Ek wens soms iemand wil net vir Helen Zille en Donald Trump ’n stukkie advies in aansienlik minder as 140 karakters gee: “Bly weg van Twitter! Hou jou duime tuis!” Daar’s nog heelwat spasie oor vir emoji’s ook.
’n Week of wat gelede het Zille groot ontsteltenis veroorsaak met haar gekwetter oor die voordele van kolonialisme. Meer as dit, die daaropvolgende bekgevegte tussen haar kritici en dié wat haar naam wil beskerm, het niks, zilch, sweet boggherol vir nasiebou en samehorigheid gedoen. Wat Zille ook al wou bereik, sy het net haar naam as ’n polariserende teenwoordigheid bevestig.
Daar is al heelwat geskryf oor of haar reg op vryheid van spraak getemper is deur die kritiek teen haar. My kort antwoord: nee, maar as jy wil steun op jou reg om daai vryheid uit te oefen, kan jy nie kla as ander ook hulle reg op vryheid van spraak uitoefen om jou te kritiseer nie. Dis hoe demokrasie werk, Helen.
Hierdie rubriek delf nie in die meriete van Zille se uitspraak, of die rubriek wat sy daarna geskryf het, in nie. Wat ek wil doen, is om die horlosie terug te draai na 1652, en te probeer indink hoe hierdie land anders daar sou uitsien as Jan van Riebeeck verby gehou het en iewers anders gaan land het. Met ander woorde, hoe sou Suid-Afrika gelyk het as ons nie gekoloniseer was nie?
Ek gebruik daai “ons” vrymoediglik, want ek of iemand soos ek sou nog steeds hier wees, anders as die meeste mense wat die rubriek gaan lees.
Die basiese denkfout wat Zille in haar twiets en die rubriek begaan, is om aan te neem dat kolonialisme beskawing gebring het. Sy neem aan dat Afrika, en die inheemse stamme, ’n tabula rasa was, ’n skoon lei wat net gewag het vir koloniale goedgunstigheid om ons ongevormde klompe te kom skep.
Maar wat is beskawing? As al die frilletjies afgehaal word, is dit net ’n stel reëls wat mense leer hoe om met mekaar saam te leef sonder oorlog, moord en doodslag. Daar was reëls voordat Jan en kie hier geland het. Anders as wat Europese standaarde verlang, maar beteken “anders” noodwendig “slegter”? Ek dink nie so nie.
Daar was reëls oor hoe om stamlede wat die reëls oortree, te hanteer. Lede van die groep het saam besluite geneem oor wat met oortreders sou gebeur. Dis ’n regstelsel, en ’n juriestelsel.
Daar was ’n leierskapstruktuur. Indien die leier nie in die beste belang van die stam opgetree het nie, het hy vinnig geleer dat daar gevolge is. Iemand anders sou vinnig na vore tree en sy plek inneem, met die groep se goedkeuring. Dis ’n verkiesingstelsel.
Daar was sekere persone in die groep wat geweet het watter bessies en kruie vir watter kwale werk. Dis wat aptekers nou doen. Daar was persone wat geweet het hoe om kraamgevalle te hanteer, en hoe om wonde gesond te maak en dies meer. Dis ’n mediese stelsel.
Daar was reëls wat bepaal het hoe ouer lede van die groep hanteer moes word, hoe kinderversorging werk, hoe kos en water binne die groep verdeel sou word. Dis ’n sosiale struktuur en ’n welsynstelsel.
Daar was rotstekeninge teen mure. Stamme het om die kampvuur vergader, en stories vertel, en gesing en gedans. Dis kultuur.
Daar was sekere persone wat gejag het, sommiges wat water gesoek het, ander wat bessies en wortels gesoek het, ander wat na die kinders gekyk het. Dis werksverdeling en werkverskaffing.
Daar was uitruilings van goedere tussen verskillende stamme. Dis handel.
