Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21138

Standpunte oor menslike reproduktiewe kloning: ’n verkenning en samevatting van die literatuur

$
0
0

Standpunte oor menslike reproduktiewe kloning: ’n verkenning en samevatting van die literatuur1

Handré Brand

Identiese tweeling (Fotobron: IMGUR)

Opsomming

Die doel van hierdie artikel is om ’n bondige en ’n ewewigtige oorsig van die beskikbare en tersaaklike literatuur, insluitende standpunte, navorsingsbevindings, argumente en gevolgtrekkings, oor menslike reproduktiewe kloning (MRK) saam te stel, sodat die noodsaaklike narratief oor hierdie uiters relevante onderwerp sinvol en objektief verder gevoer kan word. Hierdie literatuuroorsig is hoofsaaklik van ’n verkennende aard, wat beteken dat die bestaande literatuur ondersoekend, maar ook krities ontleed word en daar terselfdertyd teen die daarstelling van finale antwoorde op ingewikkelde vraagstukke gewaak word.  

Regskundig gesproke word MRK in sekere lande (byvoorbeeld Suid-Afrika) streng deur doeltreffende wetgewing gereguleer. Ten spyte van Unesco se verklaring dat MRK ’n verbode aktiwiteit is, ontbreek oorkoepelende federale wetgewing in die VSA, wat die regulering van die proses bemoeilik. Sekere Europese lande val in dieselfde kategorie.

Die risiko’s wat met MRK gepaardgaan, insluitende die biologiese, spirituele, geregtelike en psigososiale fasette is kompleks en subtiel en op hierdie stadium nie deurgaans altyd objektief bewysbaar nie. Die risiko’s word egter duidelik in die literatuur vermeld, asook die moontlike nadelige uitwerkings van ’n besluit ten gunste van MRK deur ’n bepaalde egpaar met verloop van tyd op die latere individuele funksionering van die betrokke gesinslede en die gesinsisteemdinamika.

Die reg op voortplanting word universeel as ’n basiese mensereg beskou. Vanuit ’n filosofiese vertrekpunt mag gevolglik nie met die mens se vryheid van keuse tot reproduksie ingemeng word nie. Die argument dat menslike kloning eerder as biologiese “duplisering” (met ander woorde iets anders as biologiese reproduksie) gesien behoort te word, hou ook nie stand nie, omdat ’n volkome en perfekte replika van ’n selnukleusskenker se DNS onmoontlik is.

Die sterkste argumente ten gunste van MRK kom uit die konteks van die onvrugbaarheidsberoep, omdat hierdie tegniek deur sommige as ’n alternatiewe wyse gesien word om ’n swangerskap te bewerkstellig wat andersins onmoontlik sou wees waar manlike en vroulike steriliteit by ’n egpaar voorkom. Hierdie gevolgtrekking word uit sekere oorde as omstrede en hoogs aanvegbaar bestempel. Daarteenoor is min logiese en deskundige argumente geboekstaaf waarom menslike kloning nie as ’n alternatiewe keuse teenoor kunsmatige skenkerinseminasie beskikbaar gestel kan word nie. Dit is wel waar dat indien MRK vir pasiënte met ’n formele infertiliteitsdiagnose (wat daarop dui dat terapeutiese inseminasie deur middel van manlike skenkergamete die enigste logiese uitweg is on ’n swangerskap te bewerkstellig) goedgekeur sou word, dit as ’n voet-in-die-deur-argument gebruik sou kon word om ook andersoortige toepassings buite die infertiliteitsprofessie amptelik goedgekeur te kry.

Die meer konserwatiewe groeperinge in die samelewing wat MRK wil wegwens, gaan egter nie maklik kan “ontsnap” van die verdere ontwikkelinge op die gebied van MRK nie, tensy wetgewing spoedig die praktyk konsekwent wêreldwyd verbied. Wat die huidige betref, is die enigste logiese uitweg om in ooreenstemming met Robertson se denke op te tree en ouerskap, hetsy biologies of biotegnologies geïnduseer, minder as ’n bedreiging en meer as ’n uitdaging te sien.

Trefwoorde: biomedies; biotegnologie; DNS; embrio; infertiliteit; kloon; menslike reproduktiewe kloning; partenogenese; selnukleusoordrag; solo-reproduksie; stamsel

 

1. Inleiding

[Asexual)] reproductive technology raises important issues. Yet it is less a threat to existing procreative values than an opportunity to realize them, thereby helping women and men to connect with new generations, or not, as they choose. (Robertson 1986:1041)2

The creation of clonal embryos is the necessary first step toward the creation of clonal human beings and paves the way for the creation of designer babies, that is, children who have been genetically modified to suit parental preferences. (Malik e.a. 2016:80)3

Harold Schmeck (1998), ’n lid van die Nieman-stigting aan Harvard-universiteit en ’n voormalige wetenskapjoernalis van die New York Times, verwys op ’n humoristiese wyse na onkonvensionele bioloë se reaksies op hul meer konserwatiewe eweknieë se beskouings van nuwe en opspraakwekkende snykant tegnologiese ontwikkelings, byvoorbeeld geteikende genoomredigering (kyk Specter 2016). Hierdie reaksies strek gewoonlik oor drie kenmerkende fases: (1) “Dit is onmoontlik, niemand sal dit ooit kan doen nie.” (2) “Dit kan gedoen word, maar dit strook nie met die wette van God en die mens nie, en behoort daarom verbied te word.” (3) “Dit is eintlik niks nuuts nie. Om die waarheid te sê, ek het die metode reeds tien jaar gelede toegepas, maar ek het die resultate ongelukkig nooit gepubliseer nie.”

Wat menslike reproduktiewe kloning (MRK) betref, is oor die afgelope 20 jaar wêreldwyd uitsonderlike wetenskaplike vooruitgang gemaak. Dit kan met ’n redelike mate van sekerheid aanvaar word dat die “fases” waarna Schmeck verwys, vandag reeds gedokumenteerde geskiedenis is. Schmeck hou natuurlik nie rekening met die feit dat aanverwante kwessies soos sielkundige, etiese en internasionale regs- en teologiese effekte allermins volledig en objektief oor dieselfde periode nagevors en gedokumenteer is nie. Schmeck sou ook by wyse van terugskouing moes erken dat menslike kloning vandag in sekere lande meer doeltreffend deur middel van wetgewing gereguleer word as in ander. Die ontwikkeling van die tegnies-wetenskaplike aspekte van die vakrigting biotegnologie verteenwoordig dus een kant van die muntstuk, en gelyklopend daarmee saam behoort ook die regs-, morele, sielkundige en etiese kennis oor die onderwerp te ontwikkel.

Aan die ander kant van die muntstuk beweeg die nietegniese dissiplines tans nog in die spreekwoordelike “afskop”-fase rond, hoofsaaklik omdat daar (sover bekend) amptelik geen biologies-gekloonde individue op rekord is wie se ontwikkeling en dinamika kwalitatief deur middel van gevallestudies bestudeer kan word nie. Die werklikheid waarmee rekening gehou en waaroor Schmeck gelyk gegee moet word, is dat MRK op hierdie stadium nie bloot ’n illusie is van ’n momentele krisis wat spontaan sal verdwyn, opklaar of weggewens kan word nie, maar veel eerder ’n dramatiese begin is van ’n proses wat gekom het om te bly. Internasionale regulerende beheer van MRK is tans eenvoudig nog nie op ’n standaard wat wel nodig is nie.

Teenoor die standpunte dat MRK eenvoudig onafwendbaar is, is daar ook ander kante van die diskoers waar die rem behoorlik aangedraai en daar tot versigtigheid en realisme gemaan word. Die veiligheidsbeginsel in die wetenskap (kyk die Wingspread Statement, 1998, wat by die dokumentasie van die Amerikaanse Omgewingsnavorsingstigting ingesluit word) stel dit duidelik dat alle moontlike gevolge voortspruitend uit wetenskaplike navorsing vooraf duidelik uitgespel en aan die wetenskaplikes en publiek bekendgemaak moet word. Dit beklemtoon die belangrikheid en voordele van ’n versigtige, konserwatiewe benadering: “[W]hen an activity raises threats of harm to human health [...] precautionary measures should be taken” (Harris 2004:13). Indien MRK gevolglik ’n werklikheid is wat prakties uitgevoer kan word, behoort die proses  versigtig en met die nodige voorsorgmaatreëls bestuur te word.

Die voorstanders van die proses, soos Harris (2004), voer verder aan dat die ontwikkeling en uitbouing van die biotegnologie aan bande gelê word deurdat lidlande van die Europese Unie (EU) en die Verenigde Koninkryk (VK) wetgewing opgestel het (of aan die opstel is) wat die uitvoering van MRK uitdruklik verbied. Baylis (2002) sluit hierby aan en maak ’n saak daarvoor uit dat die huidige diskoers oor voor- en nadele van MRK vir die individu uitgedien is. Die nuwe weg om in te slaan is die uitbouing van argumente oor die optimaliseringspotensiaal wat kloning vir die menslike spesie inhou. Morales (2009:19) argumenteer dat ’n gekloonde persoon nie die nukleusskenker se eienskappe in so ’n mate sal toon dat sy/haar individualiteit en ’n eie identiteit prysgegee word nie. Morales beveel aan dat ’n nuwe benadering in die sosiale wetenskappe uitgewerk moet word om hierdie onafwendbare en dramatiese veranderinge in die sosiaal-sielkundige konseptualisering van die menslike natuur te akkommodeer (2009:42). Die rede daarvoor is dat nuwe beskouings en konseptualiserings van die konstruk menslike skepping dringende aandag behoort te ontvang.

