Die Lae Lande is tydens die afgelope US Woordfees goed verteenwoordig. Buiten die optredes van die Nederlandse en Vlaamse woordkunstenaars Stefan Hertmans, Peter Verhelst, Abdelkader Benali, Pamela Pattynama, Tom Lanoye, Diane Broeckhoven en Kurt Defrancq het die Lae Lande ook in verskeie musiekproduksies opgeklink.
Die Tim Kliphuis Jazz Trio, met die Nederlandse jazzviolis Tim Kliphuis en sy Britse kollegas Nigel Clark (kitaar) en Roy Percy (kontrabas), tree eers in die Endlersaal op saam met die US Camerata, met Kliphuis se verwerking van Vivaldi se Vier Seisoene, Reflecting the Seasons. Die Tim Kliphuis Trio en US Camerata het hierdie werk in 2016 vir SONY Classical opgeneem as deel van die trio se 10-jarige bestaansjaar. Later bied hulle ook ’n jazzprogram in ’n gepakte Fismersaal aan, waar die entoesiastiese gehoor geneem word van musiek wat die voete laat jeuk tot die melankoliese klanke van Richard Strauss se Morgen. Langs my sit Raziela Kosterman, violis en agtergrondsanger vir Joshua na die Reën, Deon Bakkes en The Stolen Horses (’n gypsy-jazzorkes in Pretoria), borrelend van lekkerkry. Sy vertel my later van die Grappelli-Django Gypsy Jazz-kursus wat Kliphuis die vorige naweek in Kaapstad aangebied het. Hy beplan om die kursus volgende jaar weer na Suid-Afrika te bring, want hy glo: “Music is to be shared.”
In die Jan Marais-natuurreservaat ’n paar blokke van die Konservatorium af tree Stef Bos op met Stellenboschberg en ’n paar verdwaalde kruindenne teen die agtergrond. Dis ’n lieflike vroegherfsaand soos net die Boland kan optower. Hy vertel van sy drievoudige liefdesband met Suid-Afrika: hy het hy sy hart nie net op die land verloor nie, maar ook op ’n vrou en die taal Afrikaans. In Suid-Afrika word mens met die werklikheid gekonfronteer, terwyl ’n mens dit in Europa met ’n afstandbeheerder kan afskakel. Die kompleksiteite in die land laat ’n mens die volle intensiteit van die lewe ervaar. Ek hoor hierdie refrein by elke kunstenaar uit die Lae Lande en ek dink hoe goed dit is om ons land deur ander oë te kan sien.
Ook die Vlaamse dirigent Rik Ghesquière is, danksy sy betrokkenheid by die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees en die Gauteng Filharmoniese Orkes in Pretoria, geen vreemdeling vir Suid-Afrika nie. Vanjaar het hy opgetree saam met die US Simfoniese Blaasensemble (USSBE), Paarl Primêre Seunskoolkoor, Rietenbosch Primêr Skoolkoor en ERUB Kinderkoor, asook Petrus du Preez (verteller) en studente van die US se drama- en musiekdepartemente as akteurs in die produksie Eendag lank gelede, deur een van die mees gerekende Vlaamse komponiste, Jan van der Roost.
Die gehoor is meegevoer na ’n sprokieswêreld in klank, met die Afrikaanse vertaling deur Karin Maritz wat die verhale ’n Afrikaanse kleur gee. Wat hierdie produksie so besonders maak, is die omvang van die samewerking tussen die verskillende afdelings van die universiteit en die skoolkore – volgens Pamela Kierman, lektor in koperblaasinstrumente en diensleer aan die US Konservatorium, asook dirigent van die USSBE, ’n uiters waardevolle leerervaring vir studente. Vir sommige van die koorlede was dit hulle eerste keer op ’n verhoog, en dalk het dit bygedra tot die bekoring van die produksie, hierdie blinkoog kindertjies wat met soveel verwondering deelneem. Die knop in my keel wou nie wyk nie, veral omdat ek besef het hoeveel werk in hierdie produksie ingegaan het, maar wat weens die uiters ongunstige tyd vir die jong teikengehoor (die Woordfees het dit ingedeel op ’n Donderdagaand om 20:30 ...) nie al die harte bereik het wat dit moes nie. Hierdie is die ideale produksie om na die omliggende gemeenskappe te neem waar kinders uit Cloetesville, Jamestown, Idasvallei, Kylemore en Kayamandi ook in die betowering kan deel. Sulke produksies is onontbeerlik om nie net gehore vir die toekoms te kweek nie, maar ook potensiële akteurs, sangers en instrumentaliste.
The post US Woordfees 2017: Wys ons die Lae Lande in woord en klank appeared first on LitNet.