Een van die langslewende Suid-Afrikaanse rockgroepe, Jack Hammer, se nuutste album, Handful of rain, is uitgereik. Dit is agt jaar na hul vorige een, Highway 13, en die sewende studio-album in ’n loopbaan wat afgeskop het in 1986 met Jack of all trades.
Hoewel Jack Hammer alombekend en gewild is vir hulle geen-nonsens rock-aanslag, het daar met die nuwe album ’n organiese en meer akoestiese, diep harmonieuse omskepping in die groep gebeur.
Mens sou enersyds wonder hoeveel daarvan as gevolg van Peter Pearlson is, die regisseur wat in die Suid-Afrikaanse konteks al met George Martin vergelyk is omdat hy onder meer soveel treffers vir Anton Goosen help opneem het.
Dit is die eerste keer dat Pearlson sy towerkuns oor Jack Hammer loslaat, maar nie die eerste keer dat hy en Piet Botha saamwerk nie.
Andersins sou mens ook die rede vir die nuwe, meer natuurvriendelike Jack Hammer kon toeskryf aan Botha se samewerking die afgelope jare met die Dennis-broers van Akkedis, onder die vaandel van Lyzard Kyngs. Veral met hul lewende vertonings het hierdie meer harmonieuse, warmer klank vorm aangeneem.
Piet Botha, die enigmatiese, onverdunde voorsanger en musiek-liriekskrywer van Jack Hammer, het met sy handvol solo-albums ook al hoe nader begin beweeg aan Afrifolkmusiek en mens kon die transformasie eerstehands dophou sedert sy album Spookpsalms.
Laastens, en dalk die mees waarskynlike rede, is dat die highway / oop pad sy eiesoortige mure en grense het, vryheid ook ’n klooster is, en Hammer, Duke, The Kid en Bean nie dié keer kaalvuis wou inklim nie – dalk moes hulle ’n saak met mekaar uitmaak oor die rigting van hulle ouer broederskap.
Dit gesê, ’n kort waarneming van Jack Hammer in Die Mystic Boer, Bloemfontein
Daardie aand toe Jack Hammer Die Mystic Boer in Bloemfontein vir die eerste keer in 15 jaar kom tem het, was daar baie min hiervan op die spyskaart.
Ons het geweet iets spesiaal kom: die filmmakers, en met die woord CREW op hul swart T-hemde, het die verwagting laat opvlam, maar ons het nie geweet dat die 61-jarige Botha só deurleef is en so baie in hom oor het om vir die meestal jongelinge in die gehoor te gee nie. Een so ’n 19-jarige en sy bende studentevriende het Piet as’t ware gedwing om lank na sy beplande afsnytyd nog te speel: “Nog asseblief, oom Piet!”
Die amptelike bekendstelling van hierdie album het sy eie verrassing meegebring: Botha herlaai met ’n nuwe drang en veral die jeug is gespanne en angstig voor die vertoning. Sal hy sy gesuiwerde vorm van rock by ’n volgende generasie kry, hulle wat so diep onder die invloed van oëverblindery is?
Onder sy spel word die gehoor meegevoer na waar hulle pa’s en oupas laas was, saam met die rock-ikone, party nie meer met ons nie.
Daardie aand het die handskoene afgekom. Daardie aand het ek geweet dat Jack Hammer nog steeds die maatstaf is waarteen rockmusiek hier gemeet gaan word. Duke en Bean in die kajuit van die stoomenjin ... daar dryf hulle die musiek volstoom.
Jack Hammer met hulle nuwe akoestiese harmonie het iets geskep wat beskryf moet word as ongekompliseerde rock met al die raakpunte van internasionaal bekende merkers, maar wat nooit die kontinent van hul oorsprong verraai nie.
Die beste voorbeeld hiervan is “Sweet soul music”.
Benewens die beeldspraak van die water wat vloei in die liriek, haak die kopersnare van die Soweto String Quartet gemaklik en eerlik aan die magtige Jack Hammer wat die land en sy sagter kant help beklemtoon. Die onafgewerkte teksture in die twee groepe pas mekaar goed. Onthou my vroeër verwysing na George Martin: net Pearlson sou die moed hê om die Strings saam met die magtige Hammer te gebruik.
Die fondasie van hierdie musiek herinner aan die hartland-rock en -folk soos beoefen deur Willie Nelson, John Mellencamp, Johnny Cash, Warren Zevon, Tom Petty, soms Bruce Springsteen, en altyd Neil Young, en kry hier ’n lewe van sy eie.
Afrikarock.
Die kernkrag van die titelsnit is die meesterlike liriek vasgevang in die simboliese oomblik in en van reën, die lewensbelangrike, maar ook nuwe lewe en skoongewas wat water bring, wanneer mens asem ophou en weet: binnekort gaan iets baie belangrik gebeur. Die afwagting.