Met ’n fokus op implikasies vir die individu wys Hunter (2016:711) daarop dat presiese diagnosering deur middel van algoritmes in die presisiegeneeskunde (“precision medicine”) nie noodwendig tot ooreenstemmende presisie-terapeutiesebehandelingstrategieë vir pasiënte aanleiding gee nie. Wat behandeling betref, gaan presiese en foutlose diagnostiese prosedures (bv by onkologie) met onsekerheid gepaard. Jansen en Mayer (2016) toon aan dat onkoloë (net soos by MRK) ten spyte van tegnologiese presiesheid nooit volkome seker kan wees van die effek van snykunde, bestraling en chemoterapie afsonderlik of in kombinasie op die prognose van ’n bepaalde pasiënt nie. By wyse van analogie word die volgende vraag gevra: Watter toekomstige implikasies, risiko’s en onsekerhede kan biotegnologietegnieke soos MRK, wat in die laboratorium met presisie uitgevoer word, vir die latere sielkundige ontwikkeling van ’n gekloonde individu inhou?  

Behalwe die moontlike sielkundige effek op die latere ontwikkeling van die gekloonde individu is menslike kloning ’n onderwerp wat met intense emosie by die algemene publiek gepaardgaan. Uitlatings soos die humoristiese siening van Schmeck (1998) kan dalk ’n bydrae lewer om die emosies van die publiek tydelik te temper en meehelp om dié vraagstuk eerder op ’n realistiese en ewewigtige wyse te benader, alhoewel ’n fyn balans noodsaaklik is om sinvol om te gaan met hierdie nuwe toepassing van die genetiese manipulasie wat Selin (2016) as “tinkering with humans” bestempel. Selin (2016) se waarskuwing oor peutery met genome verwys na die doelbewuste tegniese manipulasie van die biologiese basis van die mens, en voortvloeiend daaruit manipulasie van die basiese identiteit van die mens.

Die drie oorkoepelende navorsingsvrae van hierdie artikel is gevolglik: (a) Wat behels die risiko’s vir die menslike spesie indien toekomstige toepassings van MRK as ’n biotegnologiese proses uitgevoer word? (b) Is dit realisties om te verwag dat die uitvoering van ’n revolusionêre biotegnologiese proses soos MRK ’n “gelukkige einde” vir alle betrokkenes kan oplewer? (c) Wat word met ’n “gelukkige einde vir alle betrokkenes” bedoel?

Van Niekerk (2012:584) se filosofiese vraag oor die effek van verbetering in die biomediese wetenskap sluit by die drie navorsingsvrae aan. Van Niekerk (2012:585) kom tot die gevolgtrekking dat “verbetering” nie noodwendig tot ontnugtering en demoralisering aanleiding hoef te gee nie, maar dat ook antisipasie, verwagting en verwondering (“our sense of wonder”) die gevolg kan wees, “nie slegs van ’n konfrontasie met die onbekende nie, maar ook van die uitkoms van ontdekking”.

Die spesifieke vrae wat hier onder volg, vloei voort uit die drie voorgaande oorkoepelende  navorsingsvrae: Wat kan op hierdie stadium van hierdie spreekwoordelike biotegnologiese “wedloop” uit die literatuur afgelei word? Wat is die gepaardgaande risiko’s en geantisipeerde verloop van ’n sensitiewe en ’n mynveldagtige “ontdekkingsreis” oor MRK? Behoort die proses as ’n bedreiging of ’n geleentheid (kyk Robertson 1986) gesien word? Wat sou die motivering van ’n individu kon wees om ’n ontwerpersbaba in die lewe te bring? (Kyk Malik ea 2016:80.)  

 

2. Doel

Die doel van hierdie artikel is om ’n samevatting van reeds gepubliseerde navorsing oor MRK in die nietegniese dissiplines (soos die teologiese, filosofiese, regs- en sielkundige rigtings) daar te stel, die inligting te integreer en (waar toepaslik) krities te evalueer.  Tentatiewe aanbevelings word gemaak oor watter aspekte van MRK vir toekomstige gesprekvoering, navorsingsbeplanning en voorkomende hulpverlening oor hierdie ingewikkelde en delikate proses oorweeg kan word.

 

3. Metodologie

Hierdie literatuuroorsig is hoofsaaklik van ’n verkennende aard, wat beteken dat die bestaande literatuur ondersoekend, maar krities, ontleed word en daar terselfdertyd teen die daarstelling van finale antwoorde op ingewikkelde vraagstukke gewaak word. Die onderliggende redeneringsproses was dus hoofsaaklik deduktief (Ellerton 2016) van aard, omdat die implikasies van die inligting wat reeds in die literatuur beskikbaar is, ontleed en verder verhelder word. Die omvang van die literatuurstudie is beperk tot die literatuur wat beskikbaar en verkrygbaar was. Elektroniese bronne (soos joernaalartikels, webtuistes, inligtingstukke, amptelike dokumente, boeke, simposiumverrigtinge, koerante, blogs en koerantberigte) wat in databasisse soos Research Gate, Google Scholar, Academic Search Premier, ATLA Religion Database, e-Book Collection, E-Journals, ERIC, PSYCH, Index to Legal Periodicals Masterfile Premier en Medline beskikbaar is, is onder die bronne wat in hierdie literatuurontleding gebruik is.

Wat die spektrum van die literatuuroorsig betref, kan dit as ’n gefokuste (“narrow-scope”) benadering bestempel word, omdat meestal op bronne uit die sosiale wetenskappe en in ’n beperkte mate op die regte gefokus word, die skrywer met agtergrond en opleiding in die sielkunde nie aanspraak kan maak op diepgaande akademies gegronde kennis van die ander betrokke vakgebiede nie, die finale insluiting van die bronne op ’n keuse deur die artikelskrywer neerkom op grond van besluitneming of die broninligting relevant is en/of ’n wesenlike bydrae tot die navorsingsvraag lewer al dan nie, en die feit dat navorsing oor terapeutiese kloning asook reproduktiewe kloning by diere en vakkundige inligting oor biotegnologie uitgesluit is.

Abstrahere Academic se “Critical Reading Box”-funksie is gebruik as ’n raamwerk vir die identifisering van bronne, bestudering en opsomming van tekste, formulering van raakpunte tussen verskillende teksinhoude en die kritiese teksontleding, evaluering en onttrekking van nuwe en oorspronklike insigte uit literatuur.

 

4. Omskrywing van terme en begrippe

Die terme en begrippe wat vervolgens beskryf word, is na alle waarskynlikheid nie bekend aan die meeste gemiddelde lesers nie, en word kortliks omskryf omdat dit kernbegrippe binne die konteks van MRK is wat in die res van hierdie artikel gebruik word.

Die term kloon is volgens die aanlyn Etimologiewoordeboek afgelei uit die Grieks (klon), wat ’n tak of vertakking (“twig”) beteken. ’n Kloon is ’n identiese kopie van ’n oorspronklike of gekloonde organisme. Die term verwys nie uitsluitlik net na die kloning van volledige individue/mense nie, maar ook na molekules (soos DNA of deoksiribonukleolusuur) en selle.

Volgens die Nasionale Gesondheidswet (2003) verwys menslike reproduktiewe kloning na die manipulasie van genetiese materiaal met die doel om ’n mens te produseer en sluit in selnukleusoordrag of embrioverdeling ten einde hierdie doel te bereik.

Menslike kloning sluit ’n paar basiese stappe in (Suid-Afrikaanse Agentskap vir die Bevordering van Wetenskap en Tegnologie sj), naamlik die verwydering van ’n sel van die organisme (persoon) wat gekloon gaan word, die verwydering van die kern of nukleus van hierdie sel en die verwydering van ’n bevrugte menslike eiersel se kern en vervanging daarvan met die kern van die sel van die organisme wat gekloon moet word, hetsy deur middel van selfusie of ’n inspuiting. Die eiersel word deur middel van elektriese stimulasie of ’n chemiese reaksie toegelaat om te groei en dan in ’n surrogaat se uterus ingeplant (Harris 2014).

In aansluiting hierby is ’n genoom die volledige getal chromosome van ’n gameet. ’n Gameet is óf die manlike óf die vroulike geslagsel waarvan twee teenoorgesteldes benodig word om bevrugting te bewerkstellig. ’n Sigoot is ’n bevrugte eiersel (Elektroniese Woordeboek van die Afrikaanse Taal 2014).

’n Stamsel is ’n ongedifferensieerde sel van ’n meersellige organisme wat in staat is om in meer selle van dieselfde tipe, of in ander tipes selle deur middel van differensiasie te ontwikkel.

Inhorn en Tremayne (2016:424) vat die proses van MRK soos volg saam: “With virtually all of these technologies, sperm and eggs are retrieved from bodies, embryos are returned to bodies, and sometimes they are donated to other bodies or used for the purposes of stem cell and other forms of medical research.”

Volgens Harris (2014) is die konseptualisering deur Inhorn en Tremayne (2016) te eng en sal dit foutief wees om aan te neem dat die gekloonde persoon die genetiese afstammeling van slegs die nukleusskenker is. Die gekloonde persoon sal die genetiese afstammeling wees van beide die nukleusskenker en die ouers van die nukleusskenker. Die gekloonde produk ontspring dus uit twee verskillende genotipes. Levick (2006) sê verder dat volledige genetiese oordrag tussen ’n persoon en ’n selfkloon moontlik is slegs indien ’n vrou ’n eiersel asook die nukleus van een van haar eie somatiese selle vir oordrag na die eiersel skenk.

Daar moet nie ’n enkelvoudige betekenis aan die term kloning gekoppel word nie. Ook die proses waardeur identiese tweelinge op ’n natuurlike wyse (maw tydens ’n normale swangerskap) uit embrioverdeling ontwikkel, kom op kloning neer. Kunsmatige embrioverdeling (“embryo splitting”, “twinning of blastomeres”) word reeds in kunsmatigeteeltprogramme met diere deur middel van somatieseselnukleusoordag gebruik (en op ’n eksperimentele wyse by die mens: “Human embryo splitting has so far been reported on genetically abnormal embryos only in abstract form. These embryos were obtained from IVF cycles and were donated for research. They were split at early cleavage stages, coated with artificial zona pellucida [die dik, deursigtige membraan rondom die ovum] and cultured in vitro” (Illmensee en Levanduski 2010:57).

