Louis van der Watt is vanjaar 21 jaar lank dirigent van die Canticum Novum-koor. Hy vertel vir Naomi Meyer van dié koor se uitvoering van Händel se Messias, en waarom dit hom na aan die hart lê.
Louis, wil jy vir ons lesers van jou agtergrond en belangstellings vertel? Hoe sluit dit aan by Händel se Messias en die Paasuitvoerings hiervan?
Ek is ’n Vrystater wat al 37 jaar lank my ballingskap in die Boland deurbring. Een van my positiewe persoonlikheidseienskappe is entoesiasme: vir my gesin, vir tuinmaak, hardloop (nou goed dan: draf!), tale, en lees. Wat niefiksie betref, is my belangstellings CS Lewis, GK Chesterton, argitektuur en enige goed-nagevorste (“scholarly”) boek oor die Tweede Wêreldoorlog. Wat fiksie betref, lees ek byna uitsluitlik Engelse en nie-Amerikaanse prosa – van AS Byatt tot Michael Dibdin (my “all-time” gunsteling is PG Wodehouse se Jeeves en Wooster-sketse) – en poësie, veral die metafisiese (religieuse) digters, asook Gerard Manley Hopkins (verreweg my gunsteling-digter).
My lewensfilosofie, reeds van skooljare af, was nog altyd om so voluit as moontlik te leef. NP Van Wyk Louw se verwoording van daardie intensiteit is lewenslank al ’n refrein in my gemoed: “Dit brand my voete dat ek moet loop, dat ek so vinnig soos wind en vuur moet loop ...”
’n Verdere groot passie wat ek het, is vir musiek, en veral musiek wat ’n geestelike verwysingsraamwerk besit – dus veral gewyde werke vir koor en orkes of a cappella. Ek glo dat dit ook hier is wat ek in die gelukkige posisie is om dalk iets vir ander mense te beteken: eerstens vir my koorlede deur vir hulle die betekenis van die woorde uit te lê (waar my teologiese agtergrond nuttig te pas kom), en verder ook vir die luisteraars. Ons uitvoerings van die Messias net voor Paasfees is so ’n geleentheid.
Wat is die Canticum Novum-koor?
Canticum Novum is die enigste Suid-Afrikaanse koor waarvan die repetorium hoofsaaklik uit geestelike musiek bestaan. Die koor bestaan meestal uit studente en jong werkendes.
Vertel my asseblief van jul werksaamhede en optredes?
Ons tree een maal per jaar saam met die Universiteit Stellenbosch-orkes op. Ons bied uitvoerings aan op uiteenlopende plekke, soos in kerke, tehuise vir bejaardes, en selfs tronke! Ons geniet koorsang en het ook baie pret.
Besoek die koor se webtuiste by http://www.canticumnovum.co.za.
Kaartjies vir die optredes op 1 en 2 April 2017 is beskikbaar by Computicket.
The post Händel se Messias: ’n onderhoud met Louis van der Watt appeared first on LitNet.