Doodsroeper
Rika Cloete
9780799383126
R230.00
Dit is Februarie, 1861.
’n Groepie trekboere maak hulle gereed vir die jaarlikse migrasie van die springbokke – een van die merkwaardigste en bekendste tonele in die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Hulle staning is naby die Gamagara-rivier in die Kalahari.
Die spanning bou op, want hulle verkenners vertel dat die bokke op pad is.
Dan is daar ’n lyk. Die man is wreed vermoor en die lyk is daarna verder vermink. Die dooie lê in Stilbos – ’n misterieuse plek sonder voëls en die skuilplek van die Doodsroeper, ’n onaardse wese wat uitroep voordat iemand sterf.
Soois Bruwer, ’n verloopte wetsman, word versoek om ondersoek in te stel.
Soois het rede gehad om homself eenkant te hou, nou moet hy meer spraaksaam wees en só besef hy: Dié groepe mense met wie hy saamtrek, het byna almal iets om weg te steek.
Net toe Soois dink hy is op die regte spoor, roep die Doodsroeper weer en sit hy met ’n tweede lyk op hande. Nou moet hy alles inspan om die moordenaar vas te trek, want dit wil voorkom asof daar binnekort nog dooies sal wees.
Pelgrimshoop
Ronel Nel
9780799383119
R230.00
Dit gebeur selde dat iemand ’n heel nuwe perspektief kan oopskryf op ’n ou tema. Ronel Nel kry dit reg – deels deur feite uit haar eie gesin se geskiedenis te gaan opdiep en ’n storie daarvan te maak.
Die roman vertel van ’n skynbaar onskuldige vrou wat vir ’n skynbaar nors boer moet gaan skool hou. Die boer is ryk en sy perde doen goed.
Stadig maar seker ontdek die leser dat ons heldin nie so onskuldig is as wat ons dink nie, dat ons ryk boer nie om dowe neute homself eenkant hou nie – en bowenal dat die stukkie paradys wat hy probeer skep, nie deur slange nie, maar wel rassiste bedreig word.
’n Mens sou hierdie roman kon beskryf as relevant vir ’n wêreld waarin “die ander” deesdae weer openlik aangeval en verkleineer mag word. Dit is. Tog, diep in die wese van hierdie storie klop twee harte wat desperaat is om menslikheid te vind. Lees maar. Geniét die storie; daar is baie om te geniet. Ten spyte van die donker onderwerp, breek die hoop deur.
Die boek loop deur een baie belangrike jaar in ons geskiedenis, 1956, ondersoek die instelling van ‘petty politics’ en betrek onder meer die vrouemars na die Uniegeboue, wat ons steeds elke jaar gedenk op die 9de Augustus. Dit vertel egter ook ’n stukkie onbekende geskiedenis – en is gebaseer op werklike gebeure.
Koeëlreën: Wapens, bloedspatsels en wonde
Japie Bogaards & Wollie Wolmarans
9780799382686
R200.00
Wollie Wolmarans is een van Suid-Afrika se bekendste forensiese deskundiges. Hy is al geroep in meer 800 hofsake in Suid-Afrika, en oorsee. Een van sy bekendste sake was Oscar Pistorius s’n en daarna het almal ’n opinie gehad oor spatmerke.
Gooi hierdie ongelooflike kennis saam met Japie Bogaards se vermoë om ’n spannende storie te vertel, dan het jy ’n feiteboek wat soos ’n riller lees.
Vir 240 bladsye vertel hierdie twee jou van ware sake, beide ter plaatse en in ander lande. So, al lesende, word ons al hoe meer bekend met die studie van projektiele in vlug, die identifikasie van vuurwapens, hulle reikafstand en afvuurtempo, die snelheid van die projektiel, die merke wat op afgevuurde doppies en koeëls gelaat word, die aard van die wonde wat hulle veroorsaak, ja, ook bloedspatselpatrone en die chemiese reste wat koeëls laat op diegene wat daarmee in kontak was; asook die versameling en evaluasie van data.
Dit is ’n fassinerende boek met sake wat reeds uit die 1800s kom.
Die moord op John F Kennedy word betrek, so ook die skrikbewind van die Beltway Snipers wat in 2002 talle mense sonder enige patroon afgemaai het.
Soos die boek vorder, leer die leser al hoe meer.
Verskeie Suid-Afrikaanse sake word betrek, ook die van Pistorius.
Van die interessantste gevalle is egter dié wat nie noodwendig die poniepers haal nie.