Somatieseselnukleusoordag vir stamselproduksiedoeleindes is ’n wetenskaplike tegniek wat in terapeutiese kloning, niereproduktiewe kloning of wetenskaplike kloning gebruik word: “Reproductive cloning is the use of technologies including somatic cell nuclear transfer to create offspring with the shared genomic material of the original person” (Daar ea 2016:1).

By stamselterapie of terapeutiese kloning (Harris 2014) word die prosedure begin met ’n sigoot wat deur middel van selnukleusoordrag ontwikkel is. Die nukleus is afkomstig van ’n sel van die persoon wat die oorplanting moet kry. Die sigoot groei tot die blastosiststadium. Die stamselle word hierna van die embrio geoes en in vitro vermeerder. Hierdie selle is geskik vir oorplanting omdat die selle geneties afgepaar of gekoppel is (“matched”) met die nukleus wat oorspronklik van die skenker geneem is. Die potensiaal is dus daar om ’n wye spektrum van siektes, onder andere Alzheimer se siekte, meervoudige sklerose, Parkinson se siekte, beroerte, diabetes, kanker, osteoporose en spierdistrofie, te genees.

Die enigste verskil tussen terapeutiese en reproduktiewe kloning (Dovey 2015) is dus dat die embrio(’s) in die geval van terapeutiese kloning nooit na ’n baarmoeder oorgedra word nie.

 

5. Ontwikkeling van MRK oor die afgelope 130 jaar

Die geskiedkundige verloop van MRK word hier baie kortliks beskryf. Alhoewel die vordering met die tegniek as asemrowend beskryf kan word, bestaan sekere “blinde kolle” in die tegnologie waarop gewys moet word in aansluiting by die doel van hierdie studie.

Die vroegste teoretici wat op die terrein van embrionale selle navorsing gedoen het, was August Weismann en die embrioloog William Roux (http://www.medicaldaily.com/history-cloning-dolly-sheep-241287). Hulle kan dus as die ware baanbrekers op die terrein van kloning bestempel word.

Volgens die Genetic Science Learning Centre aan die Universiteit van Utah (http://learn.genetics.utah.edu/content/cloning/clonezone) het Dreisch die teorie en hipoteses van Weismann en Roux verder ondersoek en in 1885 waargeneem dat indien tweesellige embrio's van seeanemone geskud word, selverdeling outomaties plaasvind. Ná verdeling het elke sel in ’n aparte seeanemoon ontwikkel. In 1902 het Spemann die embrionale selle (op die tweeselstadium) van ’n salamander geskei. Hierdie selle klou heelwat taaier aan mekaar as die embrionale selle van die seeanemoon.

Briggs en King het in 1952 die eerste suksesvolle selnukleusoordrag gedoen. In 1975 het Bromhall die eerste soogdierembrio deur middel van selnukleusoordrag gekloon. Al die embrio’s het egter op ’n vroeë stadium van ontwikkeling weens blootstelling aan die Sendai-virus gesterf. In 1984 het Willadsen (’n dierefisioloog van die Babraham Institute in Engeland) die eerste soogdier deur middel van selkernoordrag gekloon.

In 1993 het ’n span wetenskaplikes onder leiding van Dr Jerry Hall verbonde aan die George Washington-universiteit menslike embrio’s suksesvol deur middel van embrioverdeling op die twee- tot agtselstadium gekloon en op ’n kunsmatige ovummembraan oorgedra. In Februarie 1997 het Wilmot en sy kollegas van die Roslin-instituut die bestaan van Dolly, ’n skaap, aangekondig (Baylis 2002). Vir die eerste keer is ’n soogdier uit ’n volwasse somatiese sel gekloon (wanneer ’n volwasse selnukleus as ’n skenker gebruik word, moet die genetiese aspekte van die volwasse sel tot die embrionale vlak herstel (“reset”) word). Hierdie herstelproses is dikwels onvolledig, met die gevolg dat die embrio’s nie ontwikkel soos verwag nie.

In 1997 is deur middel van laboratoriumproewe in genetiese manipulering daarin geslaag om die faktor-nege-geen in die genoom van skaapvelselle oor te dra en suksesvol te laat groei. In 2007 is ’n rhesus-apie gekloon en in 2013 het Mitalipov menslike embrionale stamselle deur middel van somatieseselnukleusoordrag gekloon.

Galef (2011) beskryf onlangs die ontwikkeling van partenogenese deur die Internasionale Stamsel Koöperasie, ’n Kaliforniese biotegnologiemaatskappy wat die ontwikkeling van menslike stamselle uit onbevrugte eierselle moontlik maak. Chemikalieë word in die eiersel geïnduseer, wat die sel laat ontwikkel asof dit bevrug sou wees. Die bevrugte eiersel (of partenoot) toon dieselfde eienskappe as ’n embrio tydens die vroeë stadium van selverdeling. Omdat die sel geen genetiese materiaal van die vader bevat nie, kan ontwikkeling tot ’n lewensvatbare fetus nie plaasvind nie.

In ’n onlangse ewekniebeoordeelde artikel bespreek Cuptas en Smajdor (2016) die moontlikhede en implikasies van solo-reproduksie. ’n Klein groepie wetenskaplikes maak tans daarop aanspraak dat reproduksie met gamete wat slegs van een persoon afkomstig is, teoreties moontlik is. Dit word beweer dat eierselle tydens  in vitro-generering van gamete uit manlike niereproduktiewe selle en spermselle uit vroulike niereproduktiewe selle ontwikkel kan word. ’n Embrio sou dus teoreties gesproke uit slegs een persoon ontwikkel kon word, vandaar die term solo-reproduksie.

Eenvoudig gestel, is die vordering in die biotegnologiese aspekte van selnukleusoordrag en stamselterapie fenomenaal. Harris (2014) wys egter op ’n paar grys areas wat op tegniese onsekerhede en risiko’s dui: ’n embrio deur selnukleusoordrag geproduseer is nie noodwendig geneties identies aan die nukleusskenker nie, omdat die mitochondriale DNS van die oösietskenker ook oorgeërf word en risiko’s ten opsigte van fetale abnormaliteite, siektes van die skenker, die langtermynveiligheid van oorgeplante weefsel en die wyse waarop gekloonde stamselle ontwikkel, nie met volkome akkuraatheid voorspel kan word nie.

’n Verdere vraag wat op ’n moontlike grys area in die navorsingsmetodologie dui, is volgens watter verwysingsraamwerk ’n literatuurstudie oor menslike kloning aangepak behoort te word indien (op hierdie stadium) slegs wetenskaplik gepubliseerde studies oor die reproduktiewe kloning van diere bestaan. Macintosh (2016) se antwoord hierop is dat die verkreë resultate van diere-eksperimente oor kloning tans die beste grondslag vir ekstrapolering na die menslike situasie bied. Die ekstrapoleringsbenadering van Macintosh (2016) is waarskynlik op die biologie en fisiologie van toepassing, maar kan nie in hierdie literatuurontleding gebruik word nie, weens die risiko’s vir onakkurate gevolgtrekkings oor menslike gedrag op grond van diere-eksperimente. Gevolglik word in hierdie artikel ’n onderskeid getref tussen spekulasie, swak metodologie en wanopvattings aan die een kant en deeglik-begronde navorsing wat ’n substansiële bydrae tot die ontwikkeling van reproduktiewe kloning sou kon lewer aan die ander kant.

 

6. Verskeie multidissiplinêre perspektiewe

’n Wye spektrum dissiplines is direk en indirek by navorsing oor en ontwikkeling van MRK betrokke en word hier afgebaken tot inligting uit die natuurwetenskappe, gesondheidswetenskappe, teologie, die sosiale wetenskappe en die regsberoep. Hierdie vertrekpunt is in ooreenstemming met die siening van Faigman (2015:1659) dat “these are law, science, and religion. Each, in its own manner, has something to say about both the descriptive world that is and the prescriptive world of what ought to be.”

Dit was problematies om die literatuurbevindings op ’n sinvolle wyse in aparte vakgebiede te verdeel, veral weens die onderlinge oorvleueling en raakpunte van die bevindings en standpunte. Mediese standpunte het byvoorbeeld sielkundige raakpunte, en biotegnologiese ontwikkelinge kan regsimplikasies tot gevolg hê. Gevolglik word die teks wat hier onder volg, vanuit ’n multidissiplinêre vertrekpunt eerder as volgens aparte vakgebiede aangebied.

6.1 Kitsinligtinggidse

Verskeie aanlyn bronne met vrae en antwoorde oor menslike kloning is vir gebruik deur welmenende belangstellendes beskikbaar. Drie voorbeelde van webtuistes met nuttige inligting is die Wêreldgesondheidsorganisasie se “Twaalf vrae en antwoorde oor kloning” (http://www.who.int/ethics/topics/cloning/en/), die Sentrum vir Genetika en die Samelewing se reeks modelvrae en -antwoorde oor kloning, asook die inligtingstuk van die Advieskomitee vir Biomediese Wetenskap en Tegnologie aan die Universiteit van Georgetown.

Hierdie bronne is gerieflik vir raadpleging en die inligting is onmiddellik beskikbaar. Die inligting op sekere webtuistes word egter dikwels sonder verwysings en behoorlike datering aangebied en die kwaliteit, betroubaarheid en geldigheid van die webtuistes is moeilik beoordeelbaar. Sommige van die webtuistes verteenwoordig spesifieke organisasies met agendas en standpunte wat nie gebalanseerd en ewewigtig oorkom nie.

