Alle hel is los op Stellenbosch. Die poppe dans behoorlik nadat ʼn spesiale senaatsvergadering van die universiteit aanbeveel het dat Engels van volgende jaar die hooftaal van onderrig sal wees by dié voormalige bastion van Afrikaans as akademiese taal.
Sommige sê reguit almal is mislei deur die universiteit se taalbeleid. Ander meen weer dit was onafwendbaar omdat Engels in elk geval die algemene spreektaal in Suid-Afrika geword het.
Die voorstelle sal op 30 November aan die US-raad voorgelê word. Indien dit goedgekeur word sal studente in koshuise en ander leefomgewings ook Engels as omgangstaal by huisvergaderings en ander amptelike geleenthede moet gebruik.
Die digter Breyten Breytenbach sê hierdie Vrydag die dertiende sal onthou word as die dag waarop die onverantwoordelikheid, gemaksugtigheid, domheid en ruggraatloosheid van die universiteitsowerhede vir 'n oomblik in die geskiedenis duidelik was vir almal om te sien, insluitende dié wat nou hulle "oorwinning" vier. Dis 'n skande wat onthou sal word, het hy gesê.
Daar heers groot verdeeldheid oor die voorstelle onder die US se alma maters, skrywers, digters en die breë publiek.
Piet Croucamp, ʼn oud-Matie en politieke kommentator wat klasgee aan die Universiteit van Johannesburg, sê die besluit was onafwendbaar.
“Gegewe die politieke klimaat waarin universiteite funksioneer, het die visekanselier van die US byna geen alternatief as om regime-skuiwe aan te bring wat die taalbeleid van die universiteit betref nie. Die stryd rondom die behoud van Afrikaans duur reeds jare en bereik nou ʼn crescendo in ʼn groot mate as gevolg van die ekonomiese werklikhede van Suid-Afrika.”
Croucamp sê die vraag is nie meer of ʼn bepaalde taalbeleid “die regte ding is om te doen” nie, maar eerder of ons dit kan bekostig. “Die behoud van Afrikaans aan Stellenbosch het beide ekonomies en polities ʼn luukse geword wat ons nie meer kan bekostig nie. Dis ʼn baie dapper besluit van Wim de Villiers en ʼn teken van pragmatiese leierskap wat eintlik al baie raar geword het in Suid-Afrika.”
Die digter Joan Hambidge, professor in Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad, sê die teerling is gewerp, behalwe as die personeel hulle gaan verset teen die rektor se besluit.
Die komplekse debatte rondom Afrikaans as voertaal word met so 'n aankondiging geminag, sê sy.
“Afrikaans is 'n wetenskaptaal met woordeboeke, gerekende skrywers en 'n veelrassige taalgemeenskap wat hiermee spreekwoordelik van die tafel gevee word. Dit was immers Caesar se woorde toe hy die Rubicon oor is in 49 vC: 'Die teerling is gewerp'.”
Sy het laat Donderdagaand van die besluit gehoor en sê die reaksie was oorweldigend een van skok.
Hambidge sê hierdie aksie is deel van die neopolitieke korrektheid wat tans ons universiteite verswelg. “Hoofde van universiteite is besluiteloos en word deur oningeligte drukgroepe rondgeslinger soos 'n skippie in 'n storm. Open Stellenbosch-forum en die verpolitisering van Afrikaans het waarskynlik agter die skerms 'n rol gespeel.”
Wie het die rektor die mandaat gegee om so 'n aankondiging te maak? vra sy. “Het hy met gesiene taalkenners en filosowe onderhandel? Wie sit op die 'language task teams'? Is dit waar dat hy nie die senaat se goedkeuring het nie? Die senaat is die ruimte waar so iets goedgekeur word, nie andersom nie. Selfs die opskorting van Grieks 101 moet deur die senaat gaan.”
Sy voorspel daar sal 'n groot gefladder wees. “PEN-Afrikaans sal reageer, briewe sal deur Die Burger tsoenami en Afrikaanse mense sal in alle waarskynlik gryp na vlugsout, Groot verseboek en CP Hoogenhout se 'Vooruitgang' aanhaal:
Engels! Engels! Alles in Engels! Engels wat jy sien en hoor;
in ons skole, in ons kerke word ons moedertaal vermoor.
En dan sal almal nogmaals besef hoe die wol oor ons oë getrek word. Die aftog blaas en weet dat Hermann Giliomee dit al lank terug voorspel het.” Volgens haar moet die taalkwessie gelees word teen die agtergrond van #rhodesmustfall/#feesmustfall “wat (as ek my nie verbeel nie) ontaard het in volledige anargisme”. “Die aanvanklike protes oor fooie en taal het nou wapens geword in die hande van die massas wat dreig, beset, brand, intimideer; eksamens word selfs geskryf met sekuriteitswagte in die agtergrond aan die UK.