Een daarvan is Jamie Verhoef se saak. Die seun se lyk word in sy kamer op ’n afgeleë plaas naby Beaufort-Wes aangetref. Hy lê op sy jaggeweer, sy kop is vergruis. Was dit ’n ongeluk of selfdood? Die antwoord is belangrik, want daar is ’n polis, met ’n selfdoodklousule, van ’n miljoen rand op die spel. Meer nog: Daar is ’n gesin wat antwoorde soek.
Hoe haal regerings hulle teenstanders uit? Al gehoor van spioene en giftige sambrele? Koop die boek, sulke goed gebeur nie net in James Bond-films nie. Feite is soms veel meer bisar as fiksie.
God praat Afrikaans
HemelBesem
R150.00
9780799382761
HemelBesem se komvandaan is ’n hok.
Ons hok was ’n tyd lank ’n sjebien. Om krag te bespaar of as ons yskas stukkend was, moes ons soms die biere koud hou deur dit saam met ys en water in die bad te hou, en dan so te verkoop. Daai was ’n rowwe tyd, want my pa het baie ouens afgestof wat probeer het om by my susters aan te lê.
Vandag is HemelBesem groot. Hy bied Pasella op SABC2 aan. Hy speel in Noem my skollie. Hy werk saam die ATKV en WOW. Hy besoek skole. Op RSG bied hy reekse aan. In Suid-Afrika, Namibië, Nederland en België trek hy vol sale. HemelBesem rap.
Ek’s bekend, but dis ’n klug. Om my te ken is fundamental.
HemelBesem is die naam. Aangename kennis!
Innie vlees is my dade na aan die waarde van professors.
My thesis? Ons is almal chemikalieë in essence.
Daar was al Jack Parow se biografie. Nou is daar HemelBesem se outobiografie. Jack het grootgeword in die wit burbs, nie HemelBesem nie. Albei rap in Afrikaans. HemelBesem rap in kaalvuisafrikaans.
Ek rap in my moedertong.
Dit beteken my moeder is stom,
op soek na huistaal,
dis in koebystaal in vermom.
Skaamteloos gooi hy in Afrikaans, dink hy in Afrikaans, skryf hy in Afrikaans, omarm hy sy menswees in Afrikaans. Al is sy “dade na aan die waarde van professors”, praat hy reguit; die boek is nie ’n akademiese essay nie:
My taak is nie om mense op te voed rakende die taal nie, maar ek dink ek wil dit so kras as moontlik stel: Afrikaans se oorsprong is basies shitty... maar dis vir seker die beste kompos as jy wil hê iets moet mooi groei.
HemelBesem vertel skaamteloos sy storie uit die perspektief sy komvandaan, van diegene wat anders praat as die “een soort Afrikaans in die hoofstroom-media”.
As coloured mense mekaar groet, is dit ’n la-a-ang affêre. Dis seker waar vir ander kulture ook, maar dis definitief iets wat ek van my mense waardeer. Amper alle sintuie raak deel van die groet.
Aweh! So groet HemelBesem jou. En hoekom?
Dis omdat “aweh” vir my so naby aan “Yahweh” is. Dis die Joodse woord vir Jehova of God. Glo dit of nie, maar daar is vir my so ’n hip hop-gevoel aan die hele idee...
Simon Witbooi het gaan teologie swot. Maar toe haak hip-hop hom nader. Vandag is hy ’n motveringspreker, ’n maker van musiek, ’n rapper, ’n digter, ’n edutainer, maar hy is ook ’n straatpredikant. Hierdie boek is sy outobiografie, propvol lirieke.
Maar dis meer:
Wat ek hier wil vertel, is my storie soos dit uit my geheuebank kom. So, kom staan saam met my by my ATM (Alles wat Tyd met my Maak). Hierdie boek is my PIN na alles daarbinne... my storie in my Afrikaans.
Trek soveel as wat jy dink jy benodig.
HemelBesem is met die hip-hopkunstenaar YOMA getroud, en hy is die trotse pa van twee dogters, Simile en Halo.
My leuse? Maakit annie brand soes Armageddon!
Smeul: drie vroue, een kombuis
Riana Scheepers, Marietjie Koekemoer en Leonie Scholtz
ISBN: 9780799382754
R300.00
Drie uiteenlopende karakters, drie vriendinne: ’n Bemarker, ’n radioloog en ’n skrywer; hulle is so verskillend soos komyn en kaneel, maar al drie is wêreldswerwers, kunstenaars en passievol verknog aan die eeu-oue wonderwerk van kosmaak. Hulle deel ’n liefde vir die kombuis, salf mekaar se wonde, drink wyn, luister magiese musiek en vier die lewe.
In die kombuis bruis hul vriendskap, of juis soms nié. Die een is morsig met meel en heeltemal te oordadig as dit kom by rissies en peperkorrels, die ander meet alle mates presies af en swaai die houtlepel-septer oor die botter én die bobotie.