Die Clonaid-groep is volgens hul webtuiste gedurende 1997 in die Bahamas gestig, maar het sedert 2001 hul aktiwiteite verskuif na ’n sogenaamde onbekende land waar menslike kloning wettig uitgevoer kan word. Die filosofiese onderbou van hierdie sektariese beweging is die raëlisme, wat kloning sien as die eerste stap om menslike onsterflikheid te bewerkstellig. Die redes waarom kliënte van Clonaid se dienste gebruik maak, word aangegee as homoseksualiteit, steriliteit, die moontlike verlies van ’n gesinslid, aansteeklikesiektetoestande of indien ’n behoefte aan kloning spontaan sonder enige spesifieke logiese rede ontstaan. Hierdie soort opspraakwekkende, opportunistiese en ongekontroleerde aansprake dra verder by tot die “demonisering” van kloning en voeg geen werklike waarde toe tot die sinvolle bevordering van wetenskaplike debatvoering oor die vraagstuk nie.

Die vraag of Clonaid MRK suksesvol toepas en hoeveel gekloonde babas reeds gebore is, is ’n ope vraag. ’n Betroubare antwoord hierop sal verskaf kan word slegs op grond van bloedmonsters en DNS-ontledings van beide selnukleusskenkers en gekloonde afstammelinge wat deur onafhanklike mediese spesialiste gedoen en vir noukeurige ondersoek beskikbaar gestel is.

6.2 Wettigheid van kloning

In die aanlyn tydskrif Medical Daily word aangevoer deur Dovey (2015) dat min eenstemmigheid in die internasionale regsarena bestaan oor die wettiging van MRK en hy stel dit duidelik dat die huidige stand van internasionale wetgewing ’n vae grys area is. Volgens Wheat en Matthews (sj) het verskeie lande (oa Italië, Brasilië, Oostenryk, Costa Rica en Switserland) tans geen bestaande gepromulgeerde wetgewing oor terapeutiese en/of reproduktiewe kloning nie.

Kaliforniese regskenners van die Markkula Sentrum vir Toegepaste Etiek (2001) aan die Santa Clara-universiteit het tydens ’n simposium konsensus bereik dat dit uiters moeilik is om ’n behoorlike en werkbare regulerende regstelsel vir menslike kloning uit te werk. Alreeds 15 jaar gelede het hulle aangevoer dat hoe omvangryker die befondsing vir stamsel- en kloningnavorsing sou wees, hoe beter kan effektiewe beheer en kontrole oor die wetenskaplike ontwikkeling van MRK uitgeoefen word. Dit word voorgestel dat voldoende en omvattende staatsbefondsing asook Amerikaanse federale wetgewing doeltreffende strategieë vir doeltreffende beheer oor die toepassing en ontwikkeling van MRK sal wees.

Daarteenoor is die Suid-Afrikaanse Nasionale Gesondheidswet (2003) egter baie duidelik en spesifiek in die verbod op alle prosedures wat menslike kloning insluit (hoofstuk 9, klousule 57):

Prohibition of reproductive cloning of human beings: (1) A person may not (a) manipulate any genetic material, including genetic material of human gametes, zygotes or embryos; or (b) engage in any activity, including nuclear transfer or embryo splitting, for the purpose of the reproductive cloning of a human being.

Terapeutiese kloning is onder sekere voorwaardes wel toelaatbaar:

(2) The Minister may, under such conditions as may be prescribed, permit therapeutic cloning utilising adult or umbilical cord stem cells. (3) No person may import or export human zygotes or embryos without the prior written approval of the Minister. (4) The Minister may permit research on stem cells and zygotes which are not more than 14 days old on a written application and if (a) the applicant undertakes to document the research for record purposes; and (b) prior consent is obtained from the donor of such stem cells or zygotes.

Oortreders van hierdie onderafdeling van die Nasionale Gesondheidswet kan ’n boete of vyf jaar gevangenisstraf of beide opgelê word.

In die VSA is daar tans geen behoorlike oorkoepelende federale wetgewing wat MRK doeltreffend reguleer nie (Witherspoon Council 2015), behalwe wetgewing en beleid wat die federale regering verbied om wetenskaplike navorsing oor kloning te befonds. Daarteenoor beskik sewe spesifieke state (Arizona, Arkansas, Michigan, Noord- en Suid-Dakota, Oklahoma en Virginia) oor wetgewing wat kloning met die doel om kinders te produseer, asook kloning vir biomediese navorsing, uitdruklik verbied.

Tien state (Kalifornië, Connecticut, Illinois, Iowa, Maryland, Massachusetts, Missouri, Montana, New Jersey en Rhode Island) verbied MRK, maar laat biomediese navorsing toe, terwyl een staat (Minnesota) kloning vir biomediese navorsing deur middel van ’n statuut verbied, maar nie kloning om kinders te produseer aansny nie. Die res van die state hanteer kloning slegs op ’n indirekte wyse deur befondsing te verbied of deur dokters te beskerm wat op grond van gewetensbesware nie by MRK betrokke wil raak nie.

Acosta en Golub (2016:422–30) beskryf gevolglik die stand van die Amerikaanse regspleging en beleid met betrekking tot stamselwetenskap as “a patchwork of multiple, often conflicting, state and federal policies”. Hulle beskou MRK as die swak skakel in die stamselnavorsing wat, op grond van swak reputasie, die ontwikkeling van die stamselbedryf in die algemeen aan bande lê. Acosta en Golub (2016) beskou kloning as ’n irrelevante aangeleentheid, omdat daar nie ’n aksiegroep bestaan wat die saak effektief en aktief dryf en bevorder nie. Volgens hierdie skrywers het die (Amerikaanse) wetenskaplike gemeenskap kloning universeel as onaanvaarbaar veroordeel. Die Amerikaanse FDA (Food and Drug Administration) beskik oor voldoende regulerende beheer oor MRK en is in ’n posisie om die toepassing daarvan onmoontlik te maak.

Artikel 11 (Afdeling C) van die VN se Opvoedkundige, Kulturele en Wetenskaplike Organisasie (UNECSO 2005:12) se Universele Verklaring oor die Menslike Genoom en Menseregte verwys spesifiek na navorsing oor die menslike genoom en stel dit eksplisiet dat “practices which are contrary to human dignity, such as reproductive cloning of human beings, shall not be permitted.” Meer as 30 lande, insluitende Frankryk, Japan, Australië, Colombia, Costa Rica, Denemarke, Georgië, Duitsland, Letland, Noorweë, Peru, Spanje en die VK beskik reeds oor wetgewing wat MRK verbied.

6.3 Risiko’s van keuses

In ’n onlangse redaksionele artikel in die Lancet (http://dx.doi.org/10.1016/S0140-6736(16)31641-5) word die voordele van voorkomende mediesebehandelingsprogramme (“screening”) opgeweeg teen die pasiënt se risiko wat met sy/haar eie keuse gepaard gaan. Sou ’n pasiënt argumentshalwe self ’n ingeligte besluit neem om nie verder aan die Britse Nasionale Gesondheidsdiens se siftingsprogram vir borskanker deel te neem nie, watter risiko en implikasies hou hierdie “ingeligte” besluit van die pasiënt vir sy/haar toekomstige siekteprofiel in?

Dieselfde beginsel van die kardinale rol van ingeligte besluitneming oor deelname aan sifting vir kanker is by die sielkundige aspekte van menslike kloning van toepassing. Indien ’n egpaar (by wie byvoorbeeld steriliteit by beide egliede professioneel gediagnoseer is) se enigste moontlikheid vir ’n swangerskap kloning blyk te wees, en hulle neem ’n ingeligte besluit in hierdie verband om met reproduktiewe kloning voort te gaan, wat gaan die uiteindelike risiko’s van hul besluitneming vir die toekomstige sielkundige ontwikkeling van die baba en gesinsisteem in die geheel wees?

Volgens Harris (2014) bly die drempelvraag wat kloning betref steeds of ’n kind wat die resultaat van die proses is, sielkundig bevoordeel of benadeel sal word op grond van die keuse wat die ouer(s) aanvanklik uitgeoefen het. Harris (2014:78) merk op dat O’Neill (2002) eksplisiet sê dat reproduktiewe kloning ’n aktiwiteit is wat geen verantwoordelike en regdenkende ouer/ouerpaar sal oorweeg nie. Die uiteinde sal wees dat ’n kind in die wêreld gebring word met verwarrende en vaaggestruktureerde gesinsverhoudings. Gesinsverhoudings kan verwarrend wees wanneer verskillende individue dieselfde rol as een persoon vertolk en die verhoudings is vaag en ongedefinieerd gestruktureer wanneer een persoon die rol van verskeie ander persone vertolk.

Dit is aanvaarbaar om te beweer dat ongedefinieerde interpersoonlike verhoudings meestal stresvol is, maar dit is onbillik om te veralgemeen dat stresvolle verhoudings konsekwent sal voorkom by gesinne wat reproduktiewe kloning as ’n oplossing vir onvrugbaarheid gebruik. By wyse van analogie bestaan geen wetenskaplike bewyse dat gesinsverhoudings van onvrugbaarheidspasiënte waar kinders met behulp van kunsmatige skenkerinseminasie gebore is, per se verwarrend, gekompliseerd en vaag gestruktureerd is nie. In sulke gevalle is die oorsprong van die 50% genebydrae van die manlike skenker ’n totaal onbekende faktor. Alhoewel die dinamika van kloning- en skenkerinseminasiegesinne natuurlik sal verskil, het beide tipes gesinne van geassisteerdereproduksie-tegnieke gebruik gemaak en stem die gesinstrukture ten opsigte van hierdie spesifieke veranderlike ten minste ooreen.

