been na die ander. Toe pluk hy sy pa liggies aan die baadjiemou. “Pa?” vra hy. “Kan ek die vinger nou maar terugkry?”
“Los nou die vervloekste ding uit, seun. Verstaan jy dan nie wat aangaan nie? Ons sit dalk met ’n dooie man.” Hans Stoker is nog steeds moerig en dit lyk of hy enige oomblik die plathand gaan inlê.
“Laat ons liewer iets vir die hand gaan vind om te doen voordat jy strop kry, Krisjan,” sê tant Gesie. Sy gee Hans Stoker ’n vuil kyk, vat die kind aan die arm en lei hom haastig van die groepie mans af weg.
Toe hulle buite hoorafstand is, hervat eerwaarde Gideon die gesprek. “Broer Soois het gelyk,” merk hy op en sy donkerbruin oë gly heen en weer oor die groepie, op soek na verdere bevestiging. “Ons is miskien oorhaastig in ons oordeel. Soos ek wou sê, ek kan nie glo dat broer Rooi Willem so iets sou kon oorkom nie. Hy is ’n man wat nie stuit vir die duiwel nie.”
“Moet jy nou nie hier kom staan en perdedrolle vir vye verkoop nie, Gideon Petoors.” Oom Fransjan skuif sy hoed vererg oor sy voorkop terug. “Almal weet dat Rooi Willem Mostert deur net twee dinge in hierdie lewe gedryf word. Gierigheid en sy peester.”
“Net so, oom Fransjan,” sê Lukas. “As daar rok of voorlappie in die omtrek is, is neef Rooi Willem nie ver nie. Om nie eens te praat van al die ponde wat hy sien as ’n mens ’n bokvel voor hom swaai nie.” Hy skuif effens nader aan oom Albert Siener om hom te stut en glimlag toe die ou man teen hom aanleun. “Of hoe sê ek nou, vader Albert?”
“Vader Fransjan, broer Lukas. Asseblief!” berispe eerwaarde Gideon hulle en skud sy kop kwaai. “Dit is nie nou die tyd vir kruheid nie.”
“Man, ek seg ’n ding soos hy is en daar sit nie sonde in nie,” brom oom Fransjan onderlangs en kou nog ’n vinnige rondte. “Reg was nog nooit verkeerd nie.”
Soois staan effens tru om uit die pad van die volgende sarsie twak te kom en hy is ook net betyds. “Om hier te staan en stry en pieker oor Rooi Willem se hebbelikhede gaan ons niks in die sak bring nie, kêrels,” sê hy en sien hoe die straal voor sy velskoen te lande kom. “Ons behoort eerder oorleg te pleeg oor wat ons omtrent daardie vinger gaan doen. Ons sal moet uitvind wie dit is wat so vermink is. Lewend of dood.”
“Manne, ek kry vir die een of ander rede die gevoel dat ’n mens jou lewe nie meer seker is hier rond nie,” sê Hans Stoker en soos hy sy kop van die een na die ander draai, kan Soois die hare by sy ore sien uitklos.
“Nie vandat daar dood in die land is nie, ja,” korswel Lukas droog en almal lag.
“Lag julle vir julle maar uit!” vaar Hans Stoker uit, sy oë wild in die kasse aan die rondspring. “Ek bedoel, vat nou net die drie afgestorwenes sedert die tyd wat ons hier by die Stilbos aangeland het. Dit laat ’n mens tog wonder, dan nie? En wat van die Doodsroeper? Ons het mos al gesien ons kan dit nie verontagsaam nie. Binne enkele dae ná die roep is daar dood.”
“Daar het neef Hans wel ’n punt beet,” gee Lukas hom gelyk. “In die kort tydjie wat ons hier staning gemaak het, het daar al drie mense heengegaan. Moeder Trynie, Moos se klein Pietman en neef Lafras Moerdyk. En elke keer was daar die geroep voor die tyd.”
Die mans kyk in die rigting van die Stilbos en Soois hoor weer die vreesaanjaende roep in sy gedagtes. Dit begin met ’n sagte gehuil maar dan word dit kliphard soos die geskal van ramshorings die dag toe die mure rondom Jerigo geval het. Dit is die allervreeslikste geluid om te hoor en dit laat jou skoon saamtrek van die bang. Drie nagte gelede het dit weer deur die lug geskeur. Presies nes die vorige kere voordat iemand gesterf het.