Eeu-oue familieresepte en hartsgeheime word gedeel, maar hulle het ’n neus vir nuwe neigings in die kulinêre wêreld, dié word beproef, getoets en hul eie gemaak. Diepnag, tussen sielsgenote, word nuwe geregte word geskep, want dit is dán wanneer die kokke dans.
Hierdie drie vroue kuier en kook van die Weskus tot in die Karoo, in die woud en ook die stad; hulle kook oor die aardbol heen.
Die resultaat van hierdie unieke vriendskap, en die geregte wat daaruit voortspruit, kan net smeul.
Smeul bevat ou bekende resepte, opgekikker in ’n nuwe moderne baadjie, maar ook ’n hele paar nuwe smake en interessante kombinasies uit die drie formidabele vroue se kombuise. Daar is 110 resepte en in vier afdelings.
Iets oor elke afdeling
Weergalose Weskus: Swartmossels met lekker bros brood; braaisnoek op die kole; smoorsnoek én viskoekies; calamari-, kiwivrug-en-kruisementslaai; oondpatat met suurroom, pikantrissies en veldkool.
Karooland, hartland: waterblommetjiesop; bruin wildvleissop met jenewerbessies en jenewer; pampoentert met lemoensjokolade; bolmakiesiepastei; Marietjie se karoowors; ontbeende, gevulde skaapkop en biltongpatee.
Diep, diep in die donker woud: botterskorsie-en-soetpatatsop met grondboontjiebotter; sampioenrisotto; ertjiemousse met kruisement; brandnetelbredie; malva-gemmerpoeding met appels; rolkoekpoeding met pere, witsjokolade en nastergalkaaskoek.
Sprokie vir ’n stadskind: beesstertsop met ’n Thaise kinkel; Marokkaanse lensies; artisjokke; oondgebakte kwartels; hupse hamburgers op roosterkoek; frikkadelle met plomp tamatiepuree op Afrika-polenta; kantkoekies en mooikoek.
Soettand
Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker
R200.00
ISBN: 9780799379884
Tannie Koelsoem en tannie Flori is terug en hulle tweede boek heet Soettand.
In Soettand deel hulle poedings en soetgebak wat dekades lank al familiegunstelinge is, soos Ouma Rose se doekpoeding, ’n onderstebo-tert, Potpoeding, Maleise koesisters, Bobaas-bollas, Yuwin se waatlemoenysies, Gemmerpoeding, Broodpoeding met ’n verskil, Hertzoggies en die berugte Tweegevrietjies.
Die eerlike en onopgesmukte kos, uit Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker se kombuise in Bonteheuwel op die Kaapse Vlakte, het Suid-Afrikaners geheel en al betower. Die twee afgetrede tannies se onfeilbare resepte het daarvoor gesorg dat Kook saam Kaaps topverkoperstatus bereik het, met 10 000 eksemplare wat binne 12 maande verkoop is.
Koelsoem en Flori het ook hul eie kookreeks op televisie aangebied. Flori en Koelsoem se kosse is vir dertien weke elke Woensdagaand om 18:00 op VIA (kanaal 147) uitgesaai.
Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker is gereelde en entoesiastiese deelnemers aan die radioprogram Tjailatyd, wat smiddae deur Amore Bekker op RSG aangebied word. Hulle deel gereeld en met groot liefde hul beproefde resepte met die luisteraars van regoor die land. Albei is ervare huiskokke wat ook daagliks aktief deel is van die wel en wee van die Bonteheuwel-gemeenskap.
Edouard Cointreau, President van die jurie en die stigter van die Gourmand World Cookbook Awards, skryf oor Kook saam Kaaps: “This is a book with magic, bringing back local recipes which are family secrets from grannies in the Cape Town area.”
In Soettand geld dieselfde filosofie.
My eerste diereatlas
Wendy Maartens
Illustreerder: Alistair Ackermann
9780799374049
R200.00
Watter diere oorleef op die koudste plek op Aarde?
Waar sal jy die wêreld se grootste vlermuis vind?
Watter bloeddorstige vissies swem in die Amasonerivier rond op soek na vleis?
Waar bly die grootste skoenlapperspesie op aarde?
En waar in Suid-Afrika kan jy die “uitgestorwe” selakant gaan soek?
Ontdek diere regoor die wêreld met hierdie fantastiese diereatlas! Hierdie atlas is propvol asemrowende feite oor die diere wat op die verskillende vastelande voor-kom, en Suid-Afrika se ryk verskeidenheid dierelewe. ’n Wonderlike feiteboek vir kinders wat gretig is om meer oor die wêreld te leer – en ’n naslaanbron wat op elke skoolkind se boekrak hoort!