Gesinsverhoudings is altyd kompleks en O’Neill (in Harris 2014) se standpunt laat nie genoeg ruimte toe vir buigsaamheid om die komplekse proses realisties te konseptualiseer nie. Komplekse interaksies kom in alle gesinne voor: sekere sielkundige kontrakte kan byvoorbeeld eksplisiet wees (waar openlike en eerlike kommunikasie oor vraagstukke plaasvind), terwyl ander implisiet is (waar geen openlike kommunikasie oor vraagstukke plaasvind nie of vermyding daarvan plaasvind), en ’n sekere tipe persoonlikheidsamestelling beter tot sy reg kan kom in ’n bepaalde gesinstruktuur as in ’n ander struktuur weens die dinamiese aard van sisteme. Alvorens O’Neill se standpunt objektief wetenskaplik ondersoek is, bly dit slegs ’n hipotese wat neig na die oorvereenvoudiging van ’n ingewikkelde situasie.

Volgens Harris (2014) kan kloning ook sielkundige skade tot gevolg hê. Die kind se waardigheid sal geskaad word deur die implikasies wat negatiewe boodskappe uit die omgewing vir sy/haar selfkonsepontwikkeling inhou, en deur instrumentalisasie (die konsep dat ’n individu as ’n middel tot ’n doel tot die voordeel van ’n ander individu se behoeftes aangewend word). Die outonomie en persoonlike uniekheid van die kind kan geskaad word deur ’n ongesonde magsverhouding tussen die “skepper” van die gekloonde produk en die gekloonde produk self.

6.4 Die reg op voortplanting

Die reg op voortplanting of reproduksie (“procreative liberty”) verwys na die beskerming van ’n individu (getroud of ongetroud) teen staatsinmenging in die besluit om ’n afstammeling deur middel van ’n swangerskap in die wêreld te bring. Dit gaan dus oor individuele vryheid van keuse oor aktiwiteite en besluite wat met voortplanting verband hou.

Maura Ryan (2001), professor in christelike etiek aan die Universiteit van Notre Dame, baseer haar argumente op die beginsels van die Katolieke morele teologie. Sy verwys na Robertson (1986) se argument dat reproduktiewe kloning by die mens eerder op duplisering as reproduksie neerkom, en daarom twyfel Robertson of die reg op en die beskerming van voortplanting enigsins op menslike reproduktiewe kloning van toepassing kan wees. As redes word aangevoer dat die prosedure te ver afwyk van die konteks wat as waardevol vir normale biologiese reproduksie gesien word. Reproduktiewe kloning behoort gevolglik nie die beskerming van die “procreative liberty” te geniet nie. Ryan (2001) wys tereg daarop dat Robertson nie die reëls vir die reg op beskermde reproduksie uitspel nie, nie aandui wat hy met kernervarings van betekenis en identiteit rakende reproduksie bedoel nie, en ook nie ’n rasionaal gee vir die onderskeid wat hy tussen selfduplisering en biologiese reproduksie tref nie.

Volgens Ryan (2001) is dit moeilik om te verstaan waarom aseksuele reproduksie as ’n onwelkome strategie in biotegnologie geëtiketteer word, behalwe indien die omskrywing van ouerskap gebaseer word op seksuele intimiteit wat in die “twee-in-een-vlees”-karakter (kyk ook Genesis 2:24; Matteus 19:5–6; Efesiërs 5:31–32) geanker is. Ryan (2001:106) kom tot die gevolgtrekking dat “there is a need for a much thicker conception of reproduction meaning, than the simple invocation of individual liberty.”

Elmar L Towns (2011) is ’n prominente Amerikaanse Christenleier, skrywer en medestigter van die Vrye Christen (Baptiste) Universiteit in Virginia. Sy verduideliking (Towns 1996) van die moraliteit van reproduktiewe kloning neig na die fundamentalistiese en lees soos volg (my vertaling):

Kloning is verkeerd omdat die manipuleerder (maw die biotegnoloog) homself tot die vlak van God verhef (die “Playing God”-beginsel; kyk Harris 2014:260. Hy/sy probeer doen wat God doen deur te probeer bepaal hoe ’n mens geneties saamgestel sal wees, en betree dus die gebied wat God vir Homself bestem het. Indien ’n biotegnoloog ’n mens kan kloon, kan hy of sy die feit probeer weerlê dat daar ooit ’n God of Skepper was en kan hy die nodigheid van leiding, beskerming en selfs redding deur God se wil teëspreek.

Tweedens word die wetenskap nou die besluitnemer oor wie sal leef, wanneer hulle leef en hoe hulle leef. As die wetenskap toegelaat word om te bepaal watter bevrugte [eiersel(le)] leef, sal die wetenskap uiteindelik ook toegelaat word om te bepaal wie sal sterf. ’n Deel van die motivering agter kloning is gemik op selektiewe teling. Waarom? Omdat mense nie tevrede is met die kinders wat gebore word (of gebore gaan word) nie, veral wat betref hul geslag, en lewenskwaliteit. Die wetenskaplike wil met selektiewe teling die menslike ras verbeter. Mense vra egter drie basiese vrae: "Waar kom ek vandaan?"; "Wie is ek?"; en "Wat behels my toekoms?" Indien mense gekloon word, sal hulle hierdie basiese vrae sonder God moet beantwoord. "Waar kom ek vandaan?" kan beantwoord word deur evolusie. "Wie is ek?" sal deur die biotegnologie beantwoord word. "Waarheen is ek op pad?" sal deur die humanisme beantwoord word. God se plan vir voortplanting is dat ’n mens ’n mens voortbring (die twee-in-een-vlees-beginsel; kyk Ryan 2001:106). In die begin het God vir Adam en Eva gesê: "Wees vrugbaar, vermeerder..." (Gen 1:28). Met die tegnologie van kloning probeer die mens vir God vervang, in beide begeerte en bestemming (my vertaling).

Die Christenskrywer Matthew Paul Turner (2014) wys op watter invloede ’n fundamentalistiese lewensbeskouing tot gevolg kan hê. Daar is eerstens ’n voortdurende behoefte aan eksterne goedkeuring van die fundamentele opvattings, waardes en beskouings. Verder is fundamentalisme op die fondament van inskiklikheid, samewerking en konsensus gebou, ’n fundamentalistiese houding wek paranoia in die hand, en fundamentaliste is geneig om konflik wat passief-aggressiewe gedrag in die hand werk, te vermy. Die standpunte van Turner (2014) oor fundamentalisme berus op praktiese waarnemings binne sy eie gemeenteverband. Sy argumente vloei dus nie uit goedgefundeerde navorsing voort nie. In die Amerikaanse multimiljoendollar-biotegnologienavorsingsomgewing word teologies-gefundeerde argumente as ’n struikelblok (Cahill 2005:29) eerder as ’n voordeel vir nugtere gesprekvoering oor reproduktiewe kloning beskou. Die Amerikaanse Biotechnology Industry Organisation (Cahill 2005:29) huldig die standpunt dat die fundamentele teologiese beweging voortdurend besig is om die ontwikkeling van embriokloning en stamselnavorsing in die VSA te dwarsboom en dat inmenging die momentum van die navorsing benadeel.

Cahill (2005:28) is ’n kenner op die gebied van die teologiese bio-etiek en gaan van die standpunt uit dat vele argumente oor die voor- en nadele van reproduktiewe kloning oor kwasiteologiese ondertone beskik, met die gevolg dat humanistiese en kwasiteologiese standpunte soms wel as versoenbaar oorkom. Wanneer sulke argumente oor menslike transendensie egter aan streng eksplisiete godsdienstige en teologiese terme onderwerp word, blyk die argumente kwesbaar en onaanvaarbaar te wees.

Hauerwas en Shuman (in Lysaught en Kotva 2012:706–8) se perspektief is eksplisiet teologies van aard en hulle siening is dat biologiese kloning slegs ’n verdere stap is in die sekulêre strewe na perfeksionisme in ’n wêreld waarin die rol van God nie meer erken word nie. Wetenskaplike vooruitgang wat nie die menslike liggaam by die liggaam van Christus insluit nie, is fatale afgodsgedrewe pogings om die skeppingsorde kunsmatig te verbeter en te ontken dat ons lewens reeds volmaak in Christus is.

Op die webtuiste van die Markkula Center for Applied Ethics word deur middel van simposiumverrigtinge gerapporteer dat (a) vraagstukke oor reproduktiewe kloning en stamselnavorsing as aparte entiteite hanteer behoort te word; (b) die Protestantse kerkleiers se siening is dat die totale onvrugbaarheidsbedryf streng gereguleer en ’n totale verbod op menslike kloning geplaas moet word; en (c) die Joodse standpunt oor kloning is dat "the availability of such technology would make human life too easily commodified, putting the emphasis more on achieving a copy of the self than on the crucial parental act of creating ‘a stranger to whom you would give your life’.” Die feit dat die menslike lewe deur kloning op ’n kommoditeit afgestem word, sluit aan by die standpunt van Dovey (2015) dat die toevalligheid uit biologiese reproduksie verwyder word (maw die toevallige 50-50-genebydrae van beide biologiese ouers word deur kloning uitgeskakel).

Die Vatikaan (2004) se amptelike standpunt (wat op die webtuiste gepubliseer is) maak ’n saak uit vir die daarstelling van ’n wêreldwye universele standpunt oor en benadering tot MRK: “The world cannot take two different roads: the road of those who are willing to sacrifice or commercialize human beings for the sake of a privileged few, and the road of those who cannot accept this abuse. For its own sake, humanity needs a common basis – a common understanding of humanity and a common understanding of the fundamental bases upon which all our ideas about human rights depend.”

Die Sunni Islamitiese godsdienstige owerhede verbied enige vorm van genetiese manipulasie van die menslike embrio (Inhorn en Tremayne 2016).

