Professore Van Niekerk en Koopman se beswaar teen die besluit om Toon van den Heever se “Werkstaking by die kleigat” steeds in Die Afrikaanse kortverhaalboek op te neem, wil ek my nie laat verbygaan nie.
Elke intellektueel in hierdie land besef die gevoeligheid rondom skeldname, veral as dit met ras te doen het. Daaroor is nie te stry nie. Wat my wel verbaas, is dat die raaklees van een woord, kaffer, in ’n literêre teks soveel vooroordeel tot gevolg het dat daar weinig sprake is van noukeurig lees. En dit by persone wat daagliks met taal omgaan en van wie jy sou verwag dat hulle alles binne konteks sal interpreteer. Hulle lees van die skets is gewoon slordig.
Die titel van Van den Heever se skets maak die leser reeds bedag op die moontlikheid van ironiese afstand. ’n Werkstaking by kinders se speelplek. “Werk” teenoor “speel”, politiek by die spel!
Die twee seuns in hierdie jeugherinnering word deeglik voorberei op die rusie wat volg: hulle is so eners, elkeen is veewagter, albei het ’n ryk verbeelding, albei wil eintlik speel, albei kry skaam en wil wegloop van die plaas, maar die een is wit en die ander swart en hulle toekomsverwagtinge verskil. Daar is ’n rasplafon op die swart seun se verwagtinge en net daardie een woord, kaffer, is nodig om ons onmiddellik te herinner aan Suid-Afrika van die vorige eeu se veertigerjare. Juis daardie één woord is die noodsaaklike een, omdat dit ’n oordeel oor Pens se hele lewe vel. Verdoemende woord.
Dit val op dat die twee professore hulle weinig steur aan die feit dat die wit seun van destyds nou die volwasse verteller is. Met die slotparagraaf vat hy die insident uit sy kindertyd op ’n baie opvallende wyse saam. Die kinderrusie word “’n hewige slag”, maar een wat die twee kinders slegs uitasem laat. Dit sou ook moontlik “beslissend” kon wees, “een van die keerpunte in die geskiedenis van ons land”. Hier word tog duidelik gespot met die politieke taal van die dag. Daar is net te veel woorde wat nie pas by die gestoei van die seuns nie. Buitendien, al wat hierdie groot oorlog tot gevolg het, is dat daar ’n “paar dae” lank nie by die wonderlike speelplek vertoef is nie.
Nog opvallender is dat die twee beswaarmakers geensins aanstoot neem teen die verteller se interpretasie in die einste slotparagraaf dat “die Voorsienigheid” blind is, so blind soos die skape wat hy as kind opgepas het. So ’n siening van die godheid dwing jou tot die besef dat Van den Heever nie so gerieflik pas in die raamwerk van die gemoedelik lokale realisme nie. Van den Heever het in ’n groot mate teen die grein van “1948” ingeskryf. (Hoe banaal is Van Niekerk en Koopman se opmerking nie oor die skets se datum van bundeling, 1948, nie: raai, dít vind hulle “ironies en betekenisvol!”.) Die skets verskyn trouens in Van den Heever se bundel Gerwe uit die erfpag van Skoppensboer. As jy nou kritiese werk oor die politiek van die dag wil lees, kyk maar na die stukke rondom die karakter Sem wat in plaas van ’n behoorlike loon tevrede moet wees met sy baas se ou diakenspak. Ek kon nooit verstaan hoekom daar nie destyds ’n herrie hieroor was nie. Maar die Afrikanerpolitici was te besig om die wêreld te herskep.
En daardie proses hou nie op nie. Ons sien dit in hierdie kritiek. Hierdie here wil glo nie sensureer nie. Dit herinner my aan die Nasionale Party wat immer geprotesteer het al sou hulle sensuur wil toepas: nee, nooit! Die Publikasiewette moet net “beheer” uitgeoefen het.
Nee, professore, die etiek van die letterkunde dra nie die fyn handskoentjies van die preekstoel nie.
Hoekom bly die beeld my by dat ons hier te doen het met waardige opvolgers van Stellenbosch se destydse inmengers: Koot Vorster en JS Gericke?
John Miles, 24 Maart 2017
Lees hier Anton van Niekerk en Nico Koopman se opinie, asook ander kommentaar:
Van den Heever se “Werkstaking by die kleigat”: Regtig nodig in Die Afrikaanse kortverhaalboek? Anton van Niekerk, Nico Koopman "Ons kan seker die verlede nie vergeet nie. Maar waarom aan hierdie verhaal van rassisme en growwe paternalisme status verleen deur dit ook in hierdie besondere bundel op te neem? Waarom hierdie verhaal nie toelaat om rustig te verdwyn in die vergetelheid wat dit so ryklik verdien nie?" |
“Werkstaking by die kleigat”: Willie Burger lewer kommentaar Willie Burger "Eerstens berus die twee here se beskouing van die verhaal ongelukkig op ’n onversigtige en oppervlakkige, oorhaastige lees daarvan – wat al die ironie miskyk en daarom ’n verhaal wat eintlik merkwaardig vir sy tyd was en wat veral vir vandag relevant is, mislees." |
“Werkstaking by die kleigat”: Braam de Vries lewer kommentaar Braam de Vries "Toon van den Heever se 'Werkstaking by die kleigat' is die klassieke begin van juis die 'weerstandsmotief' (weerstand teen onregte) in die Afrikaanse kortverhaal." |
The post “Werkstaking by die kleigat”: John Miles lewer kommentaar appeared first on LitNet.