Die Afrikaanse kortverhaalboek het ’n veelbewoë geskiedenis wat nie altyd met die letterkunde en die probleme van die samestelling van ’n bloemlesing vir volwasse studente iets te make het nie. ’n Engelse sogenaamde komitee teen rassisme in teksboeke het in 1986 al in ’n artikel in die Argus teen die "rassisme" in Jan Rabie se "Droogte" beswaar gemaak. Hul besware was so te sê ’n Engelse kopie van die besware wat Van Niekerk en Koopman teen "Werkstaking by die kleigat" het. Volgens dié vroeër jare se komitee was ek boonop die skrywer van "Droogte"! Ek wens ek was.
Wat die letterkundige waarde betref, kan Van Niekerk en Koopman alles oor "Werkstaking by die kleigat" lees in Kortom 2, maar ook by die grotes soos Hennie Aucamp, Rob Antonissen en John Kannemeyer. En kyk maar gerus na die voordragte in Taal en Identiteit (Tafelberg) en Taal en Stryd (Van Schaik).
Maar is die literêre gehalte hier eintlik ter sake? Oor die jare het ek geleer goeie verhale maak ook ander aspirasies en bekommernisse wakker. En dis belangrik, want byvoorbeeld politiek is ’n gevaarlike vorm van tonnelvisie wat op mag gerig is, terwyl letterkunde "die ruimte van die volledige lewe" bestryk, om Lucebert aan te haal, volledig met ook nuanses, versweë aspekte, suggesties, ens.
Daarom is ’n werkwyse by herdrukke ontwikkel wat die dosente van die vakgebied ook inspraak gee. Van ter sake probleme en aanbevelings is ek dus bewus. Die probleme van raspejoratiewe is maar een daarvan (waaroor veral Etienne van Heerden ’n kenner is).
Die eintlike probleem van Koopman en Van Niekerk is egter polities van aard. Dat juis dié verhaal "almal wat dit goed bedoel met, en hulself beywer vir, ’n nierassige en sosiaal en ekonomies regverdiger Suid-Afrika se pogings opnuut in die wind ( sal) slaan" lyk my na ’n vertraagde buiging voor politieke korrektheid.
Want Toon van den Heever se "Werkstaking by die kleigat" is die klassieke begin van juis die "weerstandsmotief" (weerstand teen onregte) in die Afrikaanse kortverhaal. In 1948 al (let op die datum) vertel dit die storie met gebruik van die omgewing, van gewoontes en van die taalgebruik van die tyd (hoe anders?) van ’n swart seuntjie wat volstrek weier om die wit vertellertjie se agterryer in dié se toekomsdrome te word en te bly. Die vertelde verhaal hou nie op soos die twee here se aanhaling probeer toon by die middag se "hewige stryd" nie, daar was "’n paar dae ’n werkstaking by die kuil".
Wil Van Niekerk en Koopman my nou probeer wysmaak dat daar enigiemand is wat, om dit kru oorvereenvoudig te stel, die voorspelling en/of waarskuwing wat hierdie verhaal soveel jaar gelede al suggereer, kan mislees? En dit terwyl die kinders se spelery en drome wat ’n grootmenswêreld namaak, ironies genoeg in “Werkstaking” die waarskuwing as’t ware uitspel?
Van juis dit wat vir studente in hul heerlike wordingsjare ontdekking, kennis en mede-méns word, behoort te wees, is hier geen sprake nie. Trouens, die teendeel steek ook kop uit.
Die skaars verskuilde sensuurdreigement in die slot (hoe ánders laat jy so ’n bekende en klassieke verhaal verdwyn?) is benede alle kritiek.
Lees hier Anton van Niekerk en Nico Koopman se opinie, asook ander kommentaar:
Van den Heever se “Werkstaking by die kleigat”: Regtig nodig in Die Afrikaanse kortverhaalboek? Anton van Niekerk, Nico Koopman "Ons kan seker die verlede nie vergeet nie. Maar waarom aan hierdie verhaal van rassisme en growwe paternalisme status verleen deur dit ook in hierdie besondere bundel op te neem? Waarom hierdie verhaal nie toelaat om rustig te verdwyn in die vergetelheid wat dit so ryklik verdien nie?" |
“Werkstaking by die kleigat”: Willie Burger lewer kommentaar Willie Burger "Eerstens berus die twee here se beskouing van die verhaal ongelukkig op ’n onversigtige en oppervlakkige, oorhaastige lees daarvan – wat al die ironie miskyk en daarom ’n verhaal wat eintlik merkwaardig vir sy tyd was en wat veral vir vandag relevant is, mislees." |
“Werkstaking by die kleigat”: John Miles lewer kommentaar John Miles "Die titel van Van den Heever se skets maak die leser reeds bedag op die moontlikheid van ironiese afstand. ’n Werkstaking by kinders se speelplek. “Werk” teenoor “speel”, politiek by die spel!" |
The post “Werkstaking by die kleigat”: Braam de Vries lewer kommentaar appeared first on LitNet.