Ackermann (2014) se siening is dat die lewe (en dus ook die wetenskap) vol teenstrydighede en eintlik dikwels paradoksaal is. Teenstrydighede ontstaan nie as gevolg van menslike feilbaarheid nie, maar is in die struktuur van die lewe ingeweef. Die spanning wat paradokse skep (sowel die een, as die ander al lyk hulle teenstrydig) kan omskep word in aanvaarding van situasies soos hulle is: “This is liberating. It may not always be easy or comfortable, but finding the promise in paradox means knowing that two realities, though apparently contradictory, may be equally true and need to be held together” (Ackermann 2014:55).

Die debat oor die verband tussen die toepassing van kloning en die reg op menslike voorplanting kom veral sterk in die onvrugbaarheidsomgewing na vore.

Die etiekkomitee van die Amerikaanse Society for Reproductive Medicine (Daar ea 2016) verduidelik in ’n portuurbeoordeelde artikel waarom dit as oneties beskou word om somatieseselnukleusoordag as ’n onvrugbaarheidsbehandelingstegniek te gebruik. Die hoofbesware gaan oor die onbekende risiko’s en effek op die gekloonde kinders self, hul ouers en die samelewing in die algemeen, asook die beskikbaarheid van ander reeds bestaande en eties meer aanvaarbare prosedures om onvrugbaarheidsprobleme te oorbrug.

Volgens hierdie verslag (Daar ea 2016) bestaan tans geen konsensus oor die etiese aanvaarbaarheid van reproduktiewe kloning nie en sal eenstemmigheid waarskynlik nooit bestaan nie. Dit is egter wel gepas dat vernuwend gedink word oor die moontlike etiese vraagstukke wat sal ontstaan indien prekliniese inligting op effektiewe en veilige prosedures dui en navorsers sou beweeg in die rigting om werklike kloningsproeflopies op mense uit te voer.

Die finale gevolgtrekking (Daar e.a. 2016) toon drie duidelike moontlike rigtings aan: (i) MRK is moreel totaal onaanvaarbaar onder alle omstandighede; (ii) MRK het wel meriete onder sekere omstandighede; en (iii) meer konkrete wetenskaplike inligting word benodig voordat die etiese status van MRK finaal geëvalueer kan word. Die motivering van diegene wat ernstige besware (totale afkeuring) handhaaf (Daar ea 2016) is dat reproduktiewe kloning diepgesetelde waardes en tradisies “verkrag”. Natuurlike bevrugting vind deur middel van vermenging van genepoele plaas (die afstammeling se genoom is uniek verkry deur elke ouer), terwyl kloning die produksie van ’n afstammeling deur aseksuele prosedures en gebruikmaking van ’n bestaande genoom bewerkstellig. Die aksie self is dus immoreel en onaanvaarbaar. Die motivering van diegene wat kloning ondersteun (realistiese ondersteuning) is dat kloning oplossings bied in sekere mediese toestande, soos onvrugbaarheid, waar nie een van die twee egliede gamete kan produseer nie en waar religieuse, morele, kulturele of persoonlike besware teen skenkergamete geopper word; of by genetiese risiko’s kan reproduktiewe kloning gebruik word om te voorkom dat ernstige genetiese-siekte-toestande na die afstammeling oorgedra word. Die motivering vir die weerhouding van standpunte (handhaaf neutraliteit) berus op die volgende: indien kloning beskikbaar sou wees, sal die effek op afstammelinge volgens gesinsdinamika en ander gesinseienskappe wissel. Indien sielkundig volwasse ouers binne ’n gesonde gesinsklimaat funksioneer en gesonde waardes handhaaf en van kloning gebruik maak, sou die effek selfs positief kon wees. Die gekloonde kind sal ’n individu uit eie reg wees omdat die omgewingsfaktore (byvoorbeeld die swangerskap, gesinsveranderlikes en skoolopvoeding) uniek is.

Die moontlikhede van sielkundige skade wat die kloningsproses sou kon inhou, sluit in moontlike onrealistiese verwagtings (“harmfull typecasting”) wat aan die afstammeling se persoonlikheidsamestelling gestel word. Die gekloonde baba sou as superieur teenoor die ander kinders in die gesin gesien word. Vrugbare individue sonder reproduktiewe maats sou reproduktiewe kloning bo skenkergamete verkies, wat die gesinstruktuur van twee ouers irrelevant kan maak. Genetiese determinisme sou kon meeding met die potensiaal om spontaan as ’n unieke individu te groei en te ontwikkel.

Wat die effek op die samelewing betref, is daar geen doeltreffende waarborg dat die gebruik van kloning streng in die konteks van mediese patologie bestuur sal word nie. Indien nie, sou potensiële selnukleusskenkers hulself as hoëkaliberverskaffers van genome kon bemark.

Die finale gevolgtrekking van die komitee (Daar ea 2016) is dat, in sover die veiligheid van reproduktiewe selnukleusoordrag onseker is en onvrugbare egpare alternatiewe oplossings of opsies vir konsepsie het, die toepassing van reproduktiewe selnukleusoordag deur medici steeds ’n twyfelagtige prosedure bly wat nie aan die standaarde van etiese aanvaarbaarheid voldoen nie.

May (2016) het ’n internetopname oor kloning en die reg op reproduksie met ’n twyfelagtige metodologiese ontwerp uitgevoer waarin daar nie ’n gestratifiseerde steekproef saamgestel en geen statistiese ontleding van die data gedoen is nie. In hierdie aanlyn opname is 250 respondente deur Amazon gewerf en hulle is betaal om ’n vraelys oor kloning en die reg op reproduksie  te voltooi. Die grootste persentasie van die deelnemers het MRK sterk as immoreel veroordeel en aanbeveel dat die tegniek onwettig verklaar moet word.

6.5 Genealogiese kettings

Ani (2013), ’n dosent in filosofie aan die Universiteit van Ghana, stel menslike kloning naas genealogie. Die skrywer skep ’n teoretiese gemeenskap van identies-gekloonde individue en bou sy argumente op hierdie hipotetiese konsep. Die saak word uitgemaak dat genealogie ten grondslag van menslike identiteit, uniekheid en “menswees” in die algemeen lê. In die konteks van kulture wat die filosofie van die uitgebreidegesinsisteem koester en navolg, is die familiestamboom en die genealogiese herkoms van die individu van kardinale belang vir onder andere die vererwing van bates. Die genealogie vorm ’n simboliese ketting van die verlede, hede en toekoms van ’n gesinsisteem. Die genealogiese ketting word deur MRK verbreek, wat volgens Ani (2013) op ’n totaal onaanvaarbare praktyk neerkom.

Bloot op grond van ’n kliniese eksterne verwysingsaamwerk kan Ani se werk as ’n spekulatiewe uitspraak wat onbegrond en hipoteties van aard is, afgemaak word. Indien hierdie studie egter vanuit ’n interne verwysingsraamwerk benader word, maw as spreekwoordelik in die “skoene van die navorser gestaan” word, is dit duidelik dat die volledige antropologiese konteks van Ani se navorsing na regte gerespekteer behoort te word. In die nie-Westerse konteks neem die rol van byvoorbeeld die voorvaders en die uitgebreidegesinsisteem heeltemal ander betekenisse aan. Hierdie studie behoort dus nie summier op grond van ’n suiwer Westerse paradigma as spekulatief van aard beoordeel te word nie.

6.6 Tweelingstudies

Volgens Segal (2006) bied tweelingstudies tans ’n goeie model vir die bestudering van die sielkundige effekte van MRK. Die metodologie moet egter versigtig toegepas word, want dit is nie korrek om na gekloonde kinders as tweelinge of uitgestelde genetiese tweelinge te verwys nie. Tweelingkinders is die produkte van dieselfde swangerskap, terwyl klone en hul skenkers jare na mekaar uit verskillende swangerskappe gebore kan word. Tweelingkinders deel dieselfde biologiese ouerpaar, maar by kloning het die skenker se moeder geboorte aan die skenker gegee, maar nie aan die kloon nie. Tweelingkinders behoort tot dieselfde generasie en deel dieselfde historiese verloop van gebeurtenisse, terwyl dit nie vir ’n kloon en selnukleusskenker geld nie.

Prainsacka en Spectorb (2006) het die tweelingmetodologie op kloning toegepas en onderhoude met sewe identiese en vier nie-identiese tweelinge van Britse oorsprong gevoer. Drie deelnemers was mans en die res vroue. ’n Vergelykbare kontrolegroep van nietweelinge is ingesluit. Die deelnemers se persepsies van kloning dui daarop dat indien ’n hegte fisiese en emosionele band tussen skenker en kloon bestaan, dit iets positiefs (’n seën, “a blessing”) kan wees; dat die kloon blootgestel kan word aan die onregverdige vooroordeel dat sterk fisieke ooreenkoms tussen twee of meer persone ’n teken van onvolledige identiteit is; en dat die kloon dalk sou kon verkies om eerder ’n ander skenker se gekloonde produk te wees.

Tweelingstudies kan in sekere opsigte as ’n analoë voorbeeld vir MRK beskou word, maar Segal se waarskuwings wat hier bo bespreek word, moet deeglik verreken word by die interpretasie van die resultate van tweelingstudies wat met MRK in verband gebring word.

 

7. Bespreking, gevolgtrekkings en aanbevelings

7.1 Wetgewing

Regskundig gesproke word MRK in sekere lande (byvoorbeeld Suid-Afrika) streng deur doeltreffende wetgewing gereguleer. Ten spyte van Unesco se verklaring dat menslike reproduktiewe kloning ’n verbode aktiwiteit is, ontbreek oorkoepelende federale wetgewing in die VSA, wat die regulering van die proses bemoeilik. Sommige individuele Amerikaanse state verbied wel MRK kragtens wetgewing, terwyl die res oor geen behoorlike wetgewing beskik nie. Sekere Europese lande val in dieselfde kategorie.