Ek het aan die Universiteit Stellenbosch studeer en as alumna verset ek my teen hierdie besluit wat essensieel dui op onkunde, opportunisme en al die sinonieme. O ja, ek sien mense mag protesteer met geen vrees vir viktimisasie nie. O moenie huil nie, o moenie treur nie, die Stellenbosse boys kom weer.”
Breyten Breytenbach sê dit maak eintlik nie saak hoe die rektor se bestuurspan se aanbeveling/besluit betreffende die Universiteit Stellenbosch se taalbeleid ingeklee, bewimpel of opgedollie word nie.
“Dis beledigend en aanstootlik dat 'demokrasie' soos 'n vrot vis voorgehou word om die stank van die karkas wat hierdie hele proses is te probeer verdoesel.” Lees sy volledige reaksie hier.
Die bekende opvoedkundige Michael le Cordeur het twee gedigte oor die gebeure geskryf wat só lui:
"‘n Lewe sonder jou"
Figuurlik gesproke
As iemand vir wie jy baie lief is
terminaal siek is,
wens jy soms die dood moet intree.
Maar die dokters wil nie luister nie ...
Hulle hou haar kunsmatig aan die lewe ...
Eers ‘n paar pille, dan medisyne.
Later chemoterapie, selfs ‘n operasie of twee.
En steeds word sy swakker …
Dan, op 'n dag,
sit hulle die masjiene af.
Sommer net so.
Jy ken die onvermydelike
en begin voorberei.
Jy stel die begrafnisbrief op en weet:
Wie die sprekers gaan wees,
watter teksvers gelees gaan word,
watter gesange gesing gaan word.
Al wat kortkom, is die sterfdatum:
– Michael le Cordeur, 12 November 2015
"Die werklikheid"
Ek sal jou altyd liefhê,
steeds artikels skryf
in jou idioom en my variant
met jou praat as niemand anders my hoor,
blomme op jou graf sit as jy verjaar.
Maar nou is dit tyd om aan te gaan.
Daar’s geen hartseer, geen trane van blydskap.
Om die waarheid te sê
daar’s niks …
Kan ons nou fokus op ons eintlike taak:
Om die jeug aan ons toevertrou
te slyp vir die uitdagings van môre.
En vir ‘n lewe sonder haar.
Asseblief?
– Michael le Cordeur, 12 November 2015
Vir die skrywer Jaco Kleyn, outeur van Donkerkamer en eersdaags Ampule, is die taalstryd veral op universiteite ʼn goeie voorbeeld hoe taal verpolitiseer kan word en uiteindelik as wapen in ʼn rassestryd gebruik kan word. “Dit is teenproduktief en berei myns insiens nie werklik die student voor vir ʼn internasionale werksplek nie. Laastens moet ʼn mens ook die vraag vra: ʼn Eerstejaar wat nie Engels kan praat of ten minste lees en verstaan nie - is hy of sy werklik gereed om daar te wees?”
Hy sê een ding wat hom pla oor die geveg om Afrikaans en al die inheemse tale behoue te laat bly in universiteite is die volgende: Engels is tog ʼn baie meer internasionale taal as Afrikaans. Sal dit nie beter wees as skoliere dan maar in die moedertaal onderrig ontvang maar universiteite in Engels nie? Soos dit nou gaan weet ek in elk geval nie waar die geld vandaan gaan kom om meertaligheid in stand te hou nie.”
Theo Bekker van die Noordwes-Universiteit het in sy persoonlike hoedanigheid gesê Afrikaans as akademiese en beroepstaal is onder geweldige druk. Nie net vanuit owerheidsgeledere nie, maar ook as akademiese taal en in sowel die openbare as privaatsektor.
Hy sê die werklikhede waarmee die tradisionele Afrikaanse universiteite gekonfronteer word kan nie weggewens word nie.
“Tolkdienste werk om verskeie redes nie en daar is ʼn toenemende verset teen die gebruik van die stelsel.”
Veeltaligheid is doodgewoon nie haalbaar nie, sê Bekker.
Ander werklikhede waarmee die tradisionele Afrikaanse universiteite gekonfronteer word is volgens hom die toeganklikheid van nie-Afrikaanssprekende studente en veral in ʼn toenemende mate internasionale studente as gevolg van die taalbeleid.
Hy sê universiteite word as 'n nasionale bate beskou en moet die breë gemeenskap dien. “Afrikaanse akademici publiseer in ʼn mindere mate in Afrikaans as gevolg van internasionale erkenning.”
Handboeke is hoofsaaklik in Engels en internasionale akademici het ʼn taalprobleem as hul klasse vir ʼn semester of langer moet aanbied, sê hy.
Nog een van die werklikhede is dat openbare werkgewers en Staatsdiens Engels gebruik as die kommunikasiemedium. Dan moet die koste verbonde om klasse in beide Afrikaans en Engels aan te bied en dalende Afrikaanse studentegetalle ook in gedagte gehou word.