My first animal atlas
Wendy Maartens
Illustrator: Alistair Ackermann
9780799366310
R200.00
Which animals survive in the coldest place on Earth?
Where will you find the biggest bat on Earth?
Which bloodthirsty species of fish swim around in the Amazon river, in search of meat?
Where does the world’s biggest species of butterfly live?
And where in South African can you go looking for the “extinct” coelacanth?
Discover animals from around the world with this fantastic animal atlas! This atlas is brim-full of breath-taking facts about the animals that inhabit the different continents, and South Africa’s rich diversity of animal life. A wonderful book for children who are keen to discover more about the world – and a handy reference source that belongs on every child’s bookshelf!
’n Katjie vir Sophia
Sarah Hawkins
R90.00
ISBN: 9780799380118
Sophia is teleurgesteld toe sy nie die hoofrol in die skool se konsert kry nie ─ en die ergste is dat nare Lindie die rol kry!
Maar Sophia vergeet heeltemal van die konsert toe haar ouers ’n stoute katjie, Pêrel, huis toe bring. Sophia besluit om Pêrel vir ’n katskou in te skryf, maar dan vind sy uit dat die beoordelaar net van spoggerige katte hou.
Kan Sophia en Pêrel die skou wen?
Olivia se olifant
Sylvia Bishop
9780799380088
R120.00
Toe Olivia Olivier op die oggend van haar tiende verjaardag wakker word, verwag sy glad nie om ’n baie verwarde olifant op haar voorstoep te kry nie. Maar dit is presies wat sy daar ontdek – saam met ’n stukkie papier waarop staan dat sy nou die wettige eienaar van die olifant is.
So begin ’n baie onwaarskynlik vriendskap.
Maar kan ’n klein dogtertjie en ’n redelike groot olifant leer om saam te bly in ’n piepklein huisie?
Hoe op aarde gaan Olivia vir die (baie honger) olifant sorg as haar enigste familielid, oom Karel, reeds twee jaar gelede spoorloos verdwyn het en sy slegs R343.65 in haar beursie oor het?
Wat voer die nuuskierige, knorrige buurvrou, mevrou Sauerman, in die mou? Wat sal gebeur as sy by die munisipaliteit kla oor Olivia se olifant?
En wat van die slinkse eienaar van die plaaslike dieretuin wat beplan om die olifant te steel? Sal Olivia daarin kan slaag om hom op sy plek te sit?
Olivia se olifant is ’n betowerende storie oor ’n ongewone vriendskap tussen ’n dogtertjie en haar olifant.
Held in ’n oorpak
Madelie Human
9780799382990
Zack is nie een vir langtermynverhoudings nie. Hy stel bloot vir Emma as sy galerybestuurder aan omdat hy nie vir sy vriend Hanno kan nee sê nie. Buitendien is Emma ’n gewone Griet, glad nie sy soort nie en tog …
Ou liefde roes nie
Dina Botha
9780799383003
Tien jaar gelede het Marco haar verraai. Nou staan hy lewensgroot en aantrekliker as ooit van te vore voor Milea. Maar sy kan nie met sy Cassandra kompeteer nie – sy het ’n baba oor wie Marco gek is.
Leila se leeuman
Felicia Snyman
ISBN: 9780799383010
Vir nog ’n man wat haar beroep afkraak sien Leila nie kans nie. Haar professor se seun, Leander, laat hom egter nie stuit nie en breek haar mure stuk-vir-stuk af. Leila probeer sterk staan, maar hierdie man verstaan haar hartklop beter as syself.
Kristel se bosbewoner
Rika du Plessis
ISBN: 9780799383027
Die laaste ding wat Kristel verwag toe sy op haar plaas instap, is Zac − moeilik, aantreklik en volgens hom die eienaar van Groen Eike. Noodgedwonge moet hulle tydelik saamwoon, maar hulle is dadelik haaks of is dit eerder liefde met die eerste oogopslag?
Angelique en die boekanier
Dina Botha
9780799383171
R215.00
Angelique van Olgen het op veertien al ’n onverskrokke gees. Nie eens ’n wilde seerower verskrik haar nie. Sy is net so ontembaar soos haar vlamrooi hare en sy laat geen man haar hiet en gebied nie.
Dit is egter moeilik om nie die knie voor die ewe formidabele aristokraat Graaf Dante de Péronne te buig nie. Hy bekoor haar, maak vreemde, wilde begeertes in haar wakker en toets haar onskuld. Selfs toe hulle deur omstandighede verplig word om te trou, behou Dante sy afstand. Hy gaan die Kaap sonder haar verlaat. Hy is op ’n missie en dit sluit haar nie in nie.
The post Nuut by LAPA in Maart 2017 appeared first on LitNet.