Acosta en Golub (2016) se argument dat MRK ’n irrelevante bedryf is en deur geen noemenswaardige aksiegroep ondersteun word nie, asook doeltreffend beheer word, grens aan vergesogtheid. Inteendeel, die organisasie Clonaid se aansprake behoort nie ligtelik opgeneem te word nie. Indien wetgewing en regulatoriese beheer in ’n bepaalde land ontbreek, word geen laboratorium wat die verbandhoudende etiese en morele fasette opsy skuif, verhoed om ’n baba met die beskikbare tegnologie teen aantreklike vergoeding te kloon nie. Die hipotese word gevolglik hier gestel dat, op grond van (a) ontoereikende internasionale wetgewing, (b) reeds beskikbare tegnologie om MRK toe te pas, en (c) die diepgaande en goedgefundeerde behoefte aan afstammelinge wat veral by kinderlose egpare ontstaan en nie ander alternatiewe soos kunsmatige skenkerinseminasie weens geloofsoortuigings oorweeg nie, die prosedure beslis nie ontersaaklik nie maar wel aktueel en uitvoerbaar is.

7.2 Risiko’s

Die risiko’s wat met MRK gepaard gaan, is ooglopend en word duidelik in die toepaslike literatuur vermeld, asook die moontlike nadelige implikasies wat ’n huidige besluit met verloop van tyd op die latere individuele funksionering en gesinsisteemdinamika kan uitoefen. Die besluit om MRK toe te pas, kan wel op ’n rasionele en deeglik ingeligte besluit berus, maar die onsekerheid (of selfs vryswewende angs) rakende die effek van latere risiko’s wat uit die prosedure kan voortspruit, bly permanent as ’n ongekontroleerde veranderlike voortbestaan. Die effek van huidige besluitneming op latere funksionering is ’n universele feit wat op die mensdom in sy geheel en in alle fasette van menslike gedrag van toepassing is.

7.3 MRK en kunsmatige inseminasie deur middel van skenkergamete

Die sterkste argumente ten gunste van MRK kom uit die konteks van die onvrugbaarheidsberoep omdat hierdie tegniek deur sommige as ’n alternatiewe wyse gesien word om ’n swangerskap te bewerkstellig wat andersins onmoontlik sou wees, veral waar beide manlike en vroulike steriliteit by ’n egpaar gediagnoseer is. Gevolglik gaan daar stemme op uit die teologie (Markkula Center for Applied Ethics 2001) en die mediese etiek (Daar ea 2016) om die onvrugbaarheidsbedryf voortaan streng in alle fasette te reguleer.

Die aard van ’n besluit deur ’n onvrugbaarheidspasiënt om van MRK as ’n alternatiewe vorm van swangerskap gebruik te maak, kan opgeweeg word teen besluite oor geboortes deur middel van  kunsmatige bevrugting deur middel van ’n skenker se gamete waar die skenker ’n anonieme eksterne bron is. Indien MRK in die toekoms vir die onvrugbaarheidsbedryf goedgekeur word, sou dit wenslik wees om deeglik-begronde ouervoorligting of -berading saam met die prosedure aan te beveel of selfs as ’n voorvereiste te stel. Verskillende metodes is moontlik, of ouervoorligting kan geïndividualiseerd en voorgeboortelik wees.

Hierdie uitgangspunt sluit direk aan by dié van Levick (2006:3) wat sê: “Let us hope that those interested in human reproductive cloning carefully examine their motives. Perhaps insights gained in psychotherapy might lead them to explore other paths to parenthood and if not, to better manage their transference propensities toward the child.”

Voorafassessering van onvrugbaarheidspasiënte as moontlike kandidate vir MRK is ’n addisionele voorkomende strategie wat oorweeg kan word. Kombinasies van persoonlikheidseienskappe soos narsisme, impulsiwiteit, gebrek aan selfbeheer en eksterne lokus van kontrole kan aanleiding gee tot komplekse interaksies in persoonlike en gesinsverhoudings. Persoonlikheids- en waardeprofiele kan psigometries op geldige en betroubare wyses gemeet word en die resultate kan in deeglik-voorafbeplande psigoterapeutiese behandelingsprogramme geïntegreer word. Die effek van latere risiko’s wat voortspruit uit die aanvanklike besluit om die roete van reproduktiewe kloning te volg, soos instrumentalisasie en ongesonde magsverhoudings (Harris 2014), kan terapeuties doeltreffend op hierdie wyse bestuur word.

7.4 Reg tot voortplanting

Die reg op voorplanting word universeel as ’n basiese mensereg beskou. Vanuit ’n filosofiese vertrekpunt mag nie met die mens se vryheid van keuse met betrekking tot reproduksie ingemeng word nie. Die argument dat reproduksie as “duplisering” by MRK ter sprake is, hou ook nie stand nie, omdat ’n volkome en perfekte replika van die selnukleusskenker se DNS onmoontlik is. Indien die teorie van solo-reproduksie (Cutas en Smajdor 2016) wetenskaplik geverifieer kan word, behoort bogenoemde stelling egter weer in heroorweging geneem te word.

Die enigste absolute maatstaf om MRK as ’n aanspraak op die basiese reg op voortplanting uit te skakel, is indien voortplanting volgens die “twee-in-een-vlees”-beginsel (Ryan 2001) omskryf word. Hierdeur word kwasiteologiese argumente doeltreffend uitgeskakel deur ’n meer fundamentele beskouing oor wat die konstruk voortplanting na regte in wese behels, te handhaaf. Joodse argumente oor die kommodifisering van die lewe en die absolute teenkanting van Islamiete teen MRK word terselfdertyd deur hierdie uitgangspunt ondervang.

7.5 Dominansie van genotipe

Argumente oor die dominansie van genotipe tydens die latere ontwikkeling van ’n kind wat deur MRK gebore is, word in ’n groot mate uitgeskakel deur die argumente van Van Niekerk (2012:588–9):

Die eerste ongefundeerde aanname van hierdie argument is die bewering dat sowel my identiteit as die verloop en uitkoms van my lewe as individu volledig bepaal word deur my genotipe of genetiese konstitusie. Hierdie argument is die radikalisering van die bewering dat “nature” volledige voorrang het bo “nurture” in die bepaling van menslike identiteit en menslike moontlikhede. Dit is egter sekerlik ’n oordrywing. Wie ek is en wat ek sal word, is tog eweseer die uitkoms van geleenthede wat ek bekom en keuses wat ek maak. Dit word daarby ook sterk beïnvloed deur omgewingsfaktore, soos die invloed van ouers, onderwysers, opvoedingsgeleenthede en die invloed van vriende en rolmodelle. Natuurlik speel genotipe ’n sekere rol in die identifisering en disposisie om sekere moontlikhede te ontgin; ’n doofgeborene het geen kans om ’n musikus of komponis te word nie. Maar wie en wat ek is of sal word, is nie sonder meer vasgelê in my genotipe nie. My genotipe is hoogstens ’n platform vanwaar voorsiene sowel as onvoorsiene moontlikhede hulself aanmeld. Wie en wat ek is en sal word, is ’n onontkenbare funksie van hoe ek met daardie moontlikhede omgaan.

7.6 Metodologiese probleme

Navorsing oor kloning word natuurlik aan bande gelê omdat geen amptelike gekloonde individu op rekord is wat deur middel van gevalle- en of longitudinale studies kwalitatief bestudeer kan word nie. Gevolglik is spekulasie, toekomsprojeksies, ongetoetste menings en standpunte aan die orde van die dag, wat die onderskeiding tussen feit en fiksie baie bemoeilik.

Beide Prainsacka en Spectorb (2006) en Segal (2006) maak van die metodologie van tweelingstudies as ’n teoretiese model gebruik op grond waarvan pogings aangewend word om by wyse van ekstrapolasie gevolgtrekkings oor reproduktiewe kloning te maak. Benewens tweelingstudies kan die sosiaal-sielkundige model van similariteit (Mitteness, DeJordy, Ahuja en Sudek 2016; Van Hoye en Turban 2015) ook op hierdie terrein oorweeg word. Dit hou belofte in om veral navorsing van ’n sosiale-wetenskaplike aard op ’n beter grondslag te plaas en spekulasie te beperk. Dit is reeds bevind dat aangetrokkenheid tussen mense deur direkte versterking op grond van operante kondisionering ontstaan en ontwikkel word. Verhoudings word ook deur klassieke kondisionering gevestig. Individue wat met positiewe gebeurtenisse geassosieer word, verwerf positiewe waarde. Positiewe verhoudings word gekenmerk deur ’n oorwig positiewe emosies eerder as wat negatiewe emosies met sulke verhoudings geassosieer word. Aangetrokkenheid vind ook plaas tussen individue met gelyksoortige persoonlikheidstrekke, houdings en waardes. Soortgelykheid in verhoudings verminder die kanse dat verwerping in sulke verhoudings voorkom.

7.7 Ten slotte

Die samelewing in die algemeen (veral die behoudende en konserwatiewe sektore) gaan nie maklik die verdere ontwikkelinge op die gebied van MRK kan voorkom of wegwens nie, tensy wetgewing spoedig die praktyk konsekwent wêreldwyd verbied. Wat die huidige betref, is die enigste logiese uitweg om in ooreenstemming met Robertson (1986) se denke op te tree en ouerskap, hetsy biologies of biotegnologies geïnduseer, minder as ’n bedreiging en meer as ’n uitdaging te sien. Op hierdie stadium is ’n “gelukkige einde” vir MRK geensins in sig nie, en wat presies met die “gelukkige einde” bedoel word, kan slegs met verloop van tyd met goedgekontroleerde longitudinale studies (maw nadat MRK goedgekeur is) met gekloonde kinders en volwassenes bepaal word.