Bekker sê dit laat natuurlik ruimte vir private tersiêre instellings om wel in hul voorkeurtaal te onderrig.
Wannie Carstens van die Potchefstroomse Noordwes-Universiteit sê in sy hoedanigheid as akademikus en taalkundige was hy uiters geskok toe hy dit via die media verneem. “Ek sou darem verwag het dat ek as Raadslid vooraf daaroor ingelig word. Die proses rakende die taalbeleid is nog aan die gang en wat nou die wêreld ingestuur is, is 'n besprekingsdokument. Dit is egter (swak) gekommunikeer asof dit 'n besluit is - verre daarvandaan!”
Sy reaksie is nie in sy hoedanigheid as raadslid nie. “Die raad moet eers daaroor besin alvorens enige besluit geneem kan word,” sê hy.
“Uit die dokument sou 'n mens beslis kan aflei dat Engels nou 'gewen' het en dat daar teruggestaan word van wat die rektor vroeër vanjaar by sy inhuldiging gesê het. Dit skep ook die indruk dat 'n klein drukgroep die US kan dwing om na hulle pype te dans. In hierdie proses is 'n groot belanghebbende groep, soos die konvokasie van die US, nie by die gesprek betrek nie. En die persepsie van misleiding is natuurlik ook geldig.”
Die besluit sal Afrikaans as akademiese taal volgens Carstens beduidend raak hoe mens ook al daarna kyk. “Onthou dat dit 'n strewe van elke taal is om die hoogste moontlike funksie vir 'n taal te verkry: die gebruik van die taal as taal van die wetenskap. In hierdie proses word dit dan ook 'n taal van onderrig aan universiteite. Afrikaans het hierdie funksie al teen 1920 verwerf. En in 2016 is daar planne om dit aan SA universiteite weg te neem.”
Enige taal wat in kompetisie met Engels is, gaan onvermydelik tweede kom, gewoon omdat Engels wye internasionale gebruik het, sê Carstens. Die plaaslike taal moet dan met die internasionale een meeding en die uitkoms daarvan is 'n gegewe - die langtermynafskaling van die kleiner taal.
“Natuurlik is dit nie universiteite se taak om tale te bevorder nie, maar as 'n bepaalde taalgemeenskap 'n vraag na moedertaalonderrig het en 'n universiteit (soos die US) dit oor jare aangebied het en selfs 'n reputasie daarop gebou het en in hierdie proses ʼn top-universiteit geword het, dan is daar die vraag of die taalgemeenskap se belange nog steeds aan die betrokke universiteit gedien word.”
Die skrywer Carel van der Merwe sê mens wil nie graag oorreageer op koerantberigte nie, maar sy indruk is dat die Universiteit Stellenbosch se bestuur en van sy akademici nou oorhaastige besluite maak onder druk van luidrugtige minderheidsgroepe wat (nieteenstaande hul vrome uitlatings) politieke en ander appeltjies met die Afrikaanse taalgemeenskap te skil het.
“Ek het in die middel-1980's aan die US studeer, en reeds toe was daar ’n beduidende klomp Engelssprekende studente, maar nooit was daar hierdie probleme nie. Ek vermoed dus dat groter magte as net studente nou betrokke is. En van wanneer af het Engels nou die de facto amptelike taal van Suid-Afrika geword?”
Hy sê die onbetwisbare feite is al tot vervelens toe herhaal, maar daar moet onthou word die Universiteit Stellenbosch het sy ontstaan grootliks te danke aan ’n ontsaglike skenking van Jannie Marais ’n eeu gelede.
’n Voorwaarde van hierdie skenking was dat Afrikaans/Nederlands nooit ’n mindere plek as Engels aan die universiteit mag beklee nie. “Ook moet nie vergeet word dat Jannie Marais en sy familie oor die jare ook talle geboue en ander fasiliteite aan die universiteit geskenk het nie.”
Van der Merwe sê nie alleen is Afrikaans ’n amptelike en akademiese taal nie, maar is dit ook die moedertaal van ’n beduidende deel van die land se bevolking, veral in die Wes-Kaap. “Sekerlik het hierdie taalgemeenskap die grondwetlike reg om in hul eie taal onderrig te word, veral in ’n instelling en in ’n akademiese taal wat hul gemeenskap self help skep het. Natuurlik het ander taalgemeenskappe buiten Engels- en Afrikaanssprekendes ook die reg om in hul eie tale onderrig te word, maar as die behoefte regtig bestaan, moet hulle daadwerklik eie skouer aan die wiel sit.”
From the archive: The role of African universities in the intellectualisation of African languages
2006-01-17 "It is essential at this point to repeat that we cannot have an African renaissance without the development and intellectualisation of African languages." |
The post Afrikaans by US: Denkers sê hul sê appeared first on LitNet.