Here I go again/ on a lonesome highway/ handful of rain/ and an empty heart.
(Handful of rain)
Hear our song/ it’s true and honest/ just like the wind/ just like the rain.
(Emily)
So I’ll keep on searching/ until I find her again/ out there somewhere/ where the summer meets rain.
(When the moon was young)
The rain becomes a river/ river becomes the sea/ when we play that sweet soul music/ that’s all I hear/ that’s all I see.
(Sweet soul music)
Dit is hoe dit voel om na die nuwe Jack Hammer album te luister. Om ’n donderstorm te voel aankom. Die verwagting tasbaar en hoog.
Jack Hammer, nou in sy 32ste jaar, is die gevolg van ’n lang evolusieproses wat in die middel-’70’s begin het toe Piet Botha, die groep se konstante, begin musiek maak het.
Die Piet Botha-persona is in die (Suid-) Afrikaanse kultuur so gewortel soos wat John Lennon en David Bowie in die Britse of Jim Morrison en Johnny Cash in die Amerikaanse landskap is. Bitter min kunstenaars, indien enige, kan meeding met die werksetiek van die dryfas wat Botha is, amper altyd op die pad tussen sy nuwe basis wat die Kaap is, en die Bosveld, waarheen hy maar heeltyd op reis terug heen is; of as jy weer sien, in Mosambiek tot in die Oos-Kaap, wat goeie teelaarde vir sy musiek is, of deur die Vrystaat, waar hy aanklop in Welkom en Bloemfontein. Dit is juis in die Vrystaatse Goudvelde waar hy die enigste snit gaan optel het wat nie deur hom geskryf is nie – een van die suksesvolste liedjies uit die ’70’s deur David Marks, “Master Jack”, wat deur die groep Four Jacks and a Jill ’n treffer gemaak is. Die snit het Marks geskryf toe hy ’n mynwerker was in Welkom in die ’60’s.
Die meeste van die lirieke is reisstories, presies waarmee hy homself hier weer besig hou. Die lewe op die pad. Letterlik elke snit op dié tour de force het verwysings na sy trekarbeid en wat ’n hoogtepunt word bereik op “That’s how we roll”, ’n snit wat geoormerk behoort te word deur radiostasies wat hulle sout werd is:
That’s how we roll
That’s how we roll
Coast to coast
And up and down that crazy road
That’s the place we call home
That’s the place we call home
That’s how we roll.
Die “oppak en reis”-tema fassineer Botha al sy hele lewe lank en hier is dit weer in die spel. Nog voorbeelde:
The carny is over now/ and all the wagons are leaving town. (Where is the clown)
… the lights go down/ and the man says/ it’s time to go. (Handful of rain)
Botha se deurdagte maar ekonomiese lirieke vind veral uiting in die amper spookagtige. (Sou mens waag om die musiek te help beskryf as klanke wat in moderniteit reeds verbygegaan het?)
Maar dit is die Botha-stem wat per slot van rekening jou die meeste ontroer.
’n Oktaaf te hoog vir so ’n groot man. Agter die mikrofoon, veral op die verhoog, baie meer onseker van homself as wat mens sou verwag. ’n Klein mondfluitjie tussen sy lippe maak die hart uit van die klanke wat deur die kitaarsnare gevolg word.
Onseker of baie nederig.
Dit kom nie uit die rockwêreld nie, daarvoor praat hy meer as sing. Sy oë heeltemal te toe as hy sy lirieke herroep.
Polities? Nou soek jy moeilikheid.
Poëties. Dit is meer die wortel van hierdie rocker.
Ek hoor in my onderbewuste die stemme van mede-Piet Botha-volgelinge (vlugtelinge), voorgangers, fanatici, iets waaroor Jung sou kon geskryf het.
Dis die stem van die suiwerste onder ons.
En hulle is nie verkeerd nie. Sou mens ’n saak kon uitmaak dat dit die stem is van ordentlikheid (ordentlike musiek), orde, respek – dignity het Dylan dit genoem. Die stem wat teenoor al die glimmer en vernis staan. Gestroop, met ander woorde.
Dan sou ons kon redeneer dat dit die krake in sy stem is, waar die vernis, as daar ooit was, afgekrap het, want een feit wat bo alles uitstaan, is dat hy die hardwerkendste musikant van hierdie land is.
Kortom, die nuwe Jack Hammer-album is soos sy tema: reën.
Daarsonder is die rockgees dor en leeg. Ek vermoed hierdie is ’n samekoms van Piet in sy vele vorme met sy vriende, makkers, bra’s al om hom. Ek vermoed hierdie is die voortsetting van ’n lang pad. Ek vermoed jy sal rigtingloos ronddobber in ’n kommersiële see van soeke daarsonder.
The post Handful of rain deur Jack Hammer appeared first on LitNet.