Ja, taal is ʼn wispelturige ding, dit verander gedurig. Selfs wanneer twee linguiste taal bespreek, verskil hulle soms wat bv grammatika betref. Die een is ʼn voorstander van preskriptiewe grammatika, terwyl die ander deskriptiewe grammatika voorstaan. Preskriptiewe grammatika is hoe ʼn taal behoort gepraat en geskryf behoort te word. Vir eeue het voorstanders hiervan die septer geswaai, en bepaal wat word toegelaat en wat nie. Voorstanders van die deskriptiewe grammatika, beskryf weer die taal soos dit in die werklikheid voorkom. Taal is vir hulle wel nog onderhewig aan reëls, maar dit word onbewus toegepas deur die spreker, en is nie die wet van die Mede en die Perse nie. Daar is natuurlik heelwat oorvleueling tussen die twee, maar soos die tyd aanstap, en taal verander soos feite ook verander, so word die gaping tussen die twee sienswyses al groter en groter.
Aan die ander kant is taal ook heel stabiel. Die konsonantfrekwensie van Afrikaans kom ooreen met 16de eeuse Nederlands, met so hier en daar ʼn verskil. Dit is bv ook so met Engels. Moderne Engels en Ou Engels se konsonante kom ooreen, alhoewel daar ʼn duisend jaar verskil is tussen die twee.
Tog is daar menige voorbeeld van linguistiese veranderinge in tale. Nuwe woorde word geskep of ontleen aan ander tale en ou woorde verdwyn. Die woord ‘jasje’ is onbekend in Afrikaans, terwyl almal weet wat ʼn ‘baadjie’ is. Dit wil voorkom hoe kleiner die gebruiksfrekwensie van ʼn woord is, hoe makliker staan dit ʼn kans om te verdwyn en vervang te word met ʼn ander woord. Dis heel waarskynlik die rede waarom so baie Engelse woorde deesdae inglip in die Afrikaanse woordeskat. Wie gebruik nog die woorde ‘inderdaad’ of ‘werklikwaar’ of selfs ‘wraggieswaar’? Daarenteen is die woord ‘actually’ deesdae ʼn bekende woord. Miskien het dit ook ʼn effens ander betekenis.
Deesdae is ons so gewoond aan rekenaars. Met die goed moet jy presies te werk gaan. Spel net een letter van ʼn woord verkeerd, of tik ʼn hoofletter ipv ʼn kleinletter, of ʼn komma ipv ʼn punt, en jy beland in die grammadoelas. Met taal is dit heel anders gesteld. Anders as wat mense wat aan preskriptiewe reëls vasklou, is daar, wat taal betref, geen objektiewe waarheid nie. Daar is geen onveranderlike reëls wat êrens, ek weet nie waar nie, neergeskryf en in klip gegraveer is nie. Taal is heeltemal uitgelewer aan sy sprekers. ʼn Woord is nie meer verkeerd as dit deur ʼn groot aantal sprekers anders gebruik word nie. As die woord ‘sondebok’ vir die meeste mense beteken dat die betrokke persoon skuldig is, dan beken die woord ‘skuldige persoon’. “Belhamel’ verloor dan sy betekenis van ‘skuldige’. Dit lyk my in elk geval of daar ook ʼn betekenisverskuiwing lê, as ek luister hoe mense praat. ‘Belhamel’ het meer die betekenis nou van ‘boosdoener’, ‘geweldenaar’. Ek hoor van my Engelse vriende gebruik die woord ‘disinterested’, terwyl ander weer ‘uninterested’ gebruik. Wie moet nou vir wie korrigeer? Daar is, so lyk dit my, ook nie net meer drie trappe van vergelyking soos my onnies my geleer het nie. Op ʼn TV-advertensie sê die een outjie sy pa se bakkie is taaierer as die ander s'n.
Dit bring my by nog iets wat vaste taalreëls in die wiele ry, en dis die sogenaamde idiolek. Afgesien van die standaardtaal, het elke mens ook sy eie manier van praat. Dit verskil van persoon tot persoon. Elkeen het ook nog sy eie woordeskat, grammatika, uitspraak van woorde, en aksent. Gelukkig is dit so, want sou ek my vrou en my skelmpie met mekaar verwar as hulle my by die werk bel, dan is dit tiekets met my. Selfs wanneer ons met iemand anders praat, beïnvloed daardie persoon ons spraakpatrone en ook anders om, al is dit heel dikwels onbewustelik. Die Engels wat ek met my Zulusprekende tuinier voer, klink heel anders as wanneer ek met my kollegas praat. Ek gesels nou die dag nog met ʼn vrou wat my vertel dat sy daarvan hou om koek te ‘baak’, in die son langs die swembad te lê en boek te ‘leeees’, en soms om inkopies te ‘doeen’. Sy eindig haar sinne met so ʼn lang uitgerekte woord en so ʼn stygende stemmetjie. Gelukkig keer ek my betyds, of ek het ook so begin ‘praaat’. ʼn Engelssprekende nefie van my woon nou in Amerika, en het hierdie tipiese Amerikaanse aksent aangeleer, behalwe natuurlik, as hy met sy ouers praat, dan klink hy weer heel skaflik. Natuurlik gebeur dit nie met almal nie. Diegene wat nog kon onthou hoe Henry Kissinger geklink het, sal weet dat, alhoewel hy jare lank, ek dink seker 70 jaar, in Amerika gewoon het, hy nog sy swaar Duitse aksent behou het.
Taal is dus maar gedurig aan die verander en dit is deel van die mens se voortdurende aanpassing by veranderde omstandighede. In ʼn kort tydjie het ons almal rekenaar-, TV-, en selfoongeletterd geraak. Met 1875 se Afrikaans sou ʼn mens vandag heel onbeholpe gewees het.
Angus
The post Taal is wispelturig appeared first on LitNet.