 

Bibliografie

Ackermann, DM. 2014. Surprised by the man on the borrowed donkey. Kaapstad: Lux Verbi.

Acosta, ND en SH Golub. 2016. The new federalism: State policies regarding embryonic stem cell research. American Society of Law, Medicine and Ethics, 44(3):419–36.

Ani, EI. 2013. Questioning cloning with genealogy. Open Journal of Philosophy, 3(3):376–9.

Baylis, F. 2002. Human cloning: Three mistakes and an alternative. Journal of Medicine and Philosophy, 27(3):319–37.

Cahill, L.S. 2005. Theological bioethics: Participation, justice and change. Washington: Georgetown University Press.

Cuptas, D en A Smajdor. 2016. “I am your mother and your father”! In vitro derived gametes and the ethics of solo reproduction. Health Care Analysis, Maart, ble 1–16. doi:10.1007/s10728-016-0321-7.

Daar, J, P Amato, J Benward, LR Collins, J Davis, LE Francis en S Tipton. 2016. Human somatic cell nuclear transfer and reproductive cloning: An ethics committee opinion. Fertility and Sterility, 105(4):1–4.

Dovey, D. 2015. The science of human cloning: How far we have come and how far we are capable of going. Medical Daily. http://www.medicaldaily.com/science-human-cloning-how-far-weve-come-and-how-far-were-capable-going-340006 (10 Junie 2016 geraadpleeg).

Ellerton, P. 2016. What exactly is the scientific method and why do so many people get it wrong? The Conversation, 14 September. http://theconversation.com/what-exactly-is-the-scientific-method-and-why-do-so-many-people-get-it-wrong-65117?utm_medium=email&utm_campaign=Latest%20from%20The%20Conversation%20for%20September%2016%202016%20-%205611&utm_content=Latest%20from%20The%20Conversation%20for%20September%2016%202016%20-%205611+CID_b1b2794b76d24c69046d972299820b9e&utm_source=campaign_ monitor_africa&utm_term=What%20exactly%20is%20the%20scientific%20method%20and%20why%20do%20so%20many%20people%20get%20it%20wrong (19 September 2016 geraadpleeg).

Faigman, DL. 2015. Where law and science (and religion?) meet. Texas Law Review, 93(7):1659–79.

Galef, J. 2011. You say embryo, I say parthenote. Scientific American, November 1. https://www.ncbi.nlm.nih.gov/pubmed/22125857 (7 Augustus 2016 geraadpleeg).

Harris, J. 2014. On cloning. Londen: Routledge

Hauerwas, S en J Shuman. 2012. Cloning the human body. In Lysaught en Kotva (reds) 2012.

Hunter, DJ. 2016. Uncertainty in the era of precision medicine. New England Journal of Medicine, 375:711–3.

Illmensee, K en M Levanduski. 2010. Embryo splitting. Middle East Fertility Society Journal, 15(2):57–63.

Inhorn, MC en S Tremayne. 2016. Islam, assisted reproduction, and the bioethical aftermath. Journal of Religious Health, 55:422–30.

Jansen, VM en I Mayer. 2016. Early stage breast cancer: How to know whether to forgo chemo. The Conversation, 2 September. http://theconversation.com/early-stage-breast-cancer-how-to-know-whether-to-forgo-chemo-64645?utm_medium=email&utm_campaign=Latest%20from%20 The%20Conversation%20for%20September%205%202016%20-%205545&utm_content=Latest %20from%20The%20Conversation%20for%20September%205%202016%20-%205545+CID_6db 23ebbec5b3262b5a8386a1ad8358c&utm_source=campaign_monitor_africa&utm_term=Early%20stage%20breast%20cancer%20How%20to%20know%20whether%20to%20forgo%20chemo (19 September 2016 geraadpleeg).

Levick, SE. 2006. Psychological aspects of human reproductive clones: What can we infer from the clone-like? Psychiatric Times, 1 Desember. http://www.psychiatrictimes.com/articles/ psychological-aspects-human-reproductive-clones-what-can-we-infer-clone/page/0/3 (15 Augustus 2016 geraadpleeg).

Lysaught, MT en JJ Kotva (reds). 2012. On moral medicine. 3de uitgawe. Eerdmans: Cambridge.

Macintosh, KM. 2014. Human cloning: Four fallacies and their legal consequences. Cambridge: Cambridge University Press.

Malik, K, K Sabir, N Shabir, N Nisar, M Hamza Basit, M Khan en H Sadia. 2016. Controversies: Stem cell research. Bulletin of Environment, Pharmacology and Life Sciences, 5(5):77–83.

Markkula Centre for Applied Ethics. 2001. The ethics of human cloning and stem cell research. Santa Clara University. https://www.scu.edu/ethics/focus-areas/bioethics/resources/the-ethics-of-human-cloning-and-stem-cell-research ( 9 Junie 2016 geraadpleeg).

May, J. 2016. Emotional reactions to human reproductive cloning. Journal of Medical Ethics, 42:26–30.

Mitteness, CR, R DeJordy, MK Ahuja en R Sudek. 2016. Extending the role of similarity attraction in friendship and advice networks in angel groups. Entrepreneurship Theory and Practice, 40(3):627–55.

Morales, NM. 2009. Psychological and ideological aspects of human cloning: A transition to a transhumanist psychology. Journal of Evolution and Technology, 20(2):19–42.

Nasionale Gesondheidswet (2003). Nommer 61. 2014. Staatskoerant 37730, 10 Junie.

Prainsacka, B en TD Spectorb. 2006. Twins: A cloning experience. Social Science & Medicine, 63:2739–52.

Robertson, JA. 1986. Embryos, families, and procreative liberty: the legal structure of the new reproduction. Southern California Law Journal, 59:939–1041. Hein Online, Aanhaling: 595. Southern California Law Review, 939:1985–6 (5 September 2016 geraadpleeg).

Ryan, MA. 2001. Ethics and economics of assisted reproduction. The cost of longing. Washington: Georgetown University Press.

Schmeck, H. 1998. Cloning, a great story, but know what you are writing. Nieman Reports, 15 Junie. http://niemanreports.org/articles/cloning-a-great-story-but-know-what-you-are-writing (15 Junie 2016 geraadpleeg).

Segal, NL. 2006. Psychological features of human reproductive cloning: A twin-based perspective. Psychiatric Times. http://www.psychiatrictimes.com/print/160952/0/1 (5 Augustus 2016 geraadpleeg).

Selin, C. 2016. Tough love for technology. Science, 353(6301):756. doi:10.1126/science.aag2783.

Specter, M. 2016. DNA revolution. National Geographic, Augustus, ble 36–55.

Suid-Afrikaanse Agentskap vir die Bevordering van Wetenskap en Tegnologie. sj. The public understanding of biotechnology.

Towns, EL. 1996. Waarom is kloning verkeerdhttp://www.gelofteland.org/index.php/ons-god/21-aktuele-vrae/252-waarom-is-kloning-verkeerd.html (7 September 2016 geraadpleeg).

―. 2011. Fasting for spiritual breakthrough. Massachusetts: Baker Books.

Turner, MP. 2014. Five lingering effects of fundamentalism. http://matthewpaulturner.com/2014/ 08/28/5-lingering-effects-fundamentalism ( 5 September 2016 geraadpleeg).

UNESCO. 2005. Human cloning. Ethical issues. http://unesdoc.unesco.org/images/0013/001359/ 135928e.pdf (22 Augustus 2016 geraadpleeg).

Van Hoye, G en DB Turban. 2015. Applicant-employee fit in personality: Testing predictions from similarity-attraction theory and trait activation theory. International Journal of Selection and Assessment, 23(3):210–23.

Van Niekerk, AA. 2012. Biotegniese verbetering: Maakbaarheid of onttowering. Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 15(4):581–95.

Vatikaan. 2004. Document of the holy see on human cloning. http://www.vatican.va/roman_curia/ secretariat_state/2004/documents/rc_seg-st_20040927_cloning_en.html (22 Augustus 2016 geraadpleeg).

Wingspread Conference on the Precautionary Principle. 1998.  http://www.sehn.org/wing.html (6 Junie 2016 geraadpleeg).

Witherspoon Council. 2015. State laws on human cloning. The New Atlantis, Somer, ble 95–106. http://www.thenewatlantis.com/publications/appendix-state-laws-on-human-cloning (16 September 2016 geraadpleeg).

 

Eindnotas

1 Alle insette, kritiese kommentaar, wenke en deskundige bydraes wat goedgunstiglik aan my deurgegee is om die kwaliteit van die inhoud van hierdie meningsartikel te verbeter word hiermee erken. Hierdie insette word besonder waardeer.

2 Die konteks vir hierdie aanhalings deur Robertson en Malik is soos volg: Robertson se aanhaling verteenwoordig die meer realisties-positiewe kant van die spektrum standpunte oor menslike reproduktiewe kloning, terwyl Malik se aanhaling die hoofsaaklik skepties-negatiewe kant van die literatuur verteenwoordig. Die twee aanhalings volg direk na mekaar en op hierdie wyse word die kompleksiteit van die onderwerp reg aan die begin van die teks duidelik beklemtoon.

3 Dit is uit die aard van die saak ’n baie moeilike taak (indien nie ’n onmoontlike een nie) vir een outeur om ’n gesaghebbende artikel oor ’n komplekse onderwerp soos menslike kloning veral vanuit ’n multidissiplinêre vertrekpunt te skryf. Dit word aanbeveel dat  deskundiges verteenwoordigend van verskillende dissiplines voortaan as mede-outeurs saamwerk by die skryf van soortgelyke opvolgartikels oor hierdie onderwerp.

The post Standpunte oor menslike reproduktiewe kloning: ’n verkenning en samevatting van die literatuur appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21138

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>