Niël Rademan, uitvoerende hoof van die Suidoosterfees, vertel vir Naomi Meyer van vanjaar se fees.
Niël, jy is die uitvoerende hoof van die Suidoosterfees. Vertel ons lesers asseblief van vanjaar se feestema?
Die Suidoosterfees (SOF) is ’n kunste-organisasie wat terugskouend met die verlede omgaan om juis trots te wees op die hede en opgewonde te word oor die toekoms. Daarom Legendes. Ons eer mense, idees en gebeure vanuit die verlede om sodoende ook huidige kunstenaars bekend te maak met ons herkoms.
Wanneer vind die fees plaas en wat is op vanjaar se program?
27 April – 1 Mei: SOF is ’n fees wat die Kaapse Afrikaanse leefwêreld in volle verskeidenheid vier en ontwikkel. Ons bevorder sosiale diversiteit sowel as nasionale eenheid in en deur die kunste. Ons program wissel van Die vlammende fez, wat handel oor die Kaapse Maleierkultuur en die notering daarvan deur die legendariese digter ID du Plessis, tot ’n skouspel met lewende legendes soos Gloria Bosman, Vicky Samson en Amanda Strydom.
Na aanleiding van vanjaar se tema: watter legendes is op die program te sien? Akteurs, skrywers, musikante?
Benewens dié wat ek reeds genoem het, onder andere ook Chris van Niekerk en Pieter-Dirk Uys; legendariese gegewens soos Piekniek by Mpande née Dingaan (die literêre kabaret); Loukmaan Adams – reeds ’n legende van sy tyd; Coenie de Villiers, jonger kunstenaar; legendes van môre – soos die twee supermusici Qden Blaauw en Leo Gevisser, wat in Legendes klassique sal optree. Ook Dawid Minnaar, Fatima Dike en Elsabe Daneel. ’n Kunsuitstalling van die legendariese skilder Conrad Theys!
En aan watter legendes wat nie meer leef nie, word ook gedink – mense wat dalk skrywers soos Adam Small sal insluit?
Adam Small, ID du Plessis, Johannes Kerkorrel, Nico Carstens, Tony Schilder, die Ngcukana-broers, Hennie Aucamp, natuurlik die geliefde Jakes Gerwel, eerste voorsitter van die SOF. Die Odeion-strykers en Ilse Schumann première by die fees die Jakes Gerwel-kwintet, Kommadagga – spesiaal gekomponeer vir hierdie geleentheid.
Wat is lekker by die Suidoosterfees en wat is uniek? Iets wat anders en besonders is van hierdie fees in die hart van Kaapstad?
Ons is soomloos in ras, kultuur, klas, geloof, taal – met ’n fokus op Afrikaans, vir jonk en oud! Ons is werklik Slegs vir almal!
Ons almal hou ons beursies stywer vas. Is daar gratis of goedkoper produksies waarna almal kan kom kyk?
Ons het heerlike gratis vermaak wat oa by die Feeskafee sal plaasvind – ’n heerlike plesiertent versier en volgepak met lekkertes!
Wat is daar vir die kinders? En wat is daar vir almal wat van musiek hou? Kan mense kom saamsing?
Gratis topgehalte kindervermaak: The Loft Puppet Co se eerste poppestuk is binnekort by die SOF te sien. Hulle opwindende satiriese kinderkabaret Die onwaarskynlike verhaal van Miko is op Saterdag 29 April in die Theatre Well (Artscape) en vertel die verhaal van klein Miko wat spoorloos uit Moegoeberg se hospitaal verdwyn.
Waarna sien jy persoonlik uit by vanjaar se fees?
Legendes klassique! My lewe is klassieke musiek. En die sopraan Beverley Chiot, wat die “Koningin van die Nag”-aria uit Mozart se Towerfluit daardie aand saam met die Kaapse Filharmoniese Jeugorkes gaan sing! Ek wil ’n hoë F uitgil van opgewondenheid!
- Kaartjies beskikbaar by Computicket
The post Niël Rademan oor die Suidoosterfees 2017 appeared first on LitNet.