Twee Suid-Afrikaanse musikante, Annari Breed en DuPreez Strauss, het pas op hul eerste Europese toer vertrek met die doel om Afrikaanse musiek en die groeiende ondersteuning van Suid-Afrikaanse kuns en kultuur in België en Nederland te vier.
Breed en Strauss het op 1 Maart na Vlaandere en Nederland vertrek vir ’n reeks optredes om ’n passie vir Afrikaanse musiek in die buiteland te bevorder. Hul deel hul eksklusiewe dagboekinskrywings met LitNet.
Skoolbesoek – Campus de Helix in Maasmechelen: Deel 2
Geskryf in Ghent op Woensdag 15 Maart 2017
Soos vervolg uit DuPreez se die vorige inskrywing.
Voor my en Annari sit ’n groep van ongeveer 60 Belgiese tieners en ek besef waar my effense stresaanval vandaan kom: my enigste vorige ervaring met tieners in Europa was toe ek jare gelede ’n musiekonderwyser was by verskeie skole in Londen. Die kinders was onhebbelik, ongemanierd en het nooit enige belangstelling getoon daarin om nuwe dinge te leer nie. Ek het my kort loopbaan as onderwyser beëindig die dag toe een kind ’n ander een met ’n mes bygekom het voor my klaskamer.
Ek weet niks van hierdie Belgiese kinders af nie. En ek weet amper niks oor of hulle enige konsep het van Afrikaans of Suid-Afrika nie.
“Haal asem en begin bloot eerlik en stadig,” sê ek vir myself.
Ek val in met ’n klein beskrywinkie van wat Afrikaans is: ’n taal soortgelyk aan Nederlands wat deur ’n paar miljoen mense gepraat word aan die suidpunt van Afrika.
Ek onderbreek myself vir ’n oomblik om te vra of hulle my Afrikaans verstaan. En tot my verbasing kry ek tog ’n reaksie uit die gehoor: “Ja, so 80%.”
Effe verlig begin ek om te verduidelik wat die verskil is tussen “Afrikaans”, ’n “Afrikaner”, ’n “Afrikaanse” en ’n “Suid-Afrikaner”. Ek weet hierdie konsepte is effe hoërgraad, maar dit het my opgeval hoe byna al die Vlaminge wat ek al ontmoet het, hul byvoeglike naamwoorde effens verkeerd het wanneer dit kom by ons taal en bevolkingsgroep: dikwels word daar na ons taal verwys as “Zuidafrikaans”, en hulle gebruik “Afrikaans” as ’n byvoeglike naamwoord vir enigiets wat uit Afrika kom, byvoorbeeld “De Afrikaanse natuurschoon” of “het Afrikaanse continent”. Ek het selfs al op Nederlandse Wikipedia gesien dat daar gepraat word van “De Afrikaanse staten” wanneer hulle oor die lande in Afrika praat.
Ek besef dadelik dat ek ver bo-oor hierdie kinders se koppe praat. Maar ek kom van ’n land waar daar soveel betekenis geheg word aan die verskil tussen ’n “Afrikaan”, ’n “Afrikaner” en ’n “Afrikaanse”!
Eweneens moes baie Vlaminge my al ’n hele paar keer korrigeer wanneer ek dinge kwytraak oor die “Vlaamse taal”: daar is nie so ’n ding nie! Die Vlaminge wat in die streek Vlaandere woon, praat Nederlands, of miskien ’n Vlaamse dialek van Nederlands, maar Vlaams as taal of Vlaandere as land bestaan nie.
En soos ek praat, besef ek dat ek nie eintlik deur die lewe wil gaan liggeraak oor hoe presies ek beskryf word nie, en wat al die eeue van bagasie is wat saamgesleep word deur elke term oor my, my taal, my volk of my land nie. My persoonlikheid is eenvoudig nie so nie. Dit het dalk iets te make met hoe ek dikwels wegskram van politiek af. My oortuiging was nog altyd, so lank as wat ek kan onthou, dat die Afrikaner eenvoudig te veel van ’n kanniedoodgees het om toe te laat dat ’n bietjie onderdrukking hom en sy taal gaan laat uitsterf. Oral waar ek kyk, sien ek meer en sterker Afrikaanse kultuur, musiek en kunstefeeste as ooit tevore! Dit maak nie saak wat die aanslae van buite is nie – binne-in myself en die meeste Afrikaners wat ek ken, is daar ’n brandende gevoel van selfbehoud wat altyd sal beteken dat ons ons taal en kultuur sal bedryf – en ’n taal wat gebruik word, is ’n taal wat leef en groei.
Op daardie oomblik kom ’n draaipunt in ons gesprek met die Belgiese tieners voor my, soos ek besluit om van ratte te verwissel na ’n trant in ligter luim. Ek vra of enigiemand in die klas iets weet van Suid-Afrika; en kan jy glo – daar agter gaan ’n hand op wat uitskree “braai!”. Met groot trots begin ek vertel van Nasionale Braaidag wat ons hele Suid-Afrikaanse nasie saamsnoer elke jaar op ’n dag wat oorspronklik baie anderse politieke konnotasies gehad het.
Nog ’n hand gaan op en roep “biltong!”. En my bors swel van trots – kyk, as daar nou een ding is waarvoor my volkie maar wêreldberoemd mag wees, dan is dit biltong.
Ek is skoon verlig en effens verwonderd dat die eerste ding wat hierdie kinders uitgeskree het, nié “apartheid!” was nie. Dit gee my hoop …
The post Afrikaans in die Laaglande-toerdagboek: inskrywing 6 appeared first on LitNet.