Die hoofde van verskillende stamme het geskille probeer besleg deur te praat voordat daar tot oorlog oorgegaan is. Dis diplomasie.
Sekere lede van die stam het opgetree as die groep se segsmanne om by die gode aan te klop vir reën, of beter jaggeleenthede of beter beskutting. Dis godsdiens.
Daar was lede wat geweet het hoe om beskuttings te maak. Dis argitektuur.
Ander lede het geweet hoe om velle te brei sodat die stam hulself kon aantrek en teen die elemente beskerm kon wees. Dis klere-ontwerp.
Kinders word geleer hoe om te jag, hoe om in die groep op te tree, hoe om spoor te sny en dies meer. Dis uitkomsgebaseerde, relevante opvoeding.
Verskillende groepe het met mekaar gekommunikeer deur ’n stelsel van klippe, tekeninge en dies meer. Daar was tromme wat boodskappe oor afstande versend het. Daar is rookseine gestuur. Dis ’n kommunikasiestelsel.
Daar was groepe wat nomadies was, terwyl ander verkies het om op een plek te bly en wortel te skiet. Dis diversifisering van kundigheid.
Daar was uitgebreidegesinstrukture. Daar was reëls vir hofmakery, en reëls vir die huwelik. Daar was meestal monogamie. Daar was ’n sosiale struktuur.
Zille maak dus ’n fout as sy dink daar was niks voor die gawe van kolonialisme op ons afgedwing was nie. En dit wás afgedwing.
En wat het kolonialisme ons gebring?
Paaie, wat ons nie sou nodig hê sonder die voertuie wat kolonialisme ons gegee het nie. Antibiotika, wat ons nie sou moes gebruik sonder die siektes wat die koloniale moondhede saamgebring het nie.
’n Regstelsel, wat ons nog steeds onderdruk en die kolonialiste die voordeel gee. ’n Politieke bestel, wat ons apartheid en funksionele diktators gegee het. Welsyn, wat ons na Esidimeni lei. Die verval van gemeenskapslewe, wat lei tot ouetehuise en weeshuise.
Drankverslawing, een gevolg van die dopstelsel, ’n koloniale geskenk aan ons. Tik, kokaïen, heroïne en ander dwelms, die gevolg van farmakologie.
Besoedeling van die omgewing, die gevolg van industrialisasie en fabrieke.
Die uitsterf van vele dierespesies, die direkte gevolg van koloniale hebsug. Hoeveel visspesies is tot uitwissing gevis sodat dit uitgevoer kan word? Hoeveel renosters en olifante is gedood vir hul horings en ivoor?
Slawerny, want die goud en diamante wat die kolonialiste gesteel het, moet deur iemand uit die grond gehaal word.
Gevegte rondom grondbesit, want die kolonialiste het geleer gemeenskaplike grondbesit is ’n slegte idee. Roof en moord, want ons was geleer dat wat ons het, nie goed genoeg is nie, daar is meer om na te strewe. ’n Opvoedingstelsel wat kinders totaal onvoorbereid vir die werklike lewe en hul rol daarin laat.
Hartsiekte, diabetes, cholesterol en dies meer, want ons was geleer ons natuurlike dieet is primitief, en ons manier van oefening doen is primitief.
Plaasmoorde sou nie bestaan nie. Struwelinge rondom taal sou nie bestaan nie. Ons sou nie nodig gehad het om onderwerp te word aan die Zilles en Trumps van hierdie wêreld nie.
Die beskawing waarin ons sou lewe, sou anders daar uitgesien het. Anders, nie beter of slegter nie. Dis waar Zille die fout maak. Sy neem aan “anders” is “slegter”. Sy impliseer koloniale meerderwaardigheid.
Dis hoekom haar twiets problematies is.
Sedert hierdie rubriek geskryf is, het die DA besluit om Helen Zille dissiplinêr te verhoor ̶ LitNet
The post Waar sou ons wees sonder kolonialisme, Helen? appeared first on LitNet.