Niemand het nog gesien of die moed gehad om te probeer uitvind wat dit is wat die geluid maak nie. ’n Getormenteerde, verontregte siel wat in die bos ronddwaal en vloeke oor ander uitspreek? Die een of ander onding uit die onderwêreld wat genot daaruit put om die trekboere te terroriseer? Of erger nog, die doodsengel self wat sy pond vleis kom opeis? G’n mens weet wat dit kan wees nie. En Hans Stoker is reg. Wat dit ook al is, dit bring die dood.
“Staak tog die bygelowigheid, broers,” sê eerwaarde Gideon, opeens moeg. “Daar was mos vir elkeen se afsterwe ’n goeie rede, dit het niks met ’n bose wese te doen nie. Neef Lukas, jy weet tog jou moeder het aan ’n hartkwaal gely. Klein Pietman is ons ontneem deur die kroepsiekte en neef Lafras had tering. Waarom blameer julle nou die onaardse? Dis tog nie wat die Woord vir ons leer nie.”
Hans Stoker wil nog stry, maar toe maak oom Albert Siener keel skoon en almal word stil.
“Is so, jaaa …” steun hy en stoot ’n swaar sug tydsaam deur sy riempiedun lyf. ’n Lang spierwit vlasbaard omring byna sy hele gesig en sy melkerige oë tuur die verte in. “Die Engel hád gesing. En daar sal bloed wees. Bloed en trane.”
“Hoe bedoel oom Albert?” vra Soois. “Is die Doodsroeper dan ’n engel?”
Hans Stoker is nou heeltemal uit sy vel en spring rond asof hy rooimiere in sy broek het. “As die Doodsroeper ’n engel is, is die roep niks anders as ’n boodskap van God nie. Nie waar nie, eerwaarde Gideon? Nie waar nie?!” skree hy en sy snorbaard tril van opgewondenheid.
Oom Fransjan vervies hom op die plek. “Hans Stoker, skei nou uit, man. Engele sit en wag in die hemel vir die Oordeelsdag. Hulle dool nie hier in die Kalahari rond nie. En beslis ook nie in die Stilbos nie.”
“Stadig nou, vader Fransjan. Kom ons probeer eerder om die vrede tussen ons algar te bewaar …” wil eerwaarde Gideon nog keer, maar Hans Stoker val hom bruusk in die rede.
“Oom Albert Siener het gespreek, laat dié wat ore het, hoor. Daar gaan bloed wees. Bloed en trane,” jil hy en kyk tartend na oom Fransjan.
“Hoor hier, jou opgestopte, aangelapte knatersak. Jou vermaledyde misbaksel!” brul oom Fransjan en begin stoftrap. Sy neusgate gaan verwoed oop en toe en sy asem kom so vinnig dat dit lyk of hy ’n toeval gaan kry.
Dit is nou net ’n kwessie van tyd voordat die twee aanmekaar gaan spring en die manne begin reeds uitkring om vir hulle plek te maak.
“Ek sê ons moet Stilbos toe om te gaan kyk wat gaande is,” doen Soois vinnig aan die hand want hy het nie besonder lus om so vroeg in die môre te staan en kyk na twee ou bokramme wat horing stamp nie. “Ek dink oom Fransjan, oom Albert Siener en neef Lukas moet by die vroue en kinders agterbly. Net ingeval. Ekself, eerwaarde Gideon en neef Hans sal bos toe gaan. Stem julle?”
Die manne knik inskiklik, maar hulle is sigbaar teleurgesteld oor die stukkie opwinding wat hulle ontneem is.
“Ons vat een van die ouer seuns en twee van die beeswagters saam om te help geweer dra,” vervolg Soois. “En Krisjan moet ook saam. Hy moet vir ons gaan wys waar presies hy die vinger opgetel het. Ons moet net seker maak van die kinders drentel nie agterna nie, want ons weet nie waarop ons gaan afkom nie.”
“Ek sal daarna oplet, neef Soois,” belowe oom Fransjan, nou kalm. “Jy hoef jou nie te kommer nie.”
“Ons sal so gou maak as wat ons kan, maar as daar teen sononder nog geen teken van ons is nie, moet oom Fransjan dadelik vir Moos en ’n paar van die knegte uitstuur om ons te kom soek. Dan kan julle maar weet iets leliks het gebeur,” sê Soois en hy voel hoe ’n onverwagse vrees hom stadig bekruip. ’n Vrees wat sy nekhare laat rys.
The post Du Toitskloof | LitNet Eerste Slukkie: Doodsroeper deur Rika Cloete appeared first